“Die tye van die herstel” is op hande!
Net voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het party van sy getroue dissipels vir hom gevra: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Jesus se antwoord het geïmpliseer dat heelwat tyd sou verloop voordat die Koninkryk sou kom. Gedurende daardie tyd sou sy volgelinge ’n groot werk hê om te doen. Hulle moes getuies van Jesus wees “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde”.—Handelinge 1:6-8.
HIERDIE opdrag kon nie binne ’n paar dae, weke of maande uitgevoer word nie. Die dissipels het egter sonder enige aarseling die predikingswerk begin doen. Maar hulle het nog steeds daarin belanggestel om te weet wanneer alles herstel gaan word. Die apostel Petrus het met ’n groot skare wat in Jerusalem bymekaar was hieroor gepraat en gesê: “Toon . . . berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word, dat tye van verkwikking van die persoon van Jehovah kan kom en dat hy die Christus kan uitstuur wat vir julle aangestel is, Jesus, wat inderdaad deur die hemel self gehou moet word tot die tye van die herstel van alle dinge waarvan God by monde van sy heilige profete van die ou tyd gespreek het.”—Handelinge 3:19-21.
Hierdie “tye van die herstel” sou “tye van verkwikking” van Jehovah inlui. Die voorspelde herstelling sou in twee stadiums geskied. Eerstens sou daar ’n verkwikkende geestelike herstelling wees, wat nou plaasvind. Tweedens sou dit gevolg word deur die totstandkoming van ’n fisiese paradys op die aarde.
Die tyd van die herstel begin
Soos die apostel Petrus vir daardie skare in Jerusalem gesê het, is ‘Jesus deur die hemel self gehou’. Dit was die geval tot 1914 toe Jesus sy koninklike mag aangeneem het en as God se aangestelde Koning begin heers het. Op daardie tydstip, het Petrus voorspel, sou Jehovah sy Seun “uitstuur” in die sin dat Hy Jesus sou toelaat om sy rol as die sleutelfiguur in God se voornemens te vervul. Die Bybel beskryf die gebeurtenis in simboliese taal: “En [God se hemelse organisasie] het geboorte gegee aan ’n seun, ’n manlike kind, [God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus] wat met ’n ysterstaf as herder teenoor al die nasies gaan optree.”—Openbaring 12:5.
Maar die nasies was glad nie van plan om hulle aan Christus se heerskappy te onderwerp nie. Trouens, hulle het sy lojale aardse onderdane, wat vandag as Jehovah se Getuies bekend staan, aangeval. Soos hulle voorgangers, die apostels, het die Getuies sonder aarseling “die werk . . . om van Jesus te getuig” begin doen (Openbaring 12:17). Teenstand teen die werk wat hierdie opregte Christene gedoen het, het in een land na die ander opgevlam. In 1918 is verantwoordelike lede van die hoofkantoorpersoneel van die Wagtoringgenootskap in Brooklyn, New York, op valse aanklagte voor die hof gesleep en ten onregte lang tronkstrawwe opgelê. Dit het ’n tyd lank gelyk of die hedendaagse getuieniswerk nie “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” gedoen sou word nie.—Openbaring 11:7-10.
Maar in 1919 is daardie lede van die hoofkantoorpersoneel uit die gevangenis vrygelaat en later vrygespreek van al die valse aanklagte. Hulle het onmiddellik weer die geestelike herstelling begin voortsit. Sedertdien geniet Jehovah se volk ongeëwenaarde geestelike voorspoed.
’n Uitgebreide kampanje is onderneem om mense van alle nasies te leer om die dinge te onderhou wat Christus sy volgelinge beveel het om te doen (Matteus 28:20). Hoe verkwikkend was dit tog om te sien hoe party wat voorheen dierlike eienskappe geopenbaar het hulle beskouing verander! Hulle het die ou persoonlikheid afgelê, wat karaktertrekke soos “toorn”, “smadende taal” en “onwelvoeglike praatjies” voortbring, en hulle het hulle met die nuwe persoonlikheid beklee, “wat deur juiste kennis nuut gemaak word na die beeld van [God] wat dit geskep het”. In geestelike sin word die woorde van die profeet Jesaja nou reeds vervul: “Dan wei die wolf [iemand wat voorheen wolfagtige eienskappe geopenbaar het] by die lam [iemand met ’n ootmoedige geaardheid], en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar.”—Kolossense 3:8-10; Jesaja 11:6, 9.
Verdere herstelling is op hande!
Buiten die herstelling wat vandag ’n geestelike paradys tot gevolg gehad het, kom die tyd vinnig nader wanneer ons planeet ’n fisiese paradys sal word. ’n Klein gedeelte van die aarde was ’n paradys toe Jehovah ons voorouers, Adam en Eva, in die tuin van Eden geplaas het (Genesis 1:29-31). Dit is waarom ons kan sê dat die Paradys herstel sal word. Maar voordat dit gebeur, moet godonterende valse godsdiens eers van die aarde verwyder word. Die politieke elemente van hierdie wêreld sal daarvoor sorg (Openbaring 17:15-18). Dan sal die politieke en kommersiële elemente, tesame met hulle ondersteuners, vernietig word. Uiteindelik sal die laaste van God se teenstanders—Satan die Duiwel en sy demone—duisend jaar lank opgesluit wees. Dit is hoe lank die herstelprojek sal duur. Gedurende daardie tyd sal “die woestyn en die dor land . . . bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing” (Jesaja 35:1). Die hele aarde sal vry wees van rusversteuring (Jesaja 14:7, NW). Selfs al die miljoene wat gesterf het, sal tot lewe op aarde opgewek word. Almal sal voordeel trek uit die herstellingskrag van die losprysofferande (Openbaring 20:12-15; 22:1, 2). Daar sal geen blindes, dowes of kreupeles op die aarde wees nie. “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Net ná die einde van die Duisendjarige Heerskappy van Christus sal die Duiwel en sy demone ’n kort rukkie vrygelaat word, en hulle sal sien hoe God se voorneme met die aarde tot op daardie stadium vervul is. Uiteindelik sal hulle vir ewig vernietig word.—Openbaring 20:1-3.
Aan die einde van die duisend jaar van die herstelling op die aarde sal “alles wat asem het” Jehovah loof, en hulle sal dit tot in alle ewigheid doen (Psalm 150:6). Sal jy een van hulle wees? Jy kan.