Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • tp hfst. 16 bl. 175-186
  • Die keuse wat die lewe in ware vrede en veiligheid verseker

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die keuse wat die lewe in ware vrede en veiligheid verseker
  • Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Lewende geloof
  • Berou en bekering
  • Openbare belydenis tot redding
  • Koester jou verhouding met God
  • ’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
    ‘n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
  • Hoe jy goddelike vrede in groter mate kan geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Doop en jou verhouding met God
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Stel jou dit ten doel om God vir ewig te dien
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
Sien nog
Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
tp hfst. 16 bl. 175-186

Hoofstuk 16

Die keuse wat die lewe in ware vrede en veiligheid verseker

1. Watter vrede en vertroue kan ons nou geniet mits ons die regte keuse doen?

HOE verblydend is dit tog om ’n ware doel in die lewe te hê, om te weet waarheen jy op pad is! En watter gemoedsrus bied die wete tog dat daar geen beter weg is om te volg nie! Jy kan sulke vrede en vertroue geniet, maar slegs as jy nou die regte keuse doen.

2. Hoe beïnvloed dit ons lewensbeskouing ten goede wanneer ons Jehovah en sy voornemens leer ken?

2 Die getuienis toon duidelik dat ons nie op hierdie wêreld as die bron van ware vrede en veiligheid kan vertrou nie. Die kommersiële, godsdiens- en politieke stelsel, onder meer die Verenigde Volke met sy proklamasies van ‘vrede en veiligheid’, kan dit nie bring nie. Die Bybel verwys ons gevolglik na Jehovah God as die enigste Bron van ware vrede en veiligheid. Wanneer ons hom en sy voornemens leer ken, help dit ons om te verstaan waarom ons hier op aarde is en wat die rede vir die huidige toedrag van sake is. Ons leer van die groot geskil oor Jehovah se universele soewereiniteit, en hoe dit elkeen van ons raak. Ons leer om die korrektheid en wysheid van ons doelwitte te beoordeel, en ons kry betroubare morele standaarde om volgens te lewe. Wanneer siekte, bejaardheid of die dood ons in die gesig staar, het ons die vertroostende hoop op lewe in ’n regverdige, gesonde nuwe orde, selfs deur ’n opstanding uit die dode, indien nodig.

3. Waarom is Jehovah die een op wie ons al ons hoop moet vestig?

3 Dit is dus geen wonder dat Jesaja 26:4 ons aanspoor nie: “Vertrou op die HERE vir ewig, want in die HERE HERE is ’n ewige rots.” Die onveranderlike, almagtige en ewige Jehovah is voorwaar die een op wie ons al ons hoop moet vestig. Wil jy graag sy leiding en beskerming nie net nou nie, maar tot in alle ewigheid in sy beloofde Nuwe Orde geniet? Wat staan jou dan te doen?

4. Wat het ons nodig om Jehovah se guns te verkry, en waardeur word dit moontlik gemaak?

4 Die mensdom in sy geheel is weens die sonde van ons eerste ouers van God vervreem. Maar God het die weg tot versoening en vriendskap met hom deur middel van sy Seun se offerande geopen (2 Korinthiërs 5:​19-21; Efesiërs 2:​12, 13). Maar dit is nie voldoende vir ons om nou net te sê dat ons God se vriendskap wil hê nie.

5. Met watter beweegrede moet ons Jehovah se vriendskap nastreef?

5 Ons moet bereid, selfs gretig, wees om vir hom te bewys dat ons dit wil hê, en weens die regte beweegrede. Streef ons byvoorbeeld Jehovah se vriendskap na hoofsaaklik om aan ’n ramp te ontkom? As ons goed by God aangeskrewe wil staan, kan dit nie net vir hierdie beslissende tydperk voor sy oordeel wees of net om die komende “groot verdrukking” te oorlewe nie (Mattheüs 24:​21, 22). Dit moet tot in alle ewigheid wees. Slegs ware liefde sal ons hierdie beweegrede gee. Sodat ons die opregtheid van ons begeerte na sy vriendskap kan toon, het Jehovah sekere dinge in sy Woord uiteengesit wat elkeen van ons moet doen om met hom versoen te raak.

’n Lewende geloof

6. Watter vertroue moet ons in God hê om hom te behaag?

6 Jehovah is ’n God van waarheid. Ons kan sy beloftes gevolglik volkome vertrou. Trouens, “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). As jy sulke geloof het, sal jy weet dat alles wat God doen ’n regverdige doel het, en dat hy altyd ons belange op die hart dra. Uit sy skeppingswerke en uit sy geskrewe Woord kan jy sien dat hy nie alleen alwys en almagtig is nie, maar ook ’n God van goedertierenheid. Hy sal natuurlik nooit van sy regverdige standaarde afwyk nie. As ons geregtigheid liefhet, handel hy met ons op ’n wyse wat seëninge meebring, al is ons onvolmaak en begaan ons foute.

7. Hoe sal vertroue in die korrektheid en wysheid van Jehovah se weë ons beskerm?

7 Wanneer ons dan deur God tereggewys word, sal ons weet dat dit vir ons ewige welsyn is. Ons sal Jehovah begin vertrou soos ’n seun of dogter ’n liefdevolle, verstandige en sterk vader vertrou (Psalm 103:​13, 14; Spreuke 3:​11, 12). Met sulke geloof sal ons nòg die wysheid van sy raad nòg die korrektheid van sy weë in twyfel trek, al verstaan ons sekere sake ’n ruk lank nie ten volle nie. Ons plaas onsself sodoende onder diegene wat soos volg deur die psalmis beskryf word: “Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.”—Psalm 119:​165; Spreuke 3:​5-8.

8. (a) Waarom is geloof alleen nie genoeg nie? (b) Tot watter daad wat in Handelinge 3:​19 gemeld word, moet geloof ons aanspoor?

8 Maar “die geloof sonder die werke [is] dood”, soos Jakobus 2:​26 sê. Ware geloof spoor ’n mens tot optrede aan. En een van die eerste dinge wat dit ’n mens laat doen, is wat die apostel Petrus mense aangespoor het om te doen: “Kom dan tot inkeer [“hê berou”, NW] en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom” (Handelinge 3:​19). Wat beteken dit?

Berou en bekering

9. Wat is ware berou? (b) Waaroor moet ons berou hê?

9 In die Bybel dui berou op ’n gemoedsverandering wat gepaard gaan met innige spyt oor ’n vorige lewenswyse of verkeerde dade (2 Korinthiërs 7:​9-11). As ons die beloofde “tye van verkwikking” van die aangesig van God wil geniet, moet ons egter nie net berou hê oor verkeerde dade van die verlede nie. Ons moet eerder berou hê omdat ons besef dat ons, as afstammelinge van Adam, in wese sondig is. Soos die apostel Johannes gesê het: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en . . . maak ons [God] tot ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie” (1 Johannes 1:​8, 10). Ons moet ons Skepper behoorlik weerspieël deur ‘sy beeld en gelykenis’ te weerkaats. Maar erfsonde verhoed dat ons dit op ’n volmaakte wyse doen. Daarom ‘skiet ons te kort’, en dit is wat die woord “sondig” in die Bybel beteken.—Genesis 1:​26; Romeine 3:⁠23.

10, 11. (a) Aan wie is ons ons lewe te danke, en waarom? (b) Hoe moet ons derhalwe ons lewe gebruik?

10 Ons het dus God se vergifnis nodig (Mattheüs 6:​12). Ons besef dat ons ons lewe aan hom as ons Skepper te danke het. Maar nou leer ons dat die mensdom ook “duur gekoop” is met die offer van God se Seun. Ons moet dus nie “slawe van mense” wees nie, nie eens van ons eie selfsugtige begeertes nie (1 Korinthiërs 7:​23). Maar is dit nie wat ons almal was voordat ons die waarheid geleer en aangeneem het nie?—Johannes 8:​31-34.

11 Het jy hartgrondige waardering vir God se gawe, naamlik sy Seun, en wat hy deur Christus gedoen het om ons van gevangenskap aan sonde en die dood te bevry? Dan sal jy stellig opreg spyt wees oor enige versuim in die verlede om jou lewe in gehoorsaamheid aan jou Skepper te gebruik. Dit sal jou hartgrondige berou laat hê omdat jy ’n lewenswyse soos dié van die wêreld gehad het, ’n lewenswyse wat strydig was met God se wil en voornemens.—Handelinge 17:​28, 30; Openbaring 4:⁠11.

12. Hoe toon ’n berouvolle persoon dat hy waarlik sy vorige weg verwerp het?

12 Hierdie opregte berou lei tot ’n ‘omkering’, wat die betekenis van die woord “bekering” is. Die waarlik berouvolle persoon is nie net spyt dat hy sy lewe misbruik het nie. Hy verwerp daardie verkeerde weg en begin in werklikheid om sy verkeerde weë te haat. Hy toon dit deur hom te ‘bekeer’ en “werke te doen wat by die bekering pas” deur sy lewe in ooreenstemming met God se wil te bring.—Handelinge 26:​20; Romeine 6:⁠11.

13. (a) Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat sy volgelinge ‘hulself moet verloën’? (b) Waarom onderwerp ons ons gevolglik aan Jehovah, en hoe raak dit ons lewe?

13 ’n Deel van hierdie berou en bekering sluit in wat Jesus ‘selfverloëning’ genoem het (Mattheüs 16:​24). Dit wil sê, ons lewe nie meer net volgens ons eie selfsugtige begeertes sonder inagneming van God se wil en voornemens nie. Ons erken eerder dat Jehovah God in werklikheid volle seggenskap oor ons lewens het as ons Skepper en ons Vrykoper deur sy Seun se losprysoffer. Die Bybel sê byvoorbeeld dat ons ‘nie aan onsself behoort nie, want ons is duur gekoop’ (1 Korinthiërs 6:​19, 20). In plaas van die wonderlike vryheid wat die waarheid aan ons verleen te misbruik, onderwerp ons ons liewer volkome aan die wil van God (Galasiërs 5:​13; 1 Petrus 2:​16). En ons doen dit nie net omdat dit reg is nie, maar omdat ons Jehovah God uit ‘ons hele hart, siel, verstand en krag’ liefhet (Markus 12:​29, 30). Dit vereis seer seker dat elkeen van ons ’n lewe van toewyding aan God moet lei. In plaas van ’n las te wees, stel hierdie weg ons in staat om die lewe te geniet soos nooit tevore nie.—Mattheüs 11:​28-30.

Openbare belydenis tot redding

14. (a) Hoe kan iemand dit aan God bely wanneer hy erken dat hy tereg aan Jehovah behoort? (b) Wat anders moet hy graag wil doen, soos aangedui in Romeine 10:⁠10?

14 Dit is goed om ons geloof in God se voorsienings in gebed te betuig en te erken dat ons aan hom behoort. Maar ons kan ons betuiging van geloof selfs verder voer, en dit behoort ons begeerte te wees om dit te doen, soos Romeine 10:​10 ons meedeel: “Met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons [in die openbaar] tot redding.” Hierdie ‘openbare’ betuiging van ons geloof in Jehovah en sy voorsienings moet vryelik uit ’n hart vol waardering vloei. Hierdie belydenis sluit in die toewyding van ons lewe aan Jehovah om sy wil te doen en die simbolisering daarvan deur waterdoop.

15. Waarom moet ons waterdoop ernstig oorweeg?

15 Toe Jesus Christus met sy openbare bediening begin het, het hy Johannes die Doper gevra om hom in water te doop. Die Bybel berig dat Jesus toe vir God gesê het: “Ek kom om u wil te doen” (Hebreërs 10:9; Psalm 40:​8, 9). Jesus het beveel dat almal wat sy dissipels word, ook gedoop moet word. Is jy so ’n dissipel? Dan sal jou waterdoop ’n ‘openbare belydenis’ hiervan wees.—Mattheüs 28:​19, 20.

16. (a) Hoe kan jy vasstel of jy gereed is om gedoop te word? (b) Hoe help opsieners diegene wat hulle vir doop voorberei?

16 Dit is ’n wonderlike voorreg om ’n toegewyde, gedoopte getuie van Jehovah, die Soewerein van die heelal, te word. Kom ons hersien nou wat dit behels: Jehovah het liefdevol die weg vir jou geopen om sy vriendskap te geniet. Maar om dit te doen, moet jy geloof hê en waarlik glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is (2 Timotheüs 3:​16, 17). Jy moet ook geloof beoefen in Jesus se losprysoffer as die enigste manier om ’n aanneemlike posisie voor God te verkry (Handelinge 4:​12). Jy moet besef dat jy van Jehovah afhanklik is en moet jou lewe aan hom onderwerp om sy wil te doen, nie net ’n paar jaar lank nie, maar vir ewig. So ’n weg vereis dat jy “nie van die wêreld” is nie (Johannes 17:​16; 1 Johannes 2:​15). As bewys dat jy berou het en jou “bekeer” het, moet jy enige gebruike afgelê het wat in stryd met God se regverdige standaarde is en moet jy doen wat God beveel. Het jy jou gemoed vernuwe sodat dít nou jou lewensbeskouing is? (Romeine 12:​1, 2). In daardie geval spoor die Bybel jou aan om sulke geloof ‘in die openbaar te bely’. Die eerste stap sal wees om een van die opsieners van die gemeente van Jehovah se Getuies in julle gebied te nader en vir hom te sê hoe jy voel. Hy sal reëlings tref dat die basiese leerstellings van die Bybel ter voorbereiding van jou doop met jou hersien word.

17. Gebruik die Bybel en toon hoe ons moet aanhou om ‘ons geloof in die openbaar te bely’.

17 Doop is nie die einde van die ‘openbare belydenis van jou geloof’ nie. As ’n Christen wat aan Jehovah God toegewy is, sal jy jou hoop bekend wil maak deur betuigings in die openbare vergadering, ja, deur ‘hom in die groot vergadering te loof’ (Psalm 35:​18; 40:​10, 11). Jy sal ook wil deelneem aan die spesiale werk van ‘openbare belydenis’ wat Jehovah opdra aan almal wat hom wil dien—die werk om die goeie nuus van die Koninkryk in die hele wêreld te verkondig en dissipels van mense van al die nasies te maak.—Mattheüs 24:​14; 28:⁠19.

Koester jou verhouding met God

18. Hoe belangrik is persoonlike studie om te verseker dat ’n mens se verhouding met Jehovah sal voortduur?

18 Hoe kan jy nou verseker dat jou verhouding met Jehovah vir ewig in vreugdevolle vrede en veiligheid sal voortduur? Jy sal onder meer voortdurend meer kennis van hom wil verkry. Deur persoonlike studie sal jy ware genot put uit die verkryging van die skatte van wysheid wat in God se Woord is. Jy kan soos die persoon wees wat Psalm 1:​2, 3 beskryf: “Sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” Ja, die verkryging van kennis van God, en die toepassing daarvan, sal jou in staat stel om in “lieflike weë” en in ‘paaie van vrede’ te wandel, want dit sal jou die wysheid gee om alle lewensprobleme die hoof te bied (Spreuke 3:​13, 17, 18). As jy nou na sulke Bybelkennis dors, sal dit toon dat jy geskik is vir die lewe in God se Nuwe Orde, want dan sal “die aarde . . . vol wees van die kennis van [Jehovah] soos die waters die seebodem oordek”.—Jesaja 11:9, vgl. NW.

19. Waarom is die gereelde bywoning van vergaderinge noodsaaklik in die lewe van Jehovah se volk?

19 Nog iets wat vir jou onontbeerlik is, is die gereelde bywoning van vergaderinge saam met ander knegte van Jehovah. Daar sal jy ware aansporing tot liefde en goeie werke vind, asook bemoediging om te volhard in jou regte verhouding met God (Hebreërs 10:​23-25). Die aangename, gesinsagtige omgang van Jehovah se knegte bied versterkende getuienis dat die vreedsaamheid en veiligheid wat vir God se Nuwe Orde beloof is ’n werklikheid is.—Psalm 133:1; 1 Korinthiërs 14:​26, 33.

20. Hoe kan die ouere manne in die gemeente ons help in tye van teenstand en persoonlike moeilikheid?

20 In die gemeente kan jy by nog ’n liefdevolle voorsiening baat vind. Jesus, die ‘Goeie Herder’, het ‘onderherders’ op aarde. Dit is die opsieners, of geestelik ouere manne, wat vir sy “skape” sorg. Hulle speel ’n belangrike rol by die bevordering van vrede en veiligheid onder God se vergaderde volk oor die hele aarde (1 Petrus 5:​2, 3). Hierdie manne is “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:​1, 2). Ja, in stormagtige tye van druk en spanning as gevolg van wêreldlike teenstand of persoonlike moeilikhede kan hierdie geestelik ouere manne deur hulle rotsvaste geloof en die feit dat hulle streng by God se Woord bly ware steun verleen. Hulle kan jou van verkwikkende raad en bemoediging voorsien.

21. Wat sal voorkom dat ons ooit toelaat dat die onvolmaakthede van ander ons verhouding met Jehovah skaad?

21 Menslike onvolmaakthede sal weliswaar kop uitsteek, selfs onder God se knegte. Ons almal begaan daagliks foute (Jakobus 3:2). Maar gaan ons toelaat dat die onvolmaakthede van ander ons laat struikel en ons verhouding met Jehovah skaad? Moet ons nie, daar ons ook foute begaan, ander vergewe soos wat ons graag wil hê hulle ons moet vergewe nie? (Mattheüs 6:​14, 15). As ons wil bewys dat ons geskikte onderdane vir God se vreedsame Nuwe Orde is, moet ons nou bewys lewer van ons vermoë om in vrede met ander oor die weg te kom. Ons kan God nie liefhê sonder om ook ons geestelike broers en susters vir wie Christus gesterf het, lief te hê nie.—1 Johannes 4:​20, 21.

22. Watter plek moet gebed in ons lewe beklee?

22 Jou regte verhouding met God bied jou nog ’n wonderlike voorreg: om God in gebed te nader met die versekering dat hy jou hoor. Koester daardie voorreg en gebruik dit daagliks, dwarsdeur die dag. Probleme sal opduik. Jou eie onvolmaakthede kan jou kwel. Die Bybel se raad is egter: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”—Filippense 4:​6, 7.

23. Wat sal ons help om te volhard wanneer ons beproewinge en lyding ter wille van ons geloof moet verduur?

23 As jy besluit om Jehovah, die ware Bron van vrede en veiligheid, te dien en jou hoop in sy Nuwe Orde stel, is dit ’n goeie begin. Nou het jy, soos die Bybel sê, ‘volharding nodig om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het’ (Hebreërs 10:​36, NAV). Noudat jy die seën van ’n regte verhouding met Jehovah gesmaak het, moet jy vasbeslote wees om dit nooit prys te gee nie. Moet nooit toelaat dat die kortstondige genietinge van die wêreld jou weglok nie. Al word die beproewinge van ’n vyandige wêreld al strawwer, moet jy onthou dat dit net tydelik is. Vergeleke met die seëninge wat Jehovah uitstort op diegene wat hom liefhet, is sulke lyding niks.—2 Korinthiërs 4:​16-18.

24. (a) Veral waaroor het ons vandag rede om ons te verheug? (b) Hoe moet ons, soos die psalmis, altyd oor Jehovah en ons verhouding met hom voel?

24 Volhard op die weg van godsvrug, vol vertroue dat dit nou die beste lewenswyse is en dat dit tot die ewige lewe in God se Nuwe Orde sal lei (1 Timotheüs 4:8). Verheug jou oor die getuienis dat daardie Nuwe Orde naby is en oor die ewige vrede en veiligheid wat dit gaan bring. Terwyl jy jou verhouding met Jehovah steeds hegter maak, moet jy altyd voel soos die geïnspireerde psalmis wat geskryf het: “God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid. Want kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U afhoereer. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die [Soewereine Heer Jehovah] het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.”—Psalm 73:​26-28, vgl. NW.

[Prent op bladsy 181]

Hoe openbare belydenis gedoen word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel