Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 12 bl. 159-171
  • Die groot menigte—Gaan hulle in die hemel of op die aarde woon?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die groot menigte—Gaan hulle in die hemel of op die aarde woon?
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Prediking met watter doel?
  • Die ewige lewe in volmaaktheid op die aarde
  • Wie sou vir ewig op die aarde lewe?
  • “Skape” aan Christus se regterhand
  • ’n Ferm standpunt vir ware aanbidding
  • Die “groot menigte”—Wie is hulle?
  • ’n Dringende werk wat gedoen moet word
  • Een kudde onder een herder
  • ‘Kyk! Die groot skare!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ’n Talryke groot menigte
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • ’n Groot menigte ware aanbidders—Waar kom hulle vandaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • “Kyk! ’n groot menigte”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 12 bl. 159-171

Hoofstuk 12

Die groot menigte—Gaan hulle in die hemel of op die aarde woon?

IN TEENSTELLING met lidmate van die Christendom se godsdienste sien die meeste van Jehovah se Getuies uit na ’n ewige lewe, nie in die hemel nie, maar op die aarde. Waarom?

Dit was nie altyd die geval nie. Die eerste-eeuse Christene het die verwagting gekoester om eendag as hemelse konings saam met Jesus Christus te regeer (Matt. 11:12; Luk. 22:28-30). Maar Jesus het vir hulle gesê dat die Koninkrykserfgename net ’n “klein kuddetjie” sou wees (Luk. 12:32). Wie sou daarby ingesluit word? Hoeveel sou daar wees? Hulle het later eers die besonderhede uitgevind.

Jesus se eerste Joodse dissipels is op Pinkster 33 G.J. met heilige gees gesalf om mede-erfgename van Christus te wees. In 36 G.J. het die werking van God se gees dit duidelik laat blyk dat onbesnede nie-Jode ook deelgenote aan daardie erfenis sou wees (Hand. 15:7-9; Ef. 3:5, 6). Nog 60 jaar het verloop voordat daar aan die apostel Johannes geopenbaar is dat net 144 000 van die aarde af geneem sou word om saam met Christus deel van die hemelse Koninkryk uit te maak.—Openb. 7:4-8; 14:1-3.

Charles Taze Russell en sy metgeselle het daardie hoop gekoester, en dit was tot die middel-dertigerjare die geval met die meeste van Jehovah se Getuies. Hulle het ook vanweë hulle studie van die Skrif geweet dat salwing met die heilige gees nie net aangedui het dat mense eendag as konings en priesters saam met Christus in die hemel sal dien nie, maar ook dat hulle ’n spesiale werk gehad het terwyl hulle nog in die vlees was (1 Pet. 1:3, 4; 2:9; Openb. 20:6). Watter werk? Hulle het Jesaja 61:1 goed geken en die woorde dikwels aangehaal: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges.”

Prediking met watter doel?

Hoewel daar min van hulle was, het hulle probeer om die waarheid oor God en sy voorneme aan soveel mense moontlik oor te dra. Hulle het ontsaglike hoeveelhede lektuur gedruk en versprei waarin die goeie nuus oor sy voorsiening vir redding deur Christus bekend gemaak is. Maar dit was glad nie hulle doel om almal vir wie hulle gepreek het tot bekering te bring nie. Waarom het hulle dan vir hulle gepreek? Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vir Julie 1889 het verduidelik: “Ons is sy [Jehovah se] verteenwoordigers op die aarde; die eer van sy naam moet in die teenwoordigheid van sy vyande en voor baie van sy misleide kinders verheerlik word; sy heerlike plan moet wyd en syd verkondig word as ’n teëwig teen al die slim planne wat mense bedink en bedink het.”

Spesiale aandag is geskenk aan diegene wat beweer het dat hulle die Here se volk is, van wie talle lidmate van die Christendom se kerke was. Waarom is daar vir hulle gepreek? Soos broer Russell dikwels verduidelik het, was dit nie die vroeë Bybelstudente se begeerte om kerklidmate af te rokkel na ’n ander organisasie nie, maar om hulle te help om nader aan die Here te kom as lede van die een ware kerk. Maar die Bybelstudente het geweet dat sulke mense in gehoorsaamheid aan Openbaring 18:4 uit “Babilon” moet uitgaan, wat hulle geglo het die nominale kerk is, dit wil sê die kerke van die Christendom met al hulle onskriftuurlike leringe en sektariese verdeeldhede. Broer Russell het in die heel eerste nommer van Die Wagtoring (Julie 1879 [Engelse uitgawe]) gesê: “Ons verstaan dat die doel van die huidige predikingswerk is om ‘’n volk vir sy naam aan te neem’—die Kerk—wat met Christus se koms met Hom verenig word en Sy naam ontvang. Openb. iii. 12.”

Hulle het besef dat daar op daardie tydstip net een “roeping” vir alle ware Christene was. Dit was ’n uitnodiging om lede van die bruid van Christus te wees, wat eindelik net 144 000 sou tel (Ef. 4:4; Openb. 14:1-5). Hulle het almal wat bely het dat hulle in Christus se losprysoffer glo, probeer aanspoor, of hulle nou kerklidmate was of nie, om “die grootste en kosbare beloftes” van God te waardeer (2 Pet. 1:4; Ef. 1:18). Hulle het hulle probeer besiel om met ywer aan die vereistes vir die klein kuddetjie Koninkrykserfgename te voldoen. Broer Russell en sy metgeselle het ywerig daarna gestrewe om, deur middel van Die Wagtoring en ander Bybelse publikasies, geestelike “voedsel op tyd” beskikbaar te stel vir die geestelike versterking van al hierdie Koninkrykserfgename, wat hulle gemeen het “die huisgenote van die geloof” uitmaak (omdat hulle bely het dat hulle in die losprys glo).—Gal. 6:10; Matt. 24:45, 46.

Maar hulle kon sien dat nie almal wat bely het dat hulle hulle “toegewy” het (of, soos hulle dit verstaan het, ‘hulle ten volle aan die Here gegee het’) daarna aangehou het om ’n lewe van gewillige selfopoffering te lei en die Here se diens eerste in hulle lewe te stel nie. Soos hulle egter verduidelik het, het toegewyde Christene gewillig ingestem om hulle menslike natuur prys te gee vir die vooruitsig op ’n hemelse erfenis; hulle kon nie terugdraai nie; as hulle nie lewe in die geestesryk verkry het nie, het die tweede dood op hulle gewag (Hebr. 6:4-6; 10:26-29). Tog het baie sogenaamd toegewyde Christene die maklike weg gevolg; hulle het nie ware ywer vir die Here se saak getoon en selfopoffering aan die dag gelê nie. Hulle het nietemin nie die losprys verwerp nie en het redelik rein gelewe. Wat sou van sulke mense word?

Die Bybelstudente het baie jare lank gedink dat dit die groep is wat in Openbaring 7:9, 14 beskryf word, waar dit van “’n groot menigte” praat wat uit die groot verdrukking kom en “voor die troon” van God en voor die Lam, Jesus Christus, staan. Hulle het geredeneer dat hoewel hierdie mense ’n lewe van selfopoffering verwerp het, hulle geloof tog op die proef gestel sou word en dat hulle sou sterf gedurende ’n tyd van verdrukking nadat die laaste lede van die bruid van Christus verheerlik is. Hulle het geglo dat hierdie vermeende lede van die groot menigte, indien hulle op daardie tydstip getrou is, tot hemelse lewe opgewek sou word—nie om as konings te regeer nie, maar om voor die troon stelling in te neem. Daar is geredeneer dat hulle sulke sekondêre posisies sou ontvang omdat hulle liefde vir die Here nie vurig genoeg was nie, omdat hulle nie ywerig genoeg was nie. Daar is gemeen dat hierdie mense deur God se gees verwek is, maar dat hulle God nie gehoorsaam het nie, moontlik deur aan te hou om aan die Christendom se kerke vas te kleef.

Hulle het ook geleer dat die “waardiges uit die ou tyd” wat gedurende die millennium as vorste op die aarde sou dien miskien—net miskien—aan die einde van daardie tydperk op die een of ander manier hemelse lewe sou ontvang (Ps. 45:17). Hulle het geredeneer dat enigiemand wat hom “toegewy” het nadat die 144 000 Koninkrykserfgename almal gekies is, maar voordat die herstelling op aarde begin het, moontlik ’n soortgelyke vooruitsig het. Dit was in beperkte sin ’n oorblyfsel van die Christendom se beskouing, naamlik dat almal wat goed genoeg is hemel toe gaan. Maar daar was ’n opvatting uit die Skrif wat deur die Bybelstudente gekoester is wat hulle van die hele Christendom onderskei het. Wat was dit?

Die ewige lewe in volmaaktheid op die aarde

Hulle het geweet dat hoewel ’n beperkte getal mense die hemelse lewe sou ontvang daar baie meer sou wees wat met die ewige lewe op aarde begunstig sou word onder toestande soortgelyk aan dié wat in die Paradys van Eden bestaan het. Jesus het sy volgelinge leer bid: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Hy het ook gesê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”—Matt. 5:5; 6:10.

In ooreenstemming daarmee het ’n diagrama wat as byvoegsel tot Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vir Julie-Augustus 1881 uitgegee is, getoon dat daar baie onder die mensdom is wat God se goedkeuring gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sou verkry en wat die “mensewêreld [sou uitmaak] wat tot menslike volmaaktheid en lewe opgehef sou word”. Hierdie diagram is baie jare lank gebruik as die grondslag vir lesings aan groepe, klein sowel as groot.

Onder watter toestande sou mense gedurende daardie millennium op die aarde lewe? Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Julie 1912 het verduidelik: “Voordat die sonde in die wêreld ingekom het, was die Tuin van Eden die Goddelike voorsiening vir ons eerste ouers. Laat ons nou, terwyl ons hieraan dink, ons gedagtes op die toekoms rig, terwyl ons ons deur God se Woord laat lei; en in ’n gedagtebeeld sien ons die herstelde Paradys—nie net ’n tuin nie, maar die hele aarde wat mooi, vrugbaar, sondeloos, gelukkig gemaak is. Dan dink ons aan die geïnspireerde belofte wat ons so goed ken—‘En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie’, want die eerste dinge van sonde en die dood sal verby wees, en alle dinge sal nuut gemaak wees!—Openb. 21:4, 5.”

Wie sou vir ewig op die aarde lewe?

Broer Russell het hoegenaamd nie gedink dat God die mensdom ’n keuse gee nie—hemelse lewe vir dié wat dit wil hê en die lewe in ’n aardse paradys vir diegene wat gedink het dat hulle dit sou verkies. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 September 1905 het gesê: “Ons gevoelens of aspirasies is nie die roeping nie. Anders sal dit beteken dat ons onsself roep. Waar die Apostel van ons priesterskap praat, sê hy: ‘Niemand neem die waardigheid vir homself nie, maar hy wat deur God geroep word’ (Hebr. 5:4), en die plek om vas te stel wat God se roeping is, is nie in ons gevoelens nie, maar in God se eie Woord van openbaring.”

Oor die geleentheid om in ’n herstelde aardse paradys te woon, het die Bybelstudente geglo dat mense dit eers sal kry wanneer die hele klein kuddetjie hulle beloning ontvang het en die millennium ten volle ingelui is. Hulle het verstaan dat dít die tyd sou wees van die “herstelling van alle dinge” waarvan Handelinge 3:21 (KJ) praat. Selfs die dooies sal dan opgewek word sodat almal daardie liefdevolle voorsiening kan geniet. Die broers het gedink dat die hele mensdom (buiten diegene wat die roeping tot die hemelse lewe ontvang) dan die geleentheid gebied sal word om die lewe te kies. Soos hulle dit verstaan het, sou dit die tyd wees wanneer Christus op sy hemelse troon die mense van mekaar sou afskei soos ’n herder die skape van die bokke afskei (Matt. 25:31-46). Die gehoorsames, of hulle nou as Jode of as nie-Jode gebore is, sal die Here se “ander skape” wees.—Joh. 10:16.b

Ná die einde van die Heidense Tye het hulle gedink dat die tyd van herstelling baie naby is; van 1918 tot 1925 het hulle dus verkondig: “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie.” Ja, hulle het verstaan dat die mense wat toe gelewe het—die mensdom oor die algemeen—die geleentheid gehad het om tot in die tyd van die herstelling te bly lewe en dat hulle dan geleer sou word wat Jehovah se vereistes vir die lewe is. As hulle gehoorsaam was, sou hulle geleidelik menslike volmaaktheid bereik het. As hulle opstandig was, sou hulle uiteindelik vir ewig vernietig word.

Die broers het gedurende daardie vroeë jare geen benul gehad dat die Koninkryksboodskap op so ’n groot skaal en oor soveel jaar verkondig sou word as wat wel die geval is nie. Maar hulle het aangehou om die Skrif te ondersoek en het probeer om die werk te doen wat die Skrif getoon het God wou hê hulle moes doen.

“Skape” aan Christus se regterhand

’n Baie belangrike stap in die begrip van Jehovah se voorneme het met Jesus se gelykenis van die skape en die bokke in Mattheüs 25:31-46 verband gehou. Jesus het in daardie gelykenis gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.” Soos die gelykenis verder toon, is die “skape” dié wat Christus se “broeders” help en hulle selfs verligting gee wanneer hulle vervolg word en in die gevangenis is.

Daar is lank gemeen dat hierdie gelykenis gedurende die millennium, gedurende die herstelling, van toepassing sou wees en dat die finale oordeel waarvan die gelykenis praat die een is wat aan die einde van die Millennium sal plaasvind. Maar in 1923 het J. F. Rutherford, die president van die Wagtoringgenootskap, die redes vir ’n ander beskouing in ’n insiggewende toespraak in Los Angeles, Kalifornië, uiteengesit. Dit het later daardie jaar in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Oktober verskyn.

Waar die artikel die tyd bespreek het wanneer hierdie profetiese gelykenis vervul sou word, het dit getoon dat Jesus dit gegee het as deel van sy antwoord op ’n vraag oor ‘die teken van sy koms en van die voleinding van die wêreld’ (Matt. 24:3). Die artikel het verduidelik waarom die “broeders” waarvan die gelykenis praat nie die Jode van die Evangelietydperk en ook nie die mense wat gedurende die millennium van toetsing en oordeel geloof toon, kon wees nie, maar diegene is wat saam met Christus erfgename van die hemelse Koninkryk is, en daarom moet daardie gelykenis dus vervul word wanneer sommige van Christus se mede-erfgename nog in die vlees is. —Vergelyk Hebreërs 2:10, 11.

Die ondervindinge van daardie gesalfde broeders van Christus toe hulle probeer het om vir die geestelikes en vir die gewone mense in die kerke van die Christendom te getuig, het ook getoon dat die profesie wat in Jesus se gelykenis omvat word reeds in vervulling was. Hoe so? Baie van die geestelikes en belangrike lidmate van hulle kerke was hulle vyandiggesind—geen verkwikkende glas water, letterlik of figuurlik, nie; pleks daarvan het sommige van hulle bendes opgesteek om die broeders se klere van hulle af te skeur en hulle te slaan, of hulle het geëis dat amptenare hulle in die tronk gooi (Matt. 25:41-43). Daarteenoor het talle nederige kerklidmate die Koninkryksboodskap met blydskap ontvang, die draers van die boodskap verkwik en gedoen wat hulle kon om die gesalfdes te help selfs toe hulle ter wille van die goeie nuus gevange geneem is.—Matt. 25:34-36.

So ver die Bybelstudente kon sien, was die skape van wie Jesus gepraat het nog in die Christendom se kerke. Hulle het geredeneer dat dit mense was wat nie beweer het dat hulle aan die Here toegewy is nie, maar wat wel groot respek vir Jesus Christus en vir sy volk gehad het. Maar kon hulle in die kerke bly?

’n Ferm standpunt vir ware aanbidding

’n Studie van die Bybel se profetiese boek Esegiël het lig hierop gewerp. Die eerste boek van drie, getiteld Regverdiging, wat kommentaar oor Esegiël bevat het, is in 1931 uitgegee. Dit het die belangrikheid verduidelik van wat Esegiël oor Jehovah se toorn teen die eertydse, afvallige Juda en Jerusalem geskryf het. Hoewel die mense van Juda beweer het dat hulle die lewende en ware God dien, het hulle die godsdiensrituele van die omliggende nasies oorgeneem, wierook aan lewelose afgode geoffer en hulle vertroue op onsedelike wyse in politieke verbonde gestel pleks van geloof in Jehovah te beoefen (Eseg. 8:5-18; 16:26, 28, 29; 20:32). Hulle was in al hierdie opsigte net soos die Christendom; Jehovah sal dus konsekwent optree en sy oordeel aan die Christendom voltrek net soos hy dit aan die ontroue Juda en Jerusalem voltrek het. Maar hoofstuk 9 van Esegiël toon dat sommige voor die Goddelike voltrekking van oordeel vir oorlewing gemerk sal word. Wie is hulle?

Die profesie sê dat diegene wat gemerk is, sal “sug en steun oor al die gruwels” wat in die Christendom, of die antitipiese Jerusalem, gedoen word (Eseg. 9:4). Dit sal immers beteken dat hulle nie opsetlik ’n aandeel in daardie gruwels sal hê nie. Die eerste boek van Regverdiging het diegene wat die merk het, geïdentifiseer as mense wat weier om ’n deel van die kerkorganisasies van die Christendom te wees en wat hulle standpunt op die een of ander manier aan die kant van die Here inneem.

Hierdie materiaal is in 1932 opgevolg deur ’n bespreking van die Bybelverslag oor Jehu en Jonadab en die profetiese implikasies daarvan. Jehu is deur Jehovah aangestel as koning oor die tienstammeryk van Israel en beveel om Jehovah se oordeel aan die goddelose huis van Agab en Isebel te voltrek. Toe Jehu op pad was na Samaria om Baälaanbidding uit te wis, het Jonadab, die seun van Regab, hom tegemoetgegaan. Jehu het vir Jonadab gevra: “Is jou hart reg?” en Jonadab het geantwoord: “Ja.” “Gee jou hand”, het Jehu genooi, en hy het Jonadab op sy wa laat klim. Toe het Jehu hom aangespoor: “Gaan saam met my en aanskou met welgevalle my ywer vir die HERE” (2 Kon. 10:15-28). Hoewel Jonadab nie ’n Israeliet was nie, het hy saamgestem met wat Jehu gedoen het; hy het geweet dat Jehovah, die ware God, uitsluitlike toegewydheid moet ontvang (Ex. 20:4, 5). Jonadab se nakomelinge het eeue later steeds ’n gesindheid geopenbaar wat Jehovah se goedkeuring weggedra het, en Hy het dus belowe: “Daar sal vir Jonadab, die seun van Regab, nooit ’n man ontbreek wat altyd voor my aangesig sal staan nie” (Jer. 35:19). Die vraag het dus ontstaan: Is daar vandag mense op aarde wat nie geestelike Israeliete met ’n hemelse erfenis is nie, maar wat soos Jonadab is?

Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Augustus 1932 het verduidelik: “Jonadab het daardie klas mense afgebeeld of voorafgeskadu wat nou op die aarde is . . . [en] dit nie met Satan se organisasie eens is nie, wat hulle standpunt aan die kant van regverdigheid inneem en diegene is wat die Here gedurende die tyd van Armageddon sal bewaar, deur daardie moeilikheid heen sal neem en die ewige lewe op die aarde sal gee. Hulle maak die ‘skape’-klas uit wat God se gesalfde volk gunstig gesind is, omdat hulle weet dat die Here se gesalfdes die Here se werk doen.” Diegene wat so ’n gesindheid geopenbaar het, is genooi om deel te neem aan die verkondiging van die Koninkryksboodskap aan ander, net soos die gesalfdes gedoen het.—Openb. 22:17.

Daar was sommige onder Jehovah se Getuies (hoewel hulle destyds maar relatief min was) wat besef het dat God se gees nie die hoop op die hemelse lewe in hulle verwek het nie. Hulle het as die Jonadabs begin bekend staan, want hulle het dit, soos Jonadab van die ou tyd, as ’n voorreg beskou om met Jehovah se gesalfde knegte geïdentifiseer te word, en hulle was bly om deel te hê aan die voorregte wat God se Woord aan hulle uitgewys het. Sou hierdie mense wat die vooruitsig gehad het om nooit te sterf nie voor Armageddon talryk word? Was dit moontlik, soos daar gesê is, dat hulle miljoene kon tel?

Die “groot menigte”—Wie is hulle?

Toe daar aangekondig is dat Jehovah se Getuies reëlings tref om van 30 Mei tot 3 Junie 1935 ’n byeenkoms in Washington, DC, te hou, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) gesê: “Nie baie Jonadabs het tot dusver die geleentheid gehad om ’n byeenkoms by te woon nie, en die byeenkoms in Washington sal moontlik vir hulle ’n ware vertroosting wees en hulle tot voordeel strek.” Dit was beslis waar.

By daardie byeenkoms is daar besondere aandag geskenk aan Openbaring 7:9, 10, wat sê: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Wie maak hierdie groot menigte uit?

Daar is jare lank, selfs tot in 1935, nie gemeen dat hulle dieselfde is as die skape in Jesus se gelykenis van die skape en die bokke nie. Soos reeds gesê is, is daar gedink dat hulle ’n sekondêre hemelse klas is—sekondêr omdat hulle God nie ten volle gehoorsaam het nie.

Maar daardie beskouing het tot onbeantwoorde vrae gelei. Sommige van die vrae is vroeg in 1935 tydens die middagete by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier bespreek. Party wat by daardie geleentheid hulle mening uitgespreek het, het bespiegel dat die groot menigte ’n aardse klas is. Grant Suiter, wat later ’n lid van die Bestuursliggaam geword het, het gesê: “By een Bethelstudie wat deur broer T. J. Sullivan gelei is, het ek gevra: ‘Toon die feit dat die groot menigte die ewige lewe beërf dat die lede van daardie groep hulle onkreukbaarheid handhaaf?’ Daar was baie kommentare maar geen afdoende antwoord nie.” Wel, op Vrydag, 31 Mei 1935, is daar ’n bevredigende antwoord by die byeenkoms in Washington, DC, gegee. Broer Suiter het op die balkon gesit en oor die skare heen gekyk, en hoe opgewonde was hy tog nie namate die toespraak ontwikkel het nie!

Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het kort ná die byeenkoms, in sy nommers van 1 en 15 Augustus 1935, gepubliseer wat in daardie toespraak gesê is. Dit het daarop gewys dat ’n mens sake alleen behoorlik kan verstaan as jy erken dat Jehovah se hoofdoel nie die redding van mense is nie, maar die regverdiging van sy eie naam (of, soos ons sal sê, die regverdiging van sy soewereiniteit). Jehovah keur dus diegene goed wat hulle onkreukbaarheid teenoor hom behou; hy beloon nie diegene wat sê dat hulle sy wil sal doen, maar sy naam dan oneer aandoen deur ’n kompromis met die Duiwel se organisasie aan te gaan nie. Hierdie vereiste van getrouheid is van toepassing op almal wat God se goedkeuring geniet.

Die Wagtoring het in ooreenstemming hiermee gesê: “Openbaring 7:15 is in werklikheid die sleutel tot die identifisering van die groot menigte. . . . Hierdie beskrywing van die groot menigte in Openbaring sê dat ‘hulle voor die troon van God is en Hom in die openbaar dien’ . . . Hulle sien en verstaan en gehoorsaam die woorde van Jesus, die Lam van God, wat vir hulle sê: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien’; welke woorde van toepassing is op almal wat Jehovah se goedkeuring geniet” (Matt. 4:10). Wat die Bybel oor die groot menigte sê, kon dus nie tereg vertolk word as ’n veiligheidsnet vir mense wat bely het dat hulle God liefhet, maar wat nie daarin belanggestel het om sy wil te doen nie.

Is die groot menigte dan ’n hemelse klas? Die Wagtoring het getoon dat die bewoording van die Skrifgedeelte nie op so ’n gevolgtrekking gedui het nie. Oor die posisie “voor die troon” het dit getoon dat al die nasies volgens Mattheüs 25:31, 32 voor die troon van Christus versamel word, hoewel daardie nasies op die aarde is. Die groot menigte ‘staan’ egter voor die troon omdat hulle die goedkeuring van die Een op die troon geniet.—Vergelyk Jeremia 35:19.

Maar waar sou so ’n groep gevind word, naamlik mense “uit alle nasies”, mense wat nie deel uitgemaak het van geestelike Israel (wat vroeër, in Openbaring 7:4-8, beskryf is) nie, mense wat geloof gestel het in die losprys (deur hulle klere figuurlik gesproke in die bloed van die Lam te was), mense wat Christus as Koning verwelkom het (met palmtakke in hulle hande, soos die skare wat Jesus as Koning verwelkom het toe hy in Jerusalem ingery het), mense wat hulle waarlik voor Jehovah se troon aangebied het om hom te dien? Was daar so ’n groep mense op die aarde?

Jehovah self het die antwoord verskaf deur sy eie profetiese woord te vervul. Webster Roe, wat die byeenkoms in Washington bygewoon het, onthou dat broer Rutherford tydens ’n hoogtepunt in sy toespraak gevra het: “Sal almal wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe asseblief opstaan?” Volgens broer Roe het ‘meer as die helfte van die gehoor opgestaan’. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Augustus 1935 het in ooreenstemming hiermee gesê: “Ons sien nou ’n groep wat presies voldoen aan die beskrywing wat in Openbaring sewe van die groot menigte gegee word. Gedurende die afgelope paar jaar, en binne die tyd wanneer ‘hierdie evangelie van die koninkryk tot ’n getuienis verkondig word’, het daar groot getalle na vore gekom (en hulle kom steeds) wat bely dat die Here Jesus hulle Verlosser is en dat Jehovah hulle God is wat hulle in gees en waarheid aanbid en met vreugde dien. Hulle staan ook as ‘die Jonadabs’ bekend. Hulle word ter simbolisering daarvan gedoop, en hulle getuig sodoende dat hulle . . . hulle standpunt aan Jehovah se kant ingeneem het en hom en sy Koning dien.”

Op daardie tydstip is daar gesien dat die groot menigte van Openbaring 7:9, 10 ook deel uitmaak van die “ander skape” van wie Jesus gepraat het (Joh. 10:16); dit is hulle wat Christus se “broeders” help (Matt. 25:33-40); dit is hulle wat vir oorlewing gemerk word omdat hulle diep gegrief is oor die gruwels wat in die Christendom gedoen word en dit verwerp (Eseg. 9:4); hulle is soos Jonadab, wat hom openlik met Jehovah se gesalfde kneg geïdentifiseer het in die uitvoering van sy godgegewe opdrag (2 Kon. 10:15, 16). Jehovah se Getuies verstaan dat die groot menigte lojale knegte van God is wat Armageddon sal oorlewe met die vooruitsig om vir ewig te lewe op ’n aarde wat tot ’n Paradystoestand herstel is.

’n Dringende werk wat gedoen moet word

Hulle begrip van hierdie Skrifgedeeltes het ’n verreikende uitwerking op die bedrywigheid van Jehovah se knegte gehad. Hulle het besef dat dit nie hulle sou wees wat die lede van die groot menigte moes kies en insamel nie; hulle kon nie vir mense sê of hulle ’n hemelse of aardse hoop het nie. Die Here sou sake in ooreenstemming met sy wil rig. Maar as Jehovah se Getuies het hulle ’n ernstige verantwoordelikheid gehad. Hulle moes die Woord van God verkondig en ander die waarhede vertel wat Hy hulle in staat gestel het om te verstaan sodat mense van Jehovah se voorsienings kon weet en die geleentheid kon hê om met waardering daarop te reageer.

Hulle het boonop besef dat hulle werk baie dringend is. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het in ’n reeks artikels, “Die insameling van die menigte”, wat in 1936 gepubliseer is, verduidelik: “Die Skrif verleen sterk steun aan die gevolgtrekking dat Jehovah die volke van die aarde by Armageddon sal verslaan en net diegene sal red wat sy gebooie gehoorsaam deur sy organisasie te steun. In die verlede het miljoene der miljoene mense gesterf sonder dat hulle ooit van God en Christus gehoor het, en hulle moet op die bestemde tyd uit die dood opgewek word en kennis van die waarheid inneem sodat hulle hulle keuse kan doen. Maar die situasie is anders vir die mense wat nou op die aarde is. . . . Diegene wat die groot menigte uitmaak, moet hierdie evangelieboodskap hoor voor die dag van die stryd van die almagtige God, wat Armageddon is. As die groot menigte nie nou die boodskap van waarheid ontvang nie, sal dit te laat wees wanneer die slagting eers begin.”—Sien 2 Konings 10:25; Esegiël 9:5-10; Sefanja 2:1-3; Mattheüs 24:21; 25:46.

Hierdie begrip van die Skrif het Jehovah se Getuies met hernieude ywer vir die getuieniswerk besiel. Leo Kallio, wat later as ’n reisende opsiener in Finland gedien het, het gesê: “Ek kan nie onthou dat ek ooit soveel vreugde ervaar het en tot soveel ywer aangespoor is nie, en ek kan nie onthou dat ek ooit so vinnig op my fiets gery het as in daardie dae toe ek my gehaas het om belangstellendes die nuus te vertel dat hulle danksy Jehovah se onverdiende goedheid die ewige lewe op aarde aangebied is nie.”

Gedurende die volgende vyf jaar, namate die getal Getuies van Jehovah gestyg het, het die wat die embleme tydens die jaarlikse herdenking van Christus se dood gebruik het se getal geleidelik gedaal. Nogtans het die instroming van die groot menigte nie so vinnig plaasgevind as wat broer Rutherford verwag het nie. Hy het selfs vir Fred Franz, wat die Genootskap se vierde president geword het, gesê: “Dit lyk asof die ‘groot menigte’ tog nie so groot gaan wees nie.” Maar die getal Getuies van Jehovah het sedertdien tot miljoene aangegroei, terwyl die getal wat ’n hemelse erfenis verwag oor die algemeen aangehou daal het.

Een kudde onder een herder

Daar is geen wedywering tussen die gesalfde klas en die groot menigte nie. Diegene wat ’n hemelse hoop het, sien nie neer op diegene wat gretig daarna uitsien om die ewige lewe in ’n aardse paradys te ontvang nie. Elkeen aanvaar met dankbaarheid die voorregte wat God hom aanbied, en hy redeneer nie dat sy posisie hom op die een of ander manier ’n beter of slegter mens as iemand anders maak nie (Matt. 11:11; 1 Kor. 4:7). Soos Jesus voorspel het, het die twee groepe waarlik “een kudde” geword wat onder hom as hulle “een herder” dien.—Joh. 10:16.

Die gevoel wat Christus se gesalfde broers teenoor hulle metgeselle van die groot menigte koester, word goed uitgedruk in die boek Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”: “Sedert die Tweede Wêreldoorlog kan die vervulling van Jesus se profesie oor ‘die voleinding van die wêreld’ grootliks toegeskryf word aan die rol wat die ‘groot menigte’ ‘ander skape’ speel. Die lig van die aangesteekte lampe van die oorblyfsel het die oë van hulle hart verlig, en hulle is gehelp om die lig na ander wat nog in die duisternis van hierdie wêreld is te weerspieël. . . . Hulle het die onafskeibare metgeselle van die oorblyfsel van die bruidsklas geword. . . . Hartlike dank dus aan die internasionale, veeltalige ‘groot menigte’ vir hulle oorweldigende aandeel in die vervulling van die Bruidegom se profesie in Mattheüs 24:14!”

Maar terwyl Jehovah se Getuies, waaronder die groot menigte, eendragtig deelneem aan die verkondiging van die wonderlike nuus van God se Koninkryk het die publiek hulle ook vir iets anders as hulle ywerige predikingswerk leer ken.

[Voetnote]

a Hierdie “Chart of the Ages” is later in die boek The Divine Plan of the Ages herdruk.

b Zion’s Watch Tower, 15 Maart 1905, bl. 88-91.

[Lokteks op bladsy 159]

Die meeste van Jehovah se Getuies sien uit na die ewige lewe op die aarde

[Lokteks op bladsy 161]

’n Opvatting wat hulle van die hele Christendom onderskei het

[Lokteks op bladsy 164]

Die tyd van die vervulling van die gelykenis van die skape en die bokke

[Lokteks op bladsy 165]

Hulle het as Jonadabs begin bekend staan

[Lokteks op bladsy 166]

Die “groot menigte” is op 31 Mei 1935 duidelik geïdentifiseer

[Lokteks op bladsy 170]

’n Hemelse of ’n aardse hoop —wie bepaal dit?

[Venster op bladsy 160]

’n Tyd vir begrip

Sir Isaac Newton het meer as 250 jaar gelede al ’n interessante artikel oor die begrip van profesieë geskryf, onder andere die een oor die “groot menigte” van Openbaring 7:9, 10. In sy “Observations Upon the Prophecies of Daniel, and the Apocalypse of St. John”, wat in 1733 uitgegee is, het hy gesê: “Hierdie profesieë van Daniël en Johannes moet eers in die tyd van die einde verstaan word: maar dan sal sommige ’n baie lang tyd op ’n geteisterde en droewige wyse daaruit profeteer, en dít op ’n onheilspellende wyse sodat net ’n paar tot bekering gebring sal word. . . . Dan, het Daniël gesê, sal baie heen en weer loop, en die kennis sal vermeerder. Want die Evangelie moet voor die groot verdrukking, en einde van die wêreld, aan al die nasies verkondig word. Daar kan nie ’n tallose menigte met palmtakke in hulle hande uit hierdie groot verdrukking kom tensy hulle vóór die groot verdrukking deur die verkondiging van die Evangelie ingesamel word nie.”

[Venster/Prent op bladsy 168]

Die aarde, die mens se ewige tuiste

Wat was God se oorspronklike voorneme vir die mensdom?

“God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”—Gen. 1:28.

Het God se voorneme met betrekking tot die aarde verander?

“My woord . . . sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jes. 55:11.

“So sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.”—Jes. 45:18.

“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Matt. 6:9, 10.

“Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Ps. 37:9, 29.

Watter toestande sal daar onder God se Koninkryk op die aarde heers?

“Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”—2 Pet. 3:13.

“Nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”—Miga 4:3, 4.

“Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”—Jes. 65:21, 22.

“Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.”—Jes. 33:24.

“God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openb. 21:3, 4; sien ook Johannes 3:16.

“Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.”—Openb. 15:4.

[Venster/Prent op bladsy 169]

Die wat hemel toe gaan

Hoeveel mense gaan hemel toe?

“Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”—Luk. 12:32.

“Ek het gesien, en kyk, die Lam [Jesus Christus] staan op die [hemelse] berg Sion, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe. En hulle het ’n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd-vier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is.”—Openb. 14:1, 3.

Is die 144 000 almal Jode?

“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”—Gal. 3:28, 29.

“Nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis in dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie.”—Rom. 2:28, 29.

Waarom neem God sommige hemel toe?

“Hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”—Openb. 20:6.

[Grafiek op bladsy 171]

Gedenkmaalverslag

Binne 25 jaar het meer as 100 keer soveel mense die Gedenkmaal bygewoon as wat van die embleme gebruik het

[Grafiek]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Hoeveel die embleme gebruik het

Gedenkmaalopkoms

1,500,000

1,250,000

1,000,000

750,000

500,000

250,000

1935 1940 1945 1950 1955 1960

[Prent op bladsy 167]

By die byeenkoms in Washington, DC, is 840 gedoop

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel