“Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs”
TOE Jesus Christus daardie woorde meer as 19 eeue gelede geuiter het, het hy sy dissipels teen skadelike godsdiensleringe en -gebruike gewaarsku (Matteus 16:6, 12). Die verslag in Markus 8:15 spesifiseer: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.” Waarom is Herodes genoem? Want sommige Sadduseërs was Herodiane, ’n politieke groep.
Waarom was so ’n spesiale waarskuwing nodig? Was die Fariseërs sowel as die Sadduseërs nie direkte teenstanders van Jesus nie? (Matteus 16:21; Johannes 11:45-50). Ja, hulle was. Tog sou party van hulle later die Christelike godsdiens aanneem en dan probeer om hulle idees op die Christengemeente af te dwing.—Handelinge 15:5.
Daar was ook die gevaar dat die dissipels self daardie godsdiensleiers sou navolg onder wie se invloed hulle grootgemaak is. Soms was dit bloot die feit dat hulle uit so ’n agtergrond gekom het wat dit vir hulle moeilik gemaak het om die strekking van Jesus se leringe te begryp.
Wat het Fariseïsme en Sadduseïsme so gevaarlik gemaak? As ons godsdienstoestande in Jesus se dag beskou, sal dit ons ’n leidraad gee.
Godsdiensverdeeldheid
Die geskiedskrywer Max Radin het die volgende oor die Joodse gemeenskap gedurende die eerste eeu geskryf: “Die onderlinge onafhanklikheid van die Joodse gemeentes was iets werkliks en iets waarop daar selfs aangedring is. . . . Wanneer eerbied vir die tempel en die heilige stad ten sterkste beklemtoon is, is daar dikwels intense minagting getoon vir diegene wat op daardie stadium die draers van oppergesag in die moederland was.”
Dit was inderdaad ’n droewige geestelike toestand! Wat was van die bydraende faktore? Nie alle Jode het in Palestina gewoon nie. Die invloed van die Griekse kultuur, waarin priesters nie gemeenskapsleiers was nie, het bygedra tot die ondermyning van eerbied vir Jehovah se reëling van die priesterdom (Exodus 28:29; 40:12-15). Die geleerde leke en skrifgeleerdes moet ook nie oor die hoof gesien word nie.
Die Fariseërs
Die naam Fariseërs, of Peroe·sjimʹ, het waarskynlik “afgeskeidenes” beteken. Fariseërs het hulleself as die volgelinge van Moses beskou. Hulle het hulle eie bond, of broederskap (Hebreeus, chawoe·rahʹ), gevorm. Om daartoe toegelaat te word, moes ’n mens voor drie lede belowe om die Levitiese reinheid streng te onderhou, noue omgang met die ʽam-ha·ʼaʹrets (die ongeleerde menigtes) te vermy en nougeset te wees in die betaling van tiendes. Markus 2:16 praat van “die skrifgeleerdes van die Fariseërs”. Sommige van hierdie party was professionele skrifgeleerdes en onderrigters terwyl ander leke was.—Matteus 23:1-7.
Die Fariseërs het aan ’n alomteenwoordige God geglo. Hulle het geredeneer dat, aangesien “God oral is, Hy binne sowel as buite die Tempel aanbid kon word, en nie net deur offerandes genader moes word nie. Hulle het die sinagoge voorgestaan as ’n plek van aanbidding, studie en gebed, en het dit verhef tot ’n sentrale en belangrike plek in die lewe van die mense wat met die Tempel meegeding het.”—Encyclopaedia Judaica.
Die Fariseërs het ’n gebrek aan waardering vir Jehovah se tempel gehad. Dit kan gesien word uit Jesus se woorde: “Wee julle, blinde gidse, wat sê: ‘As iemand by die tempel sweer, is dit niks; maar as iemand by die goud van die tempel sweer, staan hy onder verpligting.’ Dwase en blindes! Wat is in werklikheid groter: die goud of die tempel wat die goud geheilig het? Ook: ‘As iemand by die altaar sweer, is dit niks; maar as iemand by die gawe daarop sweer, staan hy onder verpligting.’ Blindes! Wat is in werklikheid groter: die gawe of die altaar wat die gawe heilig? Hy wat dan by die altaar sweer, sweer dáárby en by alles daarop.”—Matteus 23:16-20.
Hoe kon die Fariseërs so verdraaid in hulle redenering word? Wat het hulle oor die hoof gesien? Let op wat Jesus volgende sê. “En hy wat by die tempel sweer, sweer dáárby en by hom wat daarin woon” (Matteus 23:21). Van hierdie vers het die geleerde E. P. Sanders opgemerk: “Die tempel was nie net heilig omdat die heilige God daar aanbid is nie, maar ook omdat hy daar was” (Judaism: Practice and Belief, 63 BCE—66 CE). Jehovah se spesiale teenwoordigheid sou egter min betekenis hê vir diegene wat gedink het dat hy oral is.
Die Fariseërs het ook aan ’n kombinasie van voorbeskikking en wilsvryheid geglo. Met ander woorde, “alles is voorbeskik, tog word keusevryheid gegee”. Hulle het nietemin geglo dat Adam en Eva voorbeskik is om te sondig en dat selfs ’n klein snytjie aan die vinger vooraf bestem is.
Jesus het dalk sulke valse idees in gedagte gehad toe hy gepraat het van ’n toring wat ineengestort en 18 mense gedood het. Hy het gevra: “Dink julle dat [die slagoffers] groter skuldenaars was as al die ander mense wat in Jerusalem woon?” (Lukas 13:4). Soos met die meeste ongelukke, was dit as gevolg van “tyd en onvoorsiene gebeurtenis”, en nie die noodlot soos die Fariseërs geleer het nie (Prediker 9:11, NW). Hoe sou hierdie sogenaamde ingeligtes skriftuurlike gebooie behandel?
Hulle was godsdiensinnoveerders
Die Fariseërs het volgehou dat skriftuurlike gebooie deur die rabbi’s van elke geslag ooreenkomstig gevorderde idees vertolk moes word. Daarom sê die Encyclopaedia Judaica dat hulle “dit geensins moeilik gevind het om Tora-leringe met hulle gevorderde idees te laat ooreenstem nie of om te vind dat die woorde van die Tora op hulle idees sinspeel.”
Met betrekking tot die jaarlikse Versoendag het hulle die krag van versoening vir sondes van die hoëpriester na die dag self oorgedra (Levitikus 16:30-33). By die Pasgaviering het hulle groter klem gelê op die voordrag van die lesse uit die Exodusverslag terwyl hulle die wyn en matso gebruik het as op die paaslam.
Mettertyd het die Fariseërs invloedryk geword by die tempel. Hulle het toe die volgende ingestel: ’n optog waartydens water uit die poel van Siloam gehaal is en ’n drankoffer daarvan gedurende die Fees van die Insameling sowel as die slaan van wilgertakke op die altaar na afloop van die fees en gereelde daaglikse gebede wat geen grondslag in die Wet gehad het nie.
“Die Farisese innovasies in verband met die Sabbat” was “besonder opvallend” sê The Jewish Encyclopedia. Daar is van ’n vrou verwag om die Sabbat te verwelkom deur lampe aan te steek. As dit gelyk het asof die een of ander bedrywigheid op onwettige werk sou uitloop, het die Fariseërs dit verbied. Hulle het selfs so ver gegaan om mediese behandeling te reguleer en het irritasie uitgespreek oor Jesus se wonderbaarlike genesings op die Sabbat (Matteus 12:9-14; Johannes 5:1-16). Dit was egter nie genoeg vir hierdie godsdiensinnoveerders om nuwe dinge in te stel in ’n poging om ’n heining, of beskutting, te skep om skriftuurlike wette te beskerm nie.
Afskaffing
Die Fariseërs het aanspraak gemaak op die gesag om skriftuurlike wette ter syde te stel of te herroep. Hulle redenasie word weerspieël in ’n Talmoediese spreuk: “Dit is beter dat ’n enkele wet ontwortel word as dat die hele Tora vergeet word.” ’n Goeie voorbeeld hiervan is die beëindiging van die Jubeljaar op grond van die bewering dat niemand aan die armes sou leen wanneer daardie tyd nader gekom het nie, uit vrees dat hulle hulle eis sal verloor.—Levitikus, hoofstuk 25.
Ander voorbeelde is die afskaffing van die verhoor van ’n vrou wat van egbreuk verdink is en die tersydestelling van die versoeningsprosedure in die geval van ’n onopgeloste moord (Numeri 5:11-31; Deuteronomium 21:1-9). Dit was net ’n kwessie van tyd voor die Fariseërs die skriftuurlike vereiste om vir ’n mens se behoeftige ouers te sorg, sou afskaf.—Exodus 20:12; Matteus 15:3-6.
Jesus het gewaarsku: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs, wat huigelary is” (Lukas 12:1). Fariseïsme, met sy onteokratiese gesindhede, kon niks anders as huigelagtig wees nie—iets wat definitief nie in die Christengemeente ingebring moes word nie. Joodse naslaanwerke stel die Fariseërs nietemin in ’n gunstiger lig as die Sadduseërs. Kom ons beskou nou hierdie konserwatiewer groep.
Die Sadduseërs
Die naam Sadduseërs is moontlik geneem van Sadok, ’n hoëpriester in die dae van Salomo (1 Konings 2:35, voetnoot in NW). Die Sadduseërs was ’n konserwatiewe party wat die belange van die tempel en die priesterdom verteenwoordig het. In teenstelling met die Fariseërs, wat aanspraak gemaak het op gesag weens hulle geleerdheid en vroomheid, het die Sadduseërs hulle voorregte geëis op grond van geslagsregisters en status. Hulle het Farisese innovasies weerstaan tot die vernietiging van die tempel in 70 G.J.
Behalwe dat die Sadduseërs voorbeskikking verwerp het, het hulle geweier om enige leerstelling te aanvaar wat nie uitdruklik in die Pentateug genoem is nie, al is dit elders in God se Woord genoem. Om die waarheid te sê, hulle het dit “as ’n deug beskou om” hierdie aangeleenthede “te betwis” (The Jewish Encyclopedia). Dit herinner aan die geleentheid toe hulle Jesus oor die opstanding uitgedaag het.
Die Sadduseërs het die illustrasie gebruik van ’n weduwee van sewe mans en gevra: “Watter een van die sewe se vrou sal sy gevolglik in die opstanding wees?” Daardie hipotetiese weduwee van hulle kon natuurlik net sowel 14 of 21 mans gehad het. Jesus het verduidelik: “In die opstanding trou manne nie en word vroue nie in die huwelik gegee nie.”—Matteus 22:23-30.
Jesus was bewus van die Saddusese verwerping van geïnspireerde skrywers buiten Moses, maar hy het sy punt bewys deur uit die Pentateug aan te haal. Hy het gesê: “Wat die dooies betref, dat hulle opgewek word, het julle nie in die boek van Moses, in die verslag oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ nie? Hy is ’n God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes.”—Markus 12:26, 27.
Vervolgers van Jesus en sy volgelinge
Die Sadduseërs het daaraan geglo om staatkunde te gebruik in hulle handelinge met ander nasies eerder as om vir die Messias te wag—indien hulle enigsins in sy koms geglo het. Kragtens ’n ooreenkoms met Rome moes hulle die tempel bestuur en wou hulle nie hê dat ’n Messias op die toneel verskyn wat sake sou versteur nie. Aangesien hulle Jesus as ’n bedreiging vir hulle posisie beskou het, het hulle met die Fariseërs saamgesweer om hom dood te maak.—Matteus 26:59-66; Johannes 11:45-50.
Aangesien hulle polities georiënteerd was, is dit verstaanbaar waarom die Sadduseërs ’n geskil gemaak het van lojaliteit aan Rome en geskreeu het: “Ons het geen koning behalwe Caesar nie” (Johannes 19:6, 12-15). Ná Jesus se dood en opstanding was dit die Sadduseërs wat die leiding daarin geneem het om ’n einde te probeer maak aan die verspreiding van die Christelike godsdiens (Handelinge 4:1-23; 5:17-42; 9:14). Ná die vernietiging van die tempel in 70 G.J., het hierdie groep opgehou om te bestaan.
Die noodsaaklikheid daarvan om waaksaam te bly
Hoe gepas was Jesus se waarskuwing tog nie! Ja, ons moet ‘op ons hoede wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs’. ’n Mens hoef maar net die slegte vrugte daarvan in beide die Jodedom en die Christendom van vandag te sien.
In skerp teenstelling hiermee is daar egter bekwame Christen- ouer manne in meer as 75 500 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld wat ‘voortdurend op hulleself en op hulle onderrigting let’ (1 Timoteus 4:16). Hulle aanvaar dat die hele Bybel deur God geïnspireer is (2 Timoteus 3:16). Hulle is nie innoverend en bevorder nie hulle eie godsdiensprosedures nie, maar werk eerder eendragtig saam onder die toesig van ’n organisasie wat Bybelse riglyne volg en wat hierdie tydskrif as sy vernaamste instrument vir onderrigting gebruik.—Matteus 24:45-47.
Wat is die gevolg? Miljoene mense oor die hele wêreld word geestelik verhef namate hulle die Bybel begin verstaan, dit in hulle lewens toepas, en dit aan ander leer. As jy wil sien hoe dit gebeur, besoek gerus die naaste gemeente van Jehovah se Getuies, of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif.
[Venster op bladsy 26]
JESUS HET SY GEHOOR IN AG GENEEM
JESUS CHRISTUS se onderrigting was duidelik, en hy het sy hoorders se idees in ag geneem. Hy het dit byvoorbeeld gedoen toe hy met die Fariseër Nikodemus gepraat het oor die saak om weer “gebore” te word. Nikodemus het gevra: “Hoe kan ’n mens gebore word wanneer hy oud is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie, of hoe?” (Johannes 3:1-5). Waarom was Nikodemus so dronkgeslaan, aangesien die Fariseërs geglo het dat wedergeboorte ’n vereiste was vir Joodse bekeerlinge, en ’n rabbynse gesegde die proseliet met ’n “pasgebore kind” vergelyk het?
A Commentary on the New Testament From the Talmud and Hebraica, deur John Lightfoot, bied die volgende insig: “Die algemene siening van die Jode oor die kwalifikasie van ’n Israeliet . . . steek nog vas in die verstand van hierdie Fariseër” wat nie “maklik afsien van sy eerste vooroordeel nie . . . : ‘Terwyl die Israeliete . . . die reg het om in die koninkryk van die Messias toegelaat te word, bedoel jy dan deur hierdie woorde dat dit nodig is vir enigeen om ’n tweede keer in die skoot van sy moeder in te gaan, sodat hy opnuut ’n Israeliet sal word?’”—Vergelyk Matteus 3:9.
Hoewel hy erken dat ’n nuwe geboorte vir proseliete moontlik is, sou Nikodemus so ’n proses as iets onmoontliks vir natuurlike Jode beskou—om as ‘t ware na die moederskoot terug te keer.
By ’n ander geleentheid het baie aanstoot geneem toe Jesus gepraat het van sy ‘vlees eet en sy bloed drink’ (Johannes 6:48-55). Lightfoot wys egter daarop dat “daar niks algemener in die skole van die Jode was as die uitdrukking om in ’n metaforiese sin ‘te eet en te drink’ nie. Hy het ook opgemerk dat die uitdrukking ‘om die Messias te eet’ in die Talmoed voorkom.
Die beskouing van die Fariseërs en die Sadduseërs het dus ’n redelike groot invloed op eerste-eeuse Joodse denke gehad. Jesus het egter, heel tereg, altyd sy toehoorders se kennis en ervaring in ag geneem. Dit was een van die baie faktore wat hom die Groot Onderwyser gemaak het.