Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 3 bl. 20-27
  • “Met heilige gees gevul”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Met heilige gees gevul”
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Almal op dieselfde plek bymekaar” (Handelinge 2:1-4)
  • “Elkeen het sy eie taal gehoor” (Handelinge 2:5-13)
  • “Petrus het . . . opgestaan” (Handelinge 2:14-37)
  • “Laat elkeen van julle . . . gedoop word” (Handelinge 2:38-47)
  • Petrus preek by die Pinksterfees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Die Christelike godsdiens versprei onder eerste-eeuse Jode
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Christengetuies van Jehovah in die eerste eeu
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 3 bl. 20-27

HOOFSTUK 3

“Met heilige gees gevul”

Die uitwerking van die uitstorting van die heilige gees op Pinkster

Gebaseer op Handelinge 2:1-47

1. Beskryf die atmosfeer tydens die Pinksterfees.

DIE strate van Jerusalem gons van opgewondenheid.a Rook styg op van die altaar by die tempel terwyl die Leviete die Hallel (Psalms 113 tot 118) sing, waarskynlik in antifoniese styl, oftewel in beurtsang. Die strate is vol besoekers. Hulle het van verafgeleë plekke gekom, soos Elam, Mesopotamië, Kappadosië, Pontus, Egipte en Rome.b Waarvoor? Vir Pinkster, wat ook “die dag van die eerste opbrengs” genoem word (Num. 28:26). Hierdie jaarlikse fees dui die einde van die garsoes en die begin van die koringoes aan. Dit is ’n vreugdevolle dag.

’n Kaart wat wys waar dié vandaan gekom het wat die goeie nuus op Pinkster 33 HJ gehoor het. 1. Streke: Libië, Egipte, Etiopië, Bitinië, Pontus, Kappadosië, Judea, Mesopotamië, Babilonië, Elam, Medië en Partië. 2. Stede: Rome, Aleksandrië, Memfis, Antiogië (van Sirië), Jerusalem en Babilon. 3. Watermassas: Middellandse See, Swart See, Rooi See, Kaspiese See en Persiese Golf.

JERUSALEM – DIE SENTRUM VAN JUDAÏSME

Baie van die gebeure in die eerste hoofstukke van Handelinge vind in Jerusalem plaas. Hierdie stad lê tussen die heuwels van Judea se sentrale bergreeks, omtrent 55 kilometer oos van die Middellandse See. In 1070 VHJ het koning Dawid die vesting verower wat bo-op die berg Sion geleë was, en die stad wat daar ontwikkel het, het die hoofstad van die eertydse nasie Israel geword.

Naby die berg Sion staan die berg Moria, waar Abraham, volgens eertydse Joodse oorlewering, Isak probeer offer het, ongeveer 1 900 jaar voor die gebeure wat in Handelinge beskryf word. Die berg Moria het deel van die stad geword toe Salomo die eerste tempel van Jehovah daarop gebou het. Hierdie gebou het die middelpunt van die Jode se openbare lewe en aanbidding geword.

Alle opregte Jode vanoor die hele bewoonde aarde het gereeld by Jehovah se tempel bymekaargekom om offerandes te bring, te aanbid en seisoenfeeste te hou. Hulle het dit gedoen uit gehoorsaamheid aan God se opdrag: “Drie keer per jaar moet al die mans voor Jehovah jou God verskyn op die plek wat hy uitkies” (Deut. 16:16). Jerusalem was ook die setel van die Groot Sanhedrin, die Joodse Hoë Raad, ’n hooggeregshof en nasionale bestuursraad.

2. Watter verbasende gebeure vind op Pinkster 33 HJ plaas?

2 Omtrent nege-uur op hierdie heerlike lenteoggend in 33 HJ gebeur iets waaroor mense nog eeue later verstom sal wees. Skielik kom daar ‘’n geluid uit die hemel wat soos ’n sterk wind klink,’ of “’n geluid . . . soos van ’n geweldige stormwind” (Hand. 2:2; Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Die harde geluid vul die huis waar omtrent 120 dissipels van Jesus bymekaar is. Hierna vind iets verbasends plaas. Tonge soos van vuur verskyn en een daal neer op elkeen van die dissipels.c Dan word die dissipels “met heilige gees gevul” en begin hulle in vreemde tale praat! Wanneer die dissipels die huis verlaat, is die besoekers wat hulle op die strate van Jerusalem raakloop, stomgeslaan, want die dissipels kan met hulle kommunikeer! Ja, elkeen hoor hulle ‘in sy eie taal praat’. – Hand. 2:1-6.

3. (a) Waarom kan Pinkster 33 HJ ’n mylpaal in die geskiedenis van ware aanbidding genoem word? (b) Hoe het Petrus se toespraak verband gehou met die gebruik van “die sleutels van die Koninkryk”?

3 Hierdie aangrypende verslag beskryf ’n mylpaal in ware aanbidding – die vorming van die nasie van geestelike Israel, die gesalfde Christengemeente (Gal. 6:16). Maar dit is nie al nie. Toe Petrus die skare daardie dag toegespreek het, het hy die eerste van drie “sleutels van die Koninkryk” gebruik, wat elkeen spesiale voorregte vir ’n ander groep mense beskikbaar sou maak (Matt. 16:18, 19). Hierdie eerste sleutel het dit vir Jode en Joodse proseliete moontlik gemaak om die goeie nuus aan te neem en met God se heilige gees gesalf te word.d Hulle sou dus deel word van geestelike Israel en as sodanig die hoop hê om as konings en priesters in die Messiaanse Koninkryk te heers (Op. 5:9, 10). Mettertyd sou dié voorreg ook aan Samaritane en daarna aan nie-Jode gegee word. Wat kan Christene van vandag uit die betekenisvolle gebeure van Pinkster 33 HJ leer?

“Almal op dieselfde plek bymekaar” (Handelinge 2:1-4)

4. Hoe is die hedendaagse Christengemeente ’n uitbreiding van die gemeente wat in 33 HJ gestig is?

4 Die Christengemeente het met ongeveer 120 dissipels begin wat “almal op dieselfde plek bymekaar” was – in ’n bo-kamer – en met heilige gees gesalf is. (Hand. 2:1) Teen die einde van daardie dag was daar duisende gedoopte lede van dié gemeente. En dit was net die begin van die groei van ’n organisasie wat vandag nog uitbrei! Ja, ’n gemeenskap van godvresende mans en vroue – die hedendaagse Christengemeente – is die middel waardeur die “goeie nuus van die Koninkryk . . . oor die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” voor die einde van hierdie stelsel van dinge kom. – Matt. 24:14.

5. Hoe sou persone, in die eerste eeu én vandag, baat vind by omgang met die Christengemeente?

5 Die Christengemeente sou ook ’n bron van geestelike krag wees vir die lede daarvan, vir die gesalfdes sowel as vir die “ander skape”, wat later sou bykom (Joh. 10:16). Paulus het sy waardering getoon vir die ondersteuning wat lede van die gemeente aan mekaar gee toe hy vir die Christene in Rome geskryf het: “Ek wil julle graag sien sodat ek die een of ander geestelike gawe aan julle kan oordra om julle standvastig te maak, of liewer, dat ons mekaar kan aanmoedig deur ons geloof, julle s’n sowel as myne.” – Rom. 1:11, 12.

ROME – HOOFSTAD VAN ’N RYK

Gedurende die tydperk wat deur die boek Handelinge gedek word, was Rome die grootste en, op politieke gebied, die belangrikste stad in die destyds bekende wêreld. Dit was die hoofstad van ’n ryk wat in sy bloeityd oor gebiede geheers het wat van Brittanje tot Noord-Afrika en van die Atlantiese Oseaan tot die Persiese Golf gestrek het.

Rome was ’n smeltkroes van kulture, rasse, tale en bygelowe. ’n Netwerk van goeie paaie het reisigers en handelsware uit elke hoek van die ryk gebring. By die nabygeleë hawe Ostia het skepe wat op besige handelsroetes gevaar het, kos en luukse goedere afgelaai wat vir die stad bestem was.

Teen die eerste eeu HJ het daar al ver oor ’n miljoen mense in Rome gewoon. Moontlik die helfte van die bevolking was slawe – veroordeelde misdadigers, kinders wat deur hulle ouers verkoop of verlaat is en gevangenes wat tydens veldtogte van die Romeinse legioene gevange geneem is. Onder dié wat as slawe na Rome gebring is, was Jode uit Jerusalem, nadat die Romeinse generaal Pompejus daardie stad in 63 VHJ verower het.

Die vrye bevolking was meestal armes, wat in beknopte veelverdiepinggeboue gewoon het en afhanklik was van regeringstoelae. Die keisers het egter van die pragtigste openbare geboue wat nog ooit gesien is, in hulle hoofstad opgerig. Dit het teaters en groot stadions ingesluit waar skouspele soos verhoogopvoerings, gladiatorgevegte en strydwawedrenne aangebied is – alles gratis vir die vermaak van die massas.

6, 7. Hoe voer die Christengemeente vandag Jesus se opdrag uit om vir al die nasies te preek?

6 Die Christengemeente het vandag dieselfde oogmerke as in die eerste eeu. Jesus het sy dissipels ’n ontsaglike maar opwindende taak gegee. Hy het vir hulle gesê: “Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het.” – Matt. 28:19, 20.

7 Die Christengemeente van Jehovah se Getuies is die instrument waardeur hierdie werk vandag uitgevoer word. Dit is natuurlik ’n uitdaging om mense van verskillende tale te bereik. Maar Jehovah se Getuies publiseer Bybelgebaseerde publikasies in meer as 1 000 tale. As jy met die Christengemeente omgaan en aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deelneem, het jy rede tot vreugde. Jy word onder die betreklik min mense op die aarde getel wat vandag die voorreg het om deeglik van Jehovah se naam te getuig!

8. Watter hulp kry ons deur middel van die Christengemeente?

8 Om jou te help om gedurende hierdie kritieke tye met vreugde te volhard, het Jehovah God ’n wêreldwye gemeenskap van broers voorsien. Paulus het vir die Hebreeuse Christene geskryf: “Laat ons aandag skenk aan mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor. Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos, soos party die gewoonte het nie, maar ons moet mekaar aanmoedig, en ons moet dit al hoe meer doen terwyl ons die dag sien nader kom” (Heb. 10:24, 25). Die Christengemeente is ’n voorsiening van Jehovah sodat jy ander kan aanmoedig en self ook aangemoedig kan word. Bly na aan jou geestelike broers en susters. Moet nooit nalaat om vir Christelike vergaderinge bymekaar te kom nie!

“Elkeen het sy eie taal gehoor” (Handelinge 2:5-13)

Jesus se dissipels preek vir Jode en proseliete op ’n besige straat.

“Ons hoor hoe hulle in ons tale oor die wonderlike dinge van God praat.” – Handelinge 2:11

9, 10. Hoe het party hulle beskikbaar gestel om mense te bereik wat ’n ander taal praat?

9 Stel jou die opgewondenheid voor wat op Pinkster 33 HJ onder die gemengde groep Jode en proseliete moes geheers het. Die meeste van hulle het waarskynlik ’n gemeenskaplike taal gepraat, moontlik Grieks of Hebreeus. Maar skielik het “elkeen . . . sy eie taal gehoor terwyl die dissipels gepraat het” (Hand. 2:6). Hierdie mense was sekerlik diep getref toe hulle die goeie nuus in hulle moedertaal hoor. Christene het natuurlik nie vandag die wonderdadige vermoë om in vreemde tale te praat nie. Maar baie het hulle beskikbaar gestel om die Koninkryksboodskap aan mense van alle nasies bekend te maak. Hoe? Party het ’n nuwe taal geleer sodat hulle saam met ’n anderstalige gemeente in hulle omgewing kan dien of selfs na ’n ander land kan trek. Hulle het dikwels gevind dat die mense met wie hulle praat, baie beïndruk is met hulle pogings.

10 Neem byvoorbeeld Christine, wat saam met sewe ander Getuies ’n Goedjarati-kursus gevolg het. Toe sy ’n Goedjarati-sprekende werksmaat raakloop, het sy die jong vrou in haar eie taal gegroet. Die vrou was beïndruk en wou weet waarom Christine die moeite doen om so ’n moeilike taal soos Goedjarati te leer. Christine kon ’n goeie getuienis gee. Die jong vrou het vir Christine gesê: “Julle het sekerlik iets baie belangriks om te sê.”

11. Hoe kan ons voorbereid wees om die Koninkryksboodskap aan mense van ander tale te verkondig?

11 Nie almal van ons kan natuurlik ’n ander taal leer nie. Ons kan nietemin gereed wees om die Koninkryksboodskap aan mense van ander taalgroepe bekend te maak. Hoe? Een manier is deur die JW Language®-app te gebruik om ’n eenvoudige groet voor te berei in ’n taal wat algemeen in jou gebied gepraat word. Jy kan ook ’n paar frases in daardie taal leer wat dalk die belangstelling sal wek van persone wat daardie taal praat. Verwys hulle na jw.org en wys hulle dalk die verskeidenheid van video’s en publikasies wat in hulle taal beskikbaar is. Deur hierdie hulpmiddele in ons bediening te gebruik, sal ons ook dieselfde vreugde hê wat ons eerste-eeuse broers gehad het toe mense van ander lande verskrik was toe hulle die goeie nuus “elkeen [in] sy eie taal gehoor . . . het”.

JODE IN MESOPOTAMIË EN EGIPTE

Die boek The History of the Jewish People in the Age of Jesus Christ (175 B.C.–A.D. 135) sê: “In Mesopotamië, Medië en Babilonië het die nakomelinge gewoon van lede van die tienstammeryk [van Israel], en van die koninkryk van Juda, wat vroeër deur die Assiriërs en die Babiloniërs daarheen weggevoer is.” Volgens Esra 2:64 het net 42 360 Israeliete ná hulle ballingskap in Babilon na Jerusalem teruggekeer. Dit het in 537 VHJ plaasgevind. Flavius Josefus noem dat daar in die eerste eeu HJ tienduisende Jode was wat “in die hele Babilonië gewoon het”. In die derde tot die vyfde eeu HJ het hierdie gemeenskappe die werk voortgebring wat as die Babiloniese Talmoed bekend staan.

Dokumentêre bewys bestaan dat daar reeds teen die sesde eeu VHJ Jode in Egipte was. Gedurende daardie tydperk het Jeremia ’n boodskap gestuur aan Jode wat op verskeie plekke in Egipte, insluitende Memfis, gewoon het (Jer. 44:1, vtn.). Groot getalle het waarskynlik gedurende die Hellenistiese periode na Egipte geïmmigreer. Josefus sê dat Jode onder die eerste nedersetters in Aleksandrië was. Mettertyd is ’n hele deel van dié stad aan hulle toegeken. In die eerste eeu HJ het die Joodse skrywer Filo beweer dat ’n miljoen van sy landgenote oor die hele Egipte verspreid was, van “die kant van Libië tot by die grens met Etiopië”.

“Petrus het . . . opgestaan” (Handelinge 2:14-37)

12. (a) Hoe het die profeet Joël gesinspeel op die wonderdadige gebeurtenis wat op Pinkster 33 HJ plaasgevind het? (b) Waarom is daar verwag dat Joël se profesie in die eerste eeu vervul sou word?

12 “Petrus het . . . opgestaan” om met die veelvolkige skare te praat (Hand. 2:14). Hy het aan almal wat wou luister, verduidelik dat God die wonderdadige vermoë om in verskillende tale te praat, voorsien het ter vervulling van Joël se profesie: “Ek [sal] my gees op alle soorte mense uitstort” (Joël 2:28). Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy dissipels gesê: “Ek sal die Vader vra, en hy sal julle ’n ander helper gee”, wat Jesus as “die gees” geïdentifiseer het. – Joh. 14:16, 17.

13, 14. Hoe het Petrus die harte van sy toehoorders probeer bereik, en hoe kan ons sy benadering navolg?

13 Petrus se slotwoorde aan die skare was ferm: “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God hierdie Jesus, wat julle aan ’n paal gehang het, as Here en as Christus aangestel het” (Hand. 2:36). Die meeste van Petrus se toehoorders was natuurlik nie persoonlik teenwoordig toe Jesus aan die folterpaal tereggestel is nie. Maar as ’n nasie het hulle gemeenskapsaanspreeklikheid vir hierdie daad gedra. Let egter daarop dat Petrus sy mede-Jode met respek aangespreek het en hulle harte probeer bereik het. Petrus se doelwit was om sy toehoorders tot berou te beweeg, nie om hulle te veroordeel nie. Het die skare wat na Petrus se woorde geluister het, aanstoot geneem? Hoegenaamd nie. Inteendeel, die mense se “harte [is] diep geraak”. Hulle het gevra: “Wat moet ons doen?” Petrus se positiewe benadering het moontlik daartoe bygedra dat die harte van baie bereik is, sodat hulle beweeg is om berou te toon. – Hand. 2:37.

14 Ons kan die manier waarop Petrus mense se harte probeer bereik het, navolg. Wanneer ons vir ander getuig, hoef ons nie elke onskriftuurlike beskouing wat die huisbewoner uitspreek, te probeer weerlê nie. Dit sal goed wees as ons eerder voortbou op gedagtes waaroor ons kan saamstem. As ons gemeenskaplike grond met die huisbewoner vind, kan ons taktvol uit God se Woord redeneer. Wanneer Bybelwaarhede op so ’n positiewe manier aangebied word, is regskapenes dikwels meer geneig om gunstig te reageer.

DIE CHRISTELIKE GODSDIENS IN PONTUS

Onder diegene wat Petrus se toespraak op Pinkster 33 HJ gehoor het, was Jode uit Pontus, ’n streek in die noorde van Klein-Asië (Hand. 2:9). Party van hulle het klaarblyklik die goeie nuus na hulle tuisland toe teruggeneem, want diegene aan wie Petrus sy eerste brief gerig het, het gelowiges ingesluit wat ‘oral verstrooi’ was in plekke soos Pontus (1 Pet. 1:1).g Sy brief toon dat hierdie Christene weens hulle geloof ‘allerhande moeilike tye deurgemaak’ het (1 Pet. 1:6). Dit het waarskynlik teenstand en vervolging ingesluit.

In korrespondensie tussen Plinius die Jongere, die goewerneur van die Romeinse provinsie Bitinië en Pontus, en keiser Trajanus word daar verwys na verdere toetse waarvoor Christene in Pontus te staan gekom het. Plinius het omstreeks 112 HJ uit Pontus geskryf en gesê dat die “besmetting” van die Christelike godsdiens gevaar inhou vir almal, ongeag hulle geslag, ouderdom of stand. Plinius het dié wat daarvan beskuldig is dat hulle Christene is, die geleentheid gegee om dit te ontken, en dié wat dit nie gedoen het nie, het hy tereggestel. Enigiemand wat Christus vervloek het of ’n gebed tot die gode of tot Trajanus se standbeeld opgesê het, is vrygelaat. Plinius het erken dat “diegene wat werklik Christene is, nie gedwing kan word om [hierdie dinge] te doen nie”.

g Die woord wat as ‘oral verstrooi’ vertaal word, kom van ’n Griekse woord wat “van die Diaspora” beteken. Die term het ’n Joodse konnotasie en toon dat baie van die eerste bekeerlinge uit Joodse gemeenskappe gekom het.

“Laat elkeen van julle . . . gedoop word” (Handelinge 2:38-47)

15. (a) Wat het Petrus gesê, en wat was die reaksie daarop? (b) Waarom het duisende wat die goeie nuus op Pinkster gehoor het, gekwalifiseer om dieselfde dag nog gedoop te word?

15 Op die opwindende Pinksterdag van 33 HJ het Petrus vir ontvanklike Jode en proseliete gesê: “Toon berou, en laat elkeen van julle . . . gedoop word” (Hand. 2:38). Gevolglik is ongeveer 3 000 gedoop, waarskynlik in poele in of naby Jerusalem.e Was dit ’n impulsiewe reaksie? Skep hierdie verslag ’n presedent vir Bybelstudente en kinders van Christenouers wat hulle wil laat doop voordat hulle daarvoor gereed is? Beslis nie. Onthou, daardie Jode en Joodse proseliete wat op Pinkster 33 HJ gedoop is, was ywerige studente van God se Woord, en hulle was deel van ’n nasie wat reeds aan Jehovah toegewy was. Daarbenewens het hulle reeds bewys gelewer van hulle ywer – in sommige gevalle deur groot afstande te reis om hierdie jaarlikse fees by te woon. Nadat hulle die lewensbelangrike waarhede aangaande Jesus Christus se rol in die vervulling van God se voorneme aangeneem het, was hulle gereed om hulle diens aan God voort te sit – maar nou as gedoopte volgelinge van Christus.

WIE WAS DIE PROSELIETE?

“Jode sowel as proseliete” het geluister na Petrus se toespraak op Pinkster 33 HJ. – Hand. 2:10.

Onder die bekwame manne wat aangestel is om na die “nodige saak” van daaglikse voedselverspreiding om te sien, was Nikolaus, wat “’n proseliet van Antiogië” genoem word (Hand. 6:3-5). Proseliete was nie-Jode wat hulle tot Judaïsme bekeer het. Hulle is in alle opsigte as Jode beskou, aangesien hulle die God en die Wet van Israel aangeneem het, alle ander gode verwerp het, besny is (as hulle mans was) en by die nasie Israel aangesluit het.

Nadat die Jode in 537 VHJ uit ballingskap in Babilon vrygelaat is, het baie van hulle ver van die land van Israel gaan woon, maar hulle het nog steeds Judaïsme beoefen. As gevolg hiervan was mense in die hele eertydse Nabye-Ooste, en selfs verder, bekend met die Joodse godsdiens. Eertydse skrywers, soos Horatius en Seneka, getuig dat menigtes in verskeie lande wat tot die Jode en hulle opvattings aangetrek is, in Joodse gemeenskappe opgeneem is en proseliete geword het.

16. Hoe het eerste-eeuse Christene ’n selfopofferende gees aan die dag gelê?

16 Jehovah se seën het beslis op hierdie groep gerus. Die verslag sê: “Almal wat gelowiges geword het, was bymekaar en het alles gedeel wat hulle gehad het, en hulle het hulle besittings en eiendomme verkoop en die geld onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het” (Hand. 2:44, 45).f Alle ware Christene wil sekerlik dié liefdevolle, selfopofferende gees navolg.

17. Watter stappe moet iemand doen om vir doop te kwalifiseer?

17 Christelike toewyding en doop behels ’n hele paar noodsaaklike skriftuurlike stappe. ’n Mens moet kennis van God se Woord inneem (Joh. 17:3). Jy moet geloof beoefen asook berou hê oor jou vorige lewenswandel en toon dat jy werklik spyt is daaroor (Hand. 3:19). Dan moet jy jou bekeer, of omdraai, en regte werke begin doen wat in ooreenstemming met God se wil is (Rom. 12:2; Ef. 4:23, 24). Ná hierdie stappe moet jy jou in gebed aan God toewy en jou dan laat doop. – Matt. 16:24; 1 Pet. 3:21.

18. Watter voorreg kan gedoopte dissipels van Christus geniet?

18 Is jy ’n toegewyde, gedoopte dissipel van Jesus Christus? Indien wel, wees dankbaar vir die voorreg wat jy ontvang het. Soos die eerste-eeuse dissipels wat met heilige gees gevul is, kan jy op kragtige wyse gebruik word om deeglik te getuig en die wil van Jehovah te doen!

a Sien die venster “Jerusalem – Die sentrum van Judaïsme”.

b Sien die vensters “Rome – Hoofstad van ’n ryk”, “Jode in Mesopotamië en Egipte” en “Die Christelike godsdiens in Pontus”.

c Die “tonge” was nie van letterlike vuur nie, maar “soos van vuur”, wat klaarblyklik toon dat dit wat op die dissipels gesien is, soos vuur gelyk het en lig uitgestraal het.

d Sien die venster “Wie was die proseliete?”

e In vergelyking hiermee is 7 402 persone op 7 Augustus 1993 by ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Kiëf, Oekraïne, in ses doopbaddens gedoop. Die hele doopplegtigheid het twee en ’n kwart uur geduur.

f Hierdie tydelike reëling het in die behoefte voorsien wat ontstaan het omdat besoekers in Jerusalem aangebly het om verdere geestelike onderrigting te ontvang. Hierdie mededeelsaamheid moenie met ’n soort kommunisme verwar word nie. – Hand. 5:1-4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel