Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 12/15 bl. 16-21
  • Doen openbare bekendmaking tot redding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Doen openbare bekendmaking tot redding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “In die laaste dae”
  • ’n Gebed om redding
  • Bely “die ‘Woord’ van geloof”
  • Roep Jehovah se naam aan
  • Die ‘lieflike voete’ van die verkondigers
  • Hou jou “hoop op redding” helder voor oë!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Wie sal “gered” word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Redding wat dit werklik beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Wie sal aan die “tyd van benoudheid” ontkom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 12/15 bl. 16-21

Doen openbare bekendmaking tot redding

“Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.”—ROMEINE 10:⁠13.

1. Watter waarskuwings is deur die geskiedenis heen gegee?

DIE geskiedenis beskryf verskeie ‘dae van Jehovah’. Die Vloed van Noag se dag, die uitwissing van Sodom en Gomorra en die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. en 70 G.J. was groot en vreesinboesemende dae van Jehovah. Dit was dae waarin die reg toegepas is teenoor diegene wat teen Jehovah opstandig geword het (Maleagi 4:5, NW; Lukas 21:22). Gedurende daardie dae het baie weens hulle goddeloosheid vergaan. Maar party het dit oorleef. Jehovah het waarskuwings gegee, wat die goddeloses van die naderende groot ramp in kennis gestel het en opregtes van hart die geleentheid gegee het om redding te vind.

2, 3. (a) Watter profetiese waarskuwing is op Pinkster aangehaal? (b) Wat was van Pinkster 33 G.J. af nodig om die naam van Jehovah aan te roep?

2 Die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. is ’n treffende voorbeeld hiervan. Die profeet Joël het daardie gebeurtenis bykans 900 jaar vooruit voorspel en geskryf: “Ek sal voortekens gee in die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookkolomme. Die son self sal in duisternis verander word, en die maan in bloed, voor die koms van die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah.” Hoe kon enigiemand só ’n verskriklike tyd oorleef? Joël het onder inspirasie geskryf: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar dié wees wat ontkom het, net soos Jehovah gesê het, en onder die oorlewendes, wat deur Jehovah geroep word.”—Joël 2:30-32, NW.

3 Op Pinkster 33 G.J. het die apostel Petrus ’n skare Jode en proseliete in Jerusalem toegespreek en Joël se profesie aangehaal en getoon dat sy luisteraars ’n vervulling in hulle dag kon verwag: “Ek sal voortekens bo in die hemel en tekens onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookmis; die son sal in duisternis verander word en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van Jehovah aanbreek. En elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Handelinge 2:16-21). Die skare wat na Petrus geluister het, was almal onder die Mosaïese Wet, en daarom het hulle die naam van Jehovah geken. Petrus het verduidelik dat daar voortaan iets meer by betrokke sou wees om die naam van Jehovah aan te roep. Dit het in die besonder behels dat hulle gedoop word in die naam van Jesus, die een wat doodgemaak is en toe tot onsterflike hemelse lewe opgewek is.—Handelinge 2:37, 38.

4. Watter boodskap het Christene alom bekend gemaak?

4 Van Pinkster af het Christene die boodskap aangaande die verrese Jesus versprei (1 Korintiërs 1:23). Hulle het bekend gemaak dat mense as geestelike seuns van Jehovah God aangeneem kon word en deel kon word van ’n nuwe “Israel van God”, ’n geestelike nasie wat ‘die voortreflikhede van Jehovah alom bekend sou maak’ (Galasiërs 6:16; 1 Petrus 2:9). Diegene wat tot die dood getrou sou bly, sou onsterflike hemelse lewe erf as mede-erfgename saam met Jesus in sy hemelse Koninkryk (Matteus 24:13; Romeine 8:15, 16; 1 Korintiërs 15:50-54). Daarbenewens moes hierdie Christene die koms van die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah verkondig. Hulle moes die Joodse wêreld waarsku dat hulle ’n verdrukking sou ondergaan wat alles sou oortref wat Jerusalem en God se verklaarde volk tot op daardie stadium getref het. Daar sou egter oorlewendes wees. Wie? Diegene wat Jehovah se naam aangeroep het.

“In die laaste dae”

5. Watter profesieë word vandag vervul?

5 Die toestande wat destyds bestaan het, het in baie opsigte voorafgeskadu wat ons vandag sien. Sedert 1914 lewe die mensdom in ’n spesiale tydperk waarna die Bybel verwys as “die tyd van die einde”, “die voleinding van die stelsel van dinge” en “die laaste dae” (Daniël 12:1, 4; Matteus 24:3-8; 2 Timoteus 3:1-5, 13). In ons eeu het wrede oorloë, onbeteuelde geweld en die verderwing van die samelewing en die vernietiging van die omgewing Bybelprofesieë op merkwaardige wyse vervul. Dit is alles deel van die teken waarvan Jesus geprofeteer het, wat toon dat die mensdom binnekort die finale, beslissende, vreesinboesemende dag van Jehovah gaan ervaar. Dit bereik sy hoogtepunt by die oorlog van Armageddon, die klimaks van ’n “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie”.—Matteus 24:21; Openbaring 16:16.

6. (a) Hoe het Jehovah opgetree om sagmoediges te red? (b) Waar vind ons Paulus se raad oor hoe ons behoue kan bly?

6 Terwyl die dag van verwoesting al hoe nader kom, tree Jehovah op vir die redding van die sagmoediges. Gedurende hierdie “tyd van die einde” het hy die laaste lede van die geestelike Israel van God versamel en sedert die dertigerjare die aandag van sy aardse knegte gevestig op die insameling van “’n groot skare, wat geen mens kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”. As ’n groep kom hulle lewend “uit die groot verdrukking” (Openbaring 7:9, 14). Maar hoe kan elkeen seker maak dat hy of sy gered sal word? Die apostel Paulus beantwoord daardie vraag. In Romeine hoofstuk 10 gee hy goeie raad oor hoe ons behoue kan bly—raad wat in sy dag gegeld het en ook in ons dag geld.

’n Gebed om redding

7. (a) Watter hoop word in Romeine 10:1, 2 geïdentifiseer? (b) Waarom kon Jehovah die verkondiging van die “goeie nuus” nou omvattender maak?

7 Toe Paulus die boek Romeine geskryf het, het Jehovah Israel reeds as ’n nasie verwerp. Tog het die apostel verklaar: “Die welwillendheid van my hart en my smeking tot God vir hulle is inderdaad met die oog op hulle redding.” Hy het gehoop dat individuele Jode juiste kennis van God se wil sou opdoen, wat daartoe sou lei dat hulle gered word (Romeine 10:1, 2). Wat meer is, Jehovah wil hê dat almal in die mensewêreld wat geloof beoefen, gered moet word, soos Johannes 3:16 toon: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” Jesus se losprysofferande het die weg gebaan vir daardie groot verlossing. Net soos in Noag se dag en ander oordeelsdae wat daarop gevolg het, laat Jehovah “goeie nuus” verkondig wat die weg van verlossing aandui.—Markus 13:10, 19, 20.

8. Aan wie toon ware Christene vandag welwillendheid in navolging van Paulus, en hoe?

8 Paulus het sy eie welwillendheid teenoor Jode sowel as nie-Jode getoon deur by elke geleentheid te preek. Hy het “Jode en Grieke oorreed”. Hy het vir die ouer manne van Efese gesê: “Ek [het] my nie daarvan weerhou . . . om julle alles te vertel wat nuttig is of om julle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie. Maar ek het aan Jode sowel as Grieke deeglik oor berou teenoor God en geloof in ons Here Jesus getuig” (Handelinge 18:4; 20:20, 21). Op soortgelyke wyse span Jehovah se Getuies hulle vandag in om te getuig, nie net vir verklaarde Christene nie, maar vir alle mense, selfs tot “in die mees afgeleë deel van die aarde”.—Handelinge 1:8; 18:5.

Bely “die ‘Woord’ van geloof”

9. (a) Watter soort geloof spoor Romeine 10:8, 9 ons aan om te hê? (b) Wanneer en hoe moet ons belydenis van ons geloof doen?

9 ’n Blywende geloof is nodig vir redding. Paulus haal Deuteronomium 30:14 aan en sê: “‘Die woord is naby jou, in jou eie mond en in jou eie hart’; dit is, die ‘woord’ van geloof, wat ons verkondig” (Romeine 10:8). Terwyl ons hierdie “‘woord’ van geloof” verkondig, sink dit al hoe dieper in ons hart. Dit was die geval met Paulus, en sy verdere woorde kan ons in ons voorneme versterk om soos hy te wees deur ander van daardie geloof te vertel: “As jy daardie ‘woord in jou eie mond’, dat Jesus Here is, in die openbaar bekend maak en in jou hart geloof beoefen dat God hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word” (Romeine 10:9). Hierdie belydenis word nie net voor ander gedoen wanneer jy gedoop word nie, maar dit moet ’n voortgesette belydenis wees, ’n ywerige openbare getuienis oor al die wonderlike fasette van die waarheid. Hierdie waarhede vestig die aandag op die kosbare naam van die Soewereine Heer Jehovah; op ons Messiaanse Koning en Verlosser, die Here Jesus Christus, en op die wonderlike Koninkryksbeloftes.

10. Hoe moet ons hierdie “‘woord’ van geloof” in ooreenstemming met Romeine 10:10, 11 gebruik?

10 Daar is geen redding vir enigiemand wat nie hierdie “‘woord’ van geloof” aanvaar en toepas nie, soos die apostel voorts sê: “Met die hart beoefen ’n mens geloof tot regverdigheid, maar met die mond doen ’n mens openbare bekendmaking tot redding. Want die Skrifgedeelte sê: ‘Niemand wat sy geloof op hom grond, sal teleurgestel word nie’” (Romeine 10:10, 11). Ons moet juiste kennis van hierdie “‘woord’ van geloof” opdoen en voortgaan om dit in ons hart te koester sodat ons beweeg sal word om dit vir ander te vertel. Jesus self herinner ons: “Elkeen wat hom in hierdie owerspelige en sondige geslag vir my en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens hom ook skaam wanneer hy in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele kom.”—Markus 8:38.

11. In watter mate moet die goeie nuus verkondig word, en waarom?

11 Soos die profeet Daniël voorspel het, word daar in hierdie tyd van die einde, namate die Koninkryksgetuieniswerk na die uithoeke van die aarde versprei, gesien hoe “dié wat insig het, . . . skyn soos die glans van die uitspansel”. Hulle ‘bring baie tot regverdigheid’, en die ware kennis het inderdaad oorvloedig geword, want Jehovah werp al hoe helderder lig op die profesieë aangaande hierdie tyd van die einde (Daniël 12:3, 4, NW). Dit is ’n boodskap van redding wat lewensbelangrik is vir die voortbestaan van almal wat waarheid en regverdigheid liefhet.

12. Hoe hou Romeine 10:12 verband met die engel se opdrag wat in Openbaring 14:6 beskryf word?

12 Die apostel Paulus sê voorts: “Daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie, want oor almal is daar dieselfde Here, wat ryk is teenoor almal wat hom aanroep” (Romeine 10:12). Die “goeie nuus” moet vandag op ’n selfs groter aardwye skaal verkondig word—aan alle volke, tot die uithoeke van die aarde. Die engel van Openbaring 14:6 vlieg nog steeds in die middel van die hemel, en hy vertrou aan ons toe die “ewige goeie nuus . . . om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk”. Hoe sal dit diegene tot voordeel strek wat daarop reageer?

Roep Jehovah se naam aan

13. (a) Wat is ons jaarteks vir 1998? (b) Waarom is hierdie jaarteks vandag uiters gepas?

13 Paulus haal Joël 2:32 aan en sê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Romeine 10:13). Hoe gepas is dit tog dat hierdie woorde gekies is as die jaarteks van Jehovah se Getuies vir 1998! Dit was nog nooit so belangrik om voorwaarts te gaan met vertroue in Jehovah deur sy naam bekend te maak asook die wonderlike voornemens wat dit verteenwoordig nie! Net soos in die eerste eeu word daar in die laaste dae van die huidige verdorwe stelsel van dinge uitgebasuin: “Laat julle uit hierdie krom geslag red” (Handelinge 2:40). Dit is ’n trompetagtige uitnodiging vir alle godvresende mense oor die hele wêreld om Jehovah aan te roep om aan hulle redding te gee asook aan diegene wat na hulle openbare verkondiging van die goeie nuus luister.—1 Timoteus 4:16.

14. Op watter Rots moet ons vertrou vir redding?

14 Wat gaan gebeur wanneer die groot dag van Jehovah op hierdie aarde uitbreek? Die meeste sal nie op Jehovah vertrou vir redding nie. Die mensdom oor die algemeen sal aanhou “om vir die berge en vir die rotse te sê: ‘Val op ons en verberg ons vir die aangesig van die Een wat op die troon sit en vir die gramskap van die Lam’” (Openbaring 6:15, 16). Hulle sal hulle vertroue stel in die bergagtige organisasies en instellings van hierdie stelsel van dinge. Maar hoeveel beter sou dit tog gewees het as hulle op die allergrootste Rots, Jehovah God, vertrou het! (Deuteronomium 32:3, 4). Van hom het koning Dawid gesê: “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder.” Jehovah is “die rots van ons heil” (Psalm 18:3; 95:1). Sy naam is “’n sterk toring”, die enigste “toring” wat sterk genoeg is om ons gedurende die komende krisis te beskerm (Spreuke 18:10). Dit is derhalwe lewensbelangrik dat soveel moontlik van die byna sesmiljard mense wat vandag lewe, geleer word om Jehovah se naam in getrouheid en opregtheid aan te roep.

15. Wat toon Romeine 10:14 aangaande geloof?

15 Die apostel Paulus gaan gepas voort om te vra: “Maar hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie?” (Romeine 10:14). Daar is menigtes wat moontlik nog gehelp kan word om “die ‘woord’ van geloof” hulle eie te maak sodat hulle Jehovah kan aanroep om hulle te red. Geloof is baie belangrik. Paulus sê in ’n ander brief: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Maar hoe sal dit gebeur dat nog miljoene geloof in God stel? In sy brief aan die Romeine vra Paulus: “Hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie?” (Romeine 10:14). Voorsien Jehovah die middele sodat hulle kan hoor? Hy doen dit ongetwyfeld! Luister na Paulus se volgende woorde: “Hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek?”

16. Waarom is verkondigers onontbeerlik in die Goddelike reëling?

16 Uit Paulus se redenasie is dit baie duidelik dat daar ’n behoefte aan verkondigers is. Jesus het getoon dat dit die geval sou wees “tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 24:14; 28:18-20). Die predikingswerk is ’n onontbeerlike deel van die Goddelike reëling om mense te help om die naam van Jehovah aan te roep sodat hulle veilig kan wegkom. Selfs in die Christendom doen die meeste niks om God se kosbare naam te eer nie. Baie het Jehovah totaal verwar met twee ander identiteite in ’n onverklaarbare Drie-eenheidsleer. Baie val ook in die klas waarvan Psalm 14:1 en 53:2 praat: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.” Hulle moet weet dat Jehovah die lewende God is, en hulle moet besef waarvoor sy naam alles staan as hulle veilig uit die komende groot verdrukking wil kom.

Die ‘lieflike voete’ van die verkondigers

17. (a) Waarom is dit gepas dat Paulus ’n herstellingsprofesie aanhaal? (b) Wat behels dit om ‘lieflike voete’ te hê?

17 Die apostel Paulus vra nog ’n belangrike vraag: “Hoe sal hulle preek tensy hulle uitgestuur is? Net soos daar geskrywe staan: ‘Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!’” (Romeine 10:15). Paulus haal Jesaja 52:7 hier aan, wat deel van ’n herstellingsprofesie is wat sedert 1919 van toepassing is. Vandag stuur Jehovah weer eens “die een wat goeie nuus bring, wat vrede verkondig, wat goeie nuus van iets beters bring, wat redding verkondig”. God se gesalfde “wagte” en hulle metgeselle is gehoorsaam en hou aan om vreugdevol uit te roep (Jesaja 52:7, 8, NW). Die voete van diegene wat vandag redding verkondig, word moontlik moeg, selfs stowwerig, terwyl hulle van huis tot huis loop, maar hoe straal hulle gesigte tog nie van vreugde nie! Hulle weet dat Jehovah hulle die opdrag gegee het om goeie nuus van vrede te verkondig en om die treurendes te vertroos deur hulle te help om Jehovah se naam aan te roep met redding in die vooruitsig.

18. Wat sê Romeine 10:16-18 oor die finale resultaat van die verkondiging van die goeie nuus?

18 Hetsy mense ‘geloof stel in wat hulle gehoor het’ of verkies om daaraan ongehoorsaam te wees, Paulus se woorde is waar: “Het hulle miskien nie gehoor nie? Kyk, in werklikheid ‘het hulle geluid oor die hele aarde uitgegaan en hulle uitinge tot aan die uiterstes van die bewoonde aarde’” (Romeine 10:16-18). Net soos ‘die hemele die eer van God vertel’, soos dit in sy skeppingswerke geopenbaar word, so moet sy Getuies op aarde die “jaar van die welbehae van die HERE en ’n dag van die wraak van onse God [verkondig]; om al die treurendes te troos”.—Psalm 19:2-5; Jesaja 61:2.

19. Wat sal gebeur met diegene wat vandag “die naam van Jehovah aanroep”?

19 Die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah kom al hoe nader. “Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige” (Joël 1:15; 2:31, NW). Dit is ons bede dat menigtes nog met dringendheid op die goeie nuus sal reageer deur na Jehovah se organisasie te stroom (Jesaja 60:8; Habakuk 2:3). Onthou dat ander dae van Jehovah vernietiging oor die goddelose gebring het—in Noag se dag, in Lot se dag en in die dae van die afvallige Israel en Juda. Ons staan nou op die drumpel van die allergrootste verdrukking, wanneer Jehovah se stormwind goddeloosheid van die aarde af sal wegvee en sodoende die weg sal baan vir ’n paradys van ewige vrede. Sal jy een van dié wees wat “die naam van Jehovah aanroep” in getrouheid? Indien wel, kan jy jou verheug! Jy het God se eie belofte dat jy gered sal word.—Romeine 10:13.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Watter nuwe dinge is ná Pinkster 33 G.J. verkondig?

◻ Hoe moet Christene aandag skenk aan “die ‘woord’ van geloof”?

◻ Wat beteken dit om ‘die naam van Jehovah aan te roep’?

◻ In watter sin het Koninkryksboodskappers ‘lieflike voete’?

[Prent op bladsy 18]

God se volk verkondig sy voortreflikhede in Puerto Rico, Senegal, Peru, Papoea-Nieu-Guinee—ja, oor die hele aardbol

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel