Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 9/15 bl. 13-18
  • Jehovah se gees lei sy volk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se gees lei sy volk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vra God om sy gees
  • Jehovah is bereid om te help
  • Hoe die gees help
  • “Met onuitspreeklike sugtinge”
  • Moet nooit die gees bedroef nie
  • Hou aan bid om heilige gees
  • ‘In die naam van die heilige gees’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wandel deur gees en leef jou toewyding na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Gelei deur God se gees in die eerste eeu en vandag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Het ek die heilige gees my persoonlike helper gemaak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 9/15 bl. 13-18

Jehovah se gees lei sy volk

“Laat u goeie Gees my lei in ’n gelyk land.”—PSALM 143:10.

1, 2. Wat kan Jehovah se lojale knegte ontstel?

‘EK VOEL so terneergedruk! Waar kan ek vertroosting kry? Het God my verlaat?’ Voel jy ooit so? Indien wel, is jy nie alleen nie. Al bevind Jehovah se lojale knegte hulle in die florerende geestelike paradys, kom hulle, soos die res van die mensdom, soms voor ontstellende probleme, beproewinge en versoekings te staan.—1 Korinthiërs 10:13.

2 Miskien kwel die een of ander langdurige beproewing of oorsaak van groot spanning jou. Jy treur dalk oor die dood van ’n geliefde en voel dalk uiters alleen. Of dalk is jou hart beswaar omdat ’n dierbare vriend siek is. Sulke omstandighede kan jou van jou vreugde en vrede beroof en dit bedreig dalk selfs jou geloof. Wat moet jy doen?

Vra God om sy gees

3. Watter optrede sal verstandig wees as iets jou van eienskappe soos vrede en vreugde beroof?

3 As iets jou van jou vrede, vreugde of ’n ander godvrugtige eienskap beroof, sal dit verstandig wees as jy om God se heilige gees, of werkende krag, bid. Waarom? Omdat Jehovah se gees goeie vrugte voortbring wat ’n Christen help om probleme, beproewinge en versoekings die hoof te bied. Nadat die apostel Paulus Christene teen “die werke van die vlees” gewaarsku het, het hy geskryf: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie.”—Galasiërs 5:19-23.

4. Waarom sal dit gepas wees om spesifiek te wees in jou gebede wanneer jy voor ’n beproewing of versoeking te staan kom?

4 Weens die soort beproewinge waarmee jy te kampe het, besef jy dalk dat jy gevaar loop om jou sagmoedigheid te verloor. Wees dan spesifiek in jou gebede en vra Jehovah God om jou die vrug van die gees, sagmoedigheid, te gee. As jy voor ’n versoeking te staan kom, het jy veral selfbeheersing nodig. Dit sal natuurlik ook gepas wees om Goddelike hulp te vra om die versoeking te weerstaan, om van Satan verlos te word en om die nodige wysheid te hê om die beproewing te deurstaan.—Mattheüs 6:13; Jakobus 1:5, 6.

5. Wat kan jy doen as omstandighede so ontstellend is dat jy nie weet om watter vrug van die gees jy moet bid nie?

5 Maar partykeer is omstandighede so ontstellend of verwarrend dat jy nie weet watter vrug van die gees jy nodig het nie. Trouens, vreugde, vrede, sagmoedigheid en ander godvrugtige eienskappe is dalk almal in gevaar. Wat staan jou dan te doen? Vra God om jou die heilige gees self te gee en laat toe dat dit die nodige vrugte in jou geval voortbring. Die vrug wat jy nodig het, is dalk liefde of vreugde of vrede of ’n kombinasie van die vrugte van die gees. Bid ook dat God jou sal help om die leiding van sy gees te volg, want hy gebruik dit om sy volk te rig.

Jehovah is bereid om te help

6. Hoe het Jesus vir sy volgelinge beklemtoon hoe belangrik dit is om sonder ophou te bid?

6 Toe dissipels van Jesus Christus hom gevra het om hulle te leer bid, het hy beklemtoon dat hulle onder andere om God se gees moes bid. Jesus het eers ’n illustrasie gebruik om hulle aan te spoor om sonder ophou te bid. Hy het gesê: “Wie van julle sal ’n vriend hê en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode, want ’n vriend van my het van ’n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie—en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie. Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het.”—Lukas 11:5-8.

7. Wat is die kern van Jesus se woorde in Lukas 11:11-13, en watter versekering gee hulle ons aangaande God en sy gees?

7 Jehovah is bereid om elkeen van sy getroue, toegewyde knegte te help, en hy luister na hulle versoeke. Maar as so iemand “aanhou bid”, soos Jesus gesê het, toon dit ’n hartgrondige begeerte en is dit ’n blyk van geloof (Lukas 11:9, 10, NW). Christus het verder gesê: “En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ’n klip gee; of ook ’n vis, en hy sal hom in plaas van ’n vis ’n slang gee; of ook as hy ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:11-13). As ’n aardse ouer, wat min of meer sleg is weens oorgeërfde sonde, goeie dinge vir sy kind gee, sal ons hemelse Vader tog sekerlik aanhou om sy heilige gees aan al sy lojale diensknegte te gee wat nederig daarom vra.

8. Hoe is Psalm 143:10 op Dawid, Jesus en God se hedendaagse knegte van toepassing?

8 As ons by God se gees wil baat vind, moet ons net soos Dawid gewillig wees om die leiding daarvan te volg. Hy het gebid: “Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ’n gelyk land” (Psalm 143:10). Dawid, wat voëlvry verklaar is deur die Israelitiese koning Saul, wou hê dat God se gees hom moes lei sodat hy seker kon wees dat sy lewensweg opreg was. Mettertyd het Abjatar met ’n priester se skouerkleed gekom wat gebruik is om God se wil vas te stel. As God se priesterlike verteenwoordiger het Abjatar Dawid instruksies gegee sodat sy optrede Jehovah sou behaag (1 Samuel 22:17–23:12; 30:6-8). Soos Dawid is Jesus deur Jehovah se gees gelei, en dit is ook die geval met Christus se gesalfde volgelinge as ’n groep. In 1918-19 het die mensegemeenskap hulle as verworpenes beskou, en hulle godsdiensvyande het gedink dat hulle hulle kon vernietig. Die gesalfdes het in gebed ’n uitweg uit hulle onbedrywige toestand gevra, en in 1919 het God hulle gebede verhoor, hulle verlos en hulle gehelp om weer bedrywig te word in sy diens (Psalm 143:7-9). Jehovah se gees het sy volk ongetwyfeld destyds gehelp en gelei, net soos dit vandag nog doen.

Hoe die gees help

9. (a) Hoe is die heilige gees ’n “helper”? (b) Hoe weet ons dat die heilige gees nie ’n persoon is nie? (Sien voetnoot.)

9 Jesus Christus het die heilige gees ’n “helper” genoem. Hy het byvoorbeeld vir sy volgelinge gesê: “Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster [“helper”, NW] gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” Daardie “helper” sou onder andere ’n onderrigter wees, want Christus het belowe: “Die Trooster [“helper”, NW], die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Die gees sou ook van Christus getuig, en hy het sy dissipels verseker: “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster [“helper”, NW] nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur.”—Johannes 14:16, 17, 26; 15:26; 16:7.a

10. In watter opsigte is die heilige gees ’n helper?

10 Jesus het op Pinksterdag, 33 G.J., die beloofde heilige gees uit die hemel op sy volgelinge uitgestort (Handelinge 1:4, 5; 2:1-11). As ’n helper het die gees hulle ’n beter begrip van God se wil en voorneme gegee en sy profetiese Woord vir hulle geopen (1 Korinthiërs 2:10-16; Kolossense 1:9, 10; Hebreërs 9:8-10). Daardie helper het Jesus se dissipels ook die krag gegee om getuies tot aan die uiterste van die aarde te wees (Lukas 24:49; Handelinge 1:8; Efesiërs 3:5, 6). Vandag kan die heilige gees ’n toegewyde Christen help om in kennis toe te neem as hy die geestelike voorsienings gebruik wat deur middel van “die getroue en verstandige dienskneg” van God af kom (Mattheüs 24:45-47). God se gees kan help deur die nodige moed en krag te voorsien om as een van Jehovah se knegte te getuig (Mattheüs 10:19, 20; Handelinge 4:29-31). Maar die heilige gees help God se volk ook op ander maniere.

“Met onuitspreeklike sugtinge”

11. Wat moet ’n Christen doen as ’n beproewing oorweldigend lyk?

11 Wat moet ’n Christen doen as hy gekwel word deur ’n beproewing wat oorweldigend lyk? Vra in gebed om die heilige gees en laat dit sy werk doen! “Net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp”, het Paulus gesê, “want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.”—Romeine 8:26, 27.

12, 13. (a) Hoe is Romeine 8:26, 27 op gebede wat in besonder beproewende omstandighede gedoen word van toepassing? (b) Wat het Paulus en sy metgeselle gedoen toe hulle in die gebied van Asië onder besondere groot druk was?

12 Daardie heiliges vir wie God se gees intree, is Jesus se gesalfde volgelinge wat ’n hemelse hoop het. Maar hetsy jy ’n hemelse roeping of ’n aardse hoop het, jy kan as ’n Christen die hulp van God se heilige gees verkry. Jehovah gee soms ’n direkte antwoord op ’n spesifieke gebed. Soms kan ’n mens egter so ontsteld wees dat jy nie jou gevoelens in woorde kan uitdruk nie en Jehovah net met onuitgespreekte sugte kan nader. Trouens, jy weet dalk nie wat die beste vir jou is nie en sal dalk selfs die verkeerde ding vra as jy nie om die heilige gees bid nie. God weet jy wil hê dat sy wil moet geskied, en hy is bewus van wat jy werklik nodig het. Daarbenewens het hy deur middel van sy heilige gees baie gebede in sy Woord laat opteken, en hulle handel oor beproewende situasies (2 Timotheüs 3:16, 17; 2 Petrus 1:21). Jehovah kan dus woorde wat sekere gevoelens in sulke geïnspireerde gebede uitdruk, beskou as woorde wat jy as een van sy knegte wil uitspreek, en hy kan die gebede ten behoewe van jou verhoor.

13 Paulus en sy metgeselle het dalk nie geweet waarvoor hulle moes bid toe hulle in die gebied van Asië verdrukking ervaar het nie. ‘Die swaar wat hulle moes verduur, het ver bo hulle kragte gegaan, en dit het vir hulle gevoel asof die doodvonnis klaar oor hulle uitgespreek is.’ Maar hulle het ander gevra om vir hulle te bid en het op God vertrou, wat die dode kan opwek, en hy het hulle gered (2 Korinthiërs 1:8-11, NAV). Hoe vertroostend is dit tog dat Jehovah God na die gebede van sy getroue knegte luister en dit verhoor!

14. Watter goeie gevolge kan dit hê as Jehovah toelaat dat ’n beproewing ’n tyd lank voortduur?

14 God se volk word dikwels as ’n organisasie deur beproewinge geteister. Soos vroeër genoem is, is hulle gedurende die Eerste Wêreldoorlog vervolg. Al het hulle destyds nie ’n duidelike begrip van hulle posisie gehad nie en hulle gevolglik nie presies geweet het wat om in gebed te vra nie, het Jehovah se Woord profetiese gebede bevat wat hy ten behoewe van hulle verhoor het (Psalms 69, 102, 126; Jesaja, hoofstuk 12). Maar sê nou Jehovah laat toe dat ’n beproewing ’n tyd lank voortduur? Dit kan veroorsaak dat ’n getuienis gegee word, dat party die waarheid aanneem, en dit gee Christene die geleentheid om broederliefde te betoon deur vir medegelowiges wat ly te bid of hulle op ander maniere te help (Johannes 13:34, 35; 2 Korinthiërs 1:11). Onthou dat Jehovah sy volk deur middel van sy heilige gees lei, dat hy doen wat hulle tot voordeel sal strek, en dat hy altyd sake só laat uitwerk dat sy naam vereer en geheilig sal word.—Exodus 9:16; Mattheüs 6:9.

Moet nooit die gees bedroef nie

15. Wat kan Christene vertrou dat Jehovah se gees ten behoewe van hulle sal doen?

15 As jy ’n kneg van Jehovah is, moet jy derhalwe gedurende beproewinge en ander tye om die heilige gees bid. Dan moet jy sorg dat jy sy leiding volg, want Paulus het geskryf: “Bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Efesiërs 4:30). God se gees was en is ’n seël, of ’n ‘waarborg van wat getroue, gesalfde Christene nog sal ontvang’—dit wil sê, onsterflike hemelse lewe (2 Korinthiërs 1:22, NAV; Romeine 8:15; 1 Korinthiërs 15:50-57; Openbaring 2:10). Gesalfde Christene sowel as dié met ’n aardse hoop kan op Jehovah se gees vertrou om baie vir hulle te doen. Dit kan hulle in ’n lewe van getrouheid lei en hulle help om sondige werke te vermy wat kan maak dat hulle hulle God se misnoeë op die hals haal, sy heilige gees verloor en nie die ewige lewe verkry nie.—Galasiërs 5:19-21.

16, 17. Hoe kan ’n Christen die gees bedroef?

16 Hoe kan ’n Christen die gees bewustelik of onbewustelik bedroef? Wel, Jehovah gebruik sy gees om eenheid te bevorder en om verantwoordelike manne in die gemeente aan te stel. As ’n lid van die gemeente dus teen die aangestelde ouere manne murmureer, lasterlike skinderpraatjies versprei ensovoorts, volg hy nie die leiding van God se gees, wat tot vrede en eenheid lei, nie. Hy sal die gees in ’n breë sin bedroef.—1 Korinthiërs 1:10; 3:1-4, 16, 17; 1 Thessalonicense 5:12, 13; Judas 16.

17 Toe Paulus aan Christene in Efese geskryf het, het hy hulle gewaarsku teen neigings tot leuens, volgehoue toornigheid, diefstal, ongepaste woorde, ’n wellustige belangstelling in hoerery, skandelike gedrag en onwelvoeglike praatjies. As ’n Christen toelaat dat hy na sulke dinge neig, sou hy die Bybel se gees-geïnspireerde raad teëgaan (Efesiërs 4:17-29; 5:1-5). Ja, en hy sal God se gees sodoende in ’n mate bedroef.

18. Wat kan met enige Christen gebeur wat die raad van God se gees-geïnspireerde Woord begin ignoreer?

18 Enige Christen wat die raad van Jehovah se gees-geïnspireerde Woord begin ignoreer, kan in werklikheid begin om gesindhede of eienskappe aan te leer wat tot opsetlike sonde en die verlies van Goddelike goedkeuring kan lei. Al beoefen hy nie tans sonde nie, kan hy in daardie rigting beweeg. So ’n Christen wat teen die leiding van die gees gaan, sal dit in werklikheid bedroef. Hy sal dus ook Jehovah, die Bron van die heilige gees, teenstaan en hom bedroef. Niemand wat God liefhet, wil dít tog ooit doen nie!

Hou aan bid om heilige gees

19. Waarom het Jehovah se volk veral vandag sy gees nodig?

19 As jy ’n kneg van Jehovah is, moet jy aanhou om te bid om sy heilige gees. Veral in hierdie “laaste dae” met hulle uiters swaar tye het Christene die hulp van God se gees nodig (2 Timotheüs 3:1-5). Die Duiwel en sy demone, wat uit die hemel gewerp en nou in die omgewing van die aarde is, voer ’n stryd teen Jehovah se organisasie. Daarom het God se volk sy heilige gees nou nodiger as ooit om hulle te lei, of te rig, en hulle in staat te stel om swaar tye en vervolging te deurstaan.—Openbaring 12:7-12.

20, 21. Waarom moet ons die leiding van God se Woord, sy gees en sy organisasie volg?

20 Toon altyd waardering vir die hulp wat Jehovah God deur middel van sy heilige gees voorsien. Volg die leiding van sy gees-geïnspireerde Woord, die Bybel. Gee God se aardse organisasie wat deur sy gelees gelei word jou volle samewerking. Moet nooit toelaat dat jy op ’n onskriftuurlike weg afdwaal wat daarop sou neerkom dat jy die heilige gees bedroef nie, want dit kan uiteindelik daartoe lei dat dit onttrek word en jy gevolglik geestelik skipbreuk ly.—Psalm 51:13.

21 Die enigste manier waarop ons Jehovah kan behaag en ’n vreedsame, vreugdevolle lewe kan lei, is om deur sy gees gelei te word. Onthou ook dat Jesus die heilige gees ’n “helper”, of “Trooster”, genoem het (Johannes 14:16). Deur middel daarvan vertroos God Christene en versterk hy hulle om hulle beproewinge te deurstaan (2 Korinthiërs 1:3, 4). Die gees gee Jehovah se volk die krag om die goeie nuus te verkondig en help hulle om skriftuurlike gedagtes te onthou sodat hulle ’n goeie getuienis kan lewer (Lukas 12:11, 12; Johannes 14:25, 26; Handelinge 1:4-8; 5:32). Deur gebed en die leiding van die gees kan Christene toetse van geloof met hemelse wysheid deurstaan. Hulle hou dus in alle lewensomstandighede aan om in gebed om God se heilige gees te vra. Gevolglik lei Jehovah se gees sy volk.

[Voetnoot]

a Al word die heilige gees as ’n “helper” verpersoonlik, is dit nie ’n persoon nie, want ’n onsydige Griekse voornaamwoord (wat met “dit” vertaal word) word met betrekking tot die gees gebruik. In Hebreeus word vroulike voornaamwoorde eweneens met betrekking tot die verpersoonliking van wysheid gebruik (Spreuke 1:20-33; 8:1-36). Daarbenewens is die heilige gees “uitgestort”, wat nie met ’n persoon gedoen kan word nie.—Handelinge 2:33.

Wat is jou antwoorde?

◻ Waarom moet ons om Jehovah se heilige gees bid?

◻ Hoe is die heilige gees ’n helper?

◻ Wat beteken dit om die gees te bedroef, en hoe kan ons dit vermy?

◻ Waarom moet ons aanhou om in gebed om die heilige gees te vra en sy leiding te volg?

[Prent op bladsy 15]

Soos ’n liefdevolle vader goeie dinge vir sy seun gee, gee Jehovah heilige gees aan sy knegte wat daarom bid

[Prent op bladsy 17]

Weet jy hoe God se gees vir biddende Christene intree?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel