Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 5/1 bl. 13-19
  • Wie sal “gered” word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie sal “gered” word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Twee vervullings van profesie
  • Hoe roep ons Jehovah se naam aan?
  • ’n Geestelike paradys
  • Die einde van ’n stelsel van dinge
  • Bybelboek nommer 29—Joël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ’n Aanval uit die noorde!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Beproewinge het ons vertroue in Jehovah versterk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hou die dag van Jehovah goed in gedagte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 5/1 bl. 13-19

Wie sal “gered” word?

“Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.”—HANDELINGE 2:21.

1. Waarom was Pinkster 33 G.J. ’n uiters belangrike dag in wêreldgeskiedenis?

PINKSTER 33 G.J. was ’n uiters belangrike dag in wêreldgeskiedenis. Waarom? Want op daardie dag is ’n nuwe nasie gebore. Dit was aanvanklik nie ’n baie groot nasie nie—’n skrale 120 dissipels van Jesus wat in ’n bovertrek in Jerusalem vergader het. Maar terwyl die meeste nasies wat destyds bestaan het vandag vergete is, is die nasie wat in daardie bovertrek gebore is nog steeds met ons. Hierdie feit is vir ons almal van die allergrootste belang, aangesien dít die nasie is wat deur God aangestel is om sy getuies voor die mensdom te wees.

2. Watter wonderdadige gebeure het die geboorte van die nuwe nasie gekenmerk?

2 Toe daardie nuwe nasie in aansyn gekom het, het belangrike gebeure plaasgevind wat Joël se profetiese woorde vervul het. Ons lees van hierdie gebeure in Handelinge 2:2-4: “Skielik het daar ’n gedruis uit die hemel gekom soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries, en dit het die hele huis gevul waarin hulle gesit het. En tonge soos van vuur het vir hulle sigbaar geword en is verdeel, en een het op elkeen van hulle gaan sit, en hulle is almal met heilige gees vervul en het in ander tale begin praat, net soos die gees aan hulle gegee het om te spreek.” Dít is hoe daardie 120 getroue manne en vroue ’n geestelike nasie geword het, die eerste lede van wat die apostel Paulus later “die Israel van God” genoem het.—Galasiërs 6:16.

3. Watter profesie van Joël is op Pinkster 33 G.J. vervul?

3 Skares het byeengekom om ondersoek in te stel na die “voortstuwende, stywe bries”, en die apostel Petrus het aan hulle verduidelik dat een van Joël se profesieë vervul is. Watter profesie? Wel, luister na wat hy gesê het: “‘In die laaste dae’, sê God, ‘sal ek van my gees op elke soort vlees uitstort, en julle seuns en julle dogters sal profeteer en julle jong manne sal visioene sien en julle ou manne sal drome droom; en selfs op my slawe en op my slavinne sal ek in daardie dae van my gees uitstort, en hulle sal profeteer. En ek sal voortekens bo in die hemel en tekens onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookmis; die son sal in duisternis verander word en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van Jehovah aanbreek. En elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word’” (Handelinge 2:17-21). Die woorde wat Petrus aangehaal het, vind ons in Joël 2:28-32, en die vervulling daarvan het beteken dat die Joodse nasie se dae getel was. “Die groot en deurlugtige dag van Jehovah”, ’n tyd van afrekening vir ontroue Israel, was op hande. Maar wie sou gered word? En wat het dit voorafgeskadu?

Twee vervullings van profesie

4, 5. Met die oog op komende gebeure, watter raad het Petrus gegee, en waarom is daardie raad op meer as net sy dag van toepassing?

4 In die jare ná 33 G.J. het die geestelike Israel van God gefloreer, maar die vleeslike nasie van Israel het nie. In 66 G.J. het vleeslike Israel teen Rome oorlog gevoer. In 70 G.J. het Israel feitlik nie meer bestaan nie en is Jerusalem met sy tempel afgebrand. Op Pinkster 33 G.J. het Petrus goeie raad met die oog op daardie komende tragedie gegee. Hy het Joël weer aangehaal en gesê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.” Elke individuele Jood moes self besluit om Jehovah se naam aan te roep. Dit het ingesluit dat hulle Petrus se verdere instruksies nakom: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes” (Handelinge 2:38). Petrus se toehoorders moes Jesus as die Messias aanneem, wat deur Israel as ’n nasie verwerp is.

5 Daardie profetiese woorde van Joël het ’n groot uitwerking op sagmoediges in die eerste eeu gehad. Maar dit het vandag selfs ’n groter uitwerking, want, soos gebeure in die 20ste eeu toon, was daar ’n tweede vervulling van Joël se profesie. Kom ons kyk hoe.

6. Hoe het die identiteit van die Israel van God duidelik begin word namate 1914 nader gekom het?

6 Ná die dood van die apostels het die Israel van God verberg geraak onder die onkruid van die valse Christelike godsdiens. Maar gedurende die tyd van die einde, wat in 1914 begin het, het die identiteit van hierdie geestelike nasie weer eens duidelik geword. Dit alles was ter vervulling van Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid (Matteus 13:24-30, 36-43). Namate 1914 nader gekom het, het die gesalfde Christene hulle van die ontroue Christendom begin afskei deur hulle valse leerstellings moedig te verwerp en die komende einde van “die vasgestelde tye van die nasies” te verkondig (Lukas 21:24). Maar die Eerste Wêreldoorlog, wat in 1914 uitgebreek het, het kwessies laat ontstaan waarop hulle nie voorbereid was nie. Onder hewige druk het talle traag geword, en party het daarvoor geswig. Teen 1918 het hulle predikingsbedrywighede feitlik tot ’n stilstand gekom.

7. (a) Watter gebeurtenis wat soortgelyk was aan dié op Pinkster 33 G.J. het in 1919 plaasgevind? (b) Watter uitwerking het die uitstorting van God se gees van 1919 af op Jehovah se knegte gehad?

7 Dit het egter nie lank geduur nie. Vanaf 1919 het Jehovah sy gees op sy volk begin uitstort op ’n manier wat ’n mens aan Pinkster 33 G.J. laat dink. In 1919 was daar natuurlik geen talespraak en geen voortstuwende, stywe bries nie. Ons lei uit Paulus se woorde in 1 Korintiërs 13:8 af dat die tyd vir wonderwerke lank reeds verby was. Maar God se gees kon duidelik gesien word in 1919 toe getroue Christene, by ’n byeenkoms in Cedar Point, Ohio, VSA, hernieude krag gekry het en weer begin het met die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk. In 1922 het hulle na Cedar Point teruggekeer en is hulle tot werke aangespoor deur die oproep: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk.” Soos dit in die eerste eeu die geval was, moes die wêreld kennis neem van wat deur die uitstorting van God se gees teweeggebring is. Elke toegewyde Christen—man en vrou, oud en jonk—het begin “profeteer”, dit wil sê “die luisterryke dinge van God” verkondig (Handelinge 2:11). Soos Petrus het hulle sagmoediges aangespoor: “Laat julle uit hierdie krom geslag red” (Handelinge 2:40). Hoe kon diegene wat gehoor gegee het dit doen? Deur Joël se woorde in Joël 2:32 te gehoorsaam: “Elkeen wat die Naam van [Jehovah, NW] aanroep, sal gered word.”

8. Hoe het sake sedert 1919 vir die Israel van God verloop?

8 Sedert daardie vroeë jare het sake vir die Israel van God vooruitgegaan. Die verseëling van die gesalfdes is blykbaar ver gevorderd, en sedert die dertigerjare het ’n groot skare sagmoediges met ’n aardse hoop op die toneel verskyn (Openbaring 7:3, 9). Almal het ’n gevoel van dringendheid, want die tweede vervulling van Joël 2:28, 29 toon dat ons na aan ’n selfs groter vreesinboesemende dag van Jehovah is, wanneer ’n wêreldwye godsdiens-, politieke en handelstelsel van dinge vernietig gaan word. Ons het alle rede om ‘die naam van Jehovah aan te roep’ met die volste vertroue dat hy ons sal verlos!

Hoe roep ons Jehovah se naam aan?

9. Wat is sommige van die dinge wat ons moet doen as ons Jehovah se naam wil aanroep?

9 Wat behels dit om Jehovah se naam aan te roep? Die konteks van Joël 2:28, 29 help ons om daardie vraag te beantwoord. Jehovah luister byvoorbeeld nie na almal wat hom aanroep nie. Deur ’n ander profeet, Jesaja, het Jehovah vir Israel gesê: “As julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie.” Waarom het Jehovah geweier om na sy eie volk te luister? Hy verduidelik self: “Julle hande is vol bloed” (Jesaja 1:15). Jehovah sal na niemand luister wat bloedskuldig is of wat sonde beoefen nie. Daarom het Petrus vir die Jode op Pinksterdag gesê dat hulle berou moet toon. In die konteks van Joël 2:28, 29 vind ons dat Joël ook die klem op berou lê. In Joël 2:12, 13 lees ons byvoorbeeld: “Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” Vanaf 1919 het gesalfde Christene in ooreenstemming met hierdie woorde opgetree. Hulle het berou getoon oor hulle tekortkominge en hulle voorgeneem om nooit weer voor druk te swig of traag te word nie. Dit het die weg gebaan sodat God se gees uitgestort kon word. Elkeen wat Jehovah se naam wil aanroep en deur hom verhoor wil word, moet dieselfde weg volg.

10. (a) Wat is ware berou? (b) Hoe reageer Jehovah op ware berou?

10 Onthou dat ware berou meer behels as om net te sê: “Ek is jammer.” Israeliete het gewoonlik hulle klere geskeur om die intensheid van hulle gevoelens te toon. Maar Jehovah sê: “Skeur julle hart en nie julle klere nie.” Ware berou kom uit die hart, uit ons diepste wese. Dit sluit in dat ons verkeerde dade die rug toekeer, soos ons in Jesaja 55:7 lees: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer.” Dit behels dat ons sonde haat, net soos Jesus gedoen het (Hebreërs 1:9). Dan moet ons op Jehovah vertrou om ons op grond van die losprysofferande te vergewe, want Jehovah is “genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid”. Hy sal ons aanbidding, ons geestelike spysoffer en drankoffer, aanvaar. Hy sal luister wanneer ons sy naam aanroep.—Joël 2:14.

11. Watter plek moet ware aanbidding in ons lewe inneem?

11 In die Bergpredikasie het Jesus ons iets anders gegee om in gedagte te hou toe hy gesê het: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). Ons moet nie ons aanbidding ligtelik opneem nie, iets wat ons as vormdiens doen om ons gewete te sus nie. Diens aan God verdien die eerste plek in ons lewe. Deur Joël sê Jehovah dus vervolgens: “Blaas die basuin op Sion . . . Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek” (Joël 2:15, 16). Dit is vir pasgetroudes natuurlik om verlief te wees, om net vir mekaar oë te hê. Maar selfs vir húlle moet diens aan Jehovah eerste kom. Niks is vir ons belangriker as om voor ons God versamel te word om sy naam aan te roep nie.

12. Watter potensiaal vir groei kan in verlede jaar se Gedenkmaalverslag gesien word?

12 Met dít in gedagte kan ons na ’n syfer kyk wat deur die rapport van Jehovah se Getuies vir die 1997-diensjaar aan die lig gebring is. Verlede jaar was daar ’n hoogtepunt van 5599 931 Koninkryksverkondigers—waarlik ’n groot skare lowers! Die Gedenkmaalbywoning was 14 322 226—oor die agt en ’n half miljoen meer as die aantal verkondigers. Daardie syfer toon dat daar wonderlike potensiaal is vir groei. Baie van daardie agt en ’n half miljoen studeer reeds die Bybel saam met Jehovah se Getuies as belangstellendes of as kinders van gedoopte ouers. Baie het vir die heel eerste keer ’n vergadering bygewoon. Hulle teenwoordigheid het Jehovah se Getuies ’n goeie geleentheid gebied om hulle beter te leer ken en aan te bied om hulle te help om verder te vorder. Dan is daar diegene wat elke jaar na die Gedenkmaal kom en wat miskien ’n paar ander vergaderinge bywoon, maar geen verdere vooruitgang maak nie. Hulle is natuurlik baie welkom om vergaderinge by te woon. Maar ons spoor hulle aan om goed oor Joël se profetiese woorde te peins en te dink aan watter verdere stappe hulle moet doen om seker te wees dat Jehovah sal hoor wanneer hulle sy naam aanroep.

13. Watter verantwoordelikheid het ons teenoor ander as ons reeds Jehovah se naam aanroep?

13 Die apostel Paulus het nog ’n aspek beklemtoon wat daarby betrokke is om God se naam aan te roep. In sy brief aan die Romeine het hy Joël se profetiese woorde aangehaal: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.” Toe het hy geredeneer: “Hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek?” (Romeine 10:13, 14). Ja, baie ander wat Jehovah tot nou toe nie leer ken het nie, moet sy naam aanroep. Diegene wat Jehovah reeds ken, het nie net die verantwoordelikheid om te preek nie, maar ook om hulle in te span en daardie hulp aan sulke mense te verleen.

’n Geestelike paradys

14, 15. Watter paradysagtige seëninge geniet Jehovah se volk omdat hulle sy naam aanroep op ’n manier wat hom behaag?

14 Dít is hoe die gesalfdes sowel as die ander skape sake beskou, en daarom seën Jehovah hulle. “Jehovah sal vir sy land ywer en sal aan sy volk medelye betoon” (Joël 2:18, NW). In 1919 het Jehovah ywer en medelye vir sy volk getoon toe hy hulle herstel het en hulle in sy ryk van geestelike bedrywigheid gebring het. Dit is waarlik ’n geestelike paradys, wat op aanskoulike wyse deur Joël in hierdie woorde beskryf word: “Wees nie bevrees nie, o aarde, juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge! Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn spruit uit, want die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle drag! En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen. Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.”—Joël 2:21-24.

15 Wat ’n pragtige beskrywing! Drie van die belangrikste produkte in Israel—koring, olyfolie en wyn—sal in oorvloed voorsien word tesame met talryke kuddes. In ons dag word daardie profetiese woorde inderdaad in geestelike sin vervul. Jehovah gee ons al die geestelike voedsel wat ons nodig het. Skep ons almal nie behae in hierdie godgegewe oorvloed nie? Ons God het waarlik, soos Maleagi voorspel het, ‘die vensters van die hemel oopgemaak en op ons ’n oorvloedige seën uitgestort’.—Maleagi 3:10.

Die einde van ’n stelsel van dinge

16. (a) Wat dui die uitstorting van Jehovah se gees in ons dag aan? (b) Wat hou die toekoms in?

16 Dit is nadat Joël die paradysagtige toestand van God se volk voorspel het dat hy oor die uitstorting van Jehovah se gees profeteer. Toe Petrus hierdie profesie op Pinksterdag aangehaal het, het hy gesê dat dit “in die laaste dae” vervul is (Handelinge 2:17). Die uitstorting van God se gees destyds het beteken dat die laaste dae vir die Joodse stelsel van dinge begin het. Die uitstorting van God se gees op die Israel van God in die 20ste eeu beteken dat ons in die laaste dae van die wêreldwye stelsel van dinge lewe. Wat hou die toekoms met die oog hierop in? Joël se profesie gaan voort om vir ons te sê: “Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige [“vreesinboesemende”, NW] dag van die HERE kom.”—Joël 2:30, 31.

17, 18. (a) Watter vreesinboesemende dag van Jehovah het oor Jerusalem gekom? (b) Wat word ons beweeg om te doen, aangesien die toekomstige vreesinboesemende dag van Jehovah beslis gaan kom?

17 In 66 G.J. het hierdie profetiese woorde ’n werklikheid in Judea geword toe gebeure onstuitbaar na die klimaks van die vreesinboesemende dag van Jehovah in 70 G.J. beweeg het. Hoe angswekkend moes dit destyds tog gewees het om onder diegene te wees wat nie Jehovah se naam verheerlik het nie! Vandag lê daar net sulke angswekkende gebeure voor, wanneer hierdie hele wêreldstelsel van dinge deur Jehovah vernietig sal word. Dit is nietemin moontlik om daaraan te ontkom. Die profesie sê voorts: “Elkeen wat die Naam van [Jehovah, NW] aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos [Jehovah, NW] gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat [Jehovah, NW] sal roep” (Joël 2:32). Jehovah se Getuies is waarlik dankbaar omdat hulle Jehovah se naam ken, en hulle het volle vertroue dat hy hulle sal red wanneer hulle hom aanroep.

18 Maar wat sal gebeur wanneer die groot en deurlugtige dag van Jehovah in al sy woede oor hierdie wêreld kom? Dit sal in die laaste studieartikel bespreek word.

Kan jy onthou?

◻ Wanneer het Jehovah sy gees vir die eerste keer oor sy volk uitgestort?

◻ Wat is sommige van die dinge wat ons moet doen as ons Jehovah se naam wil aanroep ?

◻ Wanneer het Jehovah se groot en deurlugtige dag oor vleeslike Israel gekom?

◻ Hoe seën Jehovah diegene wat vandag sy naam aanroep?

[Prent op bladsy 15]

’n Nuwe nasie is op Pinksterdag 33 G.J. gebore

[Prent op bladsy 16, 17]

Vroeër in hierdie eeu het Jehovah weer sy gees oor sy volk uitgestort ter vervulling van Joël 2:28, 29

[Prent op bladsy 18]

Mense moet gehelp word om Jehovah se naam aan te roep

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel