Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Maak Jehovah jou vertroue
    Die Wagtoring – 2003 | September 1
    • Waarom laat Jehovah lyding toe?

      10, 11. (a) Wat het volgens Romeine 8:19-22 met “die hele skepping” gebeur? (b) Hoe kan ons bepaal wie die skepping aan nietigheid onderwerp het?

      10 ’n Gedeelte in die apostel Paulus se brief aan die Romeine werp lig op hierdie belangrike onderwerp. Paulus het geskryf: “Die skepping wag met gretige verwagting op die openbaring van die seuns van God. Want die skepping is aan nietigheid onderwerp, nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het, op grond van hoop dat die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê. Want ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly.”—Romeine 8:19-22.

      11 Om die punt van hierdie verse te snap, moet ons eers ’n paar sleutelvrae beantwoord. Byvoorbeeld: Wie het die skepping aan nietigheid onderwerp? Party sê dat dit Satan is; ander dat dit Adam is. Maar nie een van hulle kon die skepping onderwerp het nie. Waarom nie? Omdat die een wat die skepping aan nietigheid onderwerp, dit “op grond van hoop” doen. Ja, hy gee die hoop dat getroue mense uiteindelik “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word”. Nie Adam of Satan kon so ’n hoop bied nie. Net Jehovah kon. Dit is dus duidelik dat hý die een is wat die skepping aan nietigheid onderwerp het.

      12. Watter verwarring het ontstaan oor die identiteit van “die hele skepping”, en hoe kan hierdie vraag beantwoord word?

      12 Maar wat is “die hele skepping” waarna hierdie verse verwys? Party sê dat “die hele skepping” na die hele sigbare wêreld verwys, wat die diere en plante insluit. Maar het diere en plante die vooruitsig om “die glorieryke vryheid van die kinders van God” te verkry? Nee (2 Petrus 2:12). “Die hele skepping” kan dus net na die mensdom verwys. Dít is die skepping wat weens die opstand in Eden deur sonde en die dood geraak word en dringend hoop nodig het.—Romeine 5:12.

      13. Wat het die opstand in Eden aan die mensdom gedoen?

      13 Presies wat het daardie opstand aan die mensdom gedoen? Paulus beskryf die gevolge daarvan met een woord: nietigheid.a Volgens een naslaanwerk beskryf hierdie woord “die nietigheid van ’n voorwerp wat nie funksioneer soos dit moet nie”. Mense is gemaak om vir ewig te lewe, om saam te werk as ’n volmaakte, verenigde gesin wat na ’n paradysaarde omsien. In plaas daarvan lei hulle ’n kort, pynlike en dikwels frustrerende lewe. Dit is soos Job dit gestel het: “Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis” (Job 14:1). Inderdaad nietigheid!

      14, 15. (a) Watter getuienis het ons dat Jehovah se vonnis oor die mensdom regverdig was? (b) Waarom het Paulus gesê dat die skepping “nie uit eie wil” aan nietigheid onderwerp is nie?

      14 Nou kom ons by die sleutelvraag: Waarom het “die Regter van die hele aarde” die mensdom aan hierdie pynlike, frustrerende lewe onderwerp? (Genesis 18:25). Was dit regverdig van hom? Wel, onthou wat ons eerste ouers gedoen het. Toe hulle teen God in opstand gekom het, het hulle hulle geskaar aan die kant van Satan, wat ’n verreikende uitdaging teen Jehovah se soewereiniteit gerig het. Deur hulle dade het hulle die aantyging gesteun dat die mens beter daaraan toe is sonder Jehovah en as hy oor homself regeer onder die leiding van ’n opstandige geesskepsel. Toe Jehovah die rebelle vonnis, het hy in werklikheid vir hulle gegee wat hulle wou hê. Hy het die mens toegelaat om oor homself te regeer onder die invloed van Satan. Watter besluit kon onder hierdie omstandighede regverdiger gewees het as om die mensdom aan nietigheid te onderwerp, maar op grond van hoop?

      15 Dit was natuurlik nie die skepping se “eie wil” nie. Ons word as slawe van sonde en verderflikheid gebore sonder enige keuse in die saak. Jehovah het egter in sy barmhartigheid toegelaat dat Adam en Eva voortlewe en kinders voortbring. Hoewel ons, as hulle nakomelinge, aan die nietigheid van sonde en die dood onderwerp is, het ons die geleentheid om te doen wat Adam en Eva versuim het om te doen. Ons kan na Jehovah luister en uitvind dat sy soewereiniteit regverdig en volmaak is, terwyl menseheerskappy onafhanklik van Jehovah net pyn, frustrasie en nietigheid tot gevolg het (Jeremia 10:23; Openbaring 4:11). En Satan se invloed vererger sake net. Die mensegeskiedenis getuig van hierdie waarhede.—Prediker 8:9.

      16. (a) Waarom kan ons daarvan seker wees dat Jehovah nie verantwoordelik is vir die lyding wat ons vandag in die wêreld sien nie? (b) Watter hoop het Jehovah liefdevol voorsien vir getroue mense?

      16 Dit is duidelik dat Jehovah gegronde redes gehad het om die mensdom aan nietigheid te onderwerp. Beteken dit egter dat Jehovah die oorsaak is van die nietigheid en lyding waaronder elkeen van ons vandag gebuk gaan? Wel, dink aan ’n regter wat ’n regverdige vonnis oor ’n misdadiger uitspreek. Die veroordeelde ly dalk baie terwyl hy sy vonnis uitdien; maar kan hy tereg die regter blameer en sê dat hy die oorsaak van sy lyding is? Beslis nie! Ook het goddeloosheid nooit sy oorsprong by Jehovah nie. Jakobus 1:13 sê: “Met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie.” Verder moet ons onthou dat Jehovah hierdie vonnis “op grond van hoop” uitgespreek het. Hy het op liefdevolle wyse gereël dat getroue nakomelinge van Adam en Eva die einde van nietigheid sal sien en hulle in “die glorieryke vryheid van die kinders van God” sal verlustig. Die getroue mensdom sal tot in alle ewigheid nie bekommerd hoef te wees dat die hele skepping ooit weer in ’n pynlike toestand van nietigheid sal verval nie. Die regverdige manier waarop Jehovah sake hanteer het, sal die regmatigheid van sy soewereiniteit vir ewig en altyd bevestig het.—Jesaja 25:8.

  • Maak Jehovah jou vertroue
    Die Wagtoring – 2003 | September 1
    • a Die Griekse woord wat Paulus vir “nietigheid” gebruik het, is dieselfde woord wat ons vind in die Griekse Septuagint vir die uitdrukking wat Salomo herhaaldelik in die boek Prediker gebruik het, soos in die uitdrukking “alles is nietigheid!”—Prediker 1:2, 14; 2:11, 17; 3:19; 12:8.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel