Dien Jehovah lojaal
“Teenoor iemand wat lojaal is, sal u [Jehovah] lojaal optree.”—2 SAMUEL 22:26, NW.
1. Hoe tree Jehovah op teenoor diegene wat lojaal teenoor hom is?
JEHOVAH kan nie vergoed word vir alles wat hy vir sy volk doen nie (Psalm 116:12, NAV). Hoe wonderlik is sy geestelike en materiële gawes en liefdevolle barmhartigheid tog nie! Koning Dawid van eertydse Israel het geweet dat God ook lojaal sal optree teenoor diegene wat lojaal teenoor hom is. Dawid het dit gesê in ’n lied wat hy gekomponeer het “op die dag toe die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van [koning] Saul”.—2 Samuel 22:1.
2. Wat is party van die gedagtes wat in Dawid se lied in 2 Samuel hoofstuk 22 bevat word?
2 Dawid het sy lied (wat met Psalm 18 ooreenstem) begin deur Jehovah te loof as die een wat in antwoord op sy gebed as sy “redder” opgetree het (2 Samuel 22:2-7). Vanuit sy hemelse tempel het God opgetree om sy lojale kneg van magtige vyande te red (Verse 8-19). Dawid is dus beloon omdat hy opreg gewandel het en Jehovah se weë gehou het (Verse 20-27). Vervolgens het hy dade opgenoem wat hy deur middel van godgegewe krag gedoen het (Verse 28-43). Laastens het Dawid genoem dat hy gered is uit die getwis van sy eie volk en uit die vyandige nasies, en hy het Jehovah gedank as die een “wat die verlossing van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde” (Verse 44-51). Jehovah kan ons ook verlos as ons opreg wandel en op hom vertrou vir krag.
Wat dit beteken om lojaal te wees
3. Wat beteken dit volgens die Skrif om lojaal te wees?
3 Dawid se lied van redding gee ons hierdie vertroostende versekering: “Teenoor iemand wat lojaal is, sal u [Jehovah] lojaal optree” (2 Samuel 22:26, NW). Dit is die Hebreeuse byvoeglike naamwoord cha·sidhʹ wat “iemand wat lojaal is” of “iemand van liefderyke goedhartigheid” beteken (Psalm 18:25, voetnoot in NW). Die selfstandige naamwoord cheʹsedh bevat die gedagte van goedhartigheid wat hom liefdevol aan iets heg totdat sy doel daarmee bereik is. Dit is die soort goedhartigheid wat Jehovah teenoor sy knegte betoon, net soos hulle dit teenoor hom betoon. Hierdie regverdige, heilige lojaliteit word as “liefderyke goedhartigheid” en “lojale liefde” vertaal (Genesis 20:13, NW; 21:23, NW). Die selfstandige naamwoord ho·si·oʹtes en die byvoeglike naamwoord hoʹsi·os, wat in die Griekse Geskrifte as “lojaliteit” vertaal word, bevat die gedagte van heiligheid en ontsag. Sulke lojaliteit sluit getrouheid en toegewydheid in en vereis godvrugtige gedrag en dat ’n mens al jou verpligtinge teenoor God noukeurig nakom. Om lojaal teenoor Jehovah te wees, beteken om hom met sulke sterk toegewydheid aan te kleef dat dit soos ’n kragtige kleefmiddel werk.
4. Hoe toon Jehovah sy lojaliteit?
4 Jehovah se eie lojaliteit word op baie maniere getoon. Vanweë sy lojale liefde vir sy volk en sy lojaliteit teenoor geregtigheid en regverdigheid tree hy byvoorbeeld geregtelik op teen die bose (Openbaring 15:3, 4; 16:5). Lojaliteit teenoor sy verbond met Abraham het hom lankmoedig teenoor die Israeliete gemaak (2 Konings 13:23). Diegene wat lojaal teenoor God is, kan staatmaak op sy hulp tot aan die einde van hulle lojale lewensweg en kan seker wees dat hy hulle sal onthou (Psalm 37:27, 28; 97:10, NW). Jesus was versterk deur die kennis dat sy siel as die vernaamste “lojale” van God nie in Sjeool gelaat sou word nie.—Psalm 16:10, NW; Handelinge 2:25, 27, NW.
5. Aangesien Jehovah lojaal is, wat vereis hy van sy knegte, en watter vraag gaan ons bespreek?
5 Aangesien Jehovah God lojaal is, vereis hy lojaliteit van sy knegte (Efesiërs 4:24, NW). Dit is byvoorbeeld ’n vereiste dat manne lojaal moet wees om as gemeentelike ouere manne aangestel te word (Titus 1:8, NW). Watter faktore moet Jehovah se volk beweeg om hom lojaal te dien?
Waardering vir die dinge wat ons leer
6. Hoe moet ons die skriftuurlike dinge beskou wat ons geleer het, en wat moet ons in verband met sulke kennis onthou?
6 Dankbaarheid vir die skriftuurlike dinge wat ons geleer het, behoort ons te beweeg om Jehovah lojaal te dien. Die apostel Paulus het Timotheüs aangespoor: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timotheüs 3:14, 15). Onthou dat sulke kennis van God af deur “die getroue en verstandige dienskneg” gekom het.—Mattheüs 24:45-47.
7. Hoe moet ouere manne die geestelike voedsel beskou wat God deur die getroue dienskneg voorsien?
7 Die aangestelde ouere manne moet veral die voedsame geestelike voedsel waardeer wat God deur middel van die getroue dienskneg voorsien. Jare gelede het ’n paar ouere manne nie sulke waardering gehad nie. ’n Waarnemer het opgemerk dat hierdie manne “die artikels in Die Wagtoring gekritiseer het en dit nie as . . . God se kanaal van waarheid wou aanvaar nie, en ander altyd volgens hulle sienswyse probeer beïnvloed het”. Maar lojale ouere manne probeer ander nooit beïnvloed om van die geestelike voedsel wat God deur die getroue dienskneg voorsien te verwerp nie.
8. Wat moet ons doen as ons nie ’n skriftuurlike gedagte wat van die getroue en verstandige dienskneg kom ten volle begryp nie?
8 As Jehovah se toegewyde Getuies moet ons almal lojaal teenoor hom en teenoor sy organisasie wees. Ons moet nooit eers daaraan dink om God se wonderlike lig te verlaat en ’n afvallige weg in te slaan wat nou tot geestelike dood en uiteindelik tot vernietiging kan lei nie (Jeremia 17:13, NW). Maar sê nou dit is vir ons moeilik om ’n skriftuurlike gedagte wat van die getroue dienskneg af kom te aanvaar of ten volle te begryp? Laat ons dan nederig erken waar ons die waarheid geleer het en in gebed om wysheid vra sodat ons hierdie toets die hoof kan bied totdat die saak in ’n publikasie verduidelik word.—Jakobus 1:5-8.
Waardeer die Christelike broederskap
9. Hoe toon 1 Johannes 1:3-6 dat Christene ’n gees van broederskap moet hê?
9 Hartgrondige waardering vir die gees van broederskap wat onder ons Christenbroers bestaan, is nog ’n aansporing om Jehovah lojaal te dien. Trouens, ons verhouding met God en Christus kan nie geestelik gesond wees as ons nie hierdie gees het nie. Die apostel Johannes het vir gesalfde Christene gesê: “Wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap [“broederskap”, Diaglott] met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. . . . As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie” (1 Johannes 1:3-6). Hierdie beginsel geld vir alle Christene, hetsy hulle ’n hemelse of ’n aardse hoop het.
10. Hoe het Paulus Euodia en Sintiche beskou al het hierdie vroue dit blykbaar moeilik gevind om ’n persoonlike probleem tussen hulle op te los?
10 Dit verg inspanning om ’n gees van broederskap te behou. Byvoorbeeld, die Christenvroue Euodia en Sintiche het dit blykbaar moeilik gevind om ’n probleem tussen hulle op te los. Paulus het hulle dus vermaan “om eensgesind te wees in die Here”. Hy het bygevoeg: “Ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saamgestry het in die evangelie, ook saam met Clemens en my ander mede-arbeiders wie se name in die boek van die lewe is” (Filippense 4:2, 3). Daardie godvresende vroue het saam met Paulus en ander gestry “in die evangelie”, en hy was daarvan seker dat hulle onder diegene was “wie se name in die boek van die lewe is”.
11. Wat is dit gepas om in gedagte te hou as ’n lojale Christen ’n geestelike probleem ondervind?
11 Christene dra nie ’n kenteken wat toon watter voorregte hulle in Jehovah se organisasie geniet het en hoe hulle hom reeds lojaal gedien het nie. Hoe liefdeloos sal dit tog wees om hulle jare van lojale diens aan Jehovah te ignoreer as hulle ’n geestelike probleem het! Die persoon wat ’n “opregte metgesel” genoem is, was waarskynlik ’n lojale broer wat ander graag gehelp het. As jy ’n ouere man is, is jy ’n “opregte metgesel” wat gereed is om ander op ’n barmhartige wyse te help? Mag ons almal, net soos God, die goeie dade van medegelowiges in ag neem en hulle liefdevol help om hulle laste te dra.—Galasiërs 6:2; Hebreërs 6:10.
Nêrens anders om te gaan nie
12. Watter standpunt het Petrus ingeneem toe Jesus se woorde veroorsaak het dat ‘baie dissipels teruggegaan’ het na die dinge wat hulle agtergelaat het?
12 Ons sal beweeg word om Jehovah lojaal saam met sy organisasie te dien as ons onthou dat daar nêrens anders is waarheen ons kan gaan om die ewige lewe te kry nie. Toe Jesus se woorde veroorsaak het dat ‘baie dissipels teruggaan’ het na die dinge wat hulle agtergelaat het, het hy sy apostels gevra: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Petrus het geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.”—Johannes 6:66-69.
13, 14. (a) Waarom het die eerste-eeuse Judaïsme nie Goddelike guns geniet nie? (b) Wat het een Getuie wat Jehovah al lank dien oor God se sigbare organisasie gesê?
13 “Die woorde van die ewige lewe” is nie in die Judaïsme van die eerste eeu G.J. gevind nie. Die Judaïsme se vernaamste sonde was dat hulle Jesus as die Messias verwerp het. Nie een van die vorme van die Judaïsme was uitsluitlik op die Hebreeuse Geskrifte gebaseer nie. Die Sadduseërs het ontken dat engele bestaan en het nie in die opstanding geglo nie. Hoewel die Fariseërs in dié opsigte nie met hulle saamgestem het nie, het hulle gesondig deur God se Woord kragteloos te maak deur hulle onskriftuurlike oorleweringe (Mattheüs 15:1-11; Handelinge 23:6-9). Hierdie oorleweringe het die Jode tot slawe gemaak en dit vir talle moeilik gemaak om Jesus Christus te aanvaar (Kolossense 2:8). Saulus (Paulus) se ywer vir ‘die oorleweringe van sy voorvaders’ het veroorsaak dat hy weens sy onkunde ’n wrede vervolger van Christus se volgelinge was.—Galasiërs 1:13, 14, 23.
14 Die Judaïsme het nie God se guns geniet nie, maar Jehovah het die organisasie geseën wat bestaan het uit sy Seun se volgelinge—‘’n volk ywerig in goeie werke’ (Titus 2:14). Daardie organisasie bestaan nog steeds, en ’n Getuie wat Jehovah al lank dien, het gesê: “Om na aan Jehovah se sigbare organisasie te bly, was vir my een van die belangrikste dinge. My vroeë ondervinding het my geleer hoe onverstandig dit is om op menslike redenasies te vertrou. Nadat ek oor daardie gedagte besluit het, was ek vasbeslote om by die getroue organisasie te bly. Hoe anders kan ’n mens Jehovah se guns en seën ontvang?” Ons kan God se guns en die ewige lewe nêrens anders kry nie.
15. Waarom moet ons met Jehovah se sigbare organisasie saamwerk, asook met diegene wat verantwoordelikhede daarin het?
15 Ons hart behoort ons te beweeg om saam met Jehovah se organisasie te werk, want ons weet dat dit die enigste organisasie is wat deur sy gees gerig word en sy naam en voornemens bekend maak. Diegene wat verantwoordelikhede in die organisasie het, is natuurlik onvolmaak (Romeine 5:12). Maar ‘die toorn van die HERE het ontvlam teen’ Aäron en Mirjam toe hulle met Moses foutgevind het en vergeet het dat godgegewe verantwoordelikheid aan hom toevertrou is, en nie aan hulle nie (Numeri 12:7-9). Vandag werk lojale Christene saam met “diegene wat die leiding neem”, want dit is wat Jehovah vereis (Hebreërs 13:7, 17, NW). Blyke van ons lojaliteit sal insluit dat ons Christelike vergaderinge gereeld bywoon en kommentaar lewer wat ander ‘tot liefde en goeie werke aanspoor’.—Hebreërs 10:24, 25.
Wees opbouend
16. ’n Begeerte om wat vir ander te doen, moet ons ook beweeg om Jehovah lojaal te dien?
16 ’n Begeerte om ander op te bou moet ons ook beweeg om Jehovah lojaal te dien. Paulus het geskryf: “Kennis maak verwaand, maar liefde bou op” (1 Korinthiërs 8:1, NW). Aangesien ’n sekere soort kennis diegene wat dit besit het verwaand gemaak het, moes Paulus bedoel het dat liefde ook diegene opbou wat hierdie eienskap openbaar. ’n Boek deur professore Weiss en English sê: “Die persoon wat die vermoë het om lief te hê, is gewoonlik ook gelief. Die vermoë om welwillendheid en bedagsaamheid in elke aspek van die lewe te betoon . . . het ’n merkbaar opbouende uitwerking op die persoon wat bewys lewer van sulke gevoelens, asook op die persoon wat dit ontvang, en sodoende verskaf dit aan albei vreugde.” As ons liefde betoon, bou ons ander en onsself op, soos geïmpliseer word deur die woorde van Jesus: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
17. Hoe bou liefde op, en waarvan sal dit ons weerhou?
17 In 1 Korinthiërs 8:1 het Paulus die Griekse woord a·gaʹpe gebruik, wat beginselvaste liefde beteken. Dit bou op, want dit is lankmoedig en vriendelik, dit bedek en verdra alles en vergaan nimmermeer. Hierdie liefde verdryf skadelike emosies, soos trots en jaloesie (1 Korinthiërs 13:4-8). Sulke liefde sal ons daarvan weerhou om oor ons broers te kla wat net so onvolmaak soos ons is. Dit sal keer dat ons soos die “goddelose mense” word wat onder die ware Christene van die eerste eeu “ingesluip” het. Hierdie manne het ‘heerskappy verag en die heerlike wesens gelaster’ deur blykbaar kwaad te praat van persone soos die gesalfde Christenopsieners aan wie ’n mate van heerlikheid verleen is (Judas 3, 4, 8). In ons lojaliteit teenoor Jehovah wil ons nooit voor die versoeking swig om iets soortgelyks te doen nie.
Weerstaan die Duiwel!
18. Wat sou Satan graag met Jehovah se volk wou doen, maar waarom kan hy dit nie doen nie?
18 Die wete dat Satan ons eenheid as God se volk wil vernietig, moet ons meer vasbeslote maak om Jehovah lojaal te dien. Satan sou selfs ál God se knegte wou vernietig, en die Duiwel se aardse knegte maak wel soms ware aanbidders dood. Maar God sal Satan nie toelaat om hulle almal te vernietig nie. Jesus het gesterf om ‘hom tot niet te maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel’ (Hebreërs 2:14). Satan se magsgebied is veral beperk sedert hy uit die hemel gewerp is ná Christus in 1914 Koning geword het. En op Jehovah se vasgestelde tyd sal Jesus Satan en sy organisasie vernietig.
19. (a) Hoe het hierdie tydskrif jare gelede teen Satan se pogings gewaarsku? (b) Waarvoor moet ons versigtig wees in ons handelinge met medegelowiges as ons Satan se strikke wil vermy?
19 Hierdie tydskrif het eenkeer gewaarsku: “As Satan, die duiwel, kan veroorsaak dat daar wanorde onder God se volk is, kan veroorsaak dat hulle onder mekaar twis en baklei of hulle ’n selfsugtige gesindheid kan laat openbaar en ontwikkel, wat daartoe sal lei dat die liefde vir die broers vernietig word, sal hy dit sodoende regkry om hulle te verslind” (The Watch Tower, 1 Mei 1921, bladsy 134). Ons moet nie toelaat dat die Duiwel ons eenheid vernietig deur ons moontlik te oorreed om mekaar te belaster of met mekaar te baklei nie (Levitikus 19:16). Mag Satan ons nooit só uitoorlê dat ons diegene wat Jehovah lojaal dien kwaad aandoen of die lewe vir hulle moeiliker maak nie. (Vergelyk 2 Korinthiërs 2:10, 11, NW.) Laat ons eerder Petrus se woorde toepas: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Petrus 5:8, 9). As ons Satan standvastig teëstaan, kan ons ons geseënde eenheid as Jehovah se volk behou.—Psalm 133:1-3.
Vertrou biddend op God
20, 21. Hoe hou biddende vertroue op Jehovah verband met ons lojale diens aan hom?
20 Biddende vertroue op God sal ons help om Jehovah lojaal te bly dien. Wanneer ons sien dat hy ons gebede verhoor, kom ons al hoe nader aan hom. Die apostel Paulus het ons aangespoor om biddend op Jehovah God te vertrou toe hy geskryf het: “Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige [“lojale”, NW] hande ophef sonder toorn en twis” (1 Timotheüs 2:8). Hoe belangrik is dit byvoorbeeld tog dat ouere manne biddend op God vertrou! As hulle sulke lojaliteit teenoor Jehovah toon wanneer hulle vergader om gemeentelike sake te bespreek, sal dit hulle help om eindelose debatte en moontlike woede-uitbarstings te voorkom.
21 Biddende vertroue op Jehovah God help ons om ons voorregte in sy diens uit te voer. ’n Man wat Jehovah dekades lank lojaal gedien het, het gesê: “As ons enige toewysing wat ons in God se wêreldwye organisasie ontvang gewillig aanvaar en as ons onbeweeglik op ons pos bly, sal God ons ywerige pogings goedkeur. Al lyk dit na ’n nederige takie gebeur dit dikwels dat baie ander belangrike dienste nie verrig kan word as die opdrag nie getrou uitgevoer word nie. As ons dus nederig is en werklik daarin belangstel om Jehovah se naam te verheerlik en nie ons eie nie, kan ons seker wees dat ons ‘standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here’ sal wees.”—1 Korinthiërs 15:58.
22. Hoe behoort al die seëninge van Jehovah ons lojaliteit te beïnvloed?
22 Ongeag wat ons in Jehovah se diens doen, ons kan hom natuurlik nie vergoed vir wat hy vir ons doen nie. Hoe veilig is ons tog in God se organisasie, omring deur diegene wat sy vriende is! (Jakobus 2:23). Jehovah het ons geseën met eenheid wat uit broederliefde spruit wat so diepgewortel is dat Satan self dit nie kan ontwortel nie. Laat ons gevolglik lojaal bly teenoor ons lojale hemelse Vader en as sy volk saamwerk. Laat ons Jehovah nou en tot in ewigheid lojaal dien.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat beteken dit om lojaal te wees?
◻ Wat is party faktore wat ons moet beweeg om Jehovah lojaal te dien?
◻ Waarom moet ons die Duiwel teëstaan?
◻ Hoe kan gebed ons help om Jehovah se lojale knegte te wees?
[Prent op bladsy 23]
Jehovah se lojale knegte laat nie hulle leeuagtige Teëstander, die Duiwel, toe om hulle eenheid te ontwrig nie