Hoofstuk 10
Is jy bereid om die waarheid onder die oë te sien?
1, 2. (a) Hoe kan die waarheid ons tot voordeel strek? (b) Wat glo jy is die werklike bron waaruit ware vrede en veiligheid gaan kom?
KENNIS van die waarheid kan van onskatbare waarde wees. As ’n mens dit verstandig gebruik, kan dit jou teen skade of verlies beskerm en tot jou geluk en veiligheid bydra. Dit geld veral vir die waarheid oor wat vir hierdie geslag voorlê.
2 In die lig van wat in hierdie boek aangebied word, stem jy miskien saam dat die mens nie ware vrede en veiligheid kan bring nie. Jy besef moontlik dat wat die Bybel sê die waarheid is—dat net God, deur middel van sy Koninkryk, die probleme waarmee die mensdom te kampe het, kan oplos. Sal dit dan nie verstandig van jou wees om jou lewensweg te vorm in ooreenstemming met wat jy weet die waarheid is nie? (Jakobus 1:22). Wat behels dit?
3. Hoe belangrik is die veranderinge wat ’n persoon in sy lewe moet aanbring as hy in God se Nuwe Orde wil lewe?
3 Die Bybel sit sekere standaarde uiteen waaraan diegene moet voldoen wat God as deel van sy regverdige Nuwe Orde gaan aanvaar. Hierdie standaarde verg dat veranderinge nou aangebring moet word in die lewe van elkeen wat dan wil lewe. Uit ’n menslike standpunt word nie almal se hedendaagse lewenswyse weliswaar as sleg beskou nie. Die verandering na Bybelstandaarde behels nietemin ’n heeltemal nuwe lewensbeskouing. Dit is waarom Romeine 12:2 sê: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
4. Op watter grondslag moet ons bepaal wat reg en wat verkeerd is as ons waarlik ‘in die weg van die waarheid wil wandel’?
4 So ’n transformasie sal die grondslag waarvolgens ons bepaal wat reg en verkeerd is, beïnvloed. In die verlede het ons bes moontlik op die opinies van ander staatgemaak of ons eie standaarde gestel. Maar nou besef ons dat dit juis hierdie beskouing is wat Adam en Eva God as hulle Heerser laat verwerp het, met rampspoedige gevolge. As ons God se goedkeuring wil wegdra, moet ons ons tot hom wend vir ware standaarde van wat reg en wat verkeerd is. Daardie standaarde is geredelik beskikbaar in God se Woord, die Bybel. Psalm 119:151 sê: ‘Al sy gebooie is waarheid.’ As ’n mens daarvolgens handel, beteken dit dat jy ‘in die weg van die waarheid wandel’ (Psalm 86:11). Is dit nie wat jy graag wil doen nie?
Die nodigheid vir raad en dissipline
5. (a) Watter waarheid oor onsself moet ons bereid wees om onder die oë te sien indien ons veranderinge in ons lewe wil aanbring? (b) Wat verhinder dikwels dat iemand ’n fout erken, en met watter gevolg?
5 Indien ’n persoon veranderinge in sy lewe gaan aanbring, moet hy insien dat so iets nodig is. “Daar is geen mens wat nie sondig nie”, sê die Bybel (1 Konings 8:46). Baie mense is egter teësinnig om hulle foute te erken. Waarom? Hoogmoed verhinder hulle. In plaas van nederig hulle foute te erken, pak hulle dikwels die skuld op ander. Dit vererger net die probleem.
6. Tot watter bron moet ons ons wend vir dissipline, en waarom?
6 ’n Ewe groot probleem is dat ons onvolmaak is en nie altyd die regte weg kan onderskei nie. Ons kan selfs mislei word om te dink dat ’n skadelike weg heeltemal in die haak is (Spreuke 16:25). Ons het dus dissipline uit ’n bomenslike bron nodig as ons voortdurend in ons eie belang sowel as dié van ons medemens wil optree. Spreuke 3:11 identifiseer daardie Bron: “My seun, verag die tug van die HERE [“Jehovah”, NW] nie.”
7. (a) Hoe bereik die dissipline van Jehovah ons? (b) Wat toon dit aangaande ons as ons sulke dissipline aanneem en toepas?
7 Hoe voorsien Jehovah hierdie dissipline? Deur middel van sy Woord, die Heilige Bybel. Wanneer ons dus die Bybel lees, of wanneer ’n medegelowige ons aandag vestig op wat dit sê, en ons besef dat ons op die een of ander manier nie aan die vereistes voldoen nie, ontvang ons God se dissipline. As ons daardie dissipline as reg aanneem en iets daaromtrent doen, bewys ons dat ons die waarheid onder die oë sien. Ons erken God se reg om aan ons leiding te gee en toon dat ons die soort mense is wat hy in sy Nuwe Orde wil hê. Ja, ons lewe hang daarvan af dat ons op goddelike dissipline ag slaan!—Spreuke 4:13.
8. (a) Waarom sal ons onsself in werklikheid benadeel as ons voorgee dat ons dissipline aanneem maar nie werklik ons weë verander nie? (b) Waarom is dit ’n troos om te weet dat Jehovah ons sien waar ons ook al is?
8 As ons by God se dissipline baat wil vind, moet ons beslis eerlik met onsself wees. Dit sal ons weinig baat om voor te gee dat ons dissipline aanneem wanneer ander ons sien, net om na ons ou weë terug te keer wanneer hulle ons nie sien nie. As ons huigelaars is, sal dit net ons gewete afstomp. En hoewel mense ons miskien bewonder, kan ons die Skepper nie bedrieg nie. Spreuke 15:3 deel ons mee: “Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.” Die wete dat Jehovah God ons dophou, behoort ons daarvan te weerhou om verkeerd te doen. Ons kan terselfdertyd troos put uit die versekering dat hy “die goeies” met guns aansien.
“Spreek die waarheid met mekaar”
9. (a) Wat word in die wêreld as normaal aanvaar wat die spreek van die waarheid betref? Waarom? (b) Watter verandering is dus nodig as iemand nie langer “aan hierdie wêreld gelykvormig” wil wees nie?
9 Hoewel die meeste mense vandag nie daarop aanspraak maak dat hulle die Bybel streng volg nie, beskou hul hulself nie as oneerlik nie. Maar hoeveel is daar wat altyd die waarheid praat? Baie mense verberg gewoonlik die waarheid of sê slegs wat hulle meen hulle eie belange sal bevorder. Hoewel dit in die wêreld as normaal beskou word, maak dit dit nie reg nie. Die wêreld van die mensdom wat van God vervreem is, ‘lê in die mag van die Bose’. Daardie “Bose”, Satan die Duiwel, is “die vader van die leuen”. Leuens het by hom ontstaan (1 Johannes 5:19; Johannes 8:44, NAV). Dit behoort ’n persoon dus nie te verbaas om uit te vind dat hy ’n groot verandering op die gebied van waarheidsliefde moet aanbring as hy nie langer “aan hierdie wêreld gelykvormig” wil wees nie.
10. Hoe werk die bose kringloop van oneerlikheid ware vrede en veiligheid teë?
10 Daar bestaan goeie rede om eerlik te wees. Niks ondermyn vrede en veiligheid meer as ’n versuim om te alle tye eerlik te wees nie—tuis, by die werk, tydens ontspanning en in sosiale omgang. Wanneer mense nie hulle woord gestand doen nie, wanneer hulle bedrieg of kul, baat dit niemand nie. Die slagoffers van oneerlikheid word dikwels verbitterd en ontstoke. Benewens emosionele en geestespanning kan oneerlikheid liggaamlike skade en selfs die dood veroorsaak. Swak vakmanskap, minderwaardige materiaal en misleidende aansprake het tot ernstige ongelukke bygedra. Die persoon wat dink dat hy iets deur sy oneerlikheid wen, verloor terselfdertyd iets deur die oneerlikheid van ander. Hy betaal ook hoër pryse vir goedere en dienste omdat werknemers en klante steel. Oneerlikheid veroorsaak dus ’n bose kringloop. Namate al hoe meer mense ander uitoorlê, neem frustrasie, geweld, beserings en selfs sterfte toe.
11. Hoe beskou Jehovah oneerlikheid en leuens?
11 Met die oog op sulke slegte vrugte verbaas dit ons nie dat leuens, meineed, valse gewigte en ’n valse weegskaal onder die dinge is wat ‘Jehovah haat’ nie (Spreuke 6:16-19; 20:23). Gewoonteleuenaars sal geen deel hê aan die seëninge wat God gaan uitstort op diegene wat hom liefhet nie (Openbaring 21:8). Is dit nie wat ons van ’n regverdige God sou verwag nie? Hoe sou enigeen in God se Nuwe Orde veilig kon voel as Hy diegene bly duld het wat deur bedrog wins ten koste van hulle naaste wil maak?
12, 13. (a) Wat sê die Bybel self oor die spreek van die waarheid? (b) Hoe bepaal ons eerlikheid of ons Jehovah as sy getuies kan dien?
12 Die Bybel moet dus nie lig opgeneem word wanneer dit beveel nie: “Spreek die waarheid met mekaar” (Sagaria 8:16; Efesiërs 4:25). Wat beloftes of ooreenkomste betref, moet ons “ja” ja beteken, en ons “nee” nee (Jakobus 5:12). As ons “Jehovah die God van waarheid” wil verteenwoordig, moet ons altyd die waarheid praat (Psalm 31:5, NW). As iemand nie die waarheid praat nie, kan hy nie God se respek of dié van sy medemens afdwing nie. Hy kan God ook nie as een van Sy getuies verteenwoordig nie. Die psalmis het gesê: “Aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond? Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog.”—Psalm 50:16, 19.
13 Maar sommige wonder miskien: Kan ’n mens waarheidliewend en eerlik wees en nog steeds in hierdie wêreld kop bo water hou? Kan jy sukses behaal in sake sonder om te doen wat al die ander doen?
God sorg vir diegene wat die waarheid toepas
14. Hoe help die Bybel ons om te besef dat ’n mens wel ’n bestaan kan maak sonder om oneerlik te wees?
14 As iemand sê dat ’n mens nie ’n bestaan kan maak as jy nie oneerlik is nie, sê hy in werklikheid dat God nie omgee vir diegene wat hom liefhet nie. Maar dit is strydig met die ondervinding van God se knegte oor duisende jare (Hebreërs 13:5, 6). Die psalmis Dawid het gesê: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25). Dit wil nie sê dat regverdiges nie moeilikhede of swaar tye ondervind nie. Dawid self was verplig om ’n ruk lank as ’n uitgeworpene te lewe. Maar hy het die lewensbenodigdhede gehad.
15. Wat het Jesus gesê oor God se belangstelling in ons verkryging van materiële dinge om die lewe te onderhou?
15 Die aantrekkingskrag van ware aanbidding is nie stoflike gewin nie. Jesus het nietemin sy volgelinge geleer dat dit gepas is om tot God te bid vir Sy seën op hulle pogings om hul “daaglikse brood” te verkry (Lukas 11:2, 3). Hy het sy dissipels se behoefte aan die lewensbenodigdhede erken en hulle verseker: “Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” Maar hy het hulle aangespoor: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:25-34). Glo jy dit? Dan sal jy nie in die versoeking kom om God se regverdige standaarde te verwerp net omdat ander mense dit doen nie. Jy sal eerder die wysheid waardeer van die woorde in 1 Timotheüs 6:6-8, wat lui: “Die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ’n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”
16. Hoe kan ons toepassing van hierdie Skriftuurlike beginsels ons beskerm?
16 Die toepassing van hierdie raad verg ’n beskouing wat hemelsbreed verskil van dié wat vandag in die wêreld algemeen is. Dit is dan ook ’n deel van die ‘vernuwing van ons gemoed’. Vergenoegdheid met die lewensbenodigdhede voorkom dat ons die najaging van geld en materiële dinge die hoofdoel in ons lewe maak en van ander misbruik maak om hierdie dinge te kry (Spreuke 28:20; Mattheüs 6:24; 1 Timotheüs 6:9, 10). Diegene wat rykdom hulle doel maak, dink dat dit sekuriteit en geluk verteenwoordig. Dit is eerder soos die Bybel sê: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie” (Prediker 5:9). Diegene wat baie besit, wil meer hê. Hulle offer dikwels hulle gesondheid en hulle gesinslewe op om dit te verwerf. Pleks van veilig te voel, lewe hulle in vrees dat hulle hulle besittings sal verloor.
17. (a) Watter waarheid ignoreer iemand as hy sy hart daarop sit om materiële rykdom te verwerf? (b) Watter bewys is daar dat dit prakties is om die beginsel van eerlikheid toe te pas terwyl jy ’n bestaan maak?
17 Iemand wat rykdom najaag, sien nie die feit onder die oë dat iemand ‘se lewe nie uit die oorvloed van sy besittings bestaan’, soos Jesus gesê het nie (Lukas 12:15). Dit is baie beter om te vertrou op God se vermoë om vir sy knegte te sorg. In meer as 200 lande is daar onder miljoene van Jehovah se Getuies lewende bewys dat God sulke voorsiening maak. Onder alle regeringsvorme en in allerlei wettige beroepe voer Getuies van alle rasse en stande gelukkige lewens en word daar in hulle behoeftes voorsien. Hulle geloof in God se vermoë om te voorsien, selfs wanneer eerlikheid hulle oënskynlik benadeel, is beloon. Hulle het die eerbied van hulle medemense afgedwing en word dikwels as werknemers verkies omdat mense nog graag sake doen met diegene wat betroubaar is. Maar nog belangriker is die feit dat regskapenes ’n rein gewete het omdat hulle eerlik is.
18, 19. (a) Waarom het hierdie mense hulle lewens verander om hulle na God se standaarde te skik? (b) Na watter soort mense soek God om hulle tot in sy Nuwe Orde te bewaar?
18 Voordat hulle Jehovah se Getuies geword het, het hulle in ’n meerdere of mindere mate die weë van die wêreld gevolg. Maar as gevolg van Bybelstudie en omdat hulle die waarheid in die Bybel onder die oë gesien het, het hulle hul slegte gebruike gestaak. Nou probeer hulle hard om “alle goeie trou [te] betoon, sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier” (Titus 2:10). Dit was nie altyd vir hulle maklik om die waarheid onder die oë te sien en veranderinge in hulle lewe aan te bring nie. Maar liefde vir die waarheid het hulle gehelp om daarvolgens te handel.
19 Het jy ook sulke liefde vir die waarheid? Dan is jy die soort persoon na wie God soek om tot in sy Nuwe Orde te bewaar. Om vir God aanneemlik te wees, moet jy “in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Dit sal jou anders as die wêreld om jou maak. Daar is ook ander opsigte waarin jy van die wêreld moet verskil om Jehovah te behaag. Wat is dit?
[Prent op bladsy 113]
Kan ’n mens waarheidliewend en eerlik wees en nog steeds in hierdie wêreld kop bo water hou?