Die universele geskil word vir goed besleg
“Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn.”—PSALM 110:5.
1, 2. Watter gebeurtenis in die jaar 70 G.J. kon moontlik twyfel laat ontstaan het oor die universaliteit van Jehovah God se soewereiniteit, maar na wie het hy sy guns teen daardie tyd verskuif?
DIE universele soewereiniteit van die Skepper van hemel en aarde is die opperste geskil voor mense en engele. Hoewel Jehovah se vyande sy soewereiniteit baie eeue lank betwis het, gaan die geskil binnekort vir goed besleg word. Trouens, die feit dat die stad Jerusalem en sy tempel wat aan Jehovah gewy is in 70 G.J. vernietig is, het moontlik twyfel laat ontstaan oor die universaliteit van die Skepper se soewereiniteit. Daar was nogtans ’n goeie rede waarom Jehovah nie toe as ’n Stryder-God ten behoewe van vleeslike Israel opgetree het nie.
2 Wat was die rede? Teen daardie tyd het Jehovah God sy guns na ’n nuwe nasie, ’n geestelike Israel, “die Israel van God”, soos die apostel Paulus die gemeente van Jesus Christus noem, verskuif (Galasiërs 6:16). Maar tot dusver, gedurende die hele sogenaamde Christelike Eeu, het Jehovah nie op dieselfde manier vir geestelike Israel as ’n Stryder-God geveg as wat hy vir vleeslike Israel onder die Mosaiese Wetsverbond geveg het nie. Hy het selfs toegelaat dat Romeinse soldate, op aandrang van die Jode, Jesus Christus op Kalvarie aan ’n folterpaal doodmaak. Dit was 37 jaar voor die tweede vernietiging van Jerusalem deur die Romeine, in 70 G.J.
3, 4. Hoe het God van Moses se dag tot dié van koning Hiskia getoon dat hy ’n krygsman was, maar wat het vir die geestelike Israeliete gegeld wat sy stryd en hulle stryd betref?
3 Van die dae van die profeet Moses af tot die heerskappy van koning Hiskia van Jerusalem, het Jehovah God wonderdadig vir die nasie Israel geveg, en die Israeliete het onder sy bevel met vleeslike wapens geveg (Deuteronomium 1:30; 3:22; 20:3, 4; Josua 10:42). Maar dit is nie die geval met geestelike Israel nie! Vanaf die dood van Jesus Christus buite Jerusalem en dwarsdeur ons Gewone Jaartelling, het hierdie Stryder-God nie in fisiese oorlogvoering vir die Israel van God geveg nie. Hy het die geestelike Israeliete wat die Christengemeente uitmaak eweneens nie die reg gegee om met materiële oorlogswapens te veg nie. Christene voer ’n ander soort oorlog.
4 In ooreenstemming hiermee het een van die voorste stryders vir die Christelike geloof die volgende aan mede-Christene in Korinthe, Griekeland, geskryf: “Die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is” (2 Korinthiërs 10:4-6). Vroeër in dieselfde brief het Paulus gepraat van “die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand”.—2 Korinthiërs 6:7; sien ook Efesiërs 6:11-18.
Jehovah sal by Armageddon veg
5. Watter standpunt het Jesus in die tuin van Getsemane ingeneem teenoor die gebruik van vleeslike wapens in selfverdediging, en hoe tree sy dissipels op?
5 Toe Jesus Christus op aarde was, het hy nooit in selfverdediging wapens opgeneem nie. Die nag toe hy in die tuin van Getsemane verraai is, het sy getroue dissipel Simon Petrus ’n swaard getrek en die oor van die dienskneg van die Joodse hoëpriester afgekap. Maar Jesus het die oor wonderdadig genees en gesê: “Almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” (Mattheüs 26:52-54). Op grond hiervan handhaaf ware navolgers van die selfopofferende Seun van God, op direkte en indirekte wyse, hulle neutraliteit wanneer dit by wêreldse oorlogvoering kom.—Johannes 17:16; 18:36.
6. Watter standpunt sal Jehovah se Getuies inneem gedurende die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God by Armageddon?
6 Laat die nasies dus hier kennis neem van die feit dat Jehovah se Getuies nie gedurende “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by “die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” aan die geveg sal deelneem nie. Hulle sal dit aan die Stryder-God, “Jehovah van die leërskare”, en sy tienduisende engele onder die aanvoering van Jesus Christus oorlaat.—Openbaring 16:14-16; 19:11-21; Psalm 84:12, NW.
Jehovah op die punt om sy militêre bedrywighede te hervat
7. Met watter titel is Jehovah as Stryder-God onderskei, en beklee hy steeds daardie posisie?
7 Die God van eertydse Israel het mettertyd as Jehovah tsewa·’oothʹ, of Jehovah van die leërskare, bekend geword en is ook so aangespreek (1 Samuel 1:3, 11). In Romeine 9:29 (King James Version) verwys die Christenapostel Paulus na Jesaja 1:9 en skryf: “As die Here van Sebaot nie vir ons ’n saad gelaat het nie, sou ons soos Sodom geword het, en soos Gomorra sou ons gemaak word.” Die Christendissipel Jakobus skryf ook: “Die geroep van diegene wat gemaai het, het gekom tot in die ore van die Here van sebaot” (Jakobus 5:4, KJ; American Standard Version). Paulus en Jakobus het God gedurende die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling as Jehovah van die leërskare beskou. Gedurende die daaropvolgende 18 eeue het God nie ten behoewe van geestelike Israel, die Israel van God, vleeslike oorlog gevoer soos vir eertydse Israel nie, maar hy is steeds Jehovah van die leërskare.
8-10. (a) Wie het opdrag gegee dat die oorlog in die hemel gevoer word, en waarom was Migael die bekwaamste om dit te voer? (b) Wat was die gevolg van die oorlog in die hemel, en hoeveel tyd is oor voor die oorlog van Jehovah se groot dag?
8 Toe die Messiaanse Koninkryk in 1914, aan die einde van “die tye van die Heidene”, gebore is, het oorlog in Jehovah God se hemelse domein uitgebreek (Lukas 21:24, KJ). Wie het opdrag gegee dat daardie oorlog gevoer word? Jehovah God self. Hy het sy gekroonde Seun onder die naam Migael die slagveld ingestuur, want Hy is die bekwaamste om die vraag wat in daardie naam bevat word, naamlik “Wie is soos God?”, te beantwoord. Migael het dadelik as die vegtende verteenwoordiger van Jehovah van die leërskare opgetree.
9 Daarom lees ons in Openbaring 12:7-10: “En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ’n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”
10 Nou, meer as 70 jaar ná daardie oorlog in die hemel, is daar maar “min tyd” oor voor die oorlog van Jehovah se groot dag gaan uitbreek en God duidelik aan die hedendaagse geslag van die mens gaan toon dat hy Jehovah van die leërskare is.—Openbaring 12:12; Sagaria 14:3.
Die Vegter vir Jehovah se verheerliking
11. Op watter vasgestelde tyd wag die oorblyfsel van die klein kuddetjie en die groot menigte, en wat sal hulle dan jubelend toejuig?
11 Wyse koning Salomo van eertydse Israel het onder inspirasie geskryf: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd: . . . ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede” (Prediker 3:1-8). Op aarde wag die dissipels van die heersende Koning wat “meer as Salomo” is, op die tyd en die geleentheid wanneer Hy die seëvierende hemelse engele na die slag by Armageddon gaan aanvoer (Mattheüs 12:42; Openbaring 19:11-16). Daar sal hy die nasies “met ’n ysterstaf regeer”, en hulle met “’n ystersepter” breek (Openbaring 19:15; Psalm 2:9, NW). Hoe sal sy vreedsame, beskermde dissipels tog die ontsagwekkende manier waarop hy hulle verlos, toejuig! Dit sal die oorblyfsel van die “klein kuddetjie” van sy mede-Koninkrykserfgename sowel as die “groot menigte” van sy “ander skape” wat die hoop het om die Paradysaarde onder sy vreedsame, duisendjarige heerskappy te beërwe, insluit (Lukas 12:32; Openbaring 7:9-17; Johannes 10:16). Hulle sal die oortuigende oorwinning van die Herder-Koning, Jesus Christus, ter regverdiging van die universele soewereiniteit van Jehovah God, “in die skaduwee van die Almagtige” jubelend toejuig.—Psalm 91:1.
12. Waarvandaan dreig die oorlog waarvoor die nasies nou te staan kom, en watter gevolg sal dit volgens Psalm 68:2, 3 hê?
12 Sonder om te vergroot, kan daar gesê word dat alle aardse nasies, of hulle lede van die Verenigde Volke is of nie, nou te staan gekom het voor ’n oorlog ver bo die mensewêreld en waarin noukeurig gerigte wapens gebruik sal word wat die mens se kernbomme ver oortref. Luister: “God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg! Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God.”—Psalm 68:2, 3.
13. Tot wie word die woorde van Psalm 45:2-7 nou, terwyl daar vir oorlog voorberei word, gepas gerig?
13 Daar word nou vir die oorlog der oorloë voorberei. As God se voorste Vegter, word die Stryder vir Jehovah se verheerliking aangespreek met die woorde wat ’n lid van die nasie Israel onder inspirasie gedig het: “U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig. Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid; ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer! U pyle is skerp (volke val onder U!); hulle tref in die hart van die Koning se vyande. U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer.”—Psalm 45:2-7.
Nasies versamel hulle teen Jehovah
14, 15. Watter woorde uit Psalm 2 het die apostels as vervul aangehaal toe hulle uit die tronk vrygelaat is, en watter versoek het hulle tot God gerig?
14 Kort na die stigting van die Christengemeente op Pinkster 33 G.J. het gesalfde Christene ’n toepassing van Psalm 2:1, 2 onderskei. Hierdie teks lui: “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde.” Na die apostels van Jehovah se Gesalfde die eerste keer deur vyandige Jode in hegtenis geneem en mishandel is, het hulle weer by hulle mede-Christene aangesluit en toe hierdie woorde uit Psalm 2 wat koning Dawid gedig het, aangehaal. Handelinge 4:23-30 vertel van hierdie gebeurtenis, en sê:
15 “Nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodus en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.”
16, 17. (a) Kan enigiets in die hele mensegeskiedenis vergelyk met wat in 1914 begin gebeur het? Verduidelik. (b) Watter koers slaan die nasies steeds in wat Jehovah noodsaak om wat, met betrekking tot ‘die boek van sy oorloë’, te skryf?
16 Maar wat in die hele mensegeskiedenis kan vergelyk met wat 76 jaar gelede in 1914 begin het, wat betref woedende nasies, konings wat saamstaan en politieke leiers wat teen Jehovah en sy Gesalfde, Jesus Christus, vergader? Dit was nie net die jaar toe die eerste wêreldoorlog in die bestaan van die mens uitgebreek het nie, maar dit was in die besonder die jaar toe die tye van die Heidene, “die vasgestelde tye van die nasies”, ten einde geloop het! (Lukas 21:24, NW). Psalm 2 se groter vervulling het klaarblyklik in daardie jaar begin.
17 Aan die einde van die tye van die Heidene in 1914 was nie een van die nasies—nie eers die nasies van die sogenaamde Christendom, waarin baie van die burgers hulle godsdienstig as geestelike Israeliete beskou—bereid om Jehovah se Gesalfde, Jesus Christus, na die troon van heerskappy oor die aarde te verwelkom nie. En nou, 71 jaar na 1919, toe daar begin is om “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” te verkondig, gaan die nasies binne en buite die Christendom beslis nie die lank aangekondigde Koning van Jehovah verwelkom en trou sweer aan hom terwyl hulle afstand doen van hulle eie heerskappy oor die aarde nie (Mattheüs 24:14). Inteendeel, hulle het einde ten laaste die tyd en situasie bereik waar hulle Jehovah noodsaak om as ’t ware die grootse slot van “die boek van die Oorloë van Jehovah” te skryf.—Numeri 21:14, NW.
Glorieryke oorwinning van die Stryder-God
18. Ons is ten gunste van watter optrede deur Jehovah, en wie sal, as ’t ware, aan sy sy wees wanneer Psalm 110 vervul word?
18 Gaan dus voort in die stryd, O Jehovah van die leërskare, met u koninklike Seun, Jesus Christus, aan u sy! Tot hom word die profetiese woorde gerig: “Heers te midde van u vyande. Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn. Hy sal ’n strafgerig hou onder die nasies; Hy maak dit vol dooie liggame; Hy verbrysel ’n hoof oor ’n groot land.”—Psalm 110:2, 5, 6.
19. Watter bede rig ons ten behoewe van die groot menigte ander skape tot hom aangaande die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God wat ophande is?
19 O Jehovah van die leërskare, laat u getroue knegte op aarde die jubelende getuies word van u weergalose oorwinning deur middel van u Stryder-Koning, Jesus Christus, tydens die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God by die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word! (Openbaring 16:14). Laat die groot menigte skaapgeaardes wat “hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”, saam met die geestelike Israeliete, met vreugde “uit die groot verdrukking kom” sodat hulle tot in alle ewigheid u aardse getuies kan wees! (Openbaring 7:14). Laat hulle, onder u liefdevolle sorg, toe om te oorleef, sonder om te sterf, tot in die oorloglose ryk van u seëvierende Seun, wat gaan heers oor die gereinigde aarde wat, ooreenkomstig u oorspronklike voorneme, in ’n pragtige paradys omgeskep gaan word. Laat hulle vir al die verresenes ’n sigbare bewys wees ter verheerliking van u regmatige soewereiniteit oor die ganse heelal! Ons dank u omdat u dan die universele geskil vir goed, ja, vir ewig, sal besleg het!
Onthou jy?
◻ Wat is die opperste geskil voor mense en engele?
◻ Watter verskil is daar tussen die manier waarop Jehovah vir eertydse Israel geveg het en die manier waarop hy vir geestelike Israel veg?
◻ Watter standpunt sal Jehovah se Getuies tydens Armageddon inneem, en waarom?
◻ Wanneer het Psalm 2:1, 2 ’n ongeëwenaarde vervulling gehad?
◻ Hoe sal die universele geskil vir goed besleg word?
[Prent op bladsy 24, 25]
Die “groot menigte” sal God se seëvierende Herder-Koning toejuig