Hoofstuk 4
Die soort lewe wat op oorlewendes wag
1. Waarom sal die komende „dag van Jehovah” nie die aarde in ’n verlate puinhoop verander nie? (Jesaja 45:18).
ALHOEWEL die komende „dag van Jehovah” verskriklik sal wees, sal dit nie die aarde onbewoonbaar laat nie. Die gevolge sal nie wees soos die van ’n kernslagting, wat waarskynlik die ekologie in chaos sal dompel en wat, deur bestraling, aaklige gevolge vir oorlewendes inhou nie. Die Skepper sal nie die aarde woes en onbewoonbaar laat nie, maar eerder ‚die verderwers van die aarde verderf’.—Joël 2:30, 31, vergelyk NW; Openbaring 11:18.
2. Wat gee ons die sekerheid dat Jehovah sy getroue knegte deur die groot verdrukking heen sal bewaar?
2 Daar bestaan nie die minste twyfel in die gemoedere van Jehovah se getroue knegte dat God hulle kan verlos ongeag die vernietiging wat hy rondom hulle aanrig nie. Hulle weet dat, toe sedelik verdorwe Sodom en Gomorra deur ‚swawel en vuur uit die hemel’ vernietig is, engele van Jehovah Lot en sy twee dogters verlos het (Genesis 19:15-17, 24-26). Hulle weet ook dat, toe elke eersgeborene van die Egiptenaars in die dae van Moses omgebring is, Jehovah se teregstellingsengel by die huise van die Israeliete, waarvan die deurposte met die bloed van die pasgalam bestryk is, verbygegaan het (Exodus 12:21-29). Net so sal Jehovah almal wat hulle toevlug tot hom geneem het, verlos wanneer die hewige vernietiging van die groot verdrukking ontketen word.—Psalm 91:1, 2, 14-16; Jesaja 26:20.
3. Waarom sal die groot getal lyke nie die gesondheid van die oorlewendes in gevaar bring nie?
3 As gevolg van die groot vernietiging sal die aarde weliswaar besaai wees met die lyke van die wat deur Jehovah verslaan is. Maar niemand weet beter as God wat nodig is om die gesondheid van die oorlewendes te verseker nie. Hy deel ons mee dat hy die voëls van die hemel en die wilde diere van die veld na sy „groot feesmaal” sal nooi en dat hulle tot versadiging aan die vlees van die gevallenes sal eet (Openbaring 19:17, 18, NAV; Esegiël 39:17-20). Wat hulle nie kan verslind nie, kan hy op ander maniere wegdoen. God se voorneme met die aarde, soos hy dit in Eden bekend gemaak het, sal dan voortgaan tot vervulling.
WAT GOD SE OORSPRONKLIKE VOORNEME OPENBAAR
4. Watter soort begin het Jehovah die eerste mensepaar gegee, en waarom is dit vir ons van besondere belang?
4 Die begin wat Jehovah die mensdom in Eden gegee het, gee ’n aanduiding van wat die toekoms vir oorlewendes van die groot verdrukking inhou. Toe die Skepper die aarde as tuiste vir die mens voorberei het, het hy welige plantegroei asook ’n verruklike verskeidenheid visse, voëls en landdiere geskep. „Ook het die HERE God ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee” (Genesis 2:8). Maar God het nie die hele aarde ’n paradys gemaak en dit daarna in stand gehou as ’n park vir die mens nie. Jehovah het eerder aan die eerste mensepaar ’n wonderlike begin gegee, sy seën op hulle uitgestort en aan hulle ’n werkopdrag gegee. Hy het aan hulle take opgedra wat hulle in staat sou stel om hulle vermoëns ten volle te gebruik en om bevrediging te put uit wat hulle doen. Dit sou ware sin aan hulle lewe gee. Wat ’n wonderlike werkopdrag het hulle tog gehad—om kinders groot te maak wat godvrugtige eienskappe openbaar, om die Paradys tot aan die eindes van die aarde uit te brei en in stand te hou en om vir al die baie diere te sorg! As Adam en Eva aangehou het om Jehovah se soewereiniteit te eerbiedig, sou hulle nooit gesterf het nie. Hulle sou vir ewig volmaakte lewe op aarde kon geniet.—Genesis 1:26-28; 2:16, 17.
5. Watter vooruitsigte sal oorlewendes van die groot verdrukking dus hê?
5 Toestande op aarde sal natuurlik nie onmiddellik ná die groot verdrukking wees soos dit in Eden was nie. Maar God se oorspronklike voorneme met die aarde en die mensdom sal onveranderd bly. Die hele aarde sal ’n paradys word, die mensdom sal daaroor toesig hou en almal sal verenig wees in die aanbidding van die ware God. Hulle sal die vooruitsig hê om vir ewig te lewe, om die heerlike vryheid van die kinders van God te geniet.—Lukas 23:42, 43, vergelyk NW; Openbaring 21:3, 4; Romeine 8:20, 21.
6. (a) Wat sal van oorgeblewe militêre toerusting word? (b) Waarom sal niemand ooit weer honger ly nie?
6 Aan die begin sal die puin van die ou stelsel ongetwyfeld opgeruim moet word. Oorgeblewe militêre toerusting sal vir vreedsame gebruik aangewend word. (Esegiël 39:8-10; vergelyk Miga 4:3.) Gewasse wat nog op die lande is, sal ongetwyfeld geoes word om die oorlewendes te voed. En wanneer saad dan gesaai en nuwe oeste ingesamel word, sal die belofte bewaarheid word: „Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” (Psalm 67:7; vergelyk Deuteronomium 28:8.) Omdat al die selfsugtige en verdelende elemente van die ou stelsel tot die verlede sal behoort, sal niemand ooit weer honger hoef te gaan slaap nie.—Psalm 72:16.
7. Hoe blyk Jehovah se wysheid en liefde uit sy keuse van ’n nuwe Koning vir die aarde?
7 Daardie wêreld sal bestaan uit mense wat besef hoe nodig hulle Jehovah se leiding en seën het. En hierdie dinge sal voorsien word op ’n wyse wat God se eie wysheid en liefde weerspieël. Jehovah het sy eie Seun, Jesus Christus, as die aarde se nuwe Koning aangestel. Die Bybel openbaar dat God deur middel van hom die aarde en al die baie lewensvorme daarop geskape het (Kolossense 1:15-17). Die Seun van God weet presies wat nodig is vir ewigdurende lewe op aarde, en hy verlustig hom in die dinge wat met die mensdom in verband staan.—Spreuke 8:30, 31.
8. Watter reaksie op Jehovah se soewereiniteit sal Christus sy aardse onderdane help om aan te kweek?
8 Die Seun is bowenal ’n lojale verdediger van Jehovah se soewereiniteit. Aangaande Jesus is daar voorspel: „Op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE. En Hy het ’n welgevalle aan die vrees van die HERE” (Jesaja 11:2, 3). Hy sal sy aardse onderdane help om ’n soortgelyke welgevalle daaraan te hê om volgens Jehovah se weë te lewe. Onder sy koningskap sal die oorlewendes van die groot verdrukking die soort lewe lei wat God vir die mensdom in gedagte gehad het toe hy aan ons eerste ouers Eden as tuiste gegee het.
WAT JESUS SE BEDIENING OPENBAAR
9. (a) Meld sommige van die smartlike gevolge van erfsonde. (b) Watter hoop bied Jesus se wonderwerke?
9 Maar om daardie soort lewe te geniet, moet ons verlos word van die smartlike gevolge van die sonde. Ons het almal sonde van Adam geërf, wat sy volmaaktheid ingeboet het toe hy Jehovah se soewereiniteit op wettelose wyse veronagsaam het. Die gevolge van die sonde word op verskillende maniere geopenbaar. Dit kan aanleiding gee tot siekte, liggaamsgebreke, asook ’n neiging om dinge uit die verkeerde beweegredes te dink en te sê. Dit lei uiteindelik tot die dood (Romeine 5:12; 6:23). Gedurende sy aardse bediening het Jesus baie wonderwerke verrig om te toon wat hy sal doen om verligting te bring vir die onderdane van God se Koninkryk.
10. Waarom is dit nie onredelik dat Jesus wonderwerke kon verrig wat wetenskaplikes hom nie kan nadoen nie?
10 Maar party mense spreek hulle bedenkinge uit wanneer hulle die opwindende Bybelverhale oor die wonderwerke van Jesus lees. Waarom? Omdat ons in ’n wêreld lewe waar skeptisisme populêr geword het. Skeptici meen dat wonderwerke alleen geloofwaardig is as wetenskaplikes hulle vandag kan herhaal of verklaar. Maar waarom bestee wetenskaplikes steeds so baie tyd en geld aan navorsing? Omdat daar so baie is wat hulle nie verstaan nie. Die eintlike vraag in verband met ons gesindheid teenoor Jesus se bediening is of ons bereid is om die hand van God in menseaangeleenthede te erken.
11. Watter woorde word in Handelinge 2:22 gebruik om Jesus se wonderwerke te beskryf, en wat leer ons daaruit?
11 Die apostel Petrus het in 33 G.J. voor ’n skare in Jerusalem van Jesus gepraat as „’n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders [voortekens, NW] en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het” (Handelinge 2:22). Soos Petrus hier gesê het, was die wonderwerke „kragte”, nie werke wat deur ander manne nagedoen of verklaar kon word nie, maar ’n bewys dat God se krag deur Jesus gewerk het. Dit was „tekens” dat hy waarlik die Messias, God se eie Seun, was. Dit was ook „voortekens” omdat dit ’n skaduwee was van verblydende toekomsgebeure.
12. (a) Waarom vind jy die verslae oor die reiniging van melaatses bemoedigend? (b) Wat is veral opmerklik omtrent Jesus se genesing van ’n verlamde man?
12 Lees die Evangelieverslae in die Bybel en hou deurentyd in gedagte dat die wonderwerke van Jesus ’n voorskouing gee van wat hy sal doen vir die mensdom wat op die aarde onder God se Messiaanse Koninkryk sal lewe. Dit sal ’n tyd wees wanneer mense van verminkende siektes soos melaatsheid genees sal word—net soos Jesus tien melaatse manne genees het terwyl hy in die jaar 33 G.J. na Jerusalem onderweg was. Hy het bewys dat hy sulke persone kan help en dat hy dit graag wil doen (Lukas 17:11-19; Markus 1:40-42). Baie is slagoffers van verlamming. Vir hulle sal daar ook genesing wees—soos daar was vir ’n bedlêende verlamde wat deur Jesus genees is, ’n daad wat hy met die vergewing van die man se sondes verbind het.—Markus 2:1-12.
13. Vertel van een van Jesus se wonderwerke wat hoop bied vir (a) blindes, (b) dowes of persone met spraakgebreke, (c) persone wat sonder welslae deur baie dokters behandel is. (d) Hoe weet jy dat Jesus alle soorte siektes en kwale sal kan genees?
13 Blinde oë sal geopen word, dowe ore sal ontsluit word en die tonge van diegene met spraakgebreke sal losgemaak word—net soos Jesus hierdie dinge in die eerste eeu vir persone in Galilea en in Dekapolis gedoen het (Mattheüs 9:27-30; Markus 7:31-37). Baie mense ly vandag aan siektes wat dokters nie kan genees nie. Dit was die situasie van ’n vrou in Kapernaüm wat „veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind”. Maar Jesus het haar genees, en hy sal dieselfde doen vir baie ander soos sy (Markus 5:25-29). Kanker, hartkwaal, malaria, bilharzia—geen siekte sal vir hom te moeilik wees nie, soos hy bewys het deur „elke siekte en elke kwaal” gedurende sy bediening in Galilea te genees.—Mattheüs 9:35.
14. Wat sal die opstanding vir oorlewendes beteken, soos blyk uit die gevalle waar Jesus dooies opgewek het?
14 Gedurende daardie tyd sal die dode—nie die wat deur God in die groot verdrukking vernietig is nie, maar duisendmiljoene ander wat deur die eeue heen gesterf het—ook die geleentheid kry om weer te lewe, en met vooruitsigte wat nooit tevore binne hulle bereik was nie. Wat sal dit vir die oorlewendes beteken? Naby die dorpie Naïn het Jesus die droefheid van ’n weduwee gestil deur haar enigste seun uit die dood op te wek. In Kapernaüm het hy uitbundige blydskap vir die ouers van ’n jong meisie gebring deur hulle kind uit die dood terug te bring (Lukas 7:11-16; Markus 5:35-42). Sal jy graag daar wil wees wanneer jou dierbares uit die dood terugkeer? Dit sal die heerlike ondervinding wees van persone wat tot in die „nuwe aarde” oorleef.
15. (a) Hoe toon Jesus se leer watter soort mense dan op aarde sal lewe? (b) Hoe kan ons nou al ’n voorsmaak van daardie soort lewe kry?
15 Die lewe sal nie dan ’n herhaling wees van die hartseer en leed wat nou baiemaal soos ’n swaar las op ’n mens rus nie. Dit blyk nie alleen uit Jesus se wonderwerke nie, maar ook uit sy leer, want net diegene wat waarlik sy dissipels is, sal tot in die „nuwe aarde” oorleef (Johannes 3:36). Hy het sy volgelinge geleer om geestelike waardes bo materiële strewes te stel, om op Jehovah te vertrou, om hulle na Hom te wend vir leiding en om Sy seëninge te waardeer. Deur woord en voorbeeld het Jesus klem gelê op die belangrikheid van liefde en nederigheid, diepe besorgdheid oor en selfopoffering ten behoewe van ander. Persone wat Christus se dissipels word en wat hierdie beginsels opreg toepas, vind nou reeds groot rus vir hulle siele en bring op hulle beurt rus vir ander (Mattheüs 11:28, 29; Johannes 13:34, 35). Dit is net ’n voorsmaak van die soort lewe wat wag op almal wat nog lewe wanneer hierdie liefdelose wêreld verby is. Jy kan daardie lewe smaak as jy nou verstandig optree.
[Prent op bladsy 33]
GOD SE OORSPRONKLIKE VOORNEME MET DIE MENS
Om die aarde te vul met mense wat godvrugtige eienskappe openbaar
Om die Paradys aardwyd uit te brei en vir die dierelewe te sorg
Om vir ewig in geluk op die aarde te lewe