Vrae van lesers
■ In eertydse Israel is ’n siklus van 49 jaar deur ’n Jubeljaar (50ste jaar) gevolg. Stem daardie Jubeljaar ooreen met die tydperk wat op God se skeppingsweek van 49 000 jaar volg?
Omdat die syfer 49 in albei gevalle voorkom, lyk dit miskien of die Jubeljaar die tydperk na die einde van ’n skeppingsweek van 49 000 jaar sou afskadu. Maar vir die mensdom in die algemeen wat God se goedkeuring ontvang, stem die gebeure gedurende Israel se Jubeljaar meer ooreen met wat gedurende die Millennium, die laaste duisend jaar van hierdie skeppingsweek, plaasvind, en nie met wat op daardie week volg nie. Beskou die grondslag hiervoor:
Eerstens het die Mosaïese Wet vereis dat elke sewende jaar ’n sabbat vir die land moet wees; gewasse moes nie gesaai, verbou of geoes word nie. Na die sewende Sabbatsjaar (die 49ste jaar) was daar ’n spesiale Jubeljaar, die 50ste jaar. Dit was ’n sabbat waartydens die land weer moes rus, Nog belangriker, daar is ’n vrylating uitgeroep. Hebreërs wat hulleself as slawe verkoop het, is van ’n skuldelas en slawerny bevry. Erfgrond is ook terugbesorg aan gesinne wat dit moes verkoop. Die Jubeljaar was dus ’n tyd van vrylating en herstel vir die Israeliete.—Levitikus 25:1-46.
Ten tweede lewer ’n studie van die vervulling van Bybelprofesie en van ons plek in die tydstroom kragtige bewys dat elk van die skeppingsdae (Genesis, hoofstuk 1) 7 000 jaar lank is. Christus se duisendjarige bewind sal blykbaar God se ‘rusdag’ van 7 000 jaar, die laaste ‘dag’ van die skeppingsweek, afsluit (Openbaring 20:6; Genesis 2:2, 3). Op grond van hierdie redenasie sal die hele skeppingsweek 49 000 jaar lank wees.
As gevolg van die ooreenkoms in syfers het party die 49 jaar van die eertydse Jubelsiklus met die 49 000 jaar van die skeppingsweek vergelyk. Hierdie redenasie het hulle laat dink dat die gebeure na die einde van die skeppingsweek deur Israel se Jubeljaar (50ste jaar) afgebeeld, of voorafgeskadu, word.
Hou egter in gedagte dat die Jubeljaar hoofsaaklik ’n jaar van vrylating en herstel van mense was. Die skeppingsweek hou hoofsaaklik verband met die planeet Aarde en sy ontwikkeling. Maar wat die ontplooiing van God se voorneme vir die mense op aarde betref, is die aardbol self nie in slawerny verkoop nie en hoef dit dus nie bevry te word nie. Dit is die mensdom wat dit nodig het, en die mens bestaan nog net sowat 6 000 jaar lank, nie 49 000 jaar nie. Die Bybel toon dat Adam en Eva die een of ander tyd nadat hulle geskep is teen God in opstand gekom en derhalwe slawe van die sonde, onvolmaaktheid en die dood geword het. Volgens Romeine 8:20, 21 is Jehovah God voornemens om die gelowige mense uit hierdie slawerny te bevry, Gevolglik sal ware aanbidders op die aarde “vrygemaak . . . word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”.—Kyk ook Romeine 6:23.
Hoewel die sondes van die gekose groepie wat hemel toe gaan reeds vanaf Pinkster 33 G.J. vergewe is, en hulle dus reeds die Jubilee geniet, toon die Bybel dat die vrylating vir die gelowige mensdom gedurende Christus se Duisendjarige Regering sal plaasvind. Dit sal wees wanneer die mensdom die voordele van sy losprysoffer geniet. Teen die einde van die Millennium sal die mensdom tot menslike volmaaktheid verhef wees, heeltemal vry van oorgeërfde sonde en die dood, Wanneer hy dan die laaste vyand (die dood oorgeërf van Adam) tot niet gemaak het, sal Christus die Koninkryk aan die einde van die skeppingsweek van 49 000 jaar aan sy Vader teruggee.—1 Korinthiërs 15:24-26.
Gevolglik sal die vrylating en herstel wat die Jubeljaar in eertydse Israel gekenmerk het gedurende die komende Duisendjarige Sabbat ’n gepaste parallel vind in die geval van die gelowige mensdom met aardse vooruitsigte. Dan sal hulle vrylating en herstel ondervind. Dit sal onder Christus se heerskappy wees, “want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat”.—Mattheüs 12:8.