Die Christelike Jubilee bereik sy hoogtepunt in die Millennium
1. Wat het die Jode in die Republiek van Israel nie probeer herinstel nie, en waarom nie?
SELFS in die Republiek van Israel (wat in 1948 opgerig is) het die talle Jode wat meen dat hulle onder die Mosaïese Wet is nie die viering van die Jubeljaar heringestel nie. En daar sou baie komplikasies wees as hulle dit sou probeer doen. Groot ekonomiese probleme sou ontstaan, want eiendomsreg is daarby betrokke. Die Republiek van Israel besit nie al die grond wat die eertydse 12 stamme bewoon het nie. Daar is ook geen tempel met ’n hoëpriester van die stam van Levi nie, want die volk se stamverband het verlore gegaan.
2. Hoe het party Christene reeds ’n Jubilee begin vier wat deur dié van eertydse Israel afgeskadu is?
2 Maar wat is ons posisie wat die seëninge van ’n Jubelviering betref? Ons onthou dat die eertydse Jubeljaar ’n feesjaar van vryheid was—Israeliete wat hulleself as slawe verkoop het, is bevry, en erfgrond is teruggegee (Levitikus 25:8-54). In die vorige artikel het ons gesien dat hierdie reëling saam met die Mosaïese Wetsverbond in 33 G.J. geëindig het (Romeine 7:4, 6; 10:4). Toe is ’n nuwe verbond in werking gestel op grond waarvan God gelowiges se sondes kon vergewe, hulle met heilige gees kon salf en hulle as seuns kon aanneem wat na die hemel geneem kon word (Hebreërs 10:15-18). Maar diegene wat by hierdie nuwe verbonds reëling baat vind, is ’n “klein kuddetjie” van 144 000 “wat van die aarde vrygekoop is”. Hoe kan die miljoene ander lojale Christene dan bevryding verkry soos deur die Jubilee afgeskadu is?—Lukas 12:32; Openbaring 14:1-4.
’n Offer vir almal!
3. Hoe doeltreffend en blywend is Jesus se offer?
3 In voorchristelike tye het die voordele van die jaarlikse Versoendag net ’n jaar geduur. Die voordele van die Here Jesus Christus se losprysoffer is voortdurend, ewigdurend. Die antitipiese Hoëpriester, Jesus, hoef dus nie weer ’n mens te word, homself op te offer en dan terug te keer hemel toe om die waarde van daardie offer jaar na jaar in die Allerheiligste van Jehovah God aan te bied nie. Soos die Skrif sê: “Ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie.”—Romeine 6:9; Hebreërs 9:28.
4, 5. (a) Wat was die gevolg van die aanwending van Jesus se offer sedert Pinkster, 33 G.J.? (b) Watter aanduiding het ons dat sy offer wyer aangewend gaan word?
4 In die jare sedert Pinkster 33 G.J. het gelowiges derhalwe die Christelike Jubilee begin vier wanneer hulle geesverwekte dissipels van die verheerlikte Here Jesus geword het. Nadat hulle ‘vrygemaak is van die wet van die sonde en die dood’ het hulle verkwikkende vryheid geniet (Romeine 8:1, 2). Hulle het ook die Christelike boodskap verkondig sodat nog ander vergifnis van hulle sondes kan ontvang, gesalf en geestelike seuns van God kan word. Maar beteken dit dat as iemand nie ’n lid van daardie beperkte groep van 144 000 is nie, hy nie nou vreugdevolle bevryding kan geniet nie?
5 Die apostel Paulus se woorde in Romeine 8:19-21 is belangrik in hierdie opsig: “Die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe [omdat dit sondig is en die sonde nie kan uitwis nie].” Paulus het toe beklemtoon dat daar “die hoop [is] dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”. Sulke vryheid is derhalwe nie beperk tot diegene wat “kinders van God” in die hemel word nie. Die bekende woorde in Johannes 3:16 bevestig dit. En soos gemeld is, het die gesalfde apostel Johannes gesê dat Christus “vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” gesterf het.—1 Johannes 2:2.
1919—’n voorlopige bevryding
6, 7. Watter soort bevryding is sedert 1919 verkondig, en waarom veral van toe af?
6 In ons dag verkondig die gesalfdes, wat die Christelike Jubilee vier, veral sedert 1919 bevrydende goeie nuus. ‘Waarom van toe af?’ wonder jy dalk as jy korter gelede gebore is. Kom ons kyk, gedagtig aan die feit dat jou genieting van bevryding daarby betrokke is.
7 Jehovah se gesalfdes het dekades lank voor daardie jaar Bybelwaarhede gepubliseer, soos in die welbekende reeks Studies in the Scriptures (1886-1917). Hulle het ook talle leersame boekies en traktate versprei. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was daar teenkanting, toetsing en sifting, asook ’n afname van hulle bedrywighede. Maar in 1919 het die gesalfde oorblyfsel Bybelwaarhede met hernieude ywer begin verkondig. Soos Jesus in 30 G.J. kon sê dat hy gesalf was om “aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig”, kon hierdie hedendaagse gesalfdes dieselfde sê. Na ’n besielende byeenkoms van 1-7 September 1919a het hulle kragtig voortgegaan om waarhede te verkondig wat tallose mense vrygemaak het.—Lukas 4:19.
8, 9. In watter sin is talle bevry, en watter middele is gebruik om sulke bevryding te verkondig?
8 Beskou byvoorbeeld die Bybelstudiehulp Die harp van God (1921), wat lewensbelangrike waarhede bespreek het asof hulle tien snare van ’n harp was. Die boek het erken dat ‘vele van Bybelondersoek afgeskrik is’ deur die leerstelling dat “die straf vir die goddelose . . . ewige pyniging of foltering is in ’n hel van onuitbluslike vuur en swael”. Die lesers van die nagenoeg 6 000 000 eksemplare van hierdie boek het geleer dat hierdie leerstelling “nie waar [kan] wees nie; hiervoor bestaan ten minste vier afsonderlike en onderskeie redes: (1) omdat dit onredelik is; (2) omdat dit in stryd is met geregtigheid; (3) omdat dit teenstrydig is met die beginsel van liefde; en (4) omdat dit heeltemal onskriftuurlik is”. Jy kan jou voorstel hoe bevrydend dit vir mense was wat grootgeword het in vrees vir ewige pyniging in die hel of foltering in die vaevuur!
9 Ja, die ywerige verkondiging van Bybel waarheid deur hierdie gesalfdes het mense dwarsoor die aardbol bevry wat in slawerny was van valse leerstellings, bygelowe en onskriftuurlike gebruike (soos vooroueraanbidding, vrees vir spoke of bose geeste en finansiële uitbuiting deur die geestelikes). Bloot die titels van party Bybelstudiehulpe weerspieël die bevrydende invloed wat dit op miljoene gehad het.b So is Jesus se woorde bewaarheid toe hy gesê het dat sy dissipels ‘groter werke sou doen’ as hy (Johannes 14:12). In vergelyking met die voorlopige geestelike bevrydingswerk wat Jesus gedoen het toe hy “aan gevangenes vrylating” verkondig het, het God se hedendaagse knegte baie meer gedoen—hulle het miljoene der miljoene dwarsoor die aarde bereik.
10. Waarom kan ons ’n bykomende en groter bevryding verwag?
10 Onthou egter dat daar in die eerste eeu ’n ander bevryding op Pinkster 33 G.J. begin het. Die Christelike Jubilee vir die “klein kuddetjie”, wie se sondes vergewe sou word en wat gevolglik “kinders van God” in die hemel sou word, het toe begin. Wat van in ons tyd? Kan die miljoene ander toegewyde Christene bevry word van slawerny van die sonde en so ’n wonderlike Jubilee vier? Ja, en die apostel Petrus het hierop gewys toe hy gepraat het van “die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete”.—Handelinge 3:21.
’n Jubilee vir miljoene
11. Hoe gee Levitikus hoofstuk 25 te kenne dat ons ’n bevryding te wagte kan wees wat nie net op geestelike Israel van toepassing is nie?
11 Dit is opmerkenswaardig dat die Israeliete twee keer in Levitikus hoofstuk 25 daaraan herinner is dat hulle uit Jehovah se oogpunt sy “knegte”, of slawe, was wat hy uit Egipte bevry het (Lev 25 Verse 42 en 55). Hierdie hoofstuk oor die Jubeljaar meld ook die “bywoners” en die ‘vreemdelinge onder hulle’. Daardie persone kom vandag ooreen met die “groot menigte” wat saam met die geestelike Israeliete aan die verkondiging van die Christelike goeie nuus deelneem.
12. Watter verblydende ontwikkeling vind sedert 1935 plaas?
12 Sedert 1935 versamel die “goeie herder”, Jesus Christus, diegene wat hy “ander skape” noem tot aktiewe omgang met die gesalfde oorblyfsel. Hy moes hulle “lei”, en hulle sou “een kudde” onder “een herder” vorm (Johannes 10:16). Die “ander skape” tel nou in die miljoene. As jy tot daardie gelukkige menigte behoort, word jy reeds as ’n vriend van God regverdig gereken, en as lid van die menslike skepping sien jy daarna uit om gedurende die komende “tye van die wederoprigting van alle dinge” op die aarde ‘vrygemaak te word van die slawerny van die verganklikheid’. Dit is geen misplaaste hoop nie.—Romeine 8:19-21; Handelinge 3:20, 21.
13. Watter seën in die besonder sal mense ná die “groot verdrukking” te beurt val?
13 Nadat die apostel Johannes 144 000 gesien het wat die Christelike Jubilee met ’n hemelse bestemming geniet, het hy’n “groot menigte” beskryf en gesê: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel.”—Openbaring 7:14, 15.
14, 15. Waarom het lede van die “groot menigte” besondere rede om hulle nou te verheug?
14 Selfs nou, voor die groot verdrukking, beoefen hulle geloof in Christus se vergote bloed en vind hulle derhalwe baat by sy offerdood. Hulle verheug hulle ook daaroor dat hulle van Babilon die Grote bevry is, ’n goeie gewete voor Jehovah God het en oor hulle voorreg om deel te hê aan die vervulling van Mattheüs 24:14 deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig voor die einde aanbreek.
15 Maar wat van die vooruitsig van die groot menigte om van aangebore sonde en onvolmaaktheid bevry te word? Is daardie tyd naby? Ons het goeie rede om te sê dat party van die geslag wat volgens Jesus Christus se profesie nie sou verbygaan voordat al die voorspelde dinge plaasgevind het nie steeds met ons is (Mattheüs 24:34). “Die voleinding van die wêreld” moet derhalwe baie naby wees.—Mattheüs 24:3.
Glanspunte van die Christelike Jubilee
16. Waar bevind ons ons in die volbrenging van God se voorneme, en wat lê voor?
16 “Die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” kom vinnig nader, en die oorblyfsel van die “klein kuddetjie” sowel as die “groot menigte” van hulle getroue, lojale metgeselle sal hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah God handhaaf en sien daarna uit om goddelike beskerming te geniet. Hulle sien gretig uit na Jehovah se algehele vernietiging van al die vyandelike magte sodat hy as die Universele Soewerein geregverdig sal wees. Wat ’n glanspunt sal dit tog in hulle genieting van Christelike vryheid wees!—Openbaring 16:14; 19:19-21; Habakuk 2:3.
17. Hoe sal miljoene nog bevryding in ’n grootse Jubilee ontvang?
17 Die heerskappy van die seëvierende Koning Jesus Christus oor die gereinigde aarde sal dan volg, met Jehovah se universele soewereiniteit bevestig en met Jesus Christus as Koning van die konings en Here van die here in volle beheer van die aarde. Dan sal hy die waarde van sy offer regstreeks aanwend ten behoewe van die miljoene mense, met inbegrip van die verresenes, wat geloof beoefen en die vergifnis van sondes wat God deur Christus sal skenk gewillig aanvaar. As bewys daarvan sal God “al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:3, 4). Dit is inderdaad ware vryheid, nie waar nie?
18, Wat sal in die nuwe stelsel op die aarde gebeur wat ooreenkom met ’n aspek van die eertydse Jubeljaar?
18 Daarbenewens sal die aarde nie meer deur hebsugtige individue, maatskappye en menseregerings beheer, besoedel en verderf word nie (Openbaring 11:18). Dit sal eerder aan ware aanbidders teruggegee word. Hulle sal die aangename taak opgelê word om deel te hê aan ’n letterlike vervulling van Jesaja se profesie: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie . . . Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ’n geslag van die wat deur die HERE geseën is” (Jesaja 65:21-25). Teen die einde van die Duisendjarige Heerskappy sal alle spore van erfsonde en onvolmaaktheid uitgewis wees en sal God se lojale knegte op die aarde die groot hoogtepunt vier waarmee die Jubilee ten einde loop. Die bevryding wat deur die Jubeljaar afgeskadu is, sal dan volbring wees.—Efesiërs 1:10.
Ná die hoogtepunt van die Jubilee aan die einde van die Millennium
19, 20. Hoe sal Satan en die demone die seëninge wat uit die Jubilee gedurende die Millennium voortspruit probeer dwarsboom, maar met watter gevolg?
19 Openbaring 20:1-3 voorspel dat Satan die Duiwel, die heerser van demonmagte, gedurende die duisend jaar van Christus se heerskappy oor die mensdom van die toneel sal wees. Wanneer die Duiwel en sy demone aan die einde van die Millennium toegelaat sal word om ’n kort rukkie te voorskyn te kom, sal hierdie bose geeste die aarde nie sien in die toestand waarin hulle dit gelaat het nie, maar as ’n onbeskryflik mooi, aardwye paradys. Hulle sal sien dat die aarde bewoon word deur die getroue “groot menigte” en deur die miljarde verrese mensedode vir wie Jesus Christus as losprysoffer gesterf het. Aan die einde van die Millennium sal die Christelike Jubilee die doel bereik het om die mensdom volkome van die gevolge van die sonde te bevry (Romeine 8:21). Hoe diabolies skandelik sou dit vir enigiemand wees om daardie wonderlike situasie te probeer bederf! Maar met die almagtige God se verlof sal die Duiwel ’n laaste poging aanwend om dit te doen, en hy sal met desperate bitterheid toeslaan. Openbaring 20:7-10, 14 sê hieroor:
20 “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp.”
21. Watter reaksie van die hemelse seuns van God aan die einde van die Christelike Jubilee in die Millennium sal ons aan Job 38:7 laat dink?
21 Ware vryheid, wat deur die Jubileereëling tot stand gebring is, sal steeds oral geniet word; alle skepsele sal vry wees en sal die Een vereer wie se naam alleen Jehovah is (Psalm 83:18, NW). Dit sal die geval wees namate Jehovah voortgaan om sy voornemens in die ganse heelal te volbring. Tydens die skepping van die aarde, voor die mens daarop geplaas is, het “die moresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig” oor die pragtige gesig (Job 38:7). Hoeveel te meer sal hulle dit doen wanneer hulle sien dat die aarde bewoon word deur manne en vroue wat hulle algehele toegewydheid en onkreukbaarheid teenoor die almagtige God bewys het.
22. Wat moet ons gesindheid wees, in ooreenstemming met die aansporing in Psalm 150:1-6?
22 Alles in ag genome in die lig van die skitterende helderheid wat op die Skrif gewerp word, kan ons nie anders as om spontaan saam met die hemele te juig en te sê nie: Halleluja! Dit is die aansporing waarmee die boek Psalms afsluit: “Halleluja! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk uitspansel! Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy grootheid! Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter; loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit; loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale! Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!”—Psalm 150:1-6.
[Voetnote]
a ’n Nuwe tydskrif is daar bekendgestel wat “soos ’n stem in die woestyn van verwarring [sou wees], en die sending daarvan [sou wees] om die inkoms van die Goue Eeu aan te kondig”. Hierdie tydskrif word vandag Ontwaak! genoem.
b Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie (1920); Verlossing (1926); Vryheid vir die volke (1927); Vryheid (1932); “Die waarheid sal julle vrymaak” (1943); What Do the Scriptures Say About “Survival After Death”? (1955); Die ewige lewe in vryheid van die seuns van God (1966); Die waarheid wat lei tot die ewige lewe (1968); The Path of Divine Truth Leading to Liberation (1980).
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarvan is Jesus se dissipels op Pinkster, 33 G.J., bevry, en wat het toe vir hulle begin?
◻ Waarom is daar rede om ’n groter bevryding as dié in die eerste eeu te verwag?
◻ Watter soort bevryding vind sedert 1919 plaas?
◻ Hoe en wanneer sal die “ander skape” by ’n grootse Jubilee baat vind?
◻ Watter toestande sal ná die hoogtepunt van die Jubilee op die aarde heers?
[Prent op bladsy 25]
Vryheid word in 1919 by Cedar Point verkondig
[Prent op bladsy 26]
“Ander skape” deel in die Jubilee gedurende die Millennium