Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 6/15 bl. 19-24
  • Jou Skepper—Leer watter soort persoon hy is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jou Skepper—Leer watter soort persoon hy is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hy openbaar watter soort persoon hy is
  • ’n Groot Leermeester help ons om die Skepper te ken
  • Hoe kan jy ander help om van hom te leer?
  • Wat kan jy van die Skepper uit ’n boek leer?
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Versterk jou geloof in die Skepper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Maak jou lewe vir ewig sinvoller
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Die Skepper kan jou lewe sinvoller maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 6/15 bl. 19-24

Jou Skepper—Leer watter soort persoon hy is

“Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep.”—EXODUS 33:19.

1. Waarom verdien die Skepper om geëer te word?

DIE apostel Johannes, die skrywer van die laaste Bybelboek, het hierdie insiggewende verklaring oor die Skepper opgeteken: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep” (Openbaring 4:11). Soos die vorige artikel getoon het, gee die bevindings van die moderne wetenskap ons dikwels bykomende redes om aan die Skepper van alle dinge te glo.

2, 3. (a) Wat moet mense aangaande die Skepper leer? (b) Waarom is ’n persoonlike ontmoeting met die Skepper nie redelik nie?

2 Hoewel dit belangrik is om te aanvaar dat die Skepper bestaan, is dit net so belangrik om meer aangaande hom te leer—dat hy ’n werklike persoon is, met ’n persoonlikheid en weë wat mense tot hom aangetrokke laat voel. Sal dit nie voordelig wees om hom beter te leer ken nie, ongeag tot watter mate jy dit alreeds gedoen het? Dit beteken nie dat ons hom persoonlik moet ontmoet soos ons ander mense ontmoet nie.

3 Jehovah is die Bron van selfs die sterre, waarvan ons son een van middelmatige grootte is. Sou jy dit oorweeg om na aan die son te probeer kom? Beslis nie! Die meeste mense is versigtig om selfs daarna te kyk of hulle vel lank aan die kragtige strale daarvan bloot te stel. Die temperatuur by sy kern is ongeveer 15 000 000 grade Celsius. Elke sekonde verander hierdie termonukleêre vuuroond sowat viermiljoen ton materie in energie. Net ’n fraksie daarvan bereik die aarde as hitte en lig, maar dit onderhou alle lewe hier. Hierdie basiese feite moet ons laat besef dat die Skepper ontsaglike krag het. Jesaja kon gepas skryf oor “die grootheid van [die Skepper se] kragte en [dat] Hy sterk van vermoë is”.—Jesaja 40:26.

4. Wat het Moses gevra, en hoe het Jehovah daarop gereageer?

4 Maar het jy geweet dat Moses, ’n paar maande nadat die Israeliete Egipte in 1513 v.G.J. verlaat het, die Skepper gesmeek het: “Laat my tog u heerlikheid sien”? (Exodus 33:18). As jy in gedagte hou dat God die Bron van selfs die son is, kan jy verstaan waarom hy vir Moses gesê het: “Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” Die Skepper het Moses toegelaat om hom op die berg Sinai te verberg terwyl Hy “verbygegaan het”. Moses het God toe as ’t ware “van agter” gesien; hy is met ander woorde aan die een of ander soort nagloed van die Skepper se heerlikheid, of teenwoordigheid, blootgestel.—Exodus 33:20-23; Johannes 1:18.

5. Hoe het die Skepper Moses se versoek toegestaan, en wat bewys dit?

5 Moses se begeerte om die Skepper beter te leer ken, het nie onvervuld gebly nie. God het verby Moses gegaan en klaarblyklik deur middel van ’n engel verklaar: “Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat dwaling en oortreding en sonde vergewe, maar hy sal geensins vrystelling van straf gee nie” (Exodus 34:6, 7, NW). Dit toon dat ons nie ons Skepper fisies hoef te sien om hom beter te leer ken nie, maar dat ons meer van hom, sy persoonlikheid en eienskappe moet leer.

6. Hoe is ons immuunstelsel ’n wonder?

6 Een manier waarop ons dit kan doen, is deur God se eienskappe in sy skeppingswerke waar te neem. Beskou jou immuunstelsel. In ’n nommer oor immuniteit het Scientific American gesê: “Ons immuunstelsel is van voor ons geboorte af totdat ons sterf voortdurend in gereedheid. ’n Uiteenlopende verskeidenheid molekules en selle . . . beskerm ons teen parasiete en patogene. Sonder hierdie beskerming sou mense nie kon voortbestaan nie.” Wat is die bron van hierdie stelsel? ’n Artikel in daardie tydskrif het gesê: “Die wonderlike verskeidenheid selle wat so goed saamwerk om die liggaam teen indringing deur mikrobes en virusse te beskerm, ontstaan uit ’n paar voorloperselle wat ongeveer nege weke ná bevrugting vir die eerste keer verskyn.” ’n Swanger vrou dra ’n mate van immuniteit aan haar ontwikkelende fetus oor. Later voorsien sy haar baba ook van immuunselle en nuttige chemiese stowwe deur middel van haar borsmelk.

7. Wat weet ons omtrent ons immuunstelsel, en tot watter gevolgtrekking lei dit ons?

7 Daar is goeie rede om tot die gevolgtrekking te kom dat jou immuunstelsel enigiets oortref wat die moderne geneeskunde kan voorsien. Vra jou dus af: ‘Wat sê dit van die Ontwerper en Voorsiener daarvan?’ Hierdie stelsel, wat “ongeveer nege weke ná bevrugting vir die eerste keer verskyn” en wat toegerus is om ’n pasgebore baba te beskerm, weerspieël beslis wysheid en versiendheid. Maar kan ons selfs meer uit hierdie stelsel aangaande die Skepper leer? Tot watter gevolgtrekking kom die meeste van ons oor Albert Schweitzer en ander wat hulle lewe daaraan gewy het om die minderbevoorregtes van mediese sorg te voorsien? Ons skryf gewoonlik goeie eienskappe aan sulke medelydende mense toe. Tot watter gevolgtrekking kan ons dan kom omtrent ons Skepper, wat aan ryk sowel as arm ’n immuunstelsel gee? Ongetwyfeld dat hy liefdevol, onpartydig, medelydend en regverdig is. Stem dit nie ooreen met die beskrywing wat Moses van die Skepper gehoor het nie?

Hy openbaar watter soort persoon hy is

8. Op watter spesiale manier openbaar Jehovah homself aan ons?

8 Daar is egter ’n ander manier waarop ons ons Skepper beter kan leer ken—deur middel van die Bybel. Dit is veral belangrik omdat daar dinge omtrent hom is wat die wetenskap en die heelal glad nie kan openbaar nie, en daar is ander dinge wat baie duideliker in die Bybel uiteengesit word. ’n Voorbeeld hiervan is die Skepper se persoonlike naam. Slegs die Bybel onthul die Skepper se naam en die betekenis daarvan. In Hebreeuse manuskripte van die Bybel verskyn sy naam nagenoeg 7 000 keer as vier medeklinkers wat as JHWH of JHVH getranslitereer kan word en gewoonlik in Afrikaans as Jehovah uitgespreek word.—Exodus 3:15, NW; 6:3, NW.

9. Wat beteken die Skepper se persoonlike naam, en wat kan ons hieruit aflei?

9 As ons die Skepper beter wil leer ken, moet ons besef dat hy nie net ’n abstrakte “Eerste Oorsaak” of ’n vae “Ek Is” is nie. Sy persoonlike naam toon dit. Dit is ’n vorm van ’n Hebreeuse werkwoord wat “word” beteken.a (Vergelyk Genesis 27:29.) God se naam beteken “Hy laat word” en beklemtoon dat hy hom dinge voorneem en optree. As ons sy naam ken en gebruik, is ons in ’n beter posisie om te verstaan dat hy sy beloftes vervul en sy voorneme daadwerklik verwesenlik.

10. Watter belangrike insig kan ons uit die Genesisverslag verkry?

10 Die Bybel is die bron van kennis van God se voornemens en persoonlikheid. Die Genesisverslag toon dat die mens vroeër vrede met God geniet het en die vooruitsig van ’n lang, sinvolle lewe gehad het (Genesis 1:28; 2:7-9). In ooreenstemming met die betekenis van sy naam kan ons seker wees dat Jehovah die lyding en frustrasie wat mense al lank verduur, sal beëindig. Ons lees aangaande die vervulling van sy belofte: “Die fisiese wêreld is aan frustrasie onderwerp, nie uit eie keuse nie, maar deur die wil van die Skepper, wat dit, deur dit so te onderwerp, ’n hoop gegee het dat dit eendag . . . aan die glorieryke vryheid van die kinders van God deel sal hê.”—Romeine 8:20, 21, The New Testament Letters, deur J. W. C. Wand.

11. Waarom moet ons Bybelverslae ondersoek, en wat is die besonderhede van een so ’n verslag?

11 Die Bybel kan ons ook help om ons Skepper beter te leer ken deurdat dit toon wat sy aksies en reaksies was toe hy met eertydse Israel gehandel het. Beskou die voorbeeld van Elisa en Naäman, die leërowerste van die vyandige Siriërs. Wanneer jy hierdie verslag in 2 Konings hoofstuk 5 lees, sal jy sien dat ’n gevange Israelitiese dogtertjie gesê het dat Elisa in Israel moontlik kan help om Naäman se melaatsheid te genees. Naäman het soontoe gegaan in die verwagting dat Elisa sy hande in ’n geheimsinnige genesingsrite heen en weer sou beweeg. Maar Elisa het vir die Siriër gesê om hom in die Jordaanrivier te was. Hoewel Naäman se dienaars hom moes ompraat om daaraan gehoor te gee, is hy genees toe hy dit gedoen het. Naäman het Elisa waardevolle geskenke aangebied, wat hy van die hand gewys het. Later het ’n dienaar in die geheim na Naäman gegaan en deur ’n leuen vir homself kosbaarhede ingepalm. As gevolg van sy oneerlikheid is hy deur melaatsheid getref. Dit is ’n boeiende, menslike verslag waaruit ons kan leer.

12. Watter gevolgtrekkings kan ons oor die Skepper maak uit die verslag van Elisa en Naäman?

12 Die verslag toon op treffende wyse dat die Grootse Skepper van die heelal nie te verhewe is om gunstig van ’n klein dogtertjie kennis te neem nie, in skerp teenstelling met wat gewoonlik vandag in baie kulture gebeur. Dit bewys ook dat die Skepper nie net een ras of nasie bevoordeel nie (Handelinge 10:34, 35). Dit is interessant dat die Skepper merkwaardige wysheid geopenbaar het en nie van mense verwag het om geheimsinnige formules—iets algemeens onder party “genesers” van die hede en verlede—te gebruik nie. Hy het geweet hoe om melaatsheid te genees. Hy het ook insig en geregtigheid aan die dag gelê deur nie toe te laat dat bedrog slaag nie. Strook dit nie weer eens met Jehovah se persoonlikheid waarvan Moses gehoor het nie? Hoeveel kan ons tog uit hierdie Bybelverslag leer oor die soort persoon wat ons Skepper is, al is dit ’n kort verslag!—Psalm 33:5; 37:28.

13. Lig toe hoe ons waardevolle lesse uit Bybelverslae kan leer.

13 Ander verslae oor Israel se ondankbare dade en God se reaksie daarop bewys dat Jehovah werklik omgee. Die Bybel sê dat die Israeliete hom herhaaldelik op die proef gestel het en hom gekrenk laat voel en hom bedroef het (Psalm 78:40, 41, NW). Die Skepper het dus gevoelens, en hy gee om vir wat mense doen. Ons kan ook baie leer uit verslae oor bekende mense. Toe Dawid gekies is om Israel se koning te wees, het God vir Samuel gesê: “Die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Ja, die Skepper kyk na wat ons innerlik is en nie bloot na die uiterlike nie. Hoe gerusstellend is dit tog!

14. Wat kan ons doen wat ons sal help wanneer ons die Hebreeuse Geskrifte lees?

14 Nege-en-dertig boeke van die Bybel is voor Jesus se tyd geskryf, en ons behoort hulle te lees. Dit moenie bloot wees om Bybelverslae of -geskiedenis te leer nie. As ons werklik wil leer watter soort persoon ons Skepper is, moet ons oor daardie verslae nadink en ons miskien afvra: ‘Wat openbaar hierdie verslag oor sy persoonlikheid? Watter van sy eienskappe kom hier na vore?’b As ons dit doen, sal ons moontlik selfs skeptici help om te sien dat die Bybel beslis van God af kom, en sodoende lê ons ’n grondslag vir hulle om die liefdevolle Outeur daarvan beter te leer ken.

’n Groot Leermeester help ons om die Skepper te ken

15. Waarom behoort Jesus se dade en leringe leersaam te wees?

15 Mense wat aan die Skepper se bestaan twyfel of wat ’n vae beeld van God het, weet miskien min van die Bybel. Jy het dalk al mense ontmoet wat nie kan sê of Moses voor of ná Matteus gelewe het nie en wat feitlik niks van Jesus se dade of leringe weet nie. Dit is betreurenswaardig, want ’n mens kan soveel van die Skepper leer by die Groot Leermeester, Jesus. Omdat hy ’n hegte verhouding met God gehad het, kon hy openbaar watter soort persoon ons Skepper is (Johannes 1:18; 2 Korintiërs 4:6; Hebreërs 1:3). En hy het dit ook gedoen. Trouens, hy het eenkeer gesê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.”—Johannes 14:9.

16. Wat lig Jesus se gesprek met ’n Samaritaanse vrou toe?

16 Oorweeg hierdie voorbeeld. By een geleentheid toe Jesus moeg was omdat hy gereis het, het hy met ’n Samaritaanse vrou naby Sigar gepraat. Hy het diep waarhede aan haar meegedeel en die belangrikheid beklemtoon om ‘die Vader met gees en waarheid te aanbid’. Die Jode het destyds die Samaritane vermy. Jesus het daarenteen Jehovah se gewilligheid weerspieël om opregte mans en vroue van alle nasies aan te neem, net soos ons in die geval van Elisa en Naäman gesien het. Dit behoort ons te verseker dat Jehovah verhewe is bo die kleingeestige godsdiensvyandigheid waarvan die wêreld vandag deurtrek is. Ons kan ook sien dat Jesus bereid was om ’n vrou te leer, en in hierdie geval was dit ’n vrou wat saam met ’n man gelewe het met wie sy nie getroud was nie. Jesus het haar nie veroordeel nie, maar haar eerder met waardigheid en op ’n manier behandel wat haar werklik kon help. Later het ander Samaritane na Jesus geluister en tot dié slotsom gekom: “Ons weet dat hierdie man vir seker die redder van die wêreld is.”—Johannes 4:2-30, 39-42; 1 Konings 8:41-43; Matteus 9:10-13.

17. Tot watter gevolgtrekking lei die verslag van Lasarus se opstanding ons?

17 Kom ons kyk na nog ’n illustrasie van hoe ons aangaande die Skepper kan leer deur met Jesus se dade en leringe vertroud te raak. Dink aan die geleentheid toe Jesus se vriend Lasarus gesterf het. Jesus het vantevore bewys gelewer van sy krag om die dooies op te wek (Lukas 7:11-17; 8:40-56). Maar hoe het hy gereageer toe hy Lasarus se suster Maria sien treur? Jesus het “in die gees gekreun en verontrus geword”. Hy was nie koel of afsydig nie; hy “het trane begin stort” (Johannes 11:33-35). En dit was nie bloot ’n vertoon van emosie nie. Jesus is tot positiewe optrede beweeg—hy het Lasarus opgewek. Jy kan jou voorstel hoe dit die apostels gehelp het om die Skepper se gevoelens en dade te begryp. Dit behoort ons en ander ook te help om die Skepper se persoonlikheid en weë te verstaan.

18. Hoe moet mense oor Bybelstudie voel?

18 Daar is geen rede om skaam te wees omdat ons die Bybel bestudeer en meer omtrent ons Skepper leer nie. Die Bybel is nie ’n verouderde boek nie. Iemand wat dit bestudeer en ’n intieme metgesel van Jesus geword het, was Johannes. Hy het later geskryf: “Ons weet dat die Seun van God gekom het, en hy het ons die intellektuele vermoë gegee dat ons die kennis van die waaragtige kan opdoen. En ons is in eenheid met die waaragtige, deur middel van sy Seun Jesus Christus. Dit is die ware God en die ewige lewe” (1 Johannes 5:20). Let op dat dit tot “die ewige lewe” kan lei as ons “intellektuele vermoë” gebruik om kennis van “die waaragtige”, die Skepper, op te doen.

Hoe kan jy ander help om van hom te leer?

19. Wat is gedoen om skeptiese mense te help?

19 Dit verg baie van party mense om te glo dat daar ’n medelydende Skepper is wat vir ons omgee en om te verstaan watter soort persoon hy is. Daar is miljoene der miljoene wat nog skepties is oor die Skepper of wie se beskouing van hom nie ooreenstem met wat in die Bybel gevind word nie. Hoe kan jy hulle help? By die streek- en internasionale byeenkomste van Jehovah se Getuies in 1998/99 is ’n doeltreffende nuwe instrument in baie tale vrygestel—die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?

20, 21. (a) Hoe kan die Skepper-boek met vrug gebruik word? (b) Vertel ondervindinge van hoe die Skepper-boek reeds positiewe resultate gelewer het.

20 Dit is ’n publikasie wat jou eie geloof in ons Skepper sal versterk en jou waardering vir sy persoonlikheid en weë sal vergroot. Waarom is ons so seker daarvan? Omdat Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? spesiaal met hierdie oogmerke saamgestel is. ’n Tema wat dwarsdeur die boek loop, is “Wat kan jou lewe sinvoller maak?” Dit is so geskryf dat selfs geleerde mense dit interessant sal vind. Tog roer dit begeertes aan wat ons almal het. Daar is boeiende en oortuigende inligting vir lesers wat aan die Skepper se bestaan twyfel. Die boek veronderstel nie dat die leser aan ’n Skepper glo nie. Diegene wat skepties is, sal die bespreking van party van die jongste wetenskaplike ontdekkings en idees boeiend vind. Sulke feite sal selfs diegene se geloof versterk wat reeds in God glo.

21 Wanneer jy hierdie nuwe boek bestudeer, sal jy sien dat dele daarvan ’n oorsig van Bybelgeskiedenis op ’n wyse aanbied wat aspekte van God se persoonlikheid beklemtoon en lesers sal help om God beter te leer ken. Baie wat dit reeds gelees het, het kommentaar gelewer oor hoe dit met hulle die geval was. (Sien die volgende artikel, bladsy 25-6.) Mag dit ook jou ondervinding wees namate jy met die boek vertroud raak en dit gebruik om ander te help om hulle Skepper beter te leer ken.

[Voetnote]

a Toe die Jesuïetegeleerde M. J. Gruenthaner die hoofredakteur van The Catholic Biblical Quarterly was, het hy dieselfde van hierdie werkwoord as die verwante werkwoord gesê, naamlik dat dit “nooit die gedagte van abstrakte bestaan oordra nie, maar altyd op ’n waarneembare bestaan of totstandkoming dui, d.w.s. ’n konkrete openbaring”.

b Wanneer ouers Bybelverhale vir hulle kinders vertel, kan hulle hulle kinders help deur sulke vrae te vra. Sodoende kan jongmense God leer ken en leer om oor sy Woord te peins.

Het jy opgelet?

◻ Hoe het Moses Jehovah beter leer ken op die berg Sinai?

◻ Waarom help Bybelstudie ons om te leer watter soort persoon God is?

◻ Wat kan ons doen om nader aan ons Skepper te kom wanneer ons die Bybel lees?

◻ Hoe beplan jy om die Skepper-boek te gebruik?

[Prent op bladsy 20]

Wat vertel ons immuunstelsel ons van ons Skepper?

[Prent op bladsy 21]

’n Deel van die Dooie See-rolle met die Tetragrammaton (God se naam in Hebreeus) wat aangedui word

[Erkenning]

Met vriendelike vergunning: Shrine of the Book, Israel Museum, Jerusalem

[Prent op bladsy 23]

Wat kan ons leer uit Jesus se reaksie op Maria se smart?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel