Wen die stryd teen depressie
“DIE moeilikste ding wat ek te bowe moes kom”, het Lola erken, “was die skuldgevoel omdat ek hopeloos gevoel het, aangesien ek gedink het dat ek as een van Jehovah se knegte nie só behoort te voel nie.” Hierdie algemene misverstand is dikwels die eerste vyand wat ’n depressiewe Christen moet oorwin. Lola het bygevoeg: “Eers toe ek opgehou het om myself te veroordeel oor my gevoelens en my daarop toegelê het om gesond te word, kon ek die depressie beter bestry.” Ja, depressie op sigself is geen rede om te dink dat jy God in die steek gelaat het nie.
Soos in die vorige artikel genoem is, kan die oorsaak van depressie fisiologies wees. The Watch Tower het in 1915, lank voor die onlangse navorsing wat baie fisiese kwale met depressie verbind het, gesê: “Hierdie swaarmoedigheid van gees, of gevoel van eensaamheid en neerslagtigheid, is somtyds ’n natuurlike gevoel by alle mense . . . [Dit word] in sekere mate deur die toestand van ’n mens se fisiese gesondheid na vore gebring.” As ’n depressiewe bui aanhou, sal ’n doktersondersoek dus moontlik help. As die situasie baie ernstig is, kan ’n mens die siekte laat behandel deur ’n professionele persoon wat in depressie spesialiseer.a
Maar selfs al is die oorsaak nie fisies nie, is dit onrealisties om te verwag dat een van God se knegte nooit hartseer of ontmoedig sal voel nie. Dink net aan hoe getroue Hanna ‘bitter bedroef was en bitterlik geween’ het (1 Samuel 1:7, 10). Nehemia het ook ‘dae lank geween en getreur’ en het “’n droefgeestigheid van hart” ondervind (Nehemia 1:4; 2:2, NW). Job het sy lewe verag en gedink dat God hom verlaat het (Job 10:1; 29:2, 4, 5). Koning Dawid het gesê dat sy gees in hom versmag het en dat sy hart in sy binneste verstyf het (Psalm 143:4). En die apostel Paulus het gesê dat hy ‘verskrikkinge van binne’ gehad het en dat hy “neerslagtig” of emosioneel “neergewerp” was.—2 Korinthiërs 4:9; 7:5, 6, vgl. NW.
Hoewel hulle almal getroue knegte van God was, het allerhande bekommernisse, vrese of teleurstellings hulle ’n tyd lank bedroef. Tog het God hulle nie in die steek gelaat of sy heilige gees van hulle weggeneem nie. Hulle depressiewe gemoedstoestand was nie aan geestelike mislukking te wyte nie. Toe Dawid op ’n keer gekweld was, het hy God in gebed gesmeek: “Verbly die siel van u kneg.” God het Dawid in die ‘dag van benoudheid’ vertroos en hom gehelp om hom mettertyd te verbly (Psalm 86:1, 4, 7). Net so sal Jehovah sy knegte vandag help.
Aangesien depressie nie op sigself ’n bewys van geestelike mislukking of verstandelike swakheid is nie, moet ’n Christen wat daardeur gekwel word nie weens verleentheid stilbly nie. Hy moet eerder een van die belangrikste stappe doen om hierdie siekte te bestry. Wat is dit?
Stort jou gevoelens uit
Hy moet met iemand daaroor praat. Spreuke 12:25 sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op.” Niemand anders kan besef hoe intens die bekommernis in jou hart is tensy jy daaroor praat nie. As jy iemand in jou vertroue neem wat empatie het en wat kan help, sal jy moontlik uitvind dat ander soortgelyke gevoelens en probleme gehad het. Dit is ook genesend om jou gevoelens in woorde uit te druk, want dit is ’n verligting vir die hart om uiting te gee aan die pynlike ondervinding pleks van dit op te krop. Terneergedrukte siele moet derhalwe ’n huweliksmaat, ’n ouer of ’n simpatieke en geestelik bekwame vriend in hulle vertroue neem.—Galasiërs 6:1.
’n Deel van Marie se probleem (wat in die vorige artikel gemeld is) was dat sy die kwellende emosies wat tot haar depressie aanleiding gegee het, opgekrop het. “Oor die jare het ek maar altyd voorgegee dat niks skort nie”, het sy gesê. “Ander sou nooit kon raai dat ek so gesukkel het om hierdie gevoelens van nutteloosheid te bowe te kom nie.” Maar Marie het openhartig met ’n ouere man in die gemeente gepraat. Die ouere man het deur oordeelkundige vrae die onrus wat sy in haar hart rondgedra het, ‘uitgeskep’ en haar gehelp om haarself beter te verstaan (Spreuke 20:5). Sy bemoedigende woorde uit die Skrif het haar gerusgestel. “Ek het vir die eerste keer begin hulp ontvang om sekere gevoelens wat tot my depressie bygedra het te verwerk”, het Marie verduidelik.
Om met ’n simpatieke ouere man te gesels, kan dus geestelik verkwikkende “water” voorsien aan iemand wie se “siel soos ’n uitgedorde land” is (Jesaja 32:1, 2; Psalm 143:6). ’n Oordeelkundige geestelike raadgewer kan jou selfs help om te besef watter praktiese stappe jy kan doen om ’n situasie te hanteer wat jy moontlik as hopeloos beskou het (Spreuke 24:6). Maar meer is nodig as om iemand in jou vertroue te neem.
Erken jou werklike waarde
’n Gevoel van nutteloosheid is ’n groot faktor by depressie. Sommige Christene het moontlik ’n swak selfbeeld as gevolg van ongelukkige kinderjare. Maar al het fisiese, emosionele of seksuele molestering in die verlede emosionele letsels gelaat, verander dit nie ’n persoon se waarde nie. Jy moet dus daarna strewe om ’n gebalanseerde beskouing van jou werklike waarde as persoon te hê. “Ek sê vir elkeen van julle”, het die apostel Paulus vermaan, “om homself nie bo sy werklike waarde te skat nie, maar om ’n matige skatting van homself te maak” (Romeine 12:3, Charles B. Williams). Terwyl jy teen verwaandheid waak, moet jy probeer om nie na die ander uiterste te gaan nie. Diegene wat ’n verhouding met God het, is vir hom kosbaar en begeerlik, want hy kies mense uit om sy “spesiale eiendom” te word. Wat ’n besondere voorreg is dit tog nie!—Maleagi 3:17, NW; Haggai 2:7.
Wat ’n eer is dit ook om “medewerkers van God” te wees deur deel te neem aan die Christelike werk om dissipels te maak (1 Korinthiërs 3:9; Mattheüs 28:19). Talle depressiewe Christene het gevind dat hierdie werk eiewaarde opbou. “Selfs nadat ek ’n Christen geword het, het ek baie onbekwaam gevoel”, het Marie erken. Sy het nogtans met die predikingswerk volgehou, en op ’n dag het sy ’n jong vrou met breinskade ontmoet wat die Bybel wou bestudeer. “Sy het iemand nodig gehad wat geduldig met haar kon wees, aangesien sy stadig geleer het”, het Marie gesê. “Omdat sy soveel van my aandag in beslag geneem het, het ek van myself en my onbekwaamheid vergeet. Sy het my hulp nodig gehad, en ek het besef dat ek dit met Jehovah se krag vir haar kon gee. Dit het my onbeskryflik baie aangemoedig toe sy gedoop is. My eiewaarde het gegroei, en die ernstige depressie het vir goed verdwyn.” Hoe waar is dit tog dat ‘hy wat laaf self ook gelaaf word’!—Spreuke 11:25.
Nietemin reageer talle depressiewe persone soos ’n Christin wat aan ernstige depressie gely en erken het: “Hoewel ek baie hard werk om die huis skoon te maak, te kook en gasvry te wees, verwyt ek my later oor elke klein foutjie.” Sulke onredelike verwyte ondermyn ’n mens se eiewaarde. Onthou dat ons God simpatiek is en ‘nie vir altyd verwyt’ nie (Psalm 103:8-10, 14, vgl. NW). Indien Jehovah, wat ’n hoër regsgevoel as ons het, ons nie oor elke foutjie afkam nie en bereid is om sulke verdraagsaamheid te toon, moet ons hom dan nie probeer naboots in die manier waarop ons onsself behandel nie?
Ons het almal foute en swakhede. Tog het ons almal ook bepaalde vermoëns. Die apostel Paulus het nie verwag dat hy sou uitblink in alles wat hy doen nie. “Al is ek ook onbedrewe in woord, dan tog nie in kennis nie”, het hy gesê. Paulus het nie minderwaardig gevoel net omdat hy moontlik nie as ’n openbare spreker geskitter het nie (2 Korinthiërs 11:6). Net so moet depressiewe persone hulle aandag vestig op die dinge wat hulle goed doen.
‘Wysheid is by die beskeidenes’, of by diegene wat hulle beperkinge erken en aanvaar (Spreuke 11:2). Elkeen van ons is uniek, met verskillende omstandighede, fisiese stamina en vermoëns. Dit behaag Jehovah as jy hom heelhartig dien en doen wat jy kan (Markus 12:30-33). God is nie iemand wat nooit met die pogings van sy toegewyde aanbidders tevrede is nie. Leora, ’n Christin wat haar depressie oorwin het, het gesê: “Ek vaar in sommige dinge, soos aanbiedinge in die veldbediening, nie so goed soos die ander nie. Maar ek probeer. Wat ek doen, is my beste.”
Maak werk van foute en misverstande
Maar sê nou jy begaan ’n ernstige fout? Miskien voel jy soos koning Dawid, wat ‘die hele dag in die rou gegaan het’ vanweë sy foute, of sonde. Maar juis dié gevoel kan ’n bewys wees dat jy nog nie te ver gegaan het en ’n onvergeeflike sonde gedoen het nie! (Psalm 38:4-7, 9). ’n Skuldgevoel kan toon dat die sondaar ’n eerlike hart en goeie gewete het. Hoe kan jy dan werk maak van die skuldgevoel? Wel, het jy om God se vergifnis gebid en stappe gedoen om die fout reg te stel? (2 Korinthiërs 7:9-11). Indien wel, moet jy geloof hê in die barmhartigheid van die Een wat menigvuldiglik vergeef, terwyl jy jou vas voorneem om nie die sonde te herhaal nie (Jesaja 55:7). As jy tereggewys is, ‘moet jy nie beswyk as jy bestraf word nie, want die Here tugtig hom wat Hy liefhet’ (Hebreërs 12:5, 6). Die doel van sulke bestrawwing is om ’n afgedwaalde skaap terug te bring. Dit doen nie afbreuk aan sy waarde as persoon nie.
Selfs al veroordeel ons eie hart ons, hoef ons nie tot die slotsom te kom dat Jehovah ons veroordeel het nie. “Ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles” (1 Johannes 3:19, 20). Jehovah sien meer as ons sondes en foute. Hy ken die versagtende omstandighede, ons hele lewenswyse, ons motiewe en bedoelings. Die grootheid van sy kennis stel hom in staat om ons ernstige gebede om vergifnis met simpatie te verhoor, soos hy Dawid s’n verhoor het.
Misverstande met ander en ’n oordrewe besorgdheid oor wat hulle van jou dink, dra ook by tot ’n geringskatting van eiewaarde, moontlik selfs tot die gevoel dat jy verwerp is. Weens onvolmaaktheid praat ’n mede-Christen miskien met jou op ’n manier wat ongevoelig of onvriendelik lyk. Nogtans kan baie misverstande uit die weg geruim word deur die ander persoon te vertel hoe die aanmerking jou geraak het. (Vergelyk Mattheüs 5:23, 24.) Salomo het ook vermaan: “Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie.” Waarom nie? “Want jou eie hart weet ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek het” (Prediker 7:21, 22). Moenie onrealisties wees en volmaaktheid van jouself of van jou verhoudinge met ander onvolmaakte mense verwag nie. Wees gou om te vergewe en ander te verdra.—Kolossense 3:13.
Bowendien word jou werklike waarde nie gemeet aan die vraag of ander jou liefhet of nie. Christus is “verag” en deur ‘ander getakseer’ as van weinig waarde (Jesaja 53:3, NW; Sagaria 11:13, NW). Het dit enige verskil gemaak aan sy werklike waarde of die manier waarop God hom waardeer het? Nee, al was ons volmaak, soos Jesus, sou ons nie almal tevrede kon stel nie.
Krag om te volhard
Ernstige depressie kan soms voortduur ten spyte van ons pogings om dit te bowe te kom. Die emosionele pyn kan sommige Christene selfs soos Jona laat voel: “Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe” (Jona 4:1-3). Tog was sy sielesmart nie permanent nie. Hy het dit oorkom. As depressie jou lewe dus ondraaglik maak, moet jy onthou dat dit soos die verdrukking is wat Paulus gesê het “tydelik” is (2 Korinthiërs 4:8, 9, 16-18). Dit sal ophou! Geen situasie is hopeloos nie. Jehovah belowe om “die hart van dié wat pyn verduur te laat herlewe”.—Jesaja 57:15, Lamsa.
Moet nooit ophou bid nie, al lyk jou gebede vrugteloos. Dawid het gepleit: “o God, hoor my smeking . . . as my hart beswyk; lei my op ’n rots wat vir my te hoog is” (Psalm 61:2, 3). Hoe lei God ons tot ’n innerlike selfvertroue wat uit ons eie krag onbereikbaar lyk? Eileen, wat al jare lank met depressie worstel, antwoord: “Jehovah het nie toegelaat dat ek tou opgooi nie. Dit gee my die hoop dat as ek aanhou stry, hy sal aanhou om my te help. Kennis van die waarheid van die Bybel het my letterlik lewendig gehou. Jehovah het my op baie verskillende maniere—gebed, die bediening, vergaderinge, die publikasies, familie en vriende—die krag gegee om aan te hou stry.”
Beskou die siekte as ’n toets van jou geloof. “Julle kan God vertrou”, het die apostel Paulus ons verseker. “Hy sal nie toelaat dat julle meer getoets word as wat julle kan verduur nie. Maar wanneer julle getoets word, sal Hy ook ’n uitweg gee sodat julle dit kan verduur” (1 Korinthiërs 10:13, Beck). Ja, God sal jou “krag bo die normale gee” om enige emosionele las te dra.—2 Korinthiërs 4:7, NW.
’n Nuwe wêreld sonder depressie!
God het belowe om binnekort al die depressiewe toestande op ons aarde deur middel van sy hemelse Koninkryk te verwyder. Sy Woord sê: “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep” (Jesaja 65:17, 18). Hierdie woorde is oorspronklik in 537 v.G.J. vervul toe die eertydse nasie Israel in sy tuisland herstel is. Sy volk het toe gesing: “Ons was soos die wat droom. Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel” (Psalm 126:1, 2). Hoeveel wonderliker sal die finale vervulling van hierdie hartverblydende profesie tog nie wees wanneer dit eersdaags in God se nuwe wêreld verwesenlik word nie!—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.
Onder God se Koninkryk (die “nuwe hemele”) sal ’n regverdige mensegemeenskap op die aarde (die “nuwe aarde”) tot volmaakte emosionele, fisiese en geestelike gesondheid herstel word. Nie dat hierdie persone geen herinnering aan die verlede sal hê nie, maar as gevolg van al die aangename dinge waaroor hulle dan sal kan dink en hulle dan sal kan verheug, sal hulle geen rede hê om al die hartseer ondervindinge van die verlede in herinnering te bring nie. Dink net daaraan: jy sal elke oggend met ’n kristalhelder verstand wakker word, gretig om met die dag se aktiwiteite te begin—sonder die belemmering van ’n depressiewe toestand!
Lola (wat aan die begin van die artikel gemeld is) is ten volle oortuig van die werklikheid van hierdie hoop. Sy het gesê: “My grootste hulp was om te onthou dat Jehovah se Koninkryk hierdie probleem sal oplos. Ek het geweet dat die depressie nie vir altyd sal voortduur nie.” Ja, jy kan seker wees dat God binnekort totale oorwinning oor depessie moontlik sal maak!
[Voetnote]
a Sien “Die bestryding van ernstige depressie—professionele vorme van behandeling” in Ontwaak! se nommer van 22 Februarie 1982.