Bydraes wat die hart verbly
IN DIE venstertjie hieronder is twee tipiese geldinsamelingsbriewe wat deur godsdienste van die Christendom uitgestuur word. Vind jy hulle opbeurend? Nouliks! Maar fondse is vandag in baie opsigte nodig om die aanbidding wat God goedkeur te bevorder. Hoe bekom ’n Christenorganisasie dan die nodige fondse om God se wil te doen?
’n Antwoord kan gevind word deur die gebruike van die eerste-eeuse Christengemeente en die woorde van sy Stigter, Jesus Christus, te ondersoek. “Gee, en aan julle sal gegee word”, raai Jesus in Lukas 6:38 aan. “’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” Hoe gepas het daardie illustrasie tog destyds vir Jesus se gehoor geklink. Hulle Oosterse kledingstukke het altyd ’n sak gehad om dinge in te dra of te hou. Die woord “skoot”, of letterlik “boesem” (Grieks, kol’pos), slaan op die holte wat die vou van ’n los kleed net bo die gordel vorm, en verkopers het die afgemete goedere wat gekoop is in hierdie sak gegooi.
Hoeveel handelaars sou eers die goed indruk en dan skud om soveel moontlik in die holte van ’n klant se kleed te kry, sodat dit selfs oorloop? Baie min, indien enige! Maar Christene, wat vryelik barmhartige dade teenoor die behoeftiges betoon het, sou mildelik met genade vergeld word. Die maat van ons behandeling van ander, hetsy vrygewig of suinig, word gebruik om te meet wat ons weer sal oes, nie net van mense nie maar, nog belangriker, van Jehovah God.—Vergelyk 2 Korinthiërs 9:6; Galasiërs 6:7.
Jesus het, deur vryelik van homself en sy middele te gee, die waarheid van hierdie beginsel ervaar. Hy was die verpersoonliking van vrygewigheid. Hy het die goeie nuus van God se Koninkryk ywerig en onselfsugtig aan die armes verkondig. Hy het nie betaling vir sy dienste gevra of verwag dat hy ’n salaris betaal moes word nie. En tog het hy nooit iets kortgekom nie. Mense het hom vrygewig, vrywillig, in sy bediening ondersteun.—Lukas 7:22; 8:1-3.
Jesus se mededeelsaamheid het ander—Simon Petrus, Jakobus, Johannes en die res van die 12—besiel om soortgelyke vrygewigheid te betoon deur alles agter te laat om aan die bediening deel te neem (Lukas 5:10, 11; 9:1-6). Daardie soort bydrae werp vandag dieselfde vrugte af. Jehovah se Getuies gee van hulle tyd, energie en middele sodat ander die goeie nuus van God se Koninkryk kan hoor. Namate hulle vrygewigheid openbaar deur te preek, word nog ander op hulle beurt beweeg om vrygewigheid te betoon deur saam met hulle aan die verkondiging van die goeie nuus deel te neem.—Spreuke 11:25.
Daar is egter iets anders benewens ons bydrae deur middel van die predikingswerk wat die hart verbly. Geldelike bydraes met die regte motief en om die regte redes is ook ’n deel van ware aanbidding (2 Korinthiërs 9:9-14). Hoe het die eerste-eeuse Christene dit gedoen?
Hoe die vroeë Christene dit gedoen het
Op die eerste dag van die totstandkoming van die Christengemeente in die jaar 33 G.J. het die 3 000 pasgedoopte bekeerlinge “met mekaar gedeel, maaltye genuttig en gebede” gedoen. Om watter goeie rede? Sodat hulle hulle jong geloof kon versterk deur hulle ‘toe te lê op die leer van die apostels’.—Handelinge 2:41, 42, NW.
Jode en proseliete het na Jerusalem gekom en het beplan om net vir die duur van die Pinksterfees te bly. Maar dié wat Christene geword het, wou langer bly en meer leer om hulle nuwe geloof te versterk. Dit het ’n dringende voedsel- en huisvestingprobleem geskep. Party van die besoekers het nie genoeg geld by hulle gehad nie, terwyl ander oorgenoeg gehad het. Daar was dus ’n tydelike saamstorting en verdeling van materiële dinge onder die behoeftiges.—Handelinge 2:43-47.
Hoe is die voedsel en huisvesting toegewys? Die apostels, wat as ’n bestuursliggaam opgetree het, het die insameling en verdeling van die geskenkte goed gereël. Die eerste beskrywing van die Christengemeente toon derhalwe dat lede hulle materiële dinge nie as hulle eie beskou het nie, maar as iets wat tot voordeel van die hele gemeente gebruik moes word (Handelinge 2:44; 4:32). Daarbenewens het “almal wat besitters van gronde of huise was . . . dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het”.—Handelinge 4:34, 35.
Die verkoop van grond en die onderlinge verdeling van alle dinge was absoluut vrywillig. Niemand was verplig om iets te verkoop of by te dra nie. Dit was ook nie ’n propagering van armoede nie. Die idee was nie dat die ryker lede al hulle eiendom verkoop en dus arm word nie. Hulle het eerder uit medelye vir medegelowiges onder die omstandighede op daardie tydstip van hulle eiendom verkoop en al die opbrengs daarvan bygedra om die nodige te voorsien om Koninkryksbelange te bevorder.—Vergelyk 2 Korinthiërs 8:12-15.
Individue dra vandag eweneens eiendom aan die Wagtoringgenootskap oor of bevoordeel hierdie organisasie in hulle testament. Sodoende word fondse ter beskikking van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gestel om te gebruik waar die grootste Koninkryksbehoefte bestaan. Al sodanige bydraes bevorder die verspreiding van geestelike verligting, soos op Pinkster. Niks hiervan is ooit verpligtend nie.
Gereeldheid is die sleutel
Nagenoeg 20 jaar na Pinkster van 33 G.J. het die apostel Paulus die gemeente in Korinthe herinner aan die behoefte aan ’n sekere soort bydrae. “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galasië gereël het”, skryf hy. Dan voeg hy hierdie stukkie advies by: “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self [tuis] opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie. En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem te bring.” Die besluit oor hoeveel om te gee, het blykbaar die hele gesin ingesluit, hetsy ryk of arm, want dit moes “tuis” plaasvind.—1 Korinthiërs 16: 1-3, vgl. NAV.
Paulus se voorstel oor die manier van bydra, kan vandag deur gemeentelede toegepas word. Hoe? Gereeldheid is die sleutel. As julle gemeente die maandelikse huur en instandhoudingskoste van julle vergaderplek of Koninkryksaal moet betaal, sal dit nodig wees om by te dra. Wat hier belangrik is, is “nie soseer die bedrag nie, maar dat iets elke week of maand vir Koninkryksbelange opsy gesit word”, skryf die takkantoor in Peru. Vind hierdie gedagte by jou byval? Selfs kinders kan geleer word om te besef dat gereelde bydraes ’n deel van hulle aanbidding is.
Wanneer bydraes met die regte motief en om die regte rede gegee word, verbly dit derhalwe God sowel as die mens se hart. Tweede Korinthiërs 9:7 sê: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.”
[Venster op bladsy 28]
Metodes wat die Christendom gebruik
“Die Here het vir my gesê om hierdie brief aan jou te skryf . . . Ek sou nooit so ’n brief aan jou skryf as God nie vir my gesê het om hierdie brief aan jou te skryf en vir jou te sê dat as jy gou $20 [R50] stuur om my nou te help hy jou sal seën soos jy nog nooit geseën was nie.”—’n Omsendbrief van ’n Kanadese geestelike, geteken “Jou leraar en vennoot”.
“Maak hierdie Heilige Salfolie oop (moenie ’n druppel mors nie). Jesus is in hierdie geloofsolie. Maak ’n kruis op jou voorkop daarmee, gaan dan in geloof alleen in ’n vertrek en haal al die geld wat jy het uit en maak ’n kruis op elke noot vir God om jou geldprobleme op te los en jou geld te vermenigvuldig soos in Lukas 6:38 . . . Wanneer jy die geld wat jy het met hierdie heilige salfolie salf, moet jy elke noot salf. Maak ’n kruis op elke noot, maak dan ’n kruis van salfolie op die grootste noot wat jy het, hetsy dit $20, $10 of $5 is, en stuur dit vir God se werk.”—’n Omsendbrief van ’n “eerwaarde” in die VSA, geteken “’n Profeet van God 30 jaar lank”.
[Venster op bladsy 30]
Hoe party tot die Koninkrykswerk bydra
♦ SKENKINGS: Geldelike bydraes kan regstreeks aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Privaatsak 2067, Krugersdorp, 1740, gestuur word, of in ander lande na die Genootskap se takkantoor aldaar. Eiendom kan ook geskenk word. ’n Kort briefie wat meld dat dit ’n bydrae is, moet hierdie bydraes vergesel.
♦ REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS: Geld, aandele, obligasies en eiendom kan aan die Wagtoringgenootskap bemaak word op voorwaarde dat die skenker, in geval van persoonlike behoefte, opvragings kan maak. Hierdie metode voorkom die onkoste en onsekerheid van regterlike verifikasie van ’n testament, en verseker dat die Genootskap die eiendom in geval van sterfte ontvang.
♦ VERSEKERING: Die Wagtoringgenootskap kan benoem word as die bevoordeelde van ’n lewensversekeringspolis. Spaarrekenings kan eweneens vir die Genootskap in trust geplaas word. In beide gevalle moet die Genootskap daarvan in kennis gestel word.
♦ TESTAMENTE: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Wagtoringgenootskap bemaak word. ’n Kopie moet aan die Genootskap gestuur word.
Nadere inligting of raad oor sodanige sake kan bekom word deur te skryf aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Privaatsak 2067, Krugersdorp, 1740.
[Prente op bladsy 31]
Maniere waarop die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies jou bydraes die afgelope twee jaar ter bevordering van Koninkryksbelange gebruik het:
Meer as 12 700 sendelinge en spesiale pioniers is onderhou
Veertig takkantore is gebou of vergroot
Meer as 5 000 reisende opsieners en hulle vrouens is gehelp
Agt nuwe snelrotasieperse is aangekoop
Meer as 8 400 Betheliete is onderhou
Slagoffers van rampe is gehelp