Die “reikhalsende verwagting” van die skepping
“Die reikhalsende verwagting van die skepping wag op die openbaring van die seuns van God.”—ROMEINE 8:19.
1. Watter ooreenkoms bestaan daar tussen die situasie van Christene wat vandag leef en van eerste-eeuse Christene?
DIE situasie van ware Christene wat vandag leef, is soortgelyk aan dié van eerste-eeuse Christene. ’n Profesie het Jehovah se knegte van daardie tyd gehelp om die tyd te identifiseer wanneer die Messias sou verskyn (Daniël 9:24-26). Dieselfde profesie het Jerusalem se vernietiging voorspel, maar het geen inligting bevat wat Christene in staat gestel het om vooruit te weet wanneer daardie stad vernietig sou word nie (Daniël 9:26b, 27). ’n Profesie het eweneens deur God se wil daartoe gelei dat opregte 19de-eeuse Bybelstudente in afwagting was. Deur die “sewe tye” van Daniël 4:25 (NW) met “die tye van die Heidene” te verbind, het hulle vooruitgesien dat Christus in 1914 Koninkryksmag sou ontvang (Lukas 21:24, King James Version; Esegiël 21:25-27). Hoewel die boek Daniël baie profesieë bevat, stel geeneen van hulle hedendaagse Bybelstudente in staat om presies te bereken wanneer Satan se hele stelsel van dinge vernietig sal word nie (Daniël 2:31-44; 8:23-25; 11:36, 44, 45). Maar dit sal binnekort gebeur, want ons lewe in “die tyd van die einde”.—Daniël 12:4.a
Waaksaamheid tydens Christus se teenwoordigheid
2, 3. (a) Wat is die belangrikste bewys dat ons tydens Christus se teenwoordigheid in koninklike mag lewe? (b) Wat toon dat Christene moet aanhou waak gedurende Christus se teenwoordigheid?
2 ’n Profesie het Christene weliswaar in afwagting laat verkeer voordat Christus in 1914 Koninkryksmag ontvang het. Maar die “teken” wat Christus van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge gegee het, het uit gebeure bestaan. En die meeste van hulle sou gesien word nadat sy teenwoordigheid begin het. Sulke gebeure—oorloë, voedseltekorte, aardbewings, peste, ’n toename in wetteloosheid, vervolging van Christene en die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk—is die belangrikste bewys dat ons nou tydens Christus se teenwoordigheid in koninklike mag lewe.—Matteus 24:3-14; Lukas 21:10, 11.
3 Maar die hele strekking van Jesus se afskeidsraad aan sy dissipels was: “Bly op die uitkyk, bly wakker, . . . hou aan waak” (Markus 13:33, 37; Lukas 21:36). As die konteks van hierdie aansporings om waaksaam te wees versigtig nagegaan word, toon dit dat Christus nie hoofsaaklik bedoel het dat daar noukeurig gelet moes word op die teken van die begin van sy teenwoordigheid nie. Hy het sy ware dissipels eerder beveel om tydens sy teenwoordigheid aan te hou waak. Waarvoor moes ware Christene aanhou waak?
4. Van watter nut sou die teken wees wat Jesus gegee het?
4 Jesus se groot profesie was in antwoord op die vraag: “Wanneer sal hierdie dinge wees [gebeure wat die vernietiging van die Joodse stelsel van dinge voorafgegaan het], en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). Die voorspelde teken sou nie net Christus se teenwoordigheid identifiseer nie, maar ook gebeure wat die einde van die huidige goddelose stelsel van dinge sou voorafgaan.
5. Hoe het Jesus getoon dat hy nog moet “kom” hoewel hy geestelik teenwoordig is?
5 Jesus het getoon dat hy tydens sy “teenwoordigheid” (Grieks, pa·rou·siʹa) met krag en heerlikheid sou kom. Wat hierdie ‘koms’ betref (waarna vorme van die Griekse woord erʹkho·mai verwys), het hy gesê: “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde hulleself in weeklag slaan, en hulle sal die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom. . . . En leer dít van die vyeboom as ’n illustrasie: Sodra sy jong tak sag word en hy blare kry, weet julle dat die somer naby is. Net so moet julle, wanneer julle al hierdie dinge sien, ook weet dat hy [Christus] naby is, voor die deur. . . . Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie. . . . Julle [moet] julle ook gereed betoon, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”—Matteus 24:30, 32, 33, 42, 44.
Waarom kom Jesus Christus?
6. Hoe sal die vernietiging van “Babilon die Grote” teweeggebring word?
6 Hoewel Jesus Christus sedert 1914 as Koning teenwoordig is, is daar nog stelsels en individue wat hy moet oordeel voordat hy oordeel voltrek aan diegene wat hy goddeloos bevind. (Vergelyk 2 Korintiërs 5:10.) Jehovah sal dit binnekort in die gedagtes van die politieke heersers sit om “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, te vernietig (Openbaring 17:4, 5, 16, 17). Die apostel Paulus het spesifiek gesê dat Jesus Christus “die mens van wetteloosheid”—die afvallige geestelikes van die Christendom, ’n vername deel van “Babilon die Grote”—sal vernietig. Paulus het geskryf: “Die wettelose [sal] geopenbaar word, met wie die Here Jesus sal wegdoen deur die gees van sy mond en wat hy tot niet sal maak deur die openbaarwording van sy teenwoordigheid.”—2 Tessalonisense 2:3, 8.
7. Watter oordeel sal die Seun van die mens vel wanneer hy in sy heerlikheid kom?
7 Christus sal binnekort mense van die nasies oordeel op grond van hoe hulle sy broers behandel het wat nog op die aarde is. Ons lees: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy heerlike troon gaan sit. En al die nasies sal voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei. En hy sal die skape aan sy regterhand sit, maar die bokke aan sy linkerhand. . . . Die koning sal . . . vir [die skape] sê: ‘Voorwaar, ek sê vir julle: In soverre julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen.’ . . . En [die bokke] sal weggaan, die ewige afsnyding in, maar die regverdiges die ewige lewe in.”—Matteus 25:31-46.
8. Hoe beskryf Paulus Christus se koms om oordeel te voltrek aan die goddeloses?
8 Soos die gelykenis van die skape en die bokke toon, voltrek Jesus die finale oordeel aan al die goddeloses. Paulus het medegelowiges wat gely het, verseker van “verligting saam met ons by die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy kragtige engele in ’n vlammende vuur, wanneer hy wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Húlle sal as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy krag af, wanneer hy kom om verheerlik te word in verband met sy heiliges” (2 Tessalonisense 1:7-10). Behoort ons nie, met al hierdie opwindende gebeure wat ons te wagte is, geloof te beoefen en gretig op die uitkyk te bly vir Christus se koms nie?
Wag met gretigheid op Christus se openbaring
9, 10. Waarom wag die gesalfdes wat nog op die aarde is gretig op die openbaring van Jesus Christus?
9 “Die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel” sal nie net wees om die goddeloses te vernietig nie, maar ook om die regverdiges te beloon. Die oorblywende lede van Christus se gesalfde broers wat nog op die aarde is, sal dalk nog voor Christus se openbaring ly, maar hulle verheug hulle in hulle glorieryke hemelse hoop. Die apostel Petrus het aan gesalfde Christene geskryf: “Hou aan om julle te verheug, aangesien julle deelgenote in die lyding van die Christus is, sodat julle julle ook gedurende die openbaring van sy heerlikheid kan verheug en kan oorloop van vreugde.”—1 Petrus 4:13.
10 Gesalfdes is vasbeslote om getrou te bly totdat Christus ‘hulle tot hom bymekaarbring’ sodat “die beproefde hoedanigheid” van hulle geloof “by die openbaring van Jesus Christus ’n rede tot lof en heerlikheid en eer bevind kan word” (2 Tessalonisense 2:1; 1 Petrus 1:7). Daar kan oor sulke getroue geesverwekte Christene gesê word: “Die getuienis aangaande die Christus [is] onder julle bevestig . . . , sodat julle in geen enkele gawe te kort kom nie, terwyl julle gretig op die openbaring van ons Here Jesus Christus wag.”—1 Korintiërs 1:6, 7.
11. Wat doen gesalfde Christene terwyl hulle op die openbaring van Jesus Christus wag?
11 Die gesalfde oorblyfsel is dit eens met Paulus wat geskryf het: “[Ek reken] dat die lyding van die teenswoordige tyd niks beteken in vergelyking met die heerlikheid wat in ons geopenbaar gaan word nie” (Romeine 8:18). Hulle geloof is nie afhanklik van die berekening van tye nie. Hulle bly besig in Jehovah se diens en is sodoende ’n wonderlike voorbeeld vir hulle metgeselle, die “ander skape” (Johannes 10:16). Hierdie gesalfdes weet dat hierdie goddelose stelsel se einde naby is, en hulle slaan ag op Petrus se aansporing: “Versterk . . . julle verstand vir bedrywigheid, bly volkome nugter van verstand; vestig julle hoop op die onverdiende goedhartigheid wat julle by die openbaring van Jesus Christus ten deel gaan val.”—1 Petrus 1:13.
“Die reikhalsende verwagting van die skepping”
12, 13. Hoe is die menseskepping “aan nietigheid onderwerp”, en waarna verlang die ander skape?
12 Het die ander skape ook iets waarvoor hulle met reikhalsende verwagting kan lewe? Hulle het beslis. Nadat Paulus van die glorieryke hoop gepraat het van diegene wat deur Jehovah as sy geesverwekte “seuns” en “mede-erfgename met Christus” in die hemelse Koninkryk aangeneem is, het hy gesê: “Die reikhalsende verwagting van die skepping wag op die openbaring van die seuns van God. Want die skepping is aan nietigheid onderwerp, nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het, op grond van hoop dat die skepping self ook van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê.”—Romeine 8:14-21; 2 Timoteus 2:10-12.
13 Deur Adam se sonde is al sy nakomelinge “aan nietigheid onderwerp”, aangesien hulle in slawerny aan sonde en die dood gebore is. Hulle kon hulleself nie van hierdie slawerny bevry nie (Psalm 49:8; Romeine 5:12, 21). Ag, hoe verlang die ander skape tog om “van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak” te word! Maar voordat dit gebeur, moet sekere dinge volgens Jehovah se tye en tydperke plaasvind.
14. Wat sal “die openbaring van die seuns van God” behels, en hoe sal dit daartoe lei dat die mensdom “van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak” sal word?
14 Die oorblyfsel van die gesalfde “seuns van God” moet eers ‘geopenbaar’ word. Wat sal dit behels? Op God se bestemde tyd sal dit vir die ander skape duidelik word dat die gesalfdes finaal “verseël” is en verheerlik is om saam met Christus te heers (Openbaring 7:2-4). Die verrese “seuns van God” sal ook ‘geopenbaar’ word wanneer hulle saam met Christus deelneem aan die vernietiging van Satan se goddelose stelsel van dinge (Openbaring 2:26, 27; 19:14, 15). Dan sal hulle, gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy, verder ‘geopenbaar’ word as priesterlike kanale waardeur die voordele van Jesus se losprysofferande ten behoewe van die ‘menseskepping’ aangewend sal word. Dit sal daartoe lei dat die mensdom “van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak” sal word en uiteindelik “die glorieryke vryheid van die kinders van God” sal geniet (Romeine 8:21; Openbaring 20:5; 22:1, 2). Met sulke wonderlike vooruitsigte, is dit dan enigsins verbasend dat die ander skape met “reikhalsende verwagting . . . wag op die openbaring van die seuns van God”?—Romeine 8:19.
Jehovah se geduld beteken redding
15. Wat moet ons nooit vergeet in verband met die tyd wat Jehovah vir gebeure vasgestel het nie?
15 Jehovah is die Groot Tydhouer. Die tyd wat hy vir gebeure vasgestel het, sal volmaak wees. Dit lyk miskien nie altyd asof dinge ontwikkel soos ons persoonlik verwag het nie. Ons kan egter die volle vertroue hê dat al God se beloftes vervul sal word (Josua 23:14). Hy laat dalk toe dat dinge langer voortgaan as wat baie verwag het. Maar laat ons sy weë probeer verstaan en sy wysheid bewonder. Paulus het geskryf: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë! Want ‘wie het Jehovah se denke leer ken, of wie het sy raadgewer geword?’”—Romeine 11:33, 34.
16. Wie kan by Jehovah se geduld baat vind?
16 Petrus het geskryf: “Geliefdes, aangesien julle hierdie dinge verwag [dat die ou “hemele” en “aarde” vernietig sal word en deur God se beloofde “nuwe hemele” en “nuwe aarde” vervang sal word], [moet julle] julle uiterste bes doen om uiteindelik deur hom vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word. Beskou daarbenewens die geduld van ons Here as redding.” Weens Jehovah se geduld word nog miljoene die geleentheid gegee om behoue te bly deur die “dag van Jehovah”, wat onverwags, “soos ’n dief”, sal kom (2 Petrus 3:9-15). Sy geduld stel ook elkeen van ons in staat om ‘aan te hou om ons eie redding met vrees en bewing te bewerk’ (Filippense 2:12). Jesus het gesê dat ons ‘op onsself moet let’ en ‘wakker moet bly’ as ons goedgekeur wil word en daarin wil slaag om “voor die Seun van die mens te staan” wanneer hy kom om te oordeel.—Lukas 21:34-36; Matteus 25:31-33.
Hou aan om met volharding te wag
17. Watter woorde van die apostel Paulus moet ons ter harte neem?
17 Paulus het sy geestelike broers aangespoor om hulle oë gerig te hou, “nie op die dinge wat gesien word nie, maar op die dinge wat nie gesien word nie” (2 Korintiërs 4:16-18). Hy wou nie hê dat enigiets hulle hoop laat verflou op die hemelse beloning wat hulle voorgehou word nie. Hetsy ons gesalfde Christene of van die ander skape is, laat ons die wonderlike hoop in gedagte hou wat ons voorgehou word en nie moed opgee nie. Laat ons ‘met volharding bly wag’ en bewys dat ons “nie die soort [is] wat terugdeins tot vernietiging nie, maar die soort wat geloof het tot die behoud van die siel”.—Romeine 8:25; Hebreërs 10:39.
18. Waarom kan ons die tye en tydperke met vertroue aan Jehovah oorlaat?
18 Ons kan die tye en tydperke met vertroue aan Jehovah oorlaat. Die vervulling van sy beloftes “sal nie laat wees” volgens sy tydrooster nie (Habakuk 2:3, NW). Paulus se aansporing aan Timoteus neem intussen groter betekenis vir ons aan. Hy het gesê: “Ek gelas jou plegtig voor God en Christus Jesus, wat bestem is om die lewendes en die dooies te oordeel, en kragtens sy openbaarwording en sy koninkryk: verkondig die woord, bly dringend daarmee besig in gunstige tye, in moeilike tye . . . Doen die werk van ’n evangelis, voer jou bediening ten volle uit.”—2 Timoteus 4:1-5.
19. Wat moet Jehovah se knegte nog steeds doen, en waarom?
19 Lewens is op die spel—ons eie en dié van ons medemens. Paulus het geskryf: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). Hierdie goddelose stelsel van dinge se dae is getel. Terwyl ons met reikhalsende verwagting wag op die opwindende gebeure wat voorlê, moet ons altyd onthou dat dit nog steeds Jehovah se tyd vir sy volk is om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Hierdie werk moet tot sy bevrediging volbring word. “Dan”, soos Jesus gesê het, “sal die einde kom.”—Matteus 24:14.
[Voetnoot]
a Sien hoofstukke 10 en 11 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Ter hersiening
◻ Hoe is ons situasie soortgelyk aan dié van eerste-eeuse Christene wat die berekening van tyd betref?
◻ Waarom moet Christene ‘aanhou waak’, selfs tydens Christus se teenwoordigheid?
◻ Waarom is die menseskepping in reikhalsende verwagting van “die openbaring van die seuns van God”?
◻ Waarom kan ons die tye en tydperke met vertroue aan Jehovah oorlaat?
[Prent op bladsy 17]
Christene moet wakker bly in afwagting van Christus se koms
[Prent op bladsy 18]
Die gesalfde oorblyfsel bly besig in Jehovah se diens en grond nie hulle geloof op die berekening van tyd nie