Jongmense vra . . .
Hoe kan ek portuurdruk die hoof bied?
“Daar is oral portuurdruk.”—Jesse, 16 jaar oud.
“Portuurdruk van my skoolmaats was vir my een van die grootste uitdagings terwyl ek grootgeword het.”—Johnathan, 21 jaar oud.
PORTUURDRUK is beslis ’n invloed waarmee daar rekening gehou moet word. Maar wees verseker dat jy dit kan weerstaan. Daarbenewens kan jy dit onder beheer hou en selfs tot jou voordeel gebruik. Maar hoe?
In ’n vorige artikel in hierdie reeks, het ons ’n noodsaaklike stap bespreek wat jy eers moet neem: Jy moet besef hoe sterk portuurdruk kan wees en dat jy self daardeur beïnvloed kan word.a Watter ander positiewe stappe kan jy neem? God se Woord bevat die nuttige riglyne wat jy nodig het. Spreuke 24:5 sê: “’n Man van kennis versterk krag.” Watter kennis kan jou versterk in jou stryd teen portuurdruk? Voordat ons dit beantwoord, kom ons bespreek eers ’n probleem wat daartoe kan lei dat jy nie opgewasse is teen portuurdruk nie.
’n Gebrek aan selfvertroue—’n gevaar
Vir jongmense wat Jehovah se Getuies is, is portuurdruk soms ’n unieke uitdaging omdat dit deel van hulle lewenswyse is om ander van hulle geloof te vertel (Matteus 28:19, 20). Is dit vir jou soms moeilik om met ander jongmense oor jou geloof te praat? Jy is nie die enigste een nie. Melanie, ’n 18-jarige meisie, sê: “Toe ek vir die kinders moes sê dat ek ’n Getuie is, was dit vir my moeiliker as wat ek gedink het.” Sy voeg by: “Sodra ek genoeg moed bymekaargeskraap het om te sê dat ek ’n Getuie is, het ek weer bang geword.” Negatiewe portuurdruk het haar blykbaar laat huiwer.
Die Bybel gee ons die versekering dat selfs manne en vroue van uitsonderlike geloof gehuiwer het om met ander oor God te praat. Jong Jeremia het byvoorbeeld geweet dat hy gespot en vervolg sou word as hy God se bevel gehoorsaam om moedig te spreek. Daarbenewens het Jeremia nie selfvertroue gehad nie. Waarom nie? Hy het vir God gesê: “Kyk, ek weet nie hoe ek moet praat nie, want ek is nog maar net ’n seun.” Het God saamgestem dat Jeremia onbevoeg was om te praat omdat hy nog so jonk was? Nee. Jehovah het die profeet verseker: “Moenie sê: ‘Ek is nog maar net ’n seun’ nie.” Jehovah het die huiwerige jong man toe ’n belangrike toewysing gegee.—Jeremia 1:6, 7.
Wanneer ons nie selfvertroue het nie, met ander woorde wanneer ons onseker is van onsself, kan dit baie moeilik wees om portuurdruk te weerstaan. Navorsingstudies dui daarop dat dit die geval is. In 1937 het die wetenskaplike Muzafer Sherif byvoorbeeld ’n bekende eksperiment gedoen. Hy het mense in ’n donker kamer gesit, hulle ’n ligkol gewys en hulle toe gevra hoe ver die ligkol beweeg het.
Die lig het in werklikheid glad nie beweeg nie; dit was net ’n optiese illusie. Toe mense individueel getoets is, het elkeen sy eie antwoord gegee van hoe ver hy gedink het dit beweeg het. Maar toe hulle in groepe getoets is, is hulle gevra om hulle antwoorde hardop te gee. Wat het gebeur? Omdat hulle nie vertroue in hulleself gehad het nie, het hulle mekaar beïnvloed. Ná herhaalde toetse het hulle antwoorde al hoe meer begin ooreenstem totdat ’n “groepnorm” waargeneem kon word. Selfs toe hulle later weer alleen getoets is, is individue nog steeds beïnvloed deur die groep se mening.
Daardie eksperiment lig ’n belangrike punt toe. Onsekerheid of ’n gebrek aan selfvertroue maak mense vatbaarder vir portuurdruk. Dit laat ’n mens dink, nè? Portuurdruk kan mense per slot van rekening beïnvloed wanneer dit kom by baie belangrike kwessies, insluitende hulle beskouing van voorhuwelikse seks, dwelmmisbruik en selfs hulle lewensdoelwitte. As ons die “groepnorm” aanneem wanneer dit by sulke kwessies kom, kan dit ’n verreikende uitwerking op ons toekoms hê (Eksodus 23:2). Wat kan gedoen word?
Wel, hoe sou jy in die toets gevaar het as jy met sekerheid geweet het dat die ligkol nie beweeg het nie? Die groep sou jou waarskynlik nie beïnvloed het nie. Ja, ons het selfvertroue nodig. Maar is selfvertroue al wat ons nodig het?
Stel jou vertroue in Jehovah
Jy hoor dalk dikwels dat mense sê dat jy jou selfvertroue moet opbou. Maar wanneer dit kom by hoe jy dit kan verkry—en hoeveel selfvertroue jy nodig het—is daar teenstrydige beskouings. Die Bybel bevat hierdie gebalanseerde raad: “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het” (Romeine 12:3). ’n Ander vertaling van hierdie vers sê: “Ek sê vir elkeen van julle om homself nie bo sy werklike waarde te skat nie, maar om ’n matige skatting van homself te maak.”—Charles B. Williams.
“’n Matige skatting” van jou “werklike waarde” sal voorkom dat jy ydel, astrant of verwaand word. Aan die ander kant sal so ’n gebalanseerde beskouing ’n mate van vertroue insluit in jou ware vermoë om te dink, te redeneer en verstandige besluite te neem. Jou Skepper het jou “denkvermoë” gegee, en dit is beslis ’n kosbare gawe (Romeine 12:1). As jy dit in gedagte hou, sal dit jou help om nie toe te laat dat ander jou besluite vir jou neem nie. Daar is egter ’n soort vertroue wat jou selfs groter beskerming sal bied.
Koning Dawid is geïnspireer om te skryf: “U is my hoop, o Soewereine Heer Jehovah, my vertroue van my jeug af” (Psalm 71:5). Ja, Dawid het ten volle op sy hemelse Vader vertrou, en hy het dit van jongs af gedoen. Hy was “nog maar ’n seun”—moontlik ’n tiener—toe die Filistynse reus Goliat enige Israelitiese soldaat tot ’n tweegeveg uitgedaag het. Die soldate was te bang om die uitdaging te aanvaar (1 Samuel 17:11, 33). Miskien het hulle mekaar negatief beïnvloed. Hulle was ongetwyfeld baie pessimisties terwyl hulle gepraat het oor hoe groot en dapper Goliat is en het gesê dat enigiemand mal moet wees om so ’n uitdaging te aanvaar. Dawid is nie hierdeur beïnvloed nie. Waarom nie?
Let op Dawid se woorde aan Goliat: “Jy kom na my toe met ’n swaard en met ’n spies en met ’n werpspies, maar ek kom na jou toe met die naam van Jehovah van die leërs, die God van die gevegslinies van Israel, wat jy uitgetart het” (1 Samuel 17:45). Dawid kon sien hoe groot en sterk Goliat is en was bewus van sy wapens. Maar daar was iets wat hy geweet het, net so seker as wat hy geweet het dat die hemel blou is. Hy het geweet dat Goliat niks in vergelyking met Jehovah God is nie. Waarom moes Dawid Goliat dan vrees as Jehovah aan sy kant was? Sulke vertroue op God het Dawid sekerheid gegee. Geen portuurdruk kon hom beïnvloed nie.
Het jy dieselfde vertroue in Jehovah? Hy het sedert Dawid se tyd nie verander nie (Maleagi 3:6; Jakobus 1:17). Hoe meer jy van hom leer, hoe sekerder sal jy wees van alles wat hy vir jou in sy Woord sê (Johannes 17:17). Daar sal jy onveranderlike, betroubare standaarde vind om jou in die lewe te lei en om jou te help om portuurdruk te weerstaan. Behalwe om jou vertroue in Jehovah te stel, is daar iets anders wat jy kan doen.
Kies goeie raadgewers
God se Woord beklemtoon hoe belangrik dit is om goeie leiding te vind. “’n Man met begrip verwerf bekwame leiding”, sê Spreuke 1:5. Jou ouers, wat jou belange op die hart dra, kan ’n bron van leiding wees. Indira weet dit alte goed. Sy vertel: “Dit is omdat my ouers altyd uit die Skrif met my geredeneer het en Jehovah vir my ’n werklike persoon gemaak het dat ek nog op die weg van die waarheid wandel.” Baie ander jongmense voel ook so.
As jy ’n lid van die Christengemeente is, het jy ’n wonderlike bron van hulp tot jou beskikking—die aangestelde opsieners, of ouer manne, sowel as ander volwasse Christene. Die jong Nadia sê: “Ek het werklik respek gehad vir die ouer manne in ons gemeente. Ek kan ’n toespraak deur die presiderende opsiener onthou wat spesiaal vir jongmense bedoel was. Ná die vergadering was ek en my vriendin opgewonde omdat hy gepraat het oor dinge wat ons gevoel het ons deurmaak.”
Nog ’n kragtige wapen teen negatiewe portuurdruk is positiewe portuurdruk. As jy jou vriende verstandig kies, kan hulle jou help om goeie doelwitte na te streef en streng by die regte standaarde te bly. Hoe kan ons goeie keuses maak? Hou hierdie raad in gedagte: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Nadia het seker gemaak dat sy wyse vriende by die skool kies—haar medegelowiges, wat by dieselfde sedelike standaarde gebly het as sy. Sy sê: “Wanneer die seuns by die skool met ons kom ‘praat’ het, het ons mekaar ondersteun.” Goeie vriende kan help om die beste in ons na vore te bring. Die inspanning wat dit verg om hulle te vind, is die moeite werd.
As jy jou vertroue in Jehovah opbou, volwasse Christene om leiding vra en jou vriende wyslik kies, kan jy seker wees dat jy portuurdruk die hoof kan bied. Trouens, jy kan een van dié word wat positiewe portuurdruk op jou vriende uitoefen en hulle help om saam met jou op die weg na die lewe te bly.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Portuurdruk—Is dit regtig so sterk?” in die Ontwaak! van 22 November 2002.
[Lokteks op bladsy 26]
Kies goeie vriende, wat net soos jy lief is vir God en sy standaarde
[Prente op bladsy 26]
“Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:33
“Hy wat met wyses wandel, sal wys word.”—Spreuke 13:20