Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 4/15 bl. 15-20
  • Laat God se woord jou pad verlig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Laat God se woord jou pad verlig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom moet ons lief wees vir God se woord?
  • ’n Lamp vir ons voet
  • Onderskraag deur God se woord
  • Bid in geloof
  • Jehovah se herinneringe help ons
  • Veiligheid en vrede
  • Blywende lig vir ons pad
  • Vertrou op Jehovah se woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die herinneringe en bevele van die God van ’n nuwe stelsel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Geluk te midde van ’n wettelose, liefdelose wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • ‘Wandel in die wet van Jehovah’
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 4/15 bl. 15-20

Laat God se woord jou pad verlig

“U woord is . . . ’n lig vir my pad.”—PSALM 119:105.

1, 2. Onder watter omstandighede sal Jehovah se woord ons pad verlig?

JEHOVAH se woord sal ons pad verlig as ons dit toelaat. Om hierdie geestelike lig te geniet, moet ons ywerige studente van God se geskrewe Woord wees en die raad daarin toepas. Slegs dan kan ons soos die psalmis sê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—Psalm 119:105.

2 Kom ons bespreek nou Psalm 119:89-176. Hierdie verse wat 11 strofes uitmaak, bevat inderdaad ’n skat van inligting! Dit kan ons help om op die pad na die ewige lewe te bly.—Matteus 7:13, 14.

Waarom moet ons lief wees vir God se woord?

3. Hoe toon Psalm 119:89, 90 dat ons op God se woord kan vertrou?

3 ’n Liefde vir Jehovah se woord het geestelike stabiliteit tot gevolg (Psalm 119:89-96). Die psalmis het gesing: “Tot onbepaalde tyd, o Jehovah, staan u woord vas in die hemel. . . . U het die aarde stewig gevestig, sodat dit kan bly staan” (Psalm 119:89, 90). Deur God se woord—sy “insettinge van die hemel”—beweeg die hemelliggame foutloos in hulle wentelbane en is die aarde stewig gevestig tot in ewigheid (Job 38:31-33; Psalm 104:5). Ons kan elke woord vertrou wat uit Jehovah se mond uitgaan; wat God sê, sal “beslis sukses behaal” ter vervulling van sy voorneme.—Jesaja 55:8-11.

4. Wat doen ’n liefde vir God se woord vir sy knegte wat geteister word?

4 Die psalmis sou ‘in sy ellende omgekom het as hy nie vir God se wet lief was nie’ (Psalm 119:92). Hy is nie deur vreemdelinge geteister nie; dit was Israelitiese wetsoortreders wat hom gehaat het (Levitikus 19:17). Maar dit het hom nie oorweldig nie, want hy het God se onderskragende wet liefgehad. In Korinte was die apostel Paulus “in gevare onder valse broers”, wat moontlik “uitnemende apostels” ingesluit het wat ’n beskuldiging teen hom gesoek het (2 Korintiërs 11:5, 12-14, 26). Tog het Paulus geestelik staande gebly omdat hy lief was vir God se woord. Omdat ons lief is vir Jehovah se geskrewe Woord en toepas wat dit sê, het ons ons broers lief (1 Johannes 3:15). Selfs die wêreld se haat laat ons nie een van God se instruksies vergeet nie. Ons hou aan om sy wil in liefdevolle eenheid met ons broers te doen terwyl ons uitsien na ’n ewigheid van vreugdevolle diens aan Jehovah.—Psalm 119:93.

5. Hoe het koning Asa Jehovah gesoek?

5 Om ons toegewydheid aan Jehovah uit te spreek, kan ons bid: “Ek behoort aan u. Red my tog, want ek het u bevele gesoek” (Psalm 119:94). Koning Asa het God gesoek en afvalligheid in Juda uitgeroei. By ’n groot samekoms in die 15de regeringsjaar van Asa (963 v.G.J.) het Juda se inwoners “’n verbond aangegaan dat hulle Jehovah . . . sal soek”. God het “hom deur hulle laat vind” en “het hulle aan alle kante rus bly gee” (2 Kronieke 15:10-15). Hierdie voorbeeld behoort enigiemand wat van die Christengemeente weggedryf het, aan te spoor om God opnuut te soek. Hy sal diegene wat weer met sy volk begin omgaan, seën en beskerm.

6. Watter weg sal ons teen geestelike skade beskerm?

6 Jehovah se woord verleen wysheid wat ons teen geestelike skade kan beskerm (Psalm 119:97-104). God se gebooie maak ons wyser as ons vyande. As ons op sy herinneringe ag slaan, gee dit ons insig, en as ‘ons sy bevele bewaar, stel dit ons in staat om verstandiger as ouer manne op te tree’ (Psalm 119:98-100). As Jehovah se woorde ‘vir ons verhemelte gladder is as heuning’, sal ons “elke valse pad” haat en vermy (Psalm 119:103, 104). Dít sal ons teen geestelike skade beskerm wanneer ons in hierdie laaste dae hoogmoedige, wreedaardige, goddelose mense teëkom.—2 Timoteus 3:1-5.

’n Lamp vir ons voet

7, 8. Wat moet ons in ooreenstemming met Psalm 119:105 doen?

7 God se woord is ’n bron van eindelose geestelike lig (Psalm 119:105-112). Hetsy ons gesalfde Christene of hulle metgeselle, die “ander skape”, is, ons sê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Johannes 10:16; Psalm 119:105). God se woord is soos ’n lamp wat ons pad verlig, sodat ons nie geestelik struikel en val nie (Spreuke 6:23). Maar elkeen van ons moet Jehovah se woord ’n lamp vir ons voet laat wees.

8 Ons moet net so standvastig wees soos die skrywer van Psalm 119. Hy was vasbeslote om nie van God se bevele af te dwaal nie. “Ek het ’n beëdigde verklaring afgelê”, het hy gesê, “en ek sal dit nakom, om u [Jehovah se] regverdige regterlike beslissings te onderhou” (Psalm 119:106). Mag ons nooit die waarde van gereelde Bybelstudie en deelname aan Christelike vergaderinge onderskat nie.

9, 10. Hoe weet ons dat persone wat aan Jehovah toegewy is, ‘van sy bevele kan afdwaal’, maar hoe kan dit vermy word?

9 Die psalmis ‘het nie van God se bevele afgedwaal nie’, maar dit kan gebeur met iemand wat aan Jehovah toegewy is (Psalm 119:110). Koning Salomo het afgedwaal, al was hy ’n lid van ’n nasie wat aan Jehovah toegewy was en het hy aanvanklik in ooreenstemming met godgegewe wysheid opgetree. “Selfs hom het die uitlandse vrouens laat sondig” deur hom oor te haal om valse gode te aanbid.—Nehemia 13:26; 1 Konings 11:1-6.

10 “Die voëlvanger”, Satan, stel baie valstrikke (Psalm 91:3). Byvoorbeeld, ’n voormalige metgesel probeer ons dalk oorhaal om van die pad van geestelike lig af te dwaal in die duisternis van afvalligheid in. Onder Christene in Tiatira was daar “daardie vrou Isebel”, moontlik ’n groep vroue wat ander geleer het om afgodediens te beoefen en hoerery te pleeg. Jesus het sulke euwels nie geduld nie, en ons moet ook nie (Openbaring 2:18-22; Judas 3, 4). Laat ons dus bid vir Jehovah se hulp sodat ons nie van sy bevele afdwaal nie, maar in goddelike lig bly.—Psalm 119:111, 112.

Onderskraag deur God se woord

11. Hoe beskou God die goddeloses volgens Psalm 119:119?

11 As ons nooit van God se voorskrifte afdwaal nie, sal hy ons onderskraag (Psalm 119:113-120). Ons keur “halfhartiges” nie goed nie, net soos Jesus nie hedendaagse verklaarde Christene goedkeur wat lou is nie (Psalm 119:113; Openbaring 3:16). Omdat ons Jehovah heelhartig dien, is hy ‘ons skuilplek’ en sal hy ons onderskraag. Hy sal ‘almal wegwerp wat van sy voorskrifte afdwaal’ deurdat hulle van bedrog en leuens gebruik maak (Psalm 119:114, 117, 118; Spreuke 3:32). Hy beskou hierdie goddeloses as “metaalskuim”—onsuiwerhede wat uit waardevolle metale soos silwer en goud verwyder word (Psalm 119:119; Spreuke 17:3). Mag ons altyd liefde vir God se herinneringe openbaar, want ons wil beslis nie saam met die goddeloses as “metaalskuim” beskou en vernietig word nie!

12. Waarom is dit belangrik dat ons Jehovah vrees?

12 “Die vrees vir u [Jehovah] het my vlees laat kriewel”, het die psalmis gesê (Psalm 119:120). ’n Heilsame vrees vir God, wat ons openbaar deur te vermy wat hy afkeur, is noodsaaklik as ons wil hê dat hy ons as sy knegte moet onderskraag. ’n Eerbiedige vrees vir Jehovah het Job ’n regverdige lewe laat lei (Job 1:1; 23:15). Godvrugtige vrees kan ons in staat stel om te volhard in ’n weg wat God behaag, ongeag wat ons moet verduur. Volharding verg egter ernstige gebede wat in geloof gedoen word.—Jakobus 5:15.

Bid in geloof

13-15. (a) Waarom kan ons geloof hê dat ons gebede verhoor sal word? (b) Wat kan gebeur as ons nie weet wat om in gebed te sê nie? (c) Lig toe hoe Psalm 119:121-128 kan verband hou met ons “onuitgesproke kreuninge” in gebed.

13 Ons kan in geloof bid dat God ten behoewe van ons sal optree (Psalm 119:121-128). Soos die psalmis, is ons seker dat ons gebede verhoor sal word. Waarom? Omdat ons God se gebooie “meer as goud, ja, as gelouterde goud,” liefhet. Wat meer is, ‘ons beskou al God se bevele aangaande alle dinge as reg’.—Psalm 119:127, 128.

14 Jehovah hoor ons versoeke omdat ons in geloof bid en sy bevele ook noukeurig nakom (Psalm 65:2). Maar sê nou ons het soms sulke oorweldigende probleme dat ons nie weet wat om in gebed te sê nie? Dan ‘pleit die gees self vir ons met onuitgesproke kreuninge’ (Romeine 8:26, 27). By sulke geleenthede aanvaar God uitdrukkings wat in sy Woord voorkom as gebede wat ons behoeftes verteenwoordig.

15 Die Skrif is vol gebede en gedagtes wat met ons “onuitgesproke kreuninge” sal verband hou. Kyk byvoorbeeld na Psalm 119:121-128. Die manier waarop dinge hier uitgedruk word, kom dalk ooreen met ons omstandighede. As ons, sê maar, bang is dat ons te kort gedoen sal word, kan ons God om hulp vra soos die psalmis dit gedoen het (Verse 121-123). Gestel ons moet ’n baie moeilike besluit neem. Dan kan ons bid dat Jehovah se gees ons help om sy herinneringe te onthou en toe te pas (Verse 124, 125). Hoewel ons ‘elke valse pad haat’, moet ons dalk vir God vra om ten behoewe van ons op te tree sodat ons nie swig voor die een of ander versoeking om sy wet te verbreek nie (Verse 126-128). As ons die Bybel elke dag lees, sal ons moontlik aan sulke nuttige gedeeltes dink wanneer ons ’n smeekbede tot Jehovah doen.

Jehovah se herinneringe help ons

16, 17. (a) Waarom het ons God se herinneringe nodig, en hoe moet ons dit beskou? (b) Hoe sal ander ons dalk beskou, maar wat is van die grootste belang?

16 As ons wil hê dat ons gebede verhoor moet word en as ons goddelike guns wil geniet, moet ons ag slaan op God se herinneringe (Psalm 119:129-136). Aangesien ons vergeetagtig is, het ons Jehovah se wonderlike herinneringe nodig wat ons aan sy onderrigting en gebooie herinner. Ons waardeer natuurlik die geestelike lig wat ons kry deur elke nuwe onthulling van God se woorde (Psalm 119:129, 130). Ons is ook dankbaar dat Jehovah ‘sy aangesig’ goedkeurend ‘oor ons laat skyn’, hoewel ‘strome water uit ons oë vloei’ omdat ander sy wet oortree.—Psalm 119:135, 136; Numeri 6:25.

17 Ons sal ongetwyfeld voortgaan om God se guns te geniet as ons sy regverdige herinneringe gehoorsaam (Psalm 119:137-144). As Jehovah se knegte erken ons dat dit reg is dat hy ons aandag op sy regverdige herinneringe vestig en dit aan ons oplê as bevele wat ons moet gehoorsaam (Psalm 119:138). Waarom het die psalmis gesê: “Ek is onbeduidend en veragtelik”, as hy God se gebooie gehoorsaam het? (Psalm 119:141). Hy het blykbaar verwys na die manier waarop sy vyande hom beskou het. As ons onwrikbaar vasstaan vir regverdigheid, sal ander dalk op ons neersien. Maar van die grootste belang is dat Jehovah ons goedkeur omdat ons in ooreenstemming met sy regverdige herinneringe lewe.

Veiligheid en vrede

18, 19. Waartoe lei dit as ons God se herinneringe onderhou?

18 Wanneer ons God se herinneringe onderhou, bly ons na aan hom (Psalm 119:145-152). Omdat ons ag slaan op Jehovah se herinneringe, het ons die vrymoedigheid om hom met ons hele hart aan te roep, en ons kan verwag om gehoor te word. Ons word dalk “vroeg in die oggendskemering” wakker en roep om hulp. Wat ’n uitstekende tyd om te bid! (Psalm 119:145-147). God is ook naby ons omdat ons losbandige gedrag vermy en, net soos Jesus, sy woord as die waarheid beskou (Psalm 119:150, 151; Johannes 17:17). Ons verhouding met Jehovah onderskraag ons in hierdie wêreld vol probleme en sal ons deur sy groot oorlog van Armageddon help.—Openbaring 7:9, 14; 16:13-16.

19 Ons geniet ware veiligheid danksy ons diep respek vir God se woord (Psalm 119:153-160). In teenstelling met die goddeloses ‘het ons nie van Jehovah se herinneringe afgewyk nie’. Ons het God se bevele lief en is dus veilig in sy liefderyke goedhartigheid (Psalm 119:157-159). Jehovah se herinneringe stimuleer ons geheue sodat ons onthou wat hy in spesifieke situasies van ons vereis. God se bevele daarenteen is riglyne, en ons erken geredelik ons Skepper se reg om ons te rig. Omdat ons weet dat ‘die hele inhoud van God se woord waarheid is’ en dat ons nie ons voetstappe op ons eie kan rig nie, aanvaar ons goddelike leiding met graagte.—Psalm 119:160; Jeremia 10:23.

20. Waarom het ons “oorvloedige vrede”?

20 Ons liefde vir Jehovah se wet bring vir ons oorvloedige vrede mee (Psalm 119:161-168). Vervolging beroof ons nie van die onvergelyklike “vrede van God” nie (Filippense 4:6, 7). Ons het so ’n groot waardering vir Jehovah se regterlike beslissings dat ons hom dikwels—“sewe keer per dag”—daarvoor loof (Psalm 119:161-164). “Oorvloedige vrede behoort aan dié wat u wet liefhet”, het die psalmis gesing, “en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (Psalm 119:165). As ons as individue Jehovah se wet liefhet en onderhou, sal niks wat iemand anders doen of enigiets anders ons laat struikel nie.

21. Watter skriftuurlike voorbeelde toon dat ons nie hoef te struikel wanneer probleme in die gemeente ontstaan nie?

21 Baie persone in die Bybel het nie toegelaat dat enigiets vir hulle ’n blywende struikelblok is nie. Byvoorbeeld, die Christenman Gajus het nie gestruikel nie, maar het ondanks die goddelose gedrag van Diotrefes ‘voortgegaan om in die waarheid te wandel’ (3 Johannes 1-3, 9, 10). Paulus het die Christenvroue Euodia en Sintige vermaan “om eendersdenkend te wees in die Here”, waarskynlik omdat probleme tussen hulle ontstaan het. Hulle is blykbaar gehelp om hulle probleem op te los, en hulle het voortgegaan om Jehovah getrou te dien (Filippense 4:2, 3). Ons hoef dus nie te struikel wanneer probleme van die een of ander aard in die gemeente ontstaan nie. Laat ons ons daarop toelê om Jehovah se bevele te onderhou, terwyl ons in gedagte hou dat ‘al ons weë voor hom is’ (Psalm 119:168; Spreuke 15:3). Dan sal niks ons permanent van “oorvloedige vrede” beroof nie.

22. (a) Watter voorreg kan ons geniet as ons gehoorsaam is aan God? (b) Hoe moet ons party beskou wat van die Christengemeente weggedwaal het?

22 As ons altyd gehoorsaam is aan Jehovah, sal ons die voorreg hê om hom te bly loof (Psalm 119:169-176). Wanneer ons in ooreenstemming met God se voorskrifte lewe, geniet ons nie net geestelike veiligheid nie, maar ‘Jehovah se lof bly by ons lippe uitborrel’ (Psalm 119:169-171, 174). Dit is die grootste voorreg wat ons in hierdie laaste dae kan hê. Die psalmis wou bly lewe en Jehovah bly loof, maar op die een of ander manier wat nie genoem word nie, het hy “soos ’n verlore skaap gedwaal” (Psalm 119:175, 176). Party wat van die Christengemeente weggedwaal het, het God moontlik nog lief en wil hom dalk nog loof. Laat ons dus alles in ons vermoë doen om hulle te help sodat hulle weer geestelike veiligheid kan verkry en die vreugde kan smaak om Jehovah saam met sy volk te loof.—Hebreërs 13:15; 1 Petrus 5:6, 7.

Blywende lig vir ons pad

23, 24. Hoe het Psalm 119 jou tot voordeel gestrek?

23 Psalm 119 kan ons op verskillende maniere tot voordeel strek. Dit kan ons byvoorbeeld help om in groter mate op God te vertrou, want dit wys dat dit ware geluk meebring wanneer ’n mens “in die wet van Jehovah wandel” (Psalm 119:1). Die psalmis herinner ons daaraan dat ‘die hele inhoud van God se woord waarheid is’ (Psalm 119:160). Dit behoort ongetwyfeld ons waardering vir die hele geskrewe Woord van God te vergroot. As ons oor Psalm 119 peins, behoort dit ons te beweeg om die Skrif ywerig te bestudeer. Die psalmis het God herhaaldelik versoek: “Leer my u voorskrifte” (Psalm 119:12, 68, 135). Hy het ook gesmeek: “Leer my goedheid, verstandigheid en kennis, want in u gebooie het ek geloof beoefen” (Psalm 119:66). Dit sal verstandig van ons wees om op soortgelyke wyse te bid.

24 Goddelike onderrigting maak ’n intieme verhouding met Jehovah moontlik. Die psalmis noem homself herhaaldelik God se kneg. Trouens, hy spreek Jehovah met hierdie roerende woorde aan: “Ek behoort aan u” (Psalm 119:17, 65, 94, 122, 125; Romeine 14:8). Wat ’n voorreg is dit tog om Jehovah as een van sy Getuies te dien en te loof! (Psalm 119:7). Dien jy God vreugdevol as ’n Koninkryksverkondiger? Indien wel, kan jy daarvan seker wees dat Jehovah sal voortgaan om jou in hierdie werk, wat so ’n voorreg is, te onderskraag en te seën as jy altyd op sy woord vertrou en dit jou pad laat verlig.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom moet ons lief wees vir God se woord?

• Hoe word ons deur God se woord onderskraag?

• Hoe help Jehovah se herinneringe ons?

• Waarom is Jehovah se volk veilig en geniet hulle vrede?

[Prent op bladsy 16]

God se woord is ’n bron van geestelike lig

[Prent op bladsy 17]

As ons Jehovah se herinneringe liefhet, sal hy ons nooit as “metaalskuim” beskou nie

[Prente op bladsy 18]

As ons die Bybel elke dag lees, sal ons moontlik geredelik aan nuttige gedeeltes dink wanneer ons bid

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel