Gedenkmaal (Die Here se Aandmaal)
Definisie: ’n Maal wat die dood van Jesus Christus herdenk; gevolglik ’n herdenking van sy dood, die dood wat verreikender gevolge gehad het as dié van enige ander persoon. Dit is die enigste gebeurtenis wat die Here Jesus Christus sy dissipels beveel het om te herdenk. Dit staan ook bekend as die Here se Aandmaal of die Nagmaal van die Here.—1 Kor. 11:20.
Wat is die betekenis van die Gedenkmaal?
Vir sy getroue apostels het Jesus gesê: “Doen dit tot my gedagtenis” (Luk. 22:19). Toe die apostel Paulus aan lede van die geesverwekte Christengemeente geskryf het, het hy bygevoeg: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:26). Die Gedenkmaal vestig dus besondere aandag op die betekenis van die dood van Jesus Christus in die ontplooiing van Jehovah se voorneme. Dit beklemtoon veral die betekenis van Jesus se offerdood ten opsigte van die nuwe verbond en die wyse waarop sy dood diegene raak wat saam met hom erfgename van die hemelse Koninkryk sal wees.—Joh. 14:2, 3; Hebr. 9:15, NAV.
Die Gedenkmaal is ook ’n herinnering dat Jesus se dood en die wyse waarop dit geskied het, in ooreenstemming met God se voorneme soos uitgedruk in Genesis 3:15 en daarna, Jehovah se naam geregverdig het. Deur tot sy dood onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf, het Jesus bewys dat Adam se sonde nie te wyte was aan ’n gebrek in die Skepper se ontwerp van die mens nie, maar dat dit vir ’n mens moontlik is om selfs onder hewige druk volmaakte godsvrug te handhaaf, en sodoende het Jesus Jehovah God as Skepper en Universele Soewerein geregverdig. Daarbenewens was dit Jehovah se voorneme dat Jesus se dood die volmaakte menseoffer sou voorsien wat nodig was om Adam se nakomelinge vry te koop en dit gevolglik vir miljarde mense wat sou glo moontlik te maak om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe ter vervulling van Jehovah se oorspronklike voorneme en as blyk van sy groot liefde vir die mensdom.—Joh. 3:16; Gen. 1:28.
Watter geweldige las het tog gedurende Jesus se laaste nag as mens op aarde op hom gerus! Hy het geweet wat sy hemelse Vader se voorneme met hom was, maar hy het ook geweet dat hy tydens beproewing getrou moes wees. Watter smaad sou dit tog sy Vader aangedoen het en watter verlies sou dit tog vir die mensdom gewees het as hy gefaal het! As gevolg van alles wat met sy dood bereik sou word, was dit uiters gepas dat Jesus beveel het dat dit herdenk moes word.
Wat is die betekenis van die brood en die wyn wat tydens die Gedenkmaal omgestuur word?
Van die ongesuurde brood wat Jesus aan sy apostels gegee het toe hy die Gedenkmaal ingestel het, het hy gesê: “Dit is [“beteken”, NW] my liggaam” (Mark. 14:22). Daardie brood het sy sondelose, vleeslike liggaam voorgestel. Hy sou dit aflê ter wille van die toekomstige lewensvooruitsigte van die mensdom, en by hierdie geleentheid word besondere aandag gevestig op die lewensvooruitsigte wat daardeur moontlik gemaak is vir diegene wat gekies sou word om saam met Jesus in die hemelse Koninkryk te regeer.
Toe Jesus die wyn onder sy getroue apostels omgestuur het, het hy gesê: “Dit is [“beteken”, NW] my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word” (Mark. 14:24, NAV). Daardie wyn het sy lewensbloed voorgestel. Deur middel van sy vergote bloed sou vergifnis van sondes moontlik wees vir diegene wat daarin glo. By hierdie geleentheid het Jesus beklemtoon hoe die bloed sy aanstaande mede-erfgename van sonde sou kon reinig. Sy woorde toon ook dat daardie bloed die nuwe verbond tussen Jehovah God en die geesgesalfde Christengemeente in werking sou laat tree.
Kyk ook bladsye 293-295, onder “Mis”.
Wie moet die brood en die wyn gebruik?
Wie het dit gebruik toe Jesus die Here se Aandmaal kort voor sy dood ingestel het? Elf getroue volgelinge vir wie Jesus gesê het: “Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het” (Luk. 22:29). Hulle was almal persone wat genooi is om saam met Christus in sy hemelse Koninkryk te regeer (Joh. 14:2, 3). Almal wat vandag die brood en die wyn gebruik, moet ook persone wees wat Christus in daardie ‘verbond vir ’n koninkryk’ inbring.
Hoeveel gebruik dit? Jesus het gesê dat slegs ’n “klein kuddetjie” die hemelse Koninkryk as hulle beloning sou ontvang (Luk. 12:32). Daar sou altesaam 144 000 wees (Openb. 14:1-3). Die verkiesing van daardie groep het in 33 G.J. begin. Dit is redelik dat daar nou slegs ’n klein getal gebruikers sal wees.
Toon Johannes 6:53, 54 dat slegs diegene wat die embleme gebruik die ewige lewe sal kry?
Joh. 6:53, 54: “Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Hierdie etery en drinkery sou uiteraard figuurlik gedoen moes word, anders sou die persoon wat dit doen God se wet verbreek (Gen. 9:4; Hand. 15:28, 29). Ons moet egter daarop let dat Jesus se verklaring in Johannes 6:53, 54 nie in verband met die instelling van die Here se Aandmaal gedoen is nie. Niemand wat hom gehoor het, het enige benul gehad van ’n viering waartydens brood en wyn gebruik sou word om Christus se vlees en bloed voor te stel nie. Daardie reëling is eers sowat ’n jaar later ingestel, en die apostel Johannes se verslag oor die Here se Aandmaal begin eers meer as sewe hoofstukke later (in Johannes 14) in die Evangelie wat na hom vernoem is.
Hoe kan ’n mens dan figuurlik “die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink” as jy dit nie doen deur die brood en die wyn by die Gedenkmaal te gebruik nie? Let op dat Jesus gesê het dat diegene wat op hierdie wyse eet en drink “die ewige lewe” sou hê. Wat het hy vroeër gesê is die wil van sy Vader toe hy in vers 40 verduidelik het wat mense moet doen om die ewige lewe te hê? Dat “elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê”. Dit beteken redelikerwys dat ’n mens figuurlik ‘sy vlees eet en sy bloed drink’ deur geloof te beoefen in die soenwaarde van Jesus se vlees en bloed wat geoffer is. Hierdie geloof word vereis van almal wat die volheid van die lewe wil verkry, hetsy in die hemele saam met Christus of in die aardse Paradys.
Hoe dikwels moet die Gedenkmaal gehou word, en wanneer?
Jesus het nie spesifiek gemeld hoe dikwels dit gedoen moet word nie. Hy het net gesê: “Doen dit tot my gedagtenis” (Luk. 22:19). Paulus het gesê: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:26). “So dikwels” hoef nie baie keer per jaar te beteken nie; dit kan jaarliks oor ’n tydperk van baie jare beteken. Hoe dikwels herdenk jy ’n belangrike gebeurtenis, soos ’n huwelik, of hoe dikwels herdenk ’n nasie ’n belangrike gebeurtenis in sy geskiedenis? Een keer per jaar op die jaardag. Dit strook ook met die feit dat die Here se Aandmaal ingestel is op die datum van die Joodse Pasga, ’n jaarlikse viering wat gekerstende Jode nie langer hoef te vier nie.
Jehovah se Getuies hou die Gedenkmaal na sononder op 14 Nisan, volgens die berekening van die Joodse kalender wat in die eerste eeu algemeen was. Die Joodse dag begin met sononder en duur tot die volgende sononder. Jesus het dus op dieselfde Joodse kalenderdag gesterf as waarop hy die Gedenkmaal ingestel het. Die begin van die maand Nisan was die sonsondergang nadat die nuwe maan naaste aan die noordelike lentenagewening in Jerusalem sigbaar geword het. Die Gedenkmaaldatum is 14 dae daarna. (Daarom val die datum van die Gedenkmaal nie noodwendig saam met dié van die Pasga wat deur hedendaagse Jode gevier word nie. Waarom nie? Die begin van hulle kalendermaande val saam met die astronomiese nuwe maan, nie die sigbare nuwe maan bokant Jerusalem nie, wat eers 18 tot 30 uur later kan wees. Daarbenewens vier die meeste Jode die Pasga vandag op 15 Nisan, nie op die 14de soos Jesus ooreenkomstig die voorskrifte van die Mosaïese Wet gedoen het nie.)