‘Hulle ken sy stem’
“DIE HERE is my herder.” Dit is die openingswoorde van Psalm 23. In die profesie van Jesaja vergelyk die Skrif Jehovah God weer met ’n herder en sê: “Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.”—Jesaja 40:11.
Jesus Christus word eweneens met ’n herder vergelyk. Hy het gesê: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (Johannes 10:11). Jesus het gesê die “skape luister na [die herder se] stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit”. Hy het bygevoeg dat ‘die skape [die herder] volg, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.’—Johannes 10:2-5.
Jehovah God sowel as sy Seun, Jesus Christus, het die beeld gestand gedoen wat in die voorgaande tekste geskilder word. Hulle behandel hulle figuurlike skape met teerheid en liefdevolle sorg. Die skape voel gevolglik bemind, geborge en veilig.
Hierdie verhouding word gepas met dié vergelyk van letterlike skape met hulle herder. In 1831 het John Hartley oor sy waarnemings in hierdie verband geskryf. Hy het opgemerk dat dit in Griekeland gebruiklik was vir herders om hulle skape name te gee. Wanneer die skaap op sy naam genoem is, het hy na die herder se stem geluister. Ongeveer 51 jaar later, in 1882, het J. L. Porter iets soortgelyks opgemerk. Hy het self gesien hoe herders “’n deurdringende, eienaardige roep . . . gee” waarop die skape gereageer het deur die herders gehoorsaam te volg. Daardie selfde jaar het William M. Thomson oor herhaalde proefnemings geskryf wat bewys het dat skape geleer kan word om hulle herder te volg en sy stem te herken.
Is hierdie unieke verhouding tussen herders en hulle skape meer onlangs waargeneem? Ja. In die National Geographic se nommer van September 1993 het die Australiese reisiger Robyn Davidson die volgende oor die Rabariese herders in noordwestelike Indië geskryf: “Elke herder gebruik effens verskillende roepe, variasies op ’n tema. Daar is oggendroepe om te vertrek, ’n roep om die skape na die water toe te laat kom, ensovoorts. Elke man ken sy eie skape en omgekeerd, en sy besondere kudde sal soggens onder die groter kudde uitbeweeg en agter hom aanloop.”
Jesus het ongetwyfeld ook opgemerk wat deur die vier reisigers wat so pas genoem is, beskryf is. Wat hy self gesien het, het sy illustrasie van die skape wat sy stem ken meer realisties gemaak. Is jy een van Jesus se skape? Ken jy sy stem en luister jy daarna? As jy erken dat sy onderrigting die waarheid is en as jy sy gebooie gehoorsaam en sy leiding volg deur Jehovah te aanbid, kan jy die liefdevolle en tere herderskap van Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, ervaar.—Johannes 15:10.