Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 7/15 bl. 9-14
  • Moenie moeg word om goed te doen nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moenie moeg word om goed te doen nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die veld is die wêreld”
  • Hoe om die werk te doen
  • Die situasie vandag
  • Behou die regte gesindheid
  • Waarom ons moet “bly spreek”
  • “Ons het ons gebied al baie kere deurgewerk!”
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • ‘Die goeie nuus moet eers verkondig word’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Skenk voortdurend aandag aan jou leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Ware Christene is Koninkrykspredikers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 7/15 bl. 9-14

Moenie moeg word om goed te doen nie

“Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”—GALASIËRS 6:9.

1. Watter opdrag het Jesus sy volgelinge gegee?

WAT ’n goeie werk verrig Christene tog as deel van hulle aanbidding! Dit is omvat in die duidelike bevel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle . . . ; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:19, 20). Dit was Jesus Christus self wat sy dissipels die opdrag gegee het om daardie wêreldwye onderrigtingswerk te doen.

2. (a) Waarom kan ons sê dat die maak van dissipels ’n belangrike en ’n goeie werk was? (b) Wat is die doeleindes van die dissipelmaakwerk?

2 Was die opdrag om dissipels te maak nie ’n uiters belangrike toewysing aangesien dit een van Jesus se laaste stellings aan sy eerste dissipels was voordat by opgevaar het hemel toe nie? Ja, want die uitvoering daarvan sou lewens red (1 Timotheüs 4:16). Dit maak dit ’n goeie werk. Dit voorsien heilsame Bybelopvoeding vir diegene wat ag gee op die Koninkryksboodskap, en die predikingswerk waarsku diegene wat nie luister nie (Lukas 10:10, 11). Die verrigting van hierdie werk identifiseer ware Christene derhalwe net soveel soos hulle nakoming van enige ander leerstellings van Jesus.—Johannes 8:31.

3. (a) Hoe het Jesus se dissipels op sy persoonlike voorbeeld en bevel gereageer? (b) Watter gesindheid het Jesus in sy dissipels opgebou?

3 As die Groot Onderrigter het Jesus ’n uitstekende voorbeeld vir sy volgelinge gestel. Hy het in die openbaar onderrig en dissipels gemaak deur ‘die evangelie van die koninkryk te verkondig’ (Mattheüs 9:35). In navolging van hom het nuwe volgelinge self dissipelmakers geword, want ’n ware dissipel is “iemand wat die leerstellings van ’n ander aanvaar en dit help versprei”. Hulle dissipelmaakwerk was aanvanklik tot Jode en proseliete beperk. Maar het Jesus se volgelinge, ondanks ongunstige reaksie in daardie veld, sy bevel uitgevoer om ‘voortdurend te gaan’ en ‘nie op te hou nie’? Ja, hulle het “na die verlore skape van die huis van Israel” gegaan totdat die eerste nie-Jode in 36 G.J. gelowiges geword het (Mattheüs 10:5, 6, NW; Handelinge 5:42). Daar is gesê dat die dissipels “Jerusalem met [hulle] leer vervul” het (Handelinge 5:28). Hulle het nie hulle goeie werk gestaak nie. Hulle het dit eerder getrou deurgevoer.

“Die veld is die wêreld”

4. Met watter gesindheid het Jesus se volgelinge hulle uitgebreide toewysing uitgevoer?

4 Jesus het getoon dat die veld mense van “al die nasies” sou insluit (Mattheüs 28:19). In ’n gelykenis oor die saai van Koninkryksaad het hy gesê: “Die veld is die wêreld” (Mattheüs 13:38, NW). Christene sou derhalwe oral ‘Koninkryksgetuies’ van hom wees. Hulle sou weer eens ‘voortdurend gaan’, hierdie keer “tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Die apostel Paulus was “intensief besig met die woord”, en ons kan seker wees dat dit met ander Christene ook die geval was.—Handelinge 18:5, NW.

5. Hoe het Jesus getoon dat hy verwag het dat sy dissipels tot die einde van die huidige stelsel intensief besig moes wees met die getuieniswerk?

5 Jesus het verwag dat die getuieniswerk Christene tot aan die einde van die huidige stelsel van dinge intensief besig sou hou. Dit blyk uit wat hy oor die Christelike bediening en die gebied wat dit sou dek, voorspel het. Jesus het gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.

6. Hoe lank sal die Koninkrykspredikingswerk gedoen word, en hoe behoort dit ons gesindheid daarteenoor te beïnvloed?

6 Toe Jesus die bevel gegee het dat die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk aardwyd gedoen moes word, het hy geweet dat sulke goeie werk, net soos vir die Joodse veld, eendag ’n klimaks sou bereik. Maar dit sou die doel bereik. “Dan”, soos hy gesê het, “sal die einde kom.” Jehovah se Getuies sit dus die toegewese werk vol vertroue en vreugde tot die einde toe voort. Dit help hulle om met die werk in ons dag voort te gaan totdat dit voltooi is.

Hoe om die werk te doen

7. Watter tema het Jesus se bediening en dié van sy dissipels gekenmerk?

7 Jesus het sy eerste dissipels geleer hoe om hulle openbare bediening te verrig. Hulle het ywerig gereageer op sy bevel om te “gaan”. Toe hy hulle vir hulle getuieniswerk opgelei het, het Jesus gesê: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 10:7). Dit het hulle boodskap dieselfde Koninkrykstema gegee wat sy bediening gekenmerk het. Dit sou goeie nuus vir opregte persone wees. Het Jesus opgehou toe sy volgelinge hulle werk begin het? Nee, inderdaad nie, want “toe Jesus klaar was met bevele aan sy twaalf dissipels te gee, het Hy daarvandaan weggegaan om te leer en te preek in hulle stede”.—Mattheüs 11:1.

8. (a) Waar en hoe moes Koninkryksverkondigers mense nader? (b) Waarom is dit gepas om die goeie nuus na ’n persoon se huis te neem? (c) Watter voordele hou dit in wanneer ’n huisbewoner behoorlik gegroet word?

8 Waar en hoe moes hierdie Koninkryksverkondigers mense nader? Jesus het vir hulle gesê: “As julle die huis ingaan, groet dit” (Mattheüs 10:12). Wanneer ’n persoon tuis met die goeie nuus besoek word, verleen dit waardigheid aan die huisbewoner en bied dit hom ’n geleentheid om die Koninkryksboodskap op eie grond te verwerk. Die gebruiklike en aanvaarde vorme van groet is nie net die beleefde en bedagsame maniere om ’n gesprek aan te knoop nie, maar daar is ook die voordeel dat ’n vriendelike en blymoedige groet ’n ongevraagde besoek in ’n welkome kan verander. (Vergelyk Mattheüs 28:9; Lukas 1:28.) Die stemtoon en antwoord van die persoon by die deur vertel jou ook baie van sy of haar gesindheid. Jy moet daarop let voor jy aangaan, want sulke kennis maak dit makliker om jou kommentare by die huisbewoner se behoeftes aan te pas.—Vergelyk Handelinge 22:1, 2; 23:6.

9. Wat toon dat nie almal die Koninkryksboodskap met waardering sou aanhoor nie, en hoe moes daar gereageer word teenoor diegene wat nie daarin belangstel nie?

9 Jesus het sy dissipels meegedeel dat nie alle mense in ’n gebied gunstig sou reageer nie. Hy het gesê: “In watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is.” As almal die Koninkryksboodskap sou aanvaar, sou daar geen rede wees om die woord “ondersoek” te gebruik nie. Hoe moes daar gereageer word teenoor diegene wat nie in die boodskap belanggestel het nie? “As iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af” en vertrek in vrede en laat die gevolge aan Jehovah se oordeel oor.—Mattheüs 10:11, 14.

Die situasie vandag

10. Wat is al gesê oor die Koninkrykspredikingswerk van Jehovah se Getuies?

10 In getroue nakoming van die Christelike opdrag, dek Jehovah se Getuies die aarde met die Koninkryksboodskap. A. P. Wisse, ’n joernalis in die Nederlande, het derhalwe gesê: “Hulle is anders as ander mense. Hierdie verskil is deels die gevolg van hulle ywerige evangelisasiewerk. Hulle beskou die ware Christelike geloof nie as ’n godsdiens met katedrale, met gemeentelede wat elkeen sy vasgestelde plek het en wie se godsdiens nie veel meer van hom verg as om te luister nie. Hulle praat met Paulus se openhartigheid met enigiemand wat sal luister.” Sulke ywer vir die bediening is beslis deur Jehovah God geseën.

11, 12. (a) Watter resultate is in die laaste jare in die bediening behaal? (b) Wat gebeur met die beskikbare gebied waarin ons preek namate ons in getal toeneem? (c) Watter vrae word geopper?

11 Meer as 3 000 000 Koninkryksverkondigers werk nou met ywer in 210 lande. Ons sien ’n puik vermeerdering in nuwe dissipels—1 246 204 is in die afgelope sewe jaar gedoop. Jehovah se seën op ywerige pogings is duidelik (Jesaja 60:8-10, 22). In ten minste 40 lande en eilande is daar dan glad een Getuie vir elke 300 inwoners of minder, of een vir ongeveer 100 huisgesinne! Verder is die verhouding in party dele van lande soos Kanada en Guadeloupe een Getuie tot 45 of 50 mense in ’n gemeente se gebied—slegs sowat 15 huise of minder vir elke verkondiger om te besoek! Baie van hierdie gebiede word elke maand gedek. Selfs in lande met hoer verhoudings word sommige stadsgebiede heel dikwels in ons getuieniswerk gedek. In Seoel, Republiek Korea, word daar elke vyf dae in party stadsgebiede gewerk! Namate ons in getal toeneem, en namate steeds meer en meer Getuies die pionier en hulppionierwerk betree, sal ons ons bure al hoe meer dikwels besoek. Lewer dit probleme op?

12 Daar is weliswaar probleme in party opsigte, vir Jehovah se Getuies sowel as vir diegene by wie ons besoek aflê. Die toenemende onverskilligheid onder die mense in baie lande vererger die probleme. Wel, hou ons stadigaan op om ons goeie werk te doen namate ons in getal toeneem? Kom ons tot die slotsom dat ons werk feitlik gedaan is en dat ons reeds almal ‘gesoek’ het wat gunstig sal reageer en dissipels sal word? Raak jy persoonlik moeg en miskien selfs gefrustreerd om dieselfde mense wat nie luister nie te besoek? Wat kan ons doen om ons uitstekende peil van bedrywigheid te handhaaf?

Behou die regte gesindheid

13, 14. (a) Hoe moet ons die situasie beskou wat nou ten opsigte van dikwels gedekte gebied ontstaan? (b) Waarom word ons nie afgeskrik deur diegene wat nie luister nie? (c) Hoe kan ons die apostoliese voorbeeld volg wanneer ons persone teëkom wat gegrief voel oor ons besoeke?

13 Die oplossing behels hoofsaaklik ons gesindheid as getuies van Jehovah. Eerstens, ons moet altyd dinge van die ligkant beskou. Dit was ’n uitgemaakte saak dat, namate ons werk sy klimaks bereik, die gebied in baie plekke meer dikwels gedek sou word as gevolg van ’n hoe verhouding van verkondigers tot die bevolking. Maar het ons nie hiervoor gebid nie? (2 Thessalonicense 3:1). Wat ons nou sien, behoort ons bly te maak en behoort ons daarvan te oortuig dat ons ons in die laaste stadiums van die dissipelmaakwerk bevind! Die Koninkryk word verkondig, soos Jesus voorspel het. En selfs in plekke waar mense ‘nie na ons woorde wil luister nie’, word hulle deur middel van ons Koninkrykspredikingswerk gewaarsku. Onthou, behalwe om dissipels te maak, verkondig ons die goeie nuus “tot ’n getuienis”.—Mattheüs 10:14; 24:14.

14 Daarbenewens kan ons verwag dat al hoe meer mense die Koninkryksboodskap sal verwerp namate die einde nader kom. Die voorspellings is duidelik en die ondervindinge van beide Jesus en Paulus verseker ons dat daar diegene sou wees wat nie sou luister nie en wie se harte “onontvanklik” sou wees. Ons moet dus oppas dat ons opdrag ons vandag nie koud laat nie. Ons moet selfs na diegene wat nie luister nie “weer en weer” gaan (Jesaja 6:9-11, NW; Mattheüs 13:14, 15; Spreuke 10:21, NW). Dit verg weliswaar moed om dikwels na mense toe te gaan wat gegrief voel oor ons besoeke. Maar geen gebiedstoestand waar ook al moet ooit vir ons sê: ‘Hou op met spreek’ nie. Ons moet eerder, soos die apostels, om vrymoedigheid bid om—ondanks gegriefdheid of vyandigheid—te “bly spreek” totdat die werk voltooi is.—Handelinge 4:18-20, 24-31, NW.

15. Watter aansporing word in Galasiërs 6:9 gegee, en hoe moet dit ons beskouing van besoeke aan ons naaste met die goeie nuus beïnvloed?

15 Daar is eintlik net twee soorte mense in al ons gebiede—diegene wat op die oomblik belangstel en diegene wat nie belangstel nie. Ons moet derhalwe aanhou met die werk ‘om te ondersoek wie waardig is’. Dit is een van die talle voortreflike werke wat ons as Christene moet voortbring om ons liefde vir Jehovah en ons lojaliteit teenoor hom te toon. ‘Laat ons dus nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie’ (Galasiërs 6:9). Aangesien ons nou so na aan die einde van hierdie stelsel is, is dit nie die tyd om op te hou of moeg te word om ons naaste met die goeie nuus van die Koninkryk te besoek nie. Jehovah het nog nie gesê dat die werk klaar is nie.

Waarom ons moet “bly spreek”

16. (a) Wat is party omstandighede wat die reaksie van mense in ’n gebied kan verander? (b) Watter plaaslike voorbeelde van ’n verandering in reaksie kan jy gee?

16 Dit sal ons ook help om ’n goeie gesindheid te behou as ons onthou dat lojaliteit teenoor Jehovah deur ywerige Koninkrykspredikingsbedrywighede geopenbaar word. Gebiede verander boonop voortdurend in verskeie opsigte. Mense verhuis of hulle omstandighede verander dalk. Hulle het miskien nie belanggestel die laaste keer toe ons hulle besoek het nie, maar die verlies van ’n betrekking, die dood van ’n dierbare, ’n betekenisvolle verandering in die stryd tussen die supermoondhede, ’n ernstige siekte—hierdie en ander veranderinge kan beteken dat hulle sal luister die volgende keer wanneer ons hulle besoek. Ander, wat gehoor het dat ’n vriend of ’n dierbare een van Jehovah se Getuies geword het, wil dalk nou met ons gesels om uit te vind wat ons glo wat hierdie verandering kon teweeggebring het.

17. Hoe reageer sommige nou op die Koninkryksboodskap? Meld plaaslike voorbeelde.

17 Onthou ook dat diegene wat in onlangse jare grootgeword het nou gesinne het, die lewe ernstig opneem en vrae stel wat slegs God se Woord kan beantwoord. Een jong moeder het byvoorbeeld twee Getuies ingenooi en gesê:‘As ’n dogtertjie kon ek nooit verstaan waarom my moeder die Getuies weggewys en vir hulle gesê het dat sy nie belangstel nie, terwyl julle net oor die Bybel wou praat. Ek het toe besluit dat wanneer ek groot is, trou en my eie huis het, ek Jehovah se Getuies sou innooi en vra om die Bybel aan my te verduidelik.’

18. Hoe raak die veranderende godsdienstoneel die gebied waarin ons preek en onderrig?

18 Het jy opgemerk dat party mense wat jare lank nie met ons wou praat nie en gedink het dat hulle “gered” is ons nou opregte vrae vra? Waarom? ’n Verandering het in hulle godsdiensdenke plaasgevind. Hulle sê dat hulle heeltemal ontnugter en verbyster is deur die onthulling van die onsedelike gedrag, politieke bedrywighede en verkwisting van kerkgeld deur sommige vooraanstaande televisie-evangeliste wat hulle voorheen vertrou het. Daar sal waarskynlik meer hiervan wees namate toestande in Babilon die Grote aanhou agteruitgaan totdat sy vernietig word.—Openbaring 18:1-8.

19, 20. Wat toon waarom ons nie mismoedig moet voel wanneer ons weer en weer moet teruggaan na mense wat die boodskap verwerp nie?

19 Ons moet in elk geval nie mismoedig raak wanneer die meeste mense onontvanklik is nie. Na ons van hulle weggegaan het, dink hulle waarskynlik steeds aan ons. In Kanada het een huisbewoner by wie twee Getuies besoek afgelê het dit duidelik gestel dat sy nie belangstel nie. Later het sy begin dink oor wat hulle gesê het en wou sy hulle vind sodat hulle vrae kon beantwoord wat in haar gedagtes opgekom het. Sy het in haar motor geklim en op en af in die strate van haar buurt gery op soek na hulle, maar sy kon hulle nie vind nie. Het sy tou opgegooi? Nee, sy het by ’n vriendin se huis aangegaan om te vra of hulle al daar was. Hulle was nog nie, maar die vriendin het gesê dat daar ’n Getuie is waar sy werk en dat sy die geïnteresseerde vrou met die Getuie in aanraking sou bring. Die gevolg was ’n reeks besoeke by die belangstellende se huis, waarheen sy vriende, bure, familielede en medewerkers genooi het. ’n Stuk of 15 persone was soms teenwoordig, en sowat 430 boeke en Bybels asook 2 015 tydskrifte is versprei.

20 Talle waardeer ons besoeke. In ’n brief aan ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap het een vrou gesê: “Dankie dat julle die harte van die mense in julle geloof met innige toegewydheid vervul het. Dankie vir julle besoeke . . . en dat julle die liefde van die Here met ander deel. Daardie eenvoudige daad doen soveel vir ander. . . . Al is party miskien hardvogtig, ander onverskillig en ander ontvanklik . . . doen dit ’n mens werklik die wêreld se goed wanneer iemand jou aan geestelike dinge kom herinner. Vir my is dit iets goeds, om met mekaar oor die Here te praat.” In ’n ander brief het ’n huisbewoner ons gevra ‘om mense nie op te gee nie’, ongeag hoe hulle ons behandel. “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Galasiërs 6:9). Hierdie werk geniet Jehovah se goedkeuring en seën, en ons deelname daaraan bewys ons liefde vir hom en ons naaste (Mattheüs 22:37-39). Laat ons die werk dus voltooi.—Vergelyk Filippense 1:6.

21. (a) Wat kan ten minste gedeeltelik daarvoor verantwoordelik wees dat dit ’n uitdaging is om weer na dikwels gedekte gebiede te gaan? (b) Wat gaan ons in die volgende artikel bespreek?

21 Ons moet die feit onder die oë sien dat dit miskien nie altyd die mense is wat dit moeilik laat lyk om dikwels in die gebied te werk nie. Soms is dit ons. Gaan ons uit met negatiewe idees en die gedagte dat ons al die mense ken en weet wat hulle reaksies gaan wees? Dit kan ons gesindheid en waarskynlik ons stemtoon en gesigsuitdrukking beïnvloed. Gebruik ons steeds dieselfde metodes en bewoording wat ons al jare lank gebruik? Noudat die gebied verander, bereik dit wat voorheen welslae behaal het miskien nie ander ‘waardiges’ nie. Miskien het ons ’n vars benadering tot ons werk nodig en moet ons dit opnuut in oënskou neem. Kom ons kyk vervolgens wat ons kan doen sodat ons nie ‘moeg word nie, maar op die regte tyd kan maai’.

Kan jy verduidelik?

◻ Waarom moet ons nie “moeg word” om ons naaste met die goeie nuus te besoek nie?

◻ Wie het ons aangesê om dissipels te maak soos ons dit doen, en wat is die fundamentele kenmerke van daardie metode?

◻ Watter situasie het in talle gebiede ontstaan, en wat sal ons help om die regte gesindheid ten opsigte van daardie situasie te behou?

◻ Waarom moet ons ‘nie ophou’ om die goeie nuus te “bly spreek” nie?

[Venster op bladsy 14]

ONS SAL NIE “MOEG WORD” OM DIE KONINKRYKSPREDIKINGSWERK TE DOEN NIE AS ONS ONTHOU:

▫ wie ons die opdrag en die instruksies gegee het oor hoe om die werk te doen

▫ dat Jehovah se seën rus op wat alreeds wêreldwyd gedoen is

▫ om die regte gesindheid te behou ondanks diegene wat nie luister nie

▫ om soos die apostels te bid om te “bly spreek”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel