Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 10/15 bl. 5-7
  • Masada—Bewys dat die Messias gekom het?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Masada—Bewys dat die Messias gekom het?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die koms van die Messias
  • Joodse beskouing van heidense heerskappy
  • Valse Messiasse
  • Neutraliteit van Judese Christene
  • Masada—Waarom het dit gebeur?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Ons het die Messias gevind”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • “Ons het die Messias gevind”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Waarom het hulle die Messias verwerp?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 10/15 bl. 5-7

Masada—Bewys dat die Messias gekom het?

BLOEDVERGIETING in naam van godsdiens is ’n plaag wat herhaaldelik in die verlede voorgekom het. Masada was geen uitsondering nie, want sy verdedigers het sterk godsdiensbeweegredes gehad. As jy die opgrawings by Masada besoek, kan jy die ruïnes van ’n sinagoge sien waar die dolkstekers vir aanbidding vergader het, asook die rituele baddens wat vir godsdiensreiniging gebruik is.

Daar is ook fragmente van die Bybel by Masada gevind. Hoe, wonder jy dalk, het die Bybelboodskap wat die dolkstekers gehad het, vergelyk met wat ons vandag in die Bybel lees? Dr. Jigaël Jadin het in sy boek Masada oor die eerste van die ontdekkings geskryf:

“’n Vlugtige ondersoek op die plek het ons dadelik getoon dat ons hier ’n deel van die Boek van die Psalms het, en ons kon selfs die hoofstukke identifiseer: die deel het van Psalm 81 tot Psalm 85 gegaan. . . . Dit was moontlik om dit sonder die geringste twyfel te dateer. Dit kon onmoontlik na die jaar 73 n.C., die jaar wat Masada geval het, gewees het. . . . Hierdie deel van die Boek van die Psalms, soos die ander Bybelse rolle wat ons later gevind het, is feitlik identies . . . aan die teks van die Bybelse boeke wat ons vandag gebruik.”

Die dolkstekers het blykbaar geglo dat die goddelike Outeur van die Hebreeuse Geskrifte hulle opstand teen Rome sou seën. Soos The Universal Jewish Encyclopedia verduidelik: “Die fanatiese ywer van die Jode tydens die Groot Oorlog teen Rome (66-73 G.J.) is versterk deur hulle geloof dat die Messiaanse era voor die deur was. Die verlies van die Tempel het slegs die bespiegelinge oor die koms van die Messias laat toeneem.”

Die koms van die Messias

“Joodse messiaanse entoesiaste”, sê The Encyclopedia of Religion, “het dikwels hulle berekenings op die Boek van Daniël gebaseer.” Die Hebreeuse profeet Daniël het weliswaar die koms van “Messias die Leier” voorspel (Daniël 9:25, NW). In twee ander verslae het Daniël gesê dat die Messias die Regeerder van die wêreld sou word en dat Sy Koninkryk alle menseregerings wat hom teëstaan, sou vernietig.—Daniël 2:44; 7:13, 14.

Eerste-eeuse Joodse opstandelinge het gemeen die tyd het aangebreek dat hierdie profetiese visioene vervul moes word. “Wat hulle die meeste tot die oorlog aangehits het”, sê Josephus, “was [die opvatting] dat iemand van hulle land destyds heerser van die wêreld sou word.” Maar Daniël het voorspel dat die Messiaanse Leier eers “uitgeroei” moet word en dat Jerusalem en sy tempel na sy dood verwoes sou word deur ‘die volk van ’n ander vors wat sal kom’.—Daniël 9:25, 26.

Joodse beskouing van heidense heerskappy

Eerste-eeuse Judea was verdeel tussen ’n paar rykes en baie armes. Party ryk Jode, veral onder die Sadduseërs en Fariseërs, het groot waarde geheg aan die gesag wat Rome hulle toegelaat het om in die land te hê, en hulle het die gewone mense verag. Hulle het dus enige gedagte om in opstand te kom teëgestaan, en hulle eerder beywer om vreedsame betrekkinge met Rome te hê.—Lukas 16:14; 19:45, 46; Johannes 2:14; 7:47-49; 11:47, 48.

Daarenteen het gewone Judeërs onder die Romeinse belastingdruk en hulle eie onderdrukkende landgenote gebuk gegaan. Hulle het geen troos geput uit die feit dat hulle onder die sogenaamde Pax Romana (Romeinse Vrede) was nie, maar wou ’n verandering gehad het. Hierdie belangebotsing het op verskriklike burgerlike tweedrag uitgeloop. “Die een groep was daarop uit om te oorheers”, het Josephus geskryf, “die ander om geweld te pleeg en die rykes te besteel.”

Die dolkstekers het byvoorbeeld hulle mede-Jode beroof en doodgemaak en hierdie terreurdade geregverdig as straf vir Jode wat kwansuis met Rome saamgewerk het. ’n Tweede-eeuse rabbi, Johanan ben Torta, het hierdie rede gegee vir die onheil wat oor eerste-eeuse Jode gekom het: “Hulle het geld vurig begeer en mekaar gehaat.”

Dit is geen wonder dat daardie Jode wat werklik godvresend was na die verskyning van die Messias uitgesien het nie, aangesien hulle gehoop het dat hy die Romeinse bewind omver sou werp en ’n regverdige Koninkryk van God sou oprig. Maar gewetenlose manne het van hierdie verwagtinge misbruik gemaak.

Valse Messiasse

Ongeveer 33 G.J. het ’n Joodse leier met die naam Gamaliël medeheersers van Jerusalem herinner: “Nie lank gelede nie . . . het Judas, die Galileër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en ’n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi.”—Handelinge 5:36, 37.

“Die inskrywing” wat tot Judas se opstand gelei het, is in 6 G.J. georganiseer met die doel om belasting vir Rome te hef. Josephus sê vir ons dat Judas verkondig het dat die Jode “lafaards is as hulle hul daaraan onderwerp om aan die Romeine belasting te betaal”. Die naam Judas is afgelei van die naam Juda, wat daarop dui dat hy aan die stam behoort het waaruit die Messias verwag is (Genesis 49:10). “Sy vurige welsprekendheid en die gewildheid van sy leerstellings het groot getalle mense na hom aangetrek, waarvan baie hom as die Messias beskou het”, sê McClintock en Strong se Cyclopædia.

Let op dat Handelinge 5:37 meld dat die volgelinge van dié Judas nie saam met hom omgekom het nie. Sy beweging het, volgens Joodse geleerde Gaalja Cornfeld, “diep wortel geskiet en messiaanse verwagtinge gewek”. Trouens, twee leiers van die dolkstekers, Menahem en Eleasar, het van daardie Judas die Galileër afgestam. Menahem het aan die begin van die Joodse opstand in 66 G.J. sy volgelinge van wapens voorsien wat by Masada bewaar is. Daarna “het hy soos ’n koning na Jerusalem teruggekeer” en “die leier van die opstand geword”. “Dit is amper seker”, voeg die Encyclopaedia Judaica by, “dat Menahem [seun van] Juda as ’n Messias beskou is.”

Maar in daardie einste jaar is Menahem deur lede van ’n mededingende Joodse revolusionêre beweging vermoor. Sy volgelinge het teruggevlug na Masada, waar Eleasar tot 73 G.J. die bevel oor die dolkstekers gevoer het. Eleasar se selfmoordtoespraak sluit aan by die dwaalleringe van sy voorvader Judas: “Lank gelede, my dapper makkers, het ons besluit om nie die Romeine of enigiemand anders buiten God te dien nie.”

Neutraliteit van Judese Christene

Christengemeentes is voor die Joodse opstand in 66 G.J. in Judea gestig, asook natuurlik die gemeente van Jerusalem (Handelinge 9:31). Hierdie gemeentes het bestaan uit Jode wat geglo het dat Jesus van Nasaret die Messias is wie se dood en opstanding voorspel is (Handelinge 2:22-36). Die Joodse Christene het hulle opvattings ywerig versprei, terwyl hulle vreedsaam op die Messias se tweede koms as wêreldheerser gewag het. Jesus het gesê dat hy “ná ’n lang tyd” sou terugkeer.—Mattheüs 25:19, 31; 28:19, 20; Handelinge 1:8-11.

Maar wat het daardie Judese Christene beskerm nadat die Joodse opstand in 66 G.J. uitgebreek het sodat hulle nie deur die aanvanklike sukses daarvan meegesleep is nie? Hulle het ongetwyfeld hul Meester se waarskuwing onthou: “Almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan” (Mattheüs 26:52). Jesus het hulle ook gehelp om ’n gebalanseerde beskouing van Heidense regeringsgesag te kry. “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom,” het hy gesê, “en aan God wat God toekom” (Markus 12:17). Jesus het boonop voorspel dat messiaanse aanspraakmakers sou kom en sê: “Dit is ek! en: Die tyd is naby!”, maar hy het gewaarsku: “Gaan dan nie agter hulle aan nie.”—Lukas 21:8.

Jesus het selfs die uitslag van die Joodse opstand voorspel en gesê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. . . . want daar sal ’n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies.”—Lukas 21:20-24.

Die verskriklike vloed van vernietiging wat op die Joodse opstand gevolg het, was ’n dramatiese vervulling van Jesus se profesie! Maar Judese Christene het ontsnap deur gehoorsaam ‘na die berge te vlug’. “Voor Jerusalem se beleëring deur Titus [in 70 G.J.]”, sê die Encyclopaedia Judaica, “het sy Christengemeenskap na Pella getrek.” Dit is interessant dat Pella ten noorde daarvan geleë was, in die voetheuwels van ’n bergreeks oorkant die Jordaanrivier en dus heeltemal deur die Jordaanvallei van Judea geskei is. “Dit is moeilik om hierdie ontvlugting te verklaar as [Jesus se] profesie na die gebeurtenis geskryf is”, sê G. A. Williamson in sy inleiding tot Josephus—The Jewish War.

Die suksesvolle ontvlugting van Judese Christene is weliswaar kragtige getuienis dat hulle volgelinge van die ware Messias was. Dit laat belangrike vrae ontstaan. Wat was die doel van die Messias se eerste koms? En watter waarskuwing hou die noodlottige Joodse opstand vandag vir ons in, veral vir die groep mense wat as “Christelik” bestempel word? Hierdie vrae sal verder in hierdie tydskrif bespreek word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel