Kan enigiets jou skei van die liefde van God?
“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”—ROMEINE 8:38, 39.
1. Op watter maniere word God se liefde daagliks geopenbaar?
GOD is liefde. Ons ondervind dit daagliks, op lewensonderhoudende maniere. Die lug wat ons inasem, die water wat ons drink, die voedsel wat ons eet—dit is alles blyke van God se liefde. Bowendien geniet goeies en slegtes hierdie dinge, of hulle dit waardeer of nie. Jesus het hiervan getuig toe hy van sy hemelse Vader gesê het: “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Mattheüs 5:45). Elke lewende skepsel op aarde is aan God dank verskuldig vir sy lewensonderhoud.—Psalm 145:15, 16.
2. Hoe is Jehovah se groot liefde vir die mensdom getoon, en hoe het Jesus waardering getoon vir Jehovah se wil?
2 Vir menseskepsele het die liefde van God baie verder gegaan as die blote onderhouding van hierdie teenswoordige lewe wat soos die blom verwelk en soos die gras verdor (1 Petrus 1:24). Hy het dit moontlik gemaak dat die mensdom vir ewig kan lewe: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Hierdie voorsiening het Vader sowel as Seun veel gekos. Die nag voor sy dood het Jesus in Getsemane op die grond neergeval en in soveel angs gebid dat ‘sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val’. In hierdie uur van benoudheid het Jesus gedink aan die smaad wat op God se naam gewerp word, en hy het selfs gevra dat die beker weggeneem word. Maar hy het bygevoeg: “Nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil” (Lukas 22:44; Markus 14:36). Hoewel Jesus in doodsangs verkeer het, het hy Jehovah se wil eerste gestel. Nie eens die vooruitsig van geseling en ’n stadige dood aan ’n folterpaal kon hom skei van die liefde van God nie.
3. Watter woorde van Paulus maak Jehovah se Getuies vandag hulle eie, en met watter gevolge vir hulleself?
3 Jehovah se Getuies wat vandag Jesus se voetstappe navolg, stel eweneens Jehovah se wil eerste. “As God vir ons is”, sê hulle, in die woorde van die apostel Paulus, “wie kan teen ons wees? Wie sal ons skei van die liefde van Christus—verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:31, 35, 37). Gedurende hierdie eeu is Jehovah se Getuies al deur gepeupelbendes aangeval, hulle is al geslaan, geteer-en-veer, vermink, verkrag, uitgehonger, deur vuurpelotons vermoor, en selfs onthoof in Nazi-konsentrasiekampe—alles omdat hulle geweier het om hulle van die liefde van God te skei.
4. Hoe is jy beïndruk deur een jong man se weiering om hom van die liefde van God te laat skei?
4 Vier-en-veertig jaar gelede het ’n jong man, een van Jehovah se Getuies, uit ’n Nazi-konsentrasiekamp aan sy ouers geskryf en onder meer gesê:
“Dit is nou nege-uur op die dag van my verhoor, maar ek moet tot 11:30 wag. Ek skryf hierdie reëls in ’n afgesonderde sel van die staatskrygshof. Ek het soveel gemoedsrus, wat eintlik moeilik is om te glo; maar ek het ook alles aan die Here opgedra, en daarom kan ek kalm wag vir hierdie uur en in die voortdurende kettings. Hulle het vir julle gesê dat ek nie geketting sou word nie. Leuens! Dag en nag: net om te verklee en vir selskoonmaak word jy ontketen . . .
“12:35. Dit is nou alles verby. Omdat ek gebly het by my beswaar [teen hulle eis dat hy sy aanbidding van Jehovah God prysgee], is die doodvonnis gevel. Ek het geluister, en toe, nadat ek die woorde ‘Wees getrou tot die dood toe’ en ’n paar ander woorde van onse Here geuiter het, was dit alles verby. Maar dit is nie nou ter sake nie. Ek het sulke vrede, sulke gemoedsrus, dat julle julle dit nooit kan voorstel nie. . . . Hierdie vrede, hierdie vreugde wat reeds in die hofsaal oor my gekom het, wat die wêreld nooit kan verstaan nie, het my oorweldig toe ek in my sel teruggekom het . . . Moenie huil nie. . . . Dit is die beste wat ek julle en al die geliefde broeders vandag, die laaste Sondag voor my teregstelling (onthoofding), kan gee, die dag waarop ek ontketen sal word.”a
“Hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak”
5, 6. Watter versekering van sowel Paulus as Petrus is bemoedigend vir die wat swaar beproef word omdat hulle aan die liefde van God vashou?
5 Hierdie jong man is van die lewe geskei, maar nie van die liefde van God nie. Jehovah se Getuies was deur die eeue heen die skyf van soortgelyke gruweldade. Die vermoë van God se knegte om sulke vervolging te verduur, selfs tot die dood toe, is nie aan hulle eie krag te danke nie, maar aan God s’n. “God is getrou”, verseker Paulus ons, “wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). Wanneer hulle beproewing verduur, kan Jehovah se getroue getuies vandag sê soos Paulus gesê het toe hy in die gevangenis was: “Die Here het my bygestaan en my krag gegee.”—2 Timotheüs 4:17.
6 Nadat die apostel Petrus ons gewaarsku het om te waak teen die Duiwel, wat rondsluip soos ’n brullende leeu wat ons wil verslind, gee hy die versekering: “Nadat julle ’n kort tydjie gely het, sal die God van alle onverdiende goedheid, wat julle geroep het tot sy ewige heerlikheid in eendrag met Christus, self julle opleiding voleindig, hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak” (1 Petrus 5:8-10, NW). In die lig van al hierdie goddelike ondersteuning staan een ding soos ’n paal bo water: God se liefde is onfeilbaar; enige skeiding daarvan sal ons skuld wees, nie syne nie.
7. Watter taktiek het Satan met Jesus gebruik, en hoe het Jesus hom oorwin?
7 Satan val ons nie altyd soos ’n brullende leeu aan nie. Baiemaal kom hy as ’n ‘listige slang’ en selfs as ’n afvallige “engel van die lig”. Hy smee bose planne teen ons, en ons moet wakker wees sodat ons nie in sy strikke beland nie. Ons moet die volle wapenrusting van God aantrek “sodat [ons] staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Genesis 3:1; 2 Korinthiërs 2:11; 11:13-15; Efesiërs 6:11). Aan die begin van Jesus se bediening het Satan na hom gekom en tekste aangehaal maar die toepassing verdraai in ’n poging om Jesus te laat sondig. Drie keer het hy Jesus versoek en drie keer het sy pogings misluk. Jesus het Satan se Skrifverdraaiing weerstaan deur tekste aan te haal en reg toe te pas. Toe het Jesus vir Satan gesê om weg te gaan. Maar Satan het net “’n tyd lank van Hom gewyk”.—Lukas 4:13; Mattheüs 4:3-11.
8, 9. Op watter slinkse maniere het Satan teruggekom om Jesus aan te val, en wat het Paulus ons aangespoor om ter wille van ons beskerming te doen?
8 Satan gooi nie tou op nie. Hy kom telkemaal terug, in verskillende vermommings. Hy het na Jesus teruggekom deur middel van die geestelikes van daardie tyd. Jesus het dit begryp en reguit vir hulle gesê: “Julle het die duiwel as vader.” Sommige mense kan selfs onopsetlik Satan se doelstellings bevorder. Die apostel Petrus het dit gedoen toe hy, ofskoon met goeie bedoelings, Jesus bestraf het deur te sê: “Wees goed vir uself, Heer; u sal glad nie hierdie bestemming hê nie.” Jesus moes Petrus streng vermaan: “Gaan agter my, Satan! Jy is vir my ’n struikelblok” (Johannes 8:44; Mattheüs 16:22, 23, NW). Net so kan ’n werkgewer, ’n werkmaat, ’n skoolmaat, ’n vriend, ’n familielid, ’n ouer of ’n huweliksmaat onbewus Satan se oogmerke bevorder. Ons moet altyd op ons hoede wees en nie toelaat dat enigiets ons verhouding met Jehovah ondermyn nie.
9 Dit is dus noodsaaklik om “die volle wapenrusting van God aan [te trek], sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen . . . die bose geeste in die lug.”—Efesiërs 6:11, 12.
Die houvas van sonde op die gevalle vlees
10. Wat beteken die woord “sonde”, en watter werke sal ons van die liefde van God skei?
10 Satan val ons swak plekke aan. Daarom maak hy ons vleeslike geneigdheid tot sonde sy gunstelingteiken (Psalm 51:7). Die Griekse woord vir sonde is ha·mar·tiʹa. Die werkwoord is ha·mar·taʹno, wat basies beteken “om die doel te mis” (Romeine 3:9, voetnoot in NW-naslaanuitgawe). Hoe meer ons die doel mis en in gebreke bly om God se gebooie te hou, hoe meer onttrek ons ons van God se liefde, want “dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 5:3). Egbreuk, hoerery, seksuele perversiteite, fuiwery, wilde partytjies, onbeteuelde hartstog, jaloersheid, woede-uitbarstings, materialistiese begeertes—al hierdie dinge skei ons van die liefde van God, en “die wat sulke dinge doen, [sal] die koninkryk van God nie . . . beërwe nie”.—Galasiërs 5:19-21.
11. Hoe kan sonde geleidelik ’n houvas op ons kry, en waartoe sal dit uiteindelik lei?
11 Rolprente, boeke, toneelstukke, TV-programme—met ’n oormaat materialistiese, egosentriese, seksueel georiënteerde advertensies—bevorder die najaging van onbeteuelde en ongebonde genot. Die eerste sonde maak die tweede makliker, die derde en vierde volg, en gou-gou is daar nie meer keer aan die val tot wêreldsheid nie. Die wat “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” is, stel naderhand in net een ding belang, en dit is ‘om voorsorg te maak vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig’ (2 Timotheüs 3:4; Romeine 13:14). Oud en jonk word deur sonde verswelg, en hulle gewetens raak heeltemal verskroei. “Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.”—Efesiërs 4:19, NAV; 1 Timotheüs 4:2.
12. Watter tekste toon die mag wat die sonde oor ons het, en hoe het Paulus dit betreur?
12 Die wat vasbeslote is om hulle nie van die liefde van God te laat skei nie, moet hulleself versterk teen die houvas van sonde op die gevalle vlees. Dit is ’n gedugte vyand, soos die Bybel by herhaling beklemtoon: “Elkeen wat die sonde doen, [is] ’n dienskneg van die sonde”, “almal [is] onder die sonde”, “almal het gesondig”, “laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers [nie]”, “julle [is] diensknegte . . . van hom aan wie julle gehoorsaam is”, “die loon van die sonde is die dood”, en almal is “onder die sonde” (Johannes 8:34; Romeine 3:9, 23; 6:12,16, 23; Galasiërs 3:22). Paulus was “verkoop onder die sonde”, ’n gevangene “onder die wet van die sonde”, en dit het hom laat kla: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Romeine 7:14, 19, 23). Daarom roep hy uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Dan kom die blye antwoord: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”—Romeine 7:24, 25.
13, 14. (a) Deur middel waarvan is ons van sonde verlos? (b) Hoe kan ons in die liefde van Christus bly?
13 Totdat Christus Jesus gekom het, het ‘die sonde as koning geregeer met die dood’ (Romeine 5:14, 17, 21, vgl. NW). Maar met Jesus se dood en opstanding is koning sonde onttroon vir die wat gunstig reageer op God se liefdevolle gawe, naamlik sy Seun. Hy het ons van ons sondes verlos, hulle afgewas, ons daarvan gereinig, en hulle heeltemal vir ons uitgewis (Mattheüs 1:21; Handelinge 3:19; 22:16; 2 Petrus 1:9; 1 Johannes 1:7; Openbaring 1:5). Nie net die apostel Paulus nie, maar almal wat geloof stel in die vergote bloed van Christus Jesus, moet God dus deur Jesus Christus ons Here dank dat Hy die weg geopen het om van die ellendige, vleeslike verslaafdheid aan sonde en die dood verlos te word.
14 Dit is dus gebiedend dat ons nie net daarteen waak om van die liefde van God geskei te word nie, maar dat ons ook in die liefde van Christus bly. Die formule vir ’n hegte band met Jesus is dieselfde as vir ’n intieme verhouding met God. Jesus het hierop gewys toe hy gesê het: “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”—Johannes 15:9, 10.
Moenie wegdrywe nie
15. Waarvoor is ons kwetsbaar, en wat moet ons doen om die gevaar te vermy?
15 Moenie hierdie verlossing van verslaafdheid aan sonde en die dood verloor deur terug te sak of weg te drywe nie. Dit kan so geleidelik gebeur dat ons onverhoeds betrap word. Soos Galasiërs 6:1 sê: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” Selfs terwyl jy iemand anders vermaan, moet jy ‘op jouself let’. Ons is almal so kwetsbaar! “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie.”—Hebreërs 2:1.
16, 17. Watter illustrasie toon die gevaar dat ’n mens geestelik kan wegdrywe, en wat moet ons doen om dit te verhoed?
16 Dit verg geen inspanning om te dryf nie. Dit is hoekom dit so maklik is—en, geestelik gesproke, so gevaarlik. Jy kan vind dat jy jou van God se liefde skei nog voor jy dit besef. Dit is soos die skaap wat afdwaal. Hoe raak hy verdwaal? ’n Herder verduidelik: ‘Hy verdwaal so wei-wei. Hy sien ’n polletjie groen gras ’n paar tree na die een kant toe en gaan vreet daaraan. Dan sien hy nog ’n kolletjie ’n paar tree verder en gaan vreet daar. ’n Derde kol lyk aanloklik, en die skaap gaan daaraan proe. Weldra is hy ver van die trop af. So al weiende het hy verdwaal.’
17 So gaan dit met die wat geestelik dryf. Dit kan heel onskuldig begin met ’n paar materiële dinge, of wêreldse vriende, of bespiegelings oor sekere tekste. Maar bietjie vir bietjie beweeg sulke persone al verder en verder van die kudde van God af, en spoedig het hulle hulle afgeskei van die gemeente en van die liefde van God. Hulle het nie ag geslaan op Paulus se vermaning nie: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die.proef.”—2 Korinthiërs 13:5.
18, 19. Hoe kan ons die Duiwel van ons laat wegvlug, en hoe nader ons tot God?
18 “Weerstaan die duiwel”, word ons beveel, “en hy sal van julle wegvlug.” Deur behendige gebruik van “die swaard van die Gees—dit is die woord van God”—kan ons die listige aanvalle van Satan afslaan. Dit was hoe Jesus in die woestyn van Satan ontslae geraak het. Ons word ook beveel: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jakobus 4:7, 8; Efesiërs 6:17). Soos die skrywers van die Psalms moet ons na aan God bly deur aan sy woord vas te hou: “Die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.” “Ek gee ag op u getuienisse. U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad. . . . van u getuienisse wyk ek nie af nie.”—Psalm 19:8; 119:95, 105, 157.
19 Deur gebed, deur studie van God se Woord, deur ons broers lief te hê en gereeld saam met hulle te vergader, deur ander van God se Koninkryk te vertel—op al hierdie maniere nader ons tot God en tot sy liefde soos geopenbaar in Christus Jesus ons Here.—1 Thessalonicense 5:17; Romeine 12:2; Hebreërs 10:24, 25; Lukas 9:2.
20. Watter vaste voorneme het Paulus uitgespreek wat ook die vaste voorneme van Jehovah se Getuies vandag is?
20 In ’n omvattende en kragtige verklaring het Paulus uiting gegee aan die vaste voorneme van al Jehovah se getroue getuies wat vandag op aarde is. Hy het gesê: “Ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”—Romeine 8:38, 39.
[Voetnote]
a Die Wagtoring, 1 Augustus 1945, bladsye 237, 238.
Onthou jy?
◻ Hoe blyk Jehovah se liefde uit sy voorsienings vir die lewe?
◻ Watter metodes het Satan al gebruik in ’n poging om Jehovah se Getuies van die liefde van God te skei?
◻ Watter tekste toon die houvas wat sonde op ons het, en hoe kan hierdie houvas verbreek word?
◻ Waarom is dit so gevaarlik om weg te drywe, en hoe kan ons dit teenwerk?
[Prent op bladsy 13]
’n Skaap dwaal bietjie vir bietjie af tot hy heeltemal verdwaal het.