Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/11 bl. 28-29
  • Is geloof en rede versoenbaar?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is geloof en rede versoenbaar?
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geloof wat stewig op rede gegrond is
  • Hoe om geloof in die Bybel op te bou
  • Ware geloof—Wat is dit?
    Ontwaak!—2000
  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Geloof
    Ontwaak!—2016
  • Hoe ware geloof jou kan help
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 1/11 bl. 28-29

Die Bybel se beskouing

Is geloof en rede versoenbaar?

“GELOOF weerspreek rede”, skryf die Britse filosoof A.C. Grayling. Sy woorde som die gevoelens van tallose skrywers en filosowe op wat deur die eeue heen beweer het dat geloof en rede onversoenbaar is.

Party godsdiensoortuigings druis wel teen alle rede in. Maar dink hieraan: Talle wetenskaplike oortuigings waaraan mense vas geglo het, is al verkeerd bewys. Beteken dit dat alle wetenskaplike oortuigings verkeerd is en nie op rede gegrond is nie? Waarom sou ’n mens dan godsdiensoortuigings enigsins anders beskou? Trouens, die geloof wat in die Bybel beskryf word, bestaan nie sonder kennis nie, maar is eerder stewig gegrond op kennis en gesonde rede. Kom ons kyk waarom daar gesê kan word dat ware geloof en rede versoenbaar is.

Geloof wat stewig op rede gegrond is

Die Bybel sê byvoorbeeld dat jou aanbidding “’n heilige diens met [jou] redeneervermoë” moet wees om “vir God aanneemlik” te wees. Met ander woorde, jy moet God aanbid “op ’n manier wat denkende wesens waardig is” (Romeine 12:1; The Jerusalem Bible). Die geloof wat in die Bybel beskryf word, is dus nie ’n blinde, redelose geloof, soos party dit noem nie. En dit is nie goedgelowigheid nie. Dit is eerder iets wat jy goed deurdink het—wat lei tot vertroue in God en sy Woord, wat stewig op rede gegrond is.

As jy reg wil redeneer, het jy natuurlik akkurate inligting nodig. Selfs die doeltreffendste rekenaarprogramme wat ontwerp is volgens bewese beginsels van logika, sal met baie vreemde resultate vorendag kom as onakkurate inligting ingevoer word. Net so sal die gehalte van jou geloof grootliks afhang van wat jy hoor of van hoe betroubaar die inligting is wat jy in jou verstand inneem. Die Bybel sê heel tereg dat “geloof volg . . . op wat gehoor word”.—Romeine 10:17.

’n Fundamentele vereiste vir geloof is “juiste kennis van die waarheid” (1 Timoteus 2:4). Net “die waarheid”, sê die Bybel, “sal julle vrymaak”, vrymaak van misleidende oortuigings, hetsy dit wetenskaplik of godsdienstig is (Johannes 8:32). Die Bybel waarsku jou om nie “elke woord” te glo nie (Spreuke 14:15). Dit sê eerder dat jy moet “seker [maak] van alles”—of toets wat jy hoor voordat jy dit glo (1 Tessalonisense 5:21). Waarom moet jy navorsing doen en jou oortuigings toets? Want geloof wat op valshede gegrond is, is net ’n illusie. Edelmoedige mense van die eertydse stad Berea het ’n goeie voorbeeld daarin gestel om ware geloof op te bou. Hoewel hierdie persone graag wou glo wat Christensendelinge vir hulle geleer het, het hulle ’n punt daarvan gemaak om “die Skrif elke dag sorgvuldig [te] ondersoek of hierdie dinge so was”.—Handelinge 17:11.

Hoe om geloof in die Bybel op te bou

Maar gestel jy twyfel of die Bybel betroubaar is. Hoe kan jy jou vertroue daarin opbou as ’n bron van juiste kennis? Wel, hoe bou jy vertroue op in mense? Dit is sekerlik deur hulle te leer ken—deur te let op hoe hulle hulle oor ’n sekere tydperk gedra en te kyk wat die uiteinde van hulle gedrag is. Jy kan dieselfde met die Bybel doen.a

Die Bybel beskryf ware geloof as “die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Dit is duidelik dat ’n persoon met ware geloof beslis nie naïef is nie, maar sy oortuigings gegrond het op ’n noukeurige ondersoek van alle beskikbare inligting. As ’n mens oor hierdie inligting redeneer, lei dit tot die oortuiging dat selfs dinge wat nie met die letterlike oog gesien kan word nie, nogtans werklikhede is.

Maar gestel dit lyk asof die dinge wat jy leer, party van jou diepste oortuigings weerspreek. Moet jy dit net ignoreer? Natuurlik nie. Daar sal dalk tye wees wanneer dit beslis redelik is om kragtige getuienis te ondersoek wat skynbaar teenstrydig is met wat jy glo. In die Bybel belowe God om opregte waarheidsoekers te beloon deur aan hulle kennis, onderskeidingsvermoë en denkvermoë te verleen.—Spreuke 2:1-12.

Die soort geloof wat gegrond is op wat die Bybel leer, is versoenbaar met rede. Watter soort geloof het jy? Baie mense het hulle godsdiensoortuigings “geërf” en nooit noukeurig ondersoek of dit op rede gegrond is nie. Dit toon egter nie ’n gebrek aan respek om die dinge wat jy glo, te ondersoek om ‘seker te maak’ dat jou denke met God se Woord ooreenstem nie (Romeine 12:2). Die Bybel vermaan ons om “die geïnspireerde uitinge op die proef [te stel] om te sien of hulle hulle oorsprong by God het” (1 Johannes 4:1). As jy dit doen, sal jy jou oortuigings, selfs wanneer dit bevraagteken word, kan “verdedig voor elkeen wat van [jou] ’n rede vir die hoop in [jou] eis”.—1 Petrus 3:15.

[Voetnoot]

a As jy hulp nodig het om betroubare inligting oor die Bybel te vind, kan jy aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf.

HET JY AL GEWONDER?

● Raai die Bybel ons af om ons redeneervermoë te gebruik?—Romeine 12:1, 2.

● Watter soort kennis is noodsaaklik om ware geloof te ontwikkel?—1 Timoteus 2:4.

● Wat kan ons leer uit die Bybel se definisie van geloof?—Hebreërs 11:1.

[Lokteks op bladsy 29]

God beloon mense wat opreg na waarheid soek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel