Die Bybelse beskouing
Hoe betekenisvol is die jaar 2000?
DIE meeste mense heg hoegenaamd geen godsdienstige betekenis aan wat in Westerse lande sowel as in baie ander lande die jaar 2000 gaan wees nie. Jode, Moslems en Hindoes het byvoorbeeld almal hulle eie godsdienskalenders wat nie met die Westerse kalenders ooreenstem nie. Die Chinese volg ’n maankalender vir godsdiens- en tradisionele datums. Miljarde mense wat vandag leef, moontlik die grootste deel van die wêreld se bevolking, heg derhalwe geen spesiale betekenis aan die jaar 2000 nie.a
Nietemin wag baie mense, veral in Westerse lande, nuuskierig op die naderende begin van die volgende millennium soos dit deur die Gregoriaanse kalender aangegee word. Vir party is dit meer as net nuuskierigheid. Hulle beskou die jaar 2000 as die begin van ’n nuwe era, as ’n keerpunt in die geskiedenis. Baie wat geloof in die Bybel bely, verbind die vervulling van profesieë met die jaar 2000. Party verwag ’n baie groot geestelike openbaring. Ander vrees ’n groot ramp—die einde van die wêreld. Bied die Bybel enige grondslag vir hierdie verwagtinge?
Jehovah, die Tydhouer
Die God van die Bybel word as die “Oue van dae” beskryf (Daniël 7:9). Hy beheer tyd met volmaakte presiesheid, soos blyk uit die werking van baie van sy skeppingswerke, van die omwenteling van planete tot die beweging van subatomiese deeltjies. Hy het sy eie tydrooster waarby hy presies hou. “Hy het die vasgestelde tye en die bepaalde grense van die woonplek van die mense verorden”, sê die Bybel (Handelinge 17:26). Jehovah is ’n noukeurige Tydhouer.
Gevolglik gee die Bybel spesifieke aandag aan chronologie. Dit voorsien ’n samehangende verslag wat ’n mens in staat stel om metodies tot by die begin van die mensegeskiedenis terug te tel. So ’n berekening wys op 4026 v.G.J. as die jaar waarin God Adam geskep het. Sowat 2000 jaar later is Abraham gebore. Nog 2000 jaar het verloop teen die tyd van Jesus se geboorte.
Party wat Bybelchronologie bestudeer, het willekeurige vergelykings geformuleer wat na spesifieke jaartalle in die toekoms wys. Party gebruik byvoorbeeld die opeenvolgende tydperke van ongeveer 2000 jaar tussen Adam, Abraham en Jesus as ’n grondslag en voorspel ’n onheilspellende gebeurtenis aan die einde van die tydperk van 2000 jaar sedert Jesus se geboorte. Dít is net een voorbeeld van verskeie tydformules wat na bewering op Bybelchronologie gegrond is.
Die Bybel praat weliswaar oor die tyd wanneer Jehovah God in menseaangeleenthede gaan ingryp deur verdorwenheid uit die weg te ruim en ’n nuwe wêreld tot stand te bring. Bybelprofesieë praat van “die tyd van die einde”, “die voleinding van die stelsel van dinge”, “die laaste dae” en “die dag van Jehovah” (Daniël 8:17; Matteus 24:3; 2 Timoteus 3:1; 2 Petrus 3:12). Maar die “einde” wat in die Bybel voorspel word, hou geensins verband met die jaar 2000 nie. Daar is niks in die Skrif wat spesiale betekenis heg aan die einde van die tweede millennium soos dit deur die Gregoriaanse kalender bereken is nie.
“Wanneer sal hierdie dinge wees?”
Jesus se apostels het groot belangstelling in God se tydrooster getoon toe hulle Jesus gevra het: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). Baie mense is vandag insgelyks nuuskierig oor die toekoms. Dit is net natuurlik om ’n lewendige belangstelling te toon in sulke betekenisvolle Bybelprofesieë en die tyd van hulle vervulling. Maar dit is verstandig om God se beskouing van die saak te aanvaar en te eerbiedig.
Jehovah het deur middel van sy Seun sy voornemens geopenbaar en ’n reguit antwoord oor hierdie saak gegee. Kort voor Jesus se hemelvaart het sy dissipels hom weer gevra oor die tyd van die vervulling van God se beloftes. Jesus het geantwoord: “Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie jurisdiksie geplaas het nie” (Handelinge 1:7). By ’n vorige geleentheid het Jesus vir sy dissipels gesê: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader.”—Matteus 24:36.
Dit is duidelik dat die ‘kennis van die tye of tydperke’, veral wanneer dit kom by die toekomstige vervulling van Bybelprofesieë, nie onder die mens se jurisdiksie is nie. God het besluit om nie hierdie inligting aan ons te openbaar nie (Matteus 24:22-44). Kan ons God se voorneme enigsins beïnvloed deur “daardie dag en uur” op ons eie, teen sy wense, uit te werk? Dit sou uiteraard onmoontlik wees (Numeri 23:19; Romeine 11:33, 34). Die Bybel sê: “Die raad van die HERE bestaan vir ewig” (Psalm 33:11). Omdat hy die almagtige God is, is hy altyd suksesvol.—Jesaja 55:8-11.
Ondanks God se mag om die “kennis . . . van die tye of tydperke . . . onder sy eie jurisdiksie” te hou, spekuleer baie nog graag hieroor. Party word selfaangestelde doemprofete. Daarom het die apostel Paulus spesifieke voorskrifte aan die Tessalonisense gegee aangaande die gevaar wat dit inhou om na diegene te luister wat oor jaartalle spekuleer. Hy het geskryf: “[Ons versoek julle] om nie gou van julle rede afgebring te word of opgewonde gemaak te word nie, hetsy deur ’n geïnspireerde uiting of deur ’n mondelinge boodskap of deur ’n brief wat glo van ons afkomstig sou wees, wat te kenne gee dat die dag van Jehovah hier is. Laat niemand julle op enige manier verlei nie.”—2 Tessalonisense 2:1-3.
Jehovah se Getuies glo vas dat God se voornemens vir die toekoms beslis op sy voorbestemde tyd uitgevoer gaan word, presies op die dag en uur wat hy bepaal het (Habakuk 2:3; 2 Petrus 3:9, 10). En ons glo dat hierdie gebeure in die nabye toekoms gaan plaasvind (2 Timoteus 3:1-5). Maar ons spekuleer nie oor die teorieë wat vandag volop is nie en ons ondersteun dit ook nie.b Nie die jaar 2000, of 2001, of enige ander tyd wat deur mense bepaal is, hou enigsins verband met Jehovah se tydrooster nie.
[Voetnote]
a Uit ’n tegniese oogpunt begin die so genoemde derde millennium op 1 Januarie 2001. Die eerste millennium het nie met die jaar nul begin nie, maar eerder met die jaar 1. Maar die publiek verbind die term “derde millennium” met die jaar 2000. Hierdie artikel gee aandag aan die gewilde verwagtinge in verband met die jaar 2000.
b Die Wagtoring van 1 September 1997, bladsye 21-2, het gesê: “Jehovah se Getuies wil graag weet wanneer die dag van Jehovah gaan kom. In hulle gretigheid het hulle soms probeer skat wanneer dit sal kom. Maar deur dit te doen, het hulle, soos Jesus se vroeë dissipels, nagelaat om ag te slaan op hulle Heer se waarskuwing dat ons ‘nie weet wanneer dit die vasgestelde tyd is nie’ (Markus 13:32, 33). Spotters het die spot gedryf met getroue Christene weens hulle voortydige verwagtinge (2 Petrus 3:3, 4). Maar Petrus verseker ons dat Jehovah se dag sal kom, volgens Sy tydrooster.”