‘In die naam van die heilige gees’
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van . . . die Heilige Gees.”—MATTHEÜS 28:19.
1. Watter nuwe uitdrukking het Johannes die Doper met betrekking tot die heilige gees gebruik?
IN DIE jaar 29 van ons Gewone Jaartelling was Johannes die Doper in Israel besig om die weg vir die Messias voor te berei, en in die loop van sy bediening het hy iets nuuts aangaande die heilige gees aangekondig. Die Jode het natuurlik reeds geweet wat die Hebreeuse Geskrifte oor die gees gesê het. Maar hulle was dalk verbaas toe Johannes gesê het: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom . . . sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur” (Mattheüs 3:11). “Doop met die Heilige Gees” was vir hulle ’n nuwe uitdrukking.
2. Watter nuwe uitdrukking het Jesus met betrekking tot die heilige gees begin gebruik?
2 Die een wat sou kom, was Jesus. Gedurende sy aardse lewe het Jesus niemand werklik met die heilige gees gedoop nie, al het hy baie keer van die gees gepraat. Daarbenewens het hy ná sy opstanding op nog ’n nuwe manier na die heilige gees verwys. Hy het vir sy dissipels gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” (Mattheüs 28:19). Die uitdrukking “in die Naam van” beteken “in erkenning van”. Waterdoop in erkenning van die Vader, die Seun en die heilige gees sou verskillend wees van doop met die heilige gees. Dit was ook ’n nuwe uitdrukking met betrekking tot die heilige gees.
Gedoop met die heilige gees
3, 4. (a) Wanneer het die eerste doop met die heilige gees plaasgevind? (b) Hoe het die heilige gees met Pinkster 33 G.J. ten opsigte van Jesus se dissipels opgetree, buiten die feit dat hulle daarmee gedoop is?
3 Met betrekking tot doop met die heilige gees het Jesus sy dissipels net voor sy hemelvaart beloof: “Julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie” (Handelinge 1:5, 8). Daardie belofte is kort daarna vervul. Heilige gees het neergedaal op sowat 120 dissipels wat in ’n bovertrek in Jerusalem vergader was toe Jesus, uit die hemel, sy eerste doop met die heilige gees voltrek het (Handelinge 2:1-4, 33). Met watter gevolg? Die dissipels het ’n deel geword van die geestelike liggaam van Christus. Soos die apostel Paulus verduidelik, “is [hulle] almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam” (1 Korinthiërs 12:13). Hulle is terselfdertyd gesalf om toekomstige konings en priesters in God se hemelse Koninkryk te wees (Efesiërs 1:13, 14; 2 Timotheüs 2:12; Openbaring 20:6). Die heilige gees was ook ’n aanvanklike seël en onderpand van daardie wonderlike toekomstige erfenis, maar dit was nie al nie.—2 Korinthiërs 1:21, 22.
4 ’n Paar jaar vroeër het Jesus vir Nikodemus gesê: “As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. . . . As iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie” (Johannes 3:3, 5). By daardie geleentheid is 120 mense weer gebore. Deur middel van die heilige gees is hulle as geestelike seuns van God, as broers van Christus, aangeneem (Johannes 1:11-13; Romeine 8:14, 15). Al hierdie werke van heilige gees is op hulle eie manier wonderliker as wonderwerke. Maar in teenstelling met die eertydse wonderwerke het die heilige gees nie na die dood van die apostels opgehou bestaan nie, maar tot in ons dag voortgegaan om op hierdie manier te werk. Dit is Jehovah se Getuies se voorreg om die laaste geesgedoopte lede van die liggaam van Christus onder hulle te hê, en hulle dien as ’n “getroue en verstandige dienskneg” om geestelike voedsel op die regte tyd te gee.—Mattheüs 24:45-47.
Gedoop “in die Naam van . . . die Heilige Gees”
5, 6. Hoe het die eerste doop met die heilige gees tot waterdoop gelei?
5 Maar wat van die beloofde waterdoop in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees? Daardie eerste dissipels wat met die gees gedoop is, het nie so ’n waterdoop ondergaan nie. Hulle het reeds die waterdoop van Johannes ontvang, en aangesien dit destyds vir Jehovah aanvaarbaar was, was dit nie nodig dat hulle weer gedoop word nie. Maar met Pinkster 33 G.J. het ’n groot skare mense die nuwe waterdoop ontvang. Hoe het dit gebeur?
6 Toe die 120 met die heilige gees gedoop is, het dit met ’n geweldige lawaai gepaardgegaan wat menigtes aangetrek het. Hulle was verbaas toe hulle die dissipels in tale hoor praat, dit wil sê, in vreemde tale wat dié wat daar teenwoordig was, verstaan het. Die apostel Petrus het verduidelik dat hierdie wonderwerk bewys was van die feit dat God se gees uitgestort is deur Jesus, wat uit die dood opgewek is en nou aan God se regterhand in die hemel gesit het. Petrus het sy hoorders aangespoor: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle [aan ’n paal gehang] het.” Toe het hy afgesluit en gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Ongeveer 3 000 mense het daaraan gehoor gegee.—Handelinge 2:36, 38, 41, vgl. NW.
7. Hoe is die 3 000 wat met Pinkster 33 G.J. gedoop is in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees gedoop?
7 Kan daar gesê word dat hulle gedoop is in die naam van (in erkenning van) die Vader, die Seun en die heilige gees? Ja. Al het Petrus nie gesê dat hulle in die naam van die Vader gedoop moet word nie, het hulle Jehovah reeds as Soewereine Heer erken omdat hulle natuurlike Jode was, lede van ’n nasie wat aan Hom toegewy was. Petrus het wel gesê: ‘Word gedoop in die naam van die Seun.’ Hulle doop het dus hulle erkenning van Jesus as Here en Christus gesimboliseer. Hulle het nou sy dissipels geword en het aanvaar dat hulle sondes voortaan deur hom vergewe sou word. Laastens is hulle in erkenning van die heilige gees gedoop, ooreenkomstig die belofte dat hulle die gees as ’n gawe sou ontvang.
8. (a) Benewens waterdoop, watter ander doop het gesalfde Christene ontvang? (b) Wie buiten die 144 000 ondergaan ’n waterdoop in die naam van die heilige gees?
8 Diegene wat op Pinkster 33 G.J. in water gedoop is, is ook met die gees gedoop, en hulle is gesalf as toekomstige konings en priesters in die hemelse Koninkryk. Volgens die boek Openbaring is daar net 144 000 van hulle. Gevolglik is daar net 144 000 mense wat met die heilige gees gedoop en eindelik as Koninkrykserfgename ‘geseël’ is (Openbaring 7:4; 14:1). Maar alle nuwe dissipels—ongeag wat hulle hoop is—word in water gedoop in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees (Mattheüs 28:19). Wat beteken doop in die naam van die heilige gees dan vir Christene oor die algemeen, of hulle nou van die “klein kuddetjie” of van die “ander skape” is? (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Voor ons daardie vraag beantwoord, kom ons kyk na ’n paar van die werke van die gees in die Christelike era.
Die vrug van die gees
9. Watter werk van die heilige gees is vir alle Christene belangrik?
9 ’n Belangrike werk van die heilige gees is om ons te help om ’n Christelike persoonlikheid aan te kweek. Weens onvolmaaktheid kan ons dit weliswaar nie vermy om te sondig nie (Romeine 7:21-23). Maar wanneer ons opreg berou het, vergewe Jehovah ons op grond van Christus se offerande (Mattheüs 12:31, 32; Romeine 7:24, 25; 1 Johannes 2:1, 2). Daarbenewens verwag Jehovah dat ons teen ons sondige neiging sal stry, en die heilige gees help ons om dit te doen. “Wandel deur die Gees”, het Paulus gesê, “dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Galasiërs 5:16). Paulus het verder getoon dat die gees die beste eienskappe in ons kan voortbring. Hy het geskryf: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”—Galasiërs 5:22.
10. Hoe word die vrug van die gees in ’n Christen aangekweek?
10 Hoe maak die gees dit moontlik dat ’n Christen sulke vrugte kan voortbring? Dit gebeur nie outomaties net omdat ons toegewyde en gedoopte Christene is nie. Ons moet ons daarop toelê. Maar as ons met ander Christene omgaan wat hierdie eienskappe aan die dag lê, as ons tot God bid dat sy gees ons sal help om spesifieke eienskappe aan te kweek, as ons slegte omgang vermy en die Bybel studeer om raad en goeie voorbeelde daaruit te put, dan sal die vrug van die gees in ons groei.—Spreuke 13:20; 1 Korinthiërs 15:33; Galasiërs 5:24-26; Hebreërs 10:24, 25.
Aangestel deur die heilige gees
11. Hoe word ouere manne deur die heilige gees aangestel?
11 Paulus het nog ’n werk van die heilige gees genoem toe hy vir die ouere manne van Efese gesê het: “Skenk aandag aan julleself en aan die hele kudde, onder wie die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het, as herders te versorg” (Handelinge 20:28, NW). Ja, gemeentelike opsieners, of ouere manne, word deur die heilige gees aangestel. Hoe so? Omdat aangestelde ouere manne aan die vereistes moet voldoen wat in die geïnspireerde Bybel uiteengesit word (1 Timotheüs 3:1-13; Titus 1:5-9). Hulle kan daardie eienskappe slegs met die heilige gees se hulp aankweek. Daarbenewens bid die liggaam van ouere manne wat ’n nuwe ouere man aanbeveel dat die heilige gees hulle sal help om te sien of hy aan die vereistes voldoen of nie. En die eintlike aanstelling word onder die toesig van die geesgesalfde getroue en verstandige dienskneg gedoen.
Word deur die gees gelei
12. Watter invloed kan die gees deur die Bybel op ons uitoefen?
12 Christene erken dat die Heilige Skrif onder die invloed van die heilige gees geskryf is. Daarom delf hulle daarin na geesgeïnspireerde wysheid, soos Jehovah se voor-Christelike getuies gedoen het (Spreuke 2:1-9). Hulle lees dit, peins daaroor en laat dit hulle lewe rig (Psalm 1:1-3; 2 Timotheüs 3:16). Hulle word dus deur die gees gehelp om ‘die dieptes van God te ondersoek’ (1 Korinthiërs 2:10, 13; 3:19). Om God se knegte op hierdie manier te rig, is in ons tyd ’n belangrike werk van God se gees.
13, 14. Wat het Jesus gebruik om probleme in die gemeente te hanteer, en hoe doen hy dit vandag nog?
13 Daarbenewens het die verrese Jesus, in die boek Openbaring, boodskappe aan sewe gemeentes in Klein-Asië gestuur (Openbaring, hoofstukke 2 en 3). Daarin het hy laat blyk dat hy die gemeentes geïnspekteer het en gesien het wat hulle geestelike toestand was. Hy het gevind dat party ’n goeie voorbeeld in die geloof stel. In ander gemeentes het die ouere manne toegelaat dat sektevorming, onsedelikheid en louheid die kudde besoedel. Buiten ’n paar getroue siele was die gemeente in Sardis geestelik dood (Openbaring 3:1, 4). Hoe het Jesus hierdie probleme hanteer? Deur middel van die heilige gees. Toe hy vir die sewe gemeentes raad gegee het, het Jesus sy boodskap elke keer afgesluit met die woorde: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”—Openbaring 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22.
14 Jesus ondersoek vandag ook die gemeentes. En wanneer hy probleme bespeur, hanteer hy dit steeds deur middel van die heilige gees. Wanneer ons die Bybel lees, kan die gees ons direk help om probleme te herken en te oorkom. Ons kan ook gehelp word deur Bybellektuur wat deur die geesgesalfde getroue en verstandige dienskneg gepubliseer word. Of dit kan van geesaangestelde ouere manne in die gemeente kom. Wat ook al die geval is, hetsy die raad tot individue of tot die hele gemeente gerig is, kan ons ons afvra of ons ag slaan op Jesus se woorde: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees . . . sê.”
Die gees en die predikingswerk
15. Hoe het die gees ten opsigte van Jesus opgetree met betrekking tot die predikingswerk?
15 By een geleentheid toe Jesus in ’n sinagoge in Nasaret gepreek het, het hy getoon wat nog ’n werk van die gees is. Die verslag deel ons mee: “Toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur . . . Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul” (Lukas 4:17-19, 21; Jesaja 61:1, 2). Ja, Jesus is met die heilige gees gesalf om die goeie nuus te verkondig.
16. Hoe was heilige gees in die eerste eeu diep betrokke by die verkondiging van die goeie nuus?
16 Kort voor sy dood het Jesus voorspel dat sy volgelinge aan ’n groot predikingsveldtog sou deelneem. Hy het gesê: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Hierdie woorde het in die eerste eeu hulle eerste vervulling gehad, en die rol wat die heilige gees daarin gespeel het, was merkwaardig. Dit was die heilige gees wat Filippus gerig het om vir die Ethiopiese hofdienaar te preek. Die heilige gees het Petrus na Cornelius gelei, en onder leiding van die heilige gees is Paulus en Barnabas as apostels van Antiochië af uitgestuur. Later, toe Paulus in Asië en Bithinië wou preek, het die heilige gees hulle op die een of ander manier verhinder. God wou hê dat die getuieniswerk in Europa versprei.—Handelinge 8:29; 10:19; 13:2; 16:6, 7.
17. Hoe is die heilige gees vandag by die predikingswerk betrokke?
17 Vandag is die heilige gees weer eens diep betrokke by die predikingswerk. In ’n verdere vervulling van Jesaja 61:1, 2 het Jehovah se gees Jesus se broers gesalf om te preek. In die finale vervulling van Markus 13:10 het hierdie gesalfdes, wat bygestaan word deur die groot menigte, die goeie nuus letterlik aan “alle nasies” verkondig (Openbaring 7:9). En die gees ondersteun hulle almal hierin. Soos in die eerste eeu stel dit gebiede oop en rig dit die algemene vordering van die werk. Dit versterk individue en help hulle om skugterheid te oorkom en hulle onderrigvermoë te ontwikkel. Jesus het bowendien vir sy dissipels gesê: “Voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle en vir die heidene. Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, . . . want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.”—Mattheüs 10:18-20.
18, 19. In watter opsig nooi die gees en die bruid sagmoediges om ‘die water van die lewe verniet te neem’?
18 In die boek Openbaring beklemtoon die Bybel weer eens die betrokkenheid van die heilige gees by die predikingswerk. Daar sê die apostel Johannes: “Die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Die bruid, wat verteenwoordig word deur die oorblywende lede van die 144 000 wat nog op aarde is, nooi almal uit om die water van die lewe kosteloos te neem. Maar let op dat die heilige gees ook sê: “Kom!” In watter opsig?
19 In die sin dat die boodskap wat verkondig word deur die bruidsklas—wat vandag deur die groot menigte ander skape bygestaan word—uit die Bybel kom, wat onder die direkte leiding van die heilige gees geskryf is. En dit is dieselfde gees wat die harte en verstande van die bruidsklas geopen het om die geïnspireerde Woord te verstaan en dit aan ander te verduidelik. Diegene wat as nuwe dissipels van Jesus Christus gedoop word, is verheug om kosteloos van die water van die lewe te neem. En hulle werk gretig saam met die gees en die bruid en sê vir nog ander: “Kom!” Vandag neem meer as viermiljoen saam met die gees aan hierdie werk deel.
Lewe in ooreenstemming met ons doop
20, 21. Hoe kan ons in ooreenstemming met ons doop in die naam van die heilige gees leef, en hoe moet ons hierdie doop beskou?
20 Doop in die naam van die heilige gees is ’n openbare bekendmaking dat ons die heilige gees en die rol wat dit in Jehovah se voornemens speel, erken. Dit gee te kenne dat ons met die gees sal saamwerk en niks sal doen wat sy werking onder Jehovah se volk sal verhinder nie. Derhalwe erken ons en werk ons saam met die getroue en verstandige dienskneg. Ons werk saam met die oueremanreëling in die gemeente (Hebreërs 13:7, 17; 1 Petrus 5:1-4). Ons lewe volgens geestelike wysheid, nie vleeslike wysheid nie, en ons laat die gees toe om ons persoonlikheid te vorm en dit meer soos Christus s’n te maak (Romeine 13:14). En ons voeg ons stemme heelhartig by dié van die gees en die bruid en sê, “Kom!” aan die miljoene wat dalk nog gehoor sal gee.
21 Wat ’n ernstige saak is dit tog om ‘in die naam van die heilige gees’ gedoop te word! Maar dit kan tot wonderlike seëninge lei! Mag die getal van diegene wat gedoop word, bly toeneem. En mag ons almal aanhou om in ooreenstemming met daardie doop te leef, terwyl ons Jehovah as slawe dien en “vurig van gees” bly.—Romeine 12:11.
Wat onthou jy oor die heilige gees?
◻ Op watter maniere het die heilige gees met Pinkster 33 G.J. gewerk?
◻ Hoe kan ons die vrug van die gees voortbring?
◻ Op watter maniere word ouere manne deur die heilige gees aangestel?
◻ Hoe hanteer Jesus probleme in die gemeente deur middel van die heilige gees?
◻ Hoe is die gees diep betrokke by die predikingswerk?
[Prent op bladsy 15]
Die doop wat Petrus verkondig het, was ook in die naam van die Vader en die heilige gees
[Prent op bladsy 17]
Die gees is diep betrokke by die verkondiging van die goeie nuus