Vrae van lesers
Waarom het Die Wagtoring van 1 April 2002 op bladsy 11 in paragraaf 7 gesê dat die waterdoop van nuwe Joodse gelowiges op Pinkster 33 G.J. ’n simbool was van “hulle persoonlike toewyding aan God deur Christus”, terwyl die beskouing voorheen was dat die waterdoop van die Jode vanaf 33 G.J. tot 36 G.J. nie so ’n persoonlike toewyding vereis het nie?
In 1513 v.G.J. het Jehovah God die Israeliete ’n geleentheid gegee om vir hom ’n heilige nasie te word, op voorwaarde dat hulle ‘sy stem nougeset gehoorsaam en sy verbond hou’. Hulle het geantwoord: “Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen.”—Eksodus 19:3-8; 24:1-8.
Deur in te stem om die Mosaïese Wetsverbond te hou, het die Israeliete hulle aan God toegewy. Daaropvolgende geslagte van Jode is in hierdie toegewyde nasie gebore. Maar die doop van Jode wat van Pinkster 33 G.J. af volgelinge van Jesus Christus geword het, het meer behels as om hulle voor God aan te bied as lede van ’n toegewyde nasie. Dit het hulle toewyding aan Jehovah God in ’n nuwe verhouding met hom deur Jesus Christus gesimboliseer. Hoe so?
Nadat die heilige gees uitgestort is op sowat 120 dissipels wat op Pinkster 33 G.J. in ’n bovertrek in Jerusalem vergader het, het die apostel Petrus opgestaan en begin getuig vir die menigte Jode en proseliete wat byeengekom het om te sien wat gebeur het. Hy het ’n deeglike getuienis gegee en toe vir die Jode wat deur hulle gewete aangekla is, gesê: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes.” In reaksie op Petrus se verdere aansporing is “dié wat sy woord van harte aangeneem het, . . . gedoop, en op daardie dag is omtrent drieduisend siele bygevoeg”.—Handelinge 2:1-41.
Was daardie Jode wat op Petrus se aansporing gedoop is, nie reeds lede van ’n toegewyde nasie nie? Het hulle nie ’n toegewyde verhouding met God geniet nie? Nee. Die apostel Paulus het geskryf dat ‘God die Wet uit die weg geruim het deur dit aan die folterpaal te nael’ (Kolossense 2:14). Deur Christus se dood in 33 G.J. het Jehovah God die Wetsverbond—die grondslag waarvolgens Israeliete in ’n toegewyde verhouding met Hom gebring is—verwyder. Die nasie wat God se Seun verwerp het, is toe deur God self verwerp. Dié ‘wat in ’n vleeslike opsig Israel was’, kon nie langer beweer dat hulle ’n nasie is wat aan God toegewy is nie.—1 Korintiërs 10:18; Matteus 21:43.
Die Wetsverbond is in 33 G.J. afgeskaf, maar God se tydperk van spesiale guns en aandag aan die Jode het nie toe geëindig nie.a Daardie tydperk sou voortduur tot 36 G.J., toe Petrus vir die godvresende Italianer Kornelius en sy huisgenote sowel as vir ander nie-Jode getuig het (Handelinge 10:1-48). Op grond waarvan is hierdie tydperk van guns verleng?
“[Die Messias] sal die verbond een week lank vir baie van krag laat bly”, sê Daniël 9:27. Die verbond wat sewe jaar lank, of “een week”, van krag gebly het, van Jesus se doop en die begin van die Messias se openbare bediening in 29 G.J. af, was die Abrahamitiese verbond. Om in daardie verbondsverhouding te wees, moes iemand eenvoudig een van Abraham se Hebreeuse nakomelinge wees. Daardie eensydige verbond het nie die individu in ’n toegewyde verhouding met Jehovah gebring nie. Al het die natuurlike Jode spesiale aandag ontvang, kon die Joodse gelowiges wat ná Petrus se toespraak op Pinkster 33 G.J. gedoop is, dus nie aanspraak maak op ’n toegewyde verhouding met God nadat die Wetsverbond verwyder is nie. Hulle moes hulle persoonlik aan God toewy.
Daar is nog ’n rede waarom ’n persoonlike toewyding noodsaaklik was vir Jode en proseliete wat op Pinksterdag 33 G.J. gedoop wou word. Die apostel Petrus het sy gehoor aangespoor om berou te toon en in Jesus se naam gedoop te word. Dit het vereis dat hulle die wêreld die rug toekeer en Jesus erken as Here en Messias, as Hoëpriester en as die een wat aan God se regterhand in die hemel sit. Hulle moes die naam van Jehovah God aanroep vir redding deur Christus Jesus, wat behels het dat hulle geloof in Christus beoefen en hom as hulle Leier erken. Die hele grondslag waarop mense ’n verhouding met God kon geniet en vergifnis van sondes kon verkry, het nou verander. Die gelowige Jode moes hierdie nuwe reëling as individue aanvaar. Hoe? Deur hulle aan God toe te wy en in die openbaar te toon dat hulle dit gedoen het deur middel van waterdoop in die naam van Jesus Christus. Waterdoop was ’n simbool van hulle toewyding aan God en het hulle deur Jesus Christus in ’n nuwe verhouding met hom gebring.—Handelinge 2:21, 33-36; 3:19-23.
[Voetnoot]
a Toe Jesus Christus na die hemel opgevaar en die waarde van sy geofferde menselewe vir Jehovah God aangebied het, is die Mosaïese Wetsverbond nietig verklaar en is die grondslag gelê vir die voorspelde “nuwe verbond”.—Jeremia 31:31-34.