Jehovah is ons heerser!
“Ons moet aan God as heerser meer gehoorsaam wees as aan mense.”—HANDELINGE 5:29, “NW”.
1, 2. Watter standpunt neem Jehovah se Getuies soos die apostels in wanneer eise van mense in stryd is met die goddelike wil?
JEHOVAH GOD het toegelaat dat 12 mans voor ’n hoër hof gebring word. Dit was 33 G.J., en die hof was die Joodse Sanhedrin. Jesus Christus se apostels het tereggestaan. Luister! ‘Ons het julle verbied om in dié Naam te leer’, sê die hoëpriester, ‘maar julle het Jerusalem met julle leer vervul.’ Daarop antwoord Petrus en die ander apostels: “Ons moet aan God as heerser meer gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:27-29, vgl. NW). Hulle het in werklikheid gesê: “Jehovah is ons Heerser!”
2 Ja, Jehovah is die Heerser van Jesus se ware volgelinge. Dit blyk duidelik uit die Bybelboek Die Handelinge van die Apostels, wat omstreeks 61 G.J. in Rome geskryf is deur ‘Lukas, die geliefde geneesheer’ (Kolossense 4:14). Soos die apostels gehoorsaam Jehovah se hedendaagse volk hulle hemelse Heerser wanneer eise van mense in stryd is met sy wil. Maar wat kan ons nog uit Handelinge leer? (Ons stel voor dat jy tydens jou persoonlike studie die gedeeltes van die boek lees wat in vet druk aangegee word.)
Jesus stel getuies aan
3. Wat was vir Jesus se volgelinge die belangrikste nadat hulle “met die Heilige Gees” gedoop is?
3 Die apostels kon ’n ferm standpunt vir God inneem omdat hulle geestelik versterk is. Christus het aan ’n folterpaal gesterf, maar hulle het geweet dat hy opgewek is (1:1-5). Jesus het “Hom lewend vertoon” en het gedurende 40 dae in gematerialiseerde liggame Koninkrykswaarhede verkondig. Hy het ook vir sy dissipels gesê om in Jerusalem te wag om “met die Heilige Gees” gedoop te word. Die predikingswerk sou dan vir hulle die belangrikste wees, soos dit vandag vir Jehovah se Getuies die belangrikste is.—Lukas 24:27, 49; Johannes 20: 19–21:24.
4. Wat sou gebeur wanneer die heilige gees oor Jesus se volgelinge kom?
4 Omdat die apostels nog nie met die heilige gees gedoop was nie, het hulle verkeerdelik gedink dat ’n aardse regering ’n einde aan Romeinse oorheersing sou bring toe hulle gevra het: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (1:6-8). Jesus het in werklikheid vir hulle nee gesê, want ‘dit het hulle nie toegekom om die tye en geleenthede te weet nie’. ‘Wanneer die Heilige Gees oor hulle kom’, sou dit hulle krag gee om, nie van ’n koninkryk op hierdie aarde nie, maar van God se hemelse Koninkryk te getuig. Hulle sou in Jerusalem, Judea en Samaria “en tot aan die uiterste van die aarde” preek. Met behulp van die gees doen Jehovah se Getuies in hierdie laaste dae sulke werk op wêreldskaal.
5. Hoe sou Jesus net so kom as wat hy weggegaan het?
5 Net nadat Jesus daardie opdrag gegee het om oor die hele wêreld te preek, het hy na die hemel begin opvaar. Daardie hemelvaart het begin met ’n opwaartse beweging weg van sy dissipels, en later het Jesus in sy hemelse Heerser se teenwoordigheid gekom en by werksaamhede in die geesteryk betrokke geraak (1:9-11). Nadat Jesus deur ’n wolk uit die apostels se sig verberg is, het hy sy vleeslike liggaam afgelê. Twee engele het verskyn en gesê dat hy ‘net so sal kom’. En dit was so. Slegs Jesus se dissipels het hom sien weggaan, net soos slegs Jehovah se Getuies sy onsigbare teenwoordigheid herken.
Jehovah doen ’n keuse
6. Hoe is ’n plaasvervanger vir Judas Iskariot gekies?
6 Die apostels was gou terug in Jerusalem (1:12-26). In ’n bovertrek (miskien in die huis van Markus se moeder, Maria) het die 11 lojale apostels in gebed volhard saam met Jesus se halfbroers, sy ander dissipels en sy moeder, Maria (Markus 6:3; Jakobus 1:1). Maar wie sou Judas se “opsienersamp” ontvang? (Psalm 109:8, NW). Ongeveer 120 dissipels was teenwoordig toe God ’n man gekies het om Jesus se verraaier, Judas, te vervang en die apostels se geledere tot 12 te herstel. Hulle moes iemand kies wat gedurende Jesus se bediening ’n dissipel en ’n getuie van sy opstanding was. Natuurlik moes die man ook Jehovah as sy Heerser erken. Na gebed is die lot oor Matthias en Josef Barsabas gewerp. God het die lot op Matthias laat val.—Spreuke 16:33.
7. (a) In watter opsig het Judas “’n stuk grond gekoop met die loon van ongeregtigheid”? (b) Hoe het Judas gesterf?
7 Judas Iskariot het Jehovah beslis nie as sy Heerser erken nie. Hy het God se Seun vir 30 silwerstukke verraai! Judas het daardie geld aan die owerpriesters teruggegee, maar Petrus het gesê dat die verraaier ‘’n stuk grond gekoop het met die loon van ongeregtigheid’. Hoe so? Wel, hy het die geld en die rede voorsien om die “Bloedgrond”, soos dit genoem is, te koop. Dit is geïdentifiseer as ’n gelyke stuk grond aan die suidekant van die Hinnomdal. Omdat sy verhouding met die hemelse Heerser geheel en al vernietig is, het Judas “homself gaan ophang” (Mattheüs 27:3-10). Miskien het die tou of boomtak gebreek sodat hy ‘vooroor geval en oopgebars’ het toe hy op skerp rotse geval het. Mag nie een van ons ’n valse broer wees nie!
Met die heilige gees vervul!
8. Wanneer is Jesus se dissipels met die heilige gees gedoop, en watter uitwerking het dit gehad?
8 Wat van die belofte dat hulle met die heilige gees gedoop sou word? Dit het op Pinkster 33 G.J., tien dae na Jesus se hemelvaart, plaasgevind (2:1-4). Wat ’n aangrypende gebeurtenis was daardie doop tog nie! Stel jou die toneel voor. Ongeveer 120 dissipels was in die bovertrek toe ‘’n geluid soos van ’n geweldige rukwind uit die hemel skielik die huis vul’. Dit was nie ’n rukwind nie, maar het so geklink. ’n Tong “soos van vuur” het op elke dissipel en apostel gaan sit. “Hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale.” Met daardie doop is hulle ook deur die heilige gees verwek, gesalf en verseël as onderpand van ’n geestelike erfenis.—Johannes 3:3, 5; 2 Korinthiërs 1:21, 22; 1 Johannes 2:20.
9. Waaroor het die geesvervulde dissipels gepraat?
9 Hierdie gebeurtenis het Jode en proseliete in Jerusalem uit ‘elke nasie onder die hemel’ geraak (2:5-13). Hulle het verbaas gevra: ‘Hoe hoor ons elkeen in ons geboortetaal?’ Dit was dalk die taal van plekke soos Medië (oos van Judea), Frigië (in Klein-Asië) en Rome (in Europa). Toe die dissipels in verskillende tale “oor die groot dade van God” gespreek het, was talle luisteraars verbaas, maar spotters het te kenne gegee dat hulle dronk is.
Petrus gee ’n besielende getuienis
10. Watter profesie is deur die gebeurtenis tydens Pinkster 33 G.J. vervul, en het dit ’n hedendaagse parallel?
10 Petrus het begin getuig deur te toon dat negeuur in die oggend nog te vroeg is om dronk te wees (2:14-21). Inteendeel, hierdie gebeurtenis was ’n vervulling van God se belofte om die heilige gees op sy volk uit te stort. God het Petrus geïnspireer om na ons tyd heen te wys deur die woorde “in die laaste dae” en “hulle sal profeteer” by te voeg (Joël 2:28-32). Jehovah sal voor sy groot dag wonders in die hemel en tekens op die aarde gee, en net dié wat sy naam in geloof aanroep, sal gered word. Die gees is eweneens op gesalfdes uitgestort en dit het hulle in staat gestel om vandag met groot ywer en bekwaamheid te “profeteer”.
11. Wat het die Jode en wat het God met Jesus gedoen?
11 Petrus het vervolgens die Messias geïdentifiseer (2:22-28). God het bevestig dat Jesus die Messias is deur hom in staat te stel om kragtige dade, tekens en wonders te doen (Hebreërs 2:3, 4). Maar die Jode het hom aan ’n paal vasgenael “deur die hande van goddelose manne”, Romeine wat nie op God se wet ag geslaan het nie. Jesus is “deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer” in die sin dat dit die goddelike wil was. God het Jesus egter opgewek en dit so beskik dat sy menseliggaam nie verderwing ervaar het nie.—Psalm 16:8-11.
12. Wat het Dawid vooruitgesien, en waarvan hang redding af?
12 Messiaanse profesieë is verder beklemtoon toe Petrus sy getuienis voortgesit het (2:29-36). Hy het gesê dat Dawid die opstanding van sy vernaamste seun, Jesus die Messias, vooruitgesien het. Vanuit ’n verhewe posisie aan God se regterhand in die hemel het Jesus die heilige gees uitgestort wat hy van sy Vader ontvang het (Psalm 110:1). Petrus se toehoorders het die werking daarvan ‘gesien en gehoor’ toe hulle tonge soos van vuur op die dissipels se koppe gesien en die vreemde tale wat hulle gepraat het, gehoor het. Hy het ook getoon dat redding daarvan afhang dat ons Jesus as Heer en Messias erken.—Romeine 10:9; Filippense 2:9-11.
Jehovah gee die vermeerdering
13. (a) Wat moes Jode en proseliete erken om behoorlik gedoop te word? (b) Hoeveel is gedoop, en wat was die gevolge daarvan in Jerusalem?
13 Hoe effektief was Petrus se woorde tog nie! (2:37-42). Sy toehoorders was diep in die hart getref omdat hulle die teregstelling van die Messias goedgekeur het. Hy het hulle dus aangespoor: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Jode en proseliete het reeds erken dat Jehovah God is en dat hulle sy gees nodig het. Hulle moes hulle nou bekeer en Jesus as die Messias aanvaar sodat hulle in die naam (ter erkenning van die posisie of funksie) van die Vader, die Seun en die heilige gees gedoop kon word (Mattheüs 28:19). Toe Petrus vir daardie Jode en proseliete getuig het, het hy die eerste geestelike sleutel gebruik wat Jesus hom gegee het om die deur van kennis en geleentheid vir gelowige Jode oop te maak om in die hemelse Koninkryk in te gaan (Mattheüs 16:19). Op daardie een dag is 3 000 gedoop! Stel jou voor soveel getuies van Jehovah preek in die klein Jerusalemgebied!
14. Waarom en hoe het gelowiges “alles gemeenskaplik besit”?
14 Baie wat van verafgeleë plekke gekom het, het nie genoeg kos en klere gehad om hulle verblyf te verleng nie, maar hulle wou graag meer leer oor hulle nuwe geloof en vir ander preek. Jesus se vroeë volgelinge het mekaar dus liefdevol gehelp, net soos Jehovah se Getuies mekaar vandag help (2:43-47). Gelowiges het tydelik “alles gemeenskaplik besit”. Sommige het hul eiendomme verkoop en die opbrengs is verdeel onder diegene wat gebrek gely het. Dit het die gemeente goed op dreef gekry terwyl ‘Jehovah daagliks die wat gered is by die gemeente gevoeg het’.
’n Genesing en die gevolge daarvan
15. Wat het gebeur toe Petrus en Johannes die tempel binnegegaan het, en wat was mense se reaksie?
15 Jehovah het Jesus se volgelinge ondersteun deur middel van “tekens” (3:1-10). Toe Petrus en Johannes dus om 3:00 nm. die tempel binnegaan vir die uur van die gebed wat met die aandoffer gepaard gegaan het, het ’n man wat van sy geboorte af lam was naby die Skone Poort om ‘aalmoese’ gevra. Petrus het gesê: “Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasarener, staan op en loop!” Die man is onmiddellik genees! Toe hy die tempel binnegaan en “rondloop en spring en God prys”, was die mense ‘met verbasing vervul’. Miskien het party die woorde onthou: ‘Die lamme sal spring soos ’n takbok.’—Jesaja 35:6.
16. Hoe kon die apostels ’n verlamde man genees?
16 Die verbaasde mense het vergader by Salomo se pilaargang, ’n oordekte suilegang aan die oostekant van die tempel. Daar het Petrus ’n getuienis gegee (3:11-18). Hy het getoon dat God die apostels die krag gegee het om die verlamde man deur Sy verheerlikte Kneg, Jesus, te genees (Jesaja 52:13–53:12). Die Jode het “die Heilige en Regverdige” verloën; nogtans het Jehovah hom opgewek. Hoewel die mense en hulle heersers nie geweet het dat hulle die Messias laat doodmaak het nie, het God dus profetiese woorde vervul dat “die Christus sou ly”.—Daniël 9:26.
17. (a) Wat moes die Jode doen? (b) Wat het gebeur sedert Christus in ons dag “gestuur” is?
17 Petrus het getoon wat die Jode moes doen om te vergoed vir hulle behandeling van die Messias (3:19-26). Hulle moes hul “bekeer”, of berou hê oor hulle sondes, en ‘tot inkeer kom’, of omdraai, deur ’n teenoorgestelde lewensweg in te slaan. As hulle geloof beoefen het in Jesus as die Messias en die losprys aanvaar het, sou Jehovah hulle verkwik as diegene wie se sondes vergewe is (Romeine 5:6-11). Die Jode is daaraan herinner dat hulle kinders van die verbond is wat God met hulle voorvaders gesluit het toe hy vir Abraham gesê het: “In jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word.” God het sy Messiaanse Kneg dus eers gestuur om berouvolle Jode te verlos. Dit is interessant dat daar ’n verkwikkende herstelling van waarhede en teokratiese organisasie onder Jehovah se Getuies is sedert Christus in 1914 in hemelse Koninkryksmag “gestuur” is.—Genesis 12:3; 18:18; 22:18.
Hulle sou nie ophou nie!
18. Watter “steen” is deur Joodse “bouers” verwerp, en in wie alleen is daar redding?
18 Die priesters, hoofman van die tempel en die Sadduseërs was kwaad omdat Petrus en Johannes Jesus se opstanding verkondig het en het hulle in die gevangenis gesit (4:1-12, vgl. NW). Die Sadduseërs het nie in die opstanding geglo nie, maar baie ander het gelowiges geword—die mans alleen was sowat 5 000. Toe hulle voor Jerusalem se hoër hof ondervra is, het Petrus gesê dat die verlamde man genees is “deur die Naam van Jesus Christus, die Nasarener”, wat hulle aan ’n paal vasgenael het maar wat God opgewek het. Hierdie “steen” wat deur Joodse “bouers” verwerp is, het “die hoof van die hoek” geword (Psalm 118:22, NW). “En die saligheid [“redding”, NW] is in niemand anders nie”, het Petrus gesê.
19. Wat was die apostels se antwoord toe hulle beveel is om op te hou preek?
19 Daar is probeer om sulke prediking stop te sit (4:13-22). Omdat die geneesde man aanwesig was, was dit onmoontlik om hierdie “kenlike teken” te ontken, maar Petrus en Johannes is beveel ‘om in die geheel nie in Jesus se Naam te spreek of te leer nie’. Hulle antwoord? ‘Dit is vir ons onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.’ Hulle was gehoorsaam aan Jehovah as hulle Heerser!
Gebede word verhoor!
20. Waarvoor het die apostels in hulle gebed gevra, en wat was die gevolge?
20 Net soos Jehovah se Getuies by vergaderinge bid, so het die dissipels gebid toe die vrygelate apostels vertel het wat met hulle gebeur het (4:23-31). Hulle het gesê dat Herodes Antipas en Pontius Pilatus saam met nie-Joodse Romeine en volk van Israel vergader het teen die Messias (Psalm 2:1, 2; Lukas 23:1-12). In antwoord op die gebed het Jehovah die dissipels met die heilige gees vervul sodat hulle God se woord met vrymoedigheid gespreek het. Hulle het hul Heerser nie gevra om die vervolging te beëindig nie, maar om hulle in staat te stel om ondanks vervolging met vrymoedigheid te preek.
21. Wie was Barnabas, en watter eienskappe het hy gehad?
21 Gelowiges het steeds alles in gemeenskap gehad, en niemand was behoeftig nie (4:32-37). Een bydraer was die Leviet Josef van Ciprus. Die apostels het hom die bynaam Barnabas gegee, wat “seun van vertroosting” beteken, waarskynlik omdat hy behulpsaam en goedhartig was. Ons almal wil ongetwyfeld so wees.—Handelinge 11:22-24.
Leuenaars word aan die kaak gestel
22, 23. Wat was die sonde van Ananias en Saffira, en wat leer ons uit wat met hulle gebeur het?
22 Ananias en sy vrou Saffira het egter opgehou om Jehovah as hulle Heerser te erken (5:1-11). Hulle het ’n stuk grond verkoop en van die geld teruggehou terwyl hulle voorgegee het dat hulle alles aan die apostels gegee het. Kennis wat deur middel van God se gees aan Petrus oorgedra is, het hom in staat gestel om hulle geveinsdheid te sien, en dit het tot hulle dood gelei. Wat ’n waarskuwing is dit tog vir diegene wat deur Satan versoek word om slinks te wees!—Spreuke 3:32, NW; 6:16-19.
23 Na hierdie voorval het niemand met slegte motiewe die moed gehad om hulle by die dissipels aan te sluit nie. Ander het wel gelowiges geword (5:12-16). Boonop is die siekes en mense wat deur onreine geeste gekwel was “almal genees” toe hulle geloof in God se krag gestel het.
Meer gehoorsaam aan God as aan mense
24, 25. Waarom het die Joodse leiers die apostels vervolg, maar watter standaard het hierdie getroue apostels vir al Jehovah se knegte gestel?
24 Die hoëpriester en die Sadduseërs het nou probeer om die wonderlike groei te stuit deur al die apostels in die gevangenis te sit (5:17-25). Maar daardie nag het God se engel hulle vrygelaat. En teen dagbreek het hulle mense in die tempel geleer! Vervolging kan nie Jehovah se knegte stuit nie.
25 Maar daar is druk op die apostels uitgeoefen toe hulle voor die Sanhedrin gebring is (5:26-42, vgl. NW). Toe hulle beveel is om op te hou preek, het hulle egter gesê: “Ons moet aan God as heerser meer gehoorsaam wees as aan mense.” Dit het vir Jesus se dissipels ’n standaard gestel, wat vandag nog deur Jehovah se Getuies gevolg word. Na ’n waarskuwing deur die leraar van die wet Gamaliël het die leiers die apostels laat slaan, hulle beveel om op te hou preek en hulle vrygelaat.
26. Hoe vergelyk die bediening van die apostels met dié van Jehovah se Getuies vandag?
26 Die apostels was bly dat hulle waardig geag is om vir Jesus se naam oneer te ly. “En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer . . . en die evangelie te verkondig [nie].” Ja, hulle was bedienaars van huis tot huis. Dit is ook die geval met God se hedendaagse Getuies, wat ook sy gees ontvang het omdat hulle aan hom gehoorsaam is en sê: “Jehovah is ons Heerser!”
Hoe sal jy antwoord?
◻ Watter opdrag moet Jesus se volgelinge van die hede en die verlede uitvoer?
◻ Wat het op Pinkster 33 G.J. gebeur?
◻ Wanneer en hoe het Petrus die eerste geestelike sleutel gebruik wat Jesus hom gegee het?
◻ Wat kan ons leer uit wat met Ananias en Saffira gebeur het?
◻ Watter standaard het die apostels vir alle Getuies van Jehovah gestel toe hulle beveel is om op te hou preek?