Bewaar Christelike eenheid in sakebetrekkinge
“Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!”—PSALM 133:1, NAV.
1. Waarom is Christelike eenheid so begeerlik?
DIT is inderdaad ‘goed en mooi as Christenbroers eensgesind saam woon’, veral vandag wanneer daar soveel onenigheid in die wêreld is. Waar ware eenheid gedy, word dit iets moois en lei dit tot ’n hegte band van broederliefde onder mense, wat dit ’n vreugde maak om in mekaar se geselskap te wees. Onenigheid is andersyds lelik en lei tot wrewel, haat en vervreemding onder metgeselle.
2. Hoe behoort ons gemeenskaplike beskouing van Bybelbeginsels ons broederlike eenheid selfs in sakeonderhandelinge te versterk?
2 Wanneer Christene met ander knegte van Jehovah sake doen, behoort hulle eenderse beskouing van Bybelbeginsels hulle broederlike eenheid te versterk. ’n Opsiener in ’n gemeente van Jehovah se Getuies het dit soos volg gestel: “Namate die wêreld al hoe onbetroubaarder word, is dit verfrissend om saam met beginselvaste mede-Christene te werk. Ons hoef nie elke oomblik ‘op ons hoede’ te wees nie. Rein, eerlike sakegenote word in hierdie stelsel baie skaars. Hoe aangenaam is dit tog om saam met eerlike mense te werk wat nie rook of vuil taal gebruik nie, mense met selfbeheersing, vir wie materiële hebsug nie die vernaamste dryfveer is nie!”
3. (a) Wat is sommige sakebetrekkinge waarby medegelowiges betrokke kan wees? (b) Watter beginsels moet sakeonderhandelinge rig?
3 Wat is party van die sakebetrekkinge waarby medegelowiges betrokke kan wees? Een is waar twee of meer Christene besluit om as vennote ’n sakeonderneming te begin. Nog een is waar een ’n werkgewer en die ander ’n werknemer is. ’n Derde situasie is waar ’n Christen vir ’n medegelowige ’n produk of ’n diens aanbied. In sulke onderhandelinge moet hulle hul laat lei deur die beginsels van eerlikheid en integriteit wat in Jehovah se geïnspireerde Woord opgeteken is. So word broederlike eenheid en die vreugde van saamwerk, vergroot.—1 Korinthiërs 10:31.
4. Watter gevaar bestaan daar vir Christene in die sakewêreld?
4 Die gevaar bestaan egter dat party in gebreke kan bly om die verhewe Christelike beskouing te handhaaf. Hulle begin miskien om te veel aan hulle eie belange te dink (Filippense 2:4). Geld kan belangriker as Christelike eenheid word. Maar selfsug in sakeonderhandelinge kan verhoudinge tussen broers en ’n mens se verhouding met Jehovah bederf. Ons wil nooit hê dat dit moet gebeur nie!—Johannes 13:34, 35; Hebreërs 13:5; 1 Timotheüs 3:2, 3; 1 Johannes 3:16; 4:20, 21.
Die belangrikheid van ’n formele ooreenkoms
5. Hoe lig Abraham se ondervinding toe hy grond gekoop het die waarde van ’n formele ooreenkoms toe?
5 Om misverstande in sakeonderhandelinge te help voorkom, kan ons kyk na die manier waarop Abraham ’n stuk grond gekoop het. Hy “het aan Efron die bedrag in silwer afgeweeg waarvan hy ten aanhore van die seuns van Het gespreek het, vier honderd sikkels silwer, gangbaar by die koopliede. So is die veld van Efron, wat in Magpela was, . . . oorgedra aan Abraham as sy gekoopte eiendom, voor die oë van die seuns van Het onder almal wat in die poort van die stad ingaan.” Dit was geen private, terloopse akkoord nie. Dit was ’n formele ooreenkoms wat voor getuies bevestig is. Daar was geen misverstand oor wat gekoop en wat die presiese bedrag was nie.—Genesis 23:2-4, 14-18, NW.
6. Hoe kan Christene belangrike saketransaksies formaliseer?
6 Dit is vir Christene eweneens verstandig om belangrike transaksies te formaliseer. As die transaksie die verkoop van ’n artikel behels, kan die partye neerskryf wat verkoop is, hoeveel daarvoor betaal word, hoe die betaling moet geskied, wanneer en hoe dit afgelewer moet word, en ander voorwaardes waartoe besluit is. As dit ’n diens is wat gelewer moet word, kan die partye neerskryf wat gedoen moet word, wanneer dit klaar moet wees, wat die vergoeding sal wees, en so meer. Hierdie dokument moet gedateer en onderteken word, en albei partye moet ’n kopie hou. So ’n skriftelike ooreenkoms is veral noodsaaklik in ’n sakevennootskap. Dit help albei partye om hulle verhouding duidelik te verstaan en om in ooreenstemming met Jesus se raad te lewe: “Laat julle woord wees: Ja ja, nee nee” (Mattheüs 5:37). Wanneer dit by ingewikkelder sake kom, sal dit moontlik raadsaam wees om professionele hulp in te roep om ’n skriftelike ooreenkoms op te stel.
7. (a) Wat anders moet in verband met skriftelike ooreenkomste in aanmerking geneem word? (b) In watter gees moet Christene sake doen?
7 Wanneer skriftelike ooreenkomste opgestel word, moet die partye nie net dink aan oogmerke nie, maar ook aan moontlike gevolge, soos hoe om die reëling te beëindig indien dit nodig sou word (Spreuke 21:5). Daar is ’n risiko aan alle sakeondernemings verbonde, en geen dokument kan elke moontlike situasie dek nie. As omstandighede wel verander, moet die ooreenkoms dalk gewysig word of moet daar weer onderhandel word. Dit kan selfs met verloop van tyd vir ’n persoon duidelik word dat hy onverstandig was om ’n sakeooreenkoms aan te gaan en dat hy hom eerbaar daaraan moet onttrek. Maar dit moet nie net ’n manier wees om aanspreeklikheid te ontduik vir skulde wat deur spandabelheid of wanbestuur veroorsaak is nie. Die saak moet bespreek word om te kyk of die ooreenkoms ontbind kan word en watter finansiële skikking, indien enige, getref moet word. Maar ’n pligsgetroue persoon sal beslis alles in sy vermoë doen om kontraktuele verpligtinge na te kom, al moet hy sy lewenstyl ’n ruk lank verander (2 Thessalonicense 3:12). As ’n Christen opreg wil wandel en geregtigheid wil doen, sal hy sy verpligtinge in ’n ooreenkoms probeer nakom al is dit nie in sy belang nie, maar hy sal dit doen sodat hy Jehovah se goedkeuring kan behou. “Al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie” (Psalm 15:1-4). In al sodanige sake sal Jehovah se knegte hulle aangeleenthede ‘in liefde laat geskied’.—1 Korinthiërs 16:14.
8. Waarom is dit goed om die koste te bereken voor ’n sakeooreenkoms aangegaan word?
8 Met die oog hierop is dit goed om die koste te bereken voor ’n sakeooreenkoms aangegaan word (Lukas 14:28-30). Party vaar die handelsee optimisties in, maar vergaan op die versteekte rotse daarvan. Party het byvoorbeeld gemeen dat die wins wat hulle werkgewers maak hulle s’n kon gewees het as hulle ’n soortgelyke onderneming gehad het. Maar hulle het nie besef dat dit in hierdie wêreld van meedoënlose mededinging moeilik is om ’n onderneming te laat slaag nie. Tienduisende ondernemings gaan elke jaar dwarsoor die wêreld te gronde. Na bittere teleurstellings met handelsondernemings was talle Christene derhalwe verlig om weer werknemers met ’n vaste salaris te word.
Eerbiedig sakebetrekkinge
9. Wat is party maniere waarop Christene by die werk eer aan mekaar kan betoon?
9 “Die een moet die ander voorgaan in eerbetoning”, sê Romeine 12:10. Christenwerknemers wat dit doen, sal nie misbruik maak van hulle werkgewer omdat hy ’n mede-Getuie is nie. Hulle sal nie die wêreldse gesindheid aanneem dat die werkgewer die tekortkominge van sy werknemers moet duld omdat hy dit kan bekostig nie. Hulle sal eerder eer aan hulle werkgewer betoon deur hulle gesindheid en harde werk (1 Timotheüs 6:2). Christenwerkgewers sal op hulle beurt eer betoon aan werknemers wat mede-Getuies is deur die manier waarop hulle met hulle praat en hulle behandel. ’n Werkgewer moet nooit voel dat hy beter is as ’n medegelowige wat vir hom werk nie, maar moet onthou dat albei diensknegte van Jehovah en in sy oë gelyk is (Efesiërs 6:9). Werkgewer sowel as werknemer moet ook altyd die raad in Galasiërs 6:10 in gedagte hou: “Laat ons dan . . . aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”
10. Hoe help nederigheid mense om eer aan mekaar te betoon?
10 Dit is nie moeilik om eer te betoon waar nederigheid oorvloedig is nie. ’n Nederige ouere man in ’n Christengemeente sal dit byvoorbeeld nie moeilik vind om hom by die werk te onderwerp aan die leiding van ’n mede-Christen wat nie dieselfde voorregte in die gemeente het nie. Die nederige werkgewer sal dit andersyds nie moeilik vind om hom in gemeentelike bedrywighede aan sy werknemer, die ouere man, te onderwerp nie. Nederigheid sal ook voorkom dat enigeen van hulle te krities raak of volmaaktheid van die ander verwag, want “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”.—Romeine 3:23; 12:3.
11. Hoe kan Christene redelikheid in sakeonderhandelinge toon?
11 Die Bybel beveel ook: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5, NW). Dit sou nie vir ’n Christen redelik wees om spesiale gunste of beter gehalte werk of altyd die laagste prys te verwag bloot omdat hy met ’n medegelowige sake doen nie. ’n Christen moet ook nie dink dat hy geregtig is op vrye tyd of ander voorregte, soos die gebruik van masjiene of voertuie, omdat sy werkgewer ’n medegelowige is nie. Gunste, beter gehalte werk, lae pryse of vrye tyd kan toegestaan word, maar moet nie geëis word nie. Onredelike verwagtinge kan wrewel tussen Christene laat ontstaan en hulle verhouding benadeel.—Spreuke 18:19.
12. 12. Waarvoor moet ’n mens by die werk oppas wanneer dit by Koninkryksgetuienis kom?
12 Hoewel Christene die goeie nuus van God se Koninkryk aan ongelowiges wil uitdra, moet hulle sorg dat sulke Koninkryksgetuienis by die werk op die regte tyd gegee word (Prediker 3:1, 7). As dit gedurende werktyd gedoen word, moet dit met die werkgewer se toestemming wees. Anders kan dit die werkgewer grief, en dit kan Jehovah en Sy volk tot oneer strek (1 Timotheüs 6:1). Daar is ander tye, soos gedurende etenstyd of pouses in die werkdag, wanneer sulke getuieniswerk gedoen kan word. As daar etlike Getuies by een plek werk, moet hulle ook nie tyd gebruik om met mekaar oor teokratiese dinge te praat wanneer hulle behoort te werk nie.
Ondersoek beweegredes
13. Hoe het Paulus en sy gasheer en gasvrou in Korinthe hulle sekulêre werk beskou?
13 Terwyl hy in Korinthe was, het die apostel Paulus sakebetrekkinge met sy gasheer en gasvrou, Aquila en Priscilla, aangeknoop (Handelinge 18:1-3). Hulle het gewerk om in hulle lewensbehoeftes te voorsien, maar dit was ondergeskik aan hulle vernaamste oogmerk—die bevordering van Jehovah se aanbidding. Hulle kon beslis nie daarvan beskuldig word dat hulle gedink het “dat die godsaligheid [materieel] winsgewend is” nie (1 Timotheüs 6:5). Jehovah het al drie ryklik geseën, en hulle word gunstig in die Bybel vermeld.—Romeine 16:3-5.
14. (a) Waarom is dit goed om ons beweegredes te ondersoek voor ons ’n sakeonderneming aanpak? (b) Hoe het drie Getuies hulle probleem opgelos?
14 ’n Christen kan baie moeilikhede voorkom as hy sy beweegredes noukeurig ondersoek voor hy ’n sakeonderneming aanpak. Een Christen wil miskien meer tyd hê om Koninkryksbelange te bevorder, terwyl ’n vennoot sy lewenstyl wil verbeter. Een wil dalk winste herbelê om die onderneming uit te brei, maar die ander een is bereid om meer belasting te betaal en die winste nie te herbelê nie ten einde groter betrokkenheid te voorkom. In een land het drie van Jehovah se Getuies, wat ook familie van mekaar is, vennote in ’n onderneming geword. Maar mettertyd het hulle verskil oor die mate waarin elkeen by die onderneming betrokke wou wees. Hulle oplossing was ’n onderlinge besluit om hulle sakebelange te skei en hulle kliënte onder hulle te verdeel. So het hulle goeie geestelike sowel as familiebetrekkinge behou. Hulle het ag geslaan op die Bybel se raad dat ons “najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien”.—Romeine 14:19.
15. Waarom moet ons veral let op ons beweegredes ten opsigte van geld?
15 ’n Mens moet noukeurig let op jou beweegrede ten opsigte van geld. “’n Betroubare man”, verseker die Bybel ons, “is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie [onskuldig] bly nie” (Spreuke 28:20, vgl. NW). As ’n Christen “haastig is om ryk te word”, kan hy blind word vir iets baie kosbaarders—sy Christenbroederskap. Dit kan onenigheid in die gemeente veroorsaak, aangesien ander gebelg kan voel dat hy geld bo Koninkryksbelange stel. Die Bybel waarsku dus: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Maar die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”—1 Timotheüs 6:9, 10.
16. Hoe moet alle sakeonderhandelinge uitgevoer word?
16 Een manier waarop “geldgierigheid” ’n Christen kan laat afdwaal, is deur hom in die versoeking te laat kom om sakegebruike te beoefen wat oneties of selfs oneerlik is. Wanneer mede-Christene met so ’n persoon te doen het, kan onenigheid ontstaan. En sulke gebruike kan jou verhouding met Jehovah in gevaar stel. Sakebetrekkinge kan alleen vlot verloop as ons onthou dat bedrog in sakeonderhandelinge “vir die HERE ’n gruwel” is (Spreuke 11:1; 20:23). Christene wil eerder soos die apostel Paulus kan sê: “Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alle dinge eerlik wil gedra.”—Hebreërs 13:18, NW.
Die oplossing van sakeprobleme
17. Hoe kan party geringer sakeprobleme opgelos word?
17 Probleme kan in enige sakeverhouding tussen broers ontstaan. Party van die geringer probleme kan opgelos word deur bloot die beginsel in 1 Petrus 4:8 toe te pas: “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek.” As probleme nie so opgelos kan word nie, moet hulle nie toegelaat word om soos ’n kanker voort te woeker en te vererger nie. Dit kan tot die verlies van wedersydse respek en tot vervreemding lei. Die oplossing lê dikwels in vriendelike, openhartige kommunikasie voordat die situasie vererger. God se Woord vermaan ons om geskille gou te besleg.—Mattheüs 5:23-25; Efesiërs 4:26, 27.
18. Wat kan ’n Christen doen as hy meen dat ’n mede-Christen hom ernstig te na gekom het in sakeonderhandelinge?
18 Maar as ’n Christen meen dat ’n medegelowige hom ernstig te na gekom het in sakeonderhandelinge, moet die stappe wat in Mattheüs 18:15-17 uiteengesit word noukeurig gevolg word. Die eerste stap of twee behoort die saak op te los. Indien nie, sal die derde stap beteken dat die aangestelde ouere manne die saak ondersoek. In hierdie geval sal die ouere manne die betrokke broers sterk afraai om mekaar te dagvaar. ’n Hofsaak teen ’n medegelowige sou, soos Paulus gesê het, “’n volkome nederlaag vir julle” beteken. Hy het bygevoeg: “Waarom laat julle julle nie liewer onreg aandoen nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?” (1 Korinthiërs 6:1-8, NW). Dit is beter om finansiële verlies te ly as om oneer op Jehovah se naam sowel as op die gemeente te bring en ons eenheid te versteur deur ’n gelowige voor die hof te daag. Al word regstappe nie gedoen nie, sal die een of ander vorm van gemeentelike optrede natuurlik nodig wees as oneerlikheid by die saak betrokke is.
19. Na watter uitstekende Bybelvoorbeelde kan ouere manne verwys wanneer hulle raad oor sakeprobleme gee?
19 Wanneer ouere manne diegene raad gee wat sakeprobleme ondervind, kan hulle verwys na die onselfsugtige voorbeeld van Abraham toe sy verhouding met Lot op die spel gestaan het. Hoewel hy ouer was, het Abraham goedgunstig aan Lot die eerste keuse van grond gegee om te voorkom dat daar ’n skeuring in hulle verhouding ontstaan (Genesis 13:5-11). Ouere manne kan ook wys op die goeie voorbeeld van Saggeüs. Hy was bereid om die helfte van sy besittings aan die armes te gee en met die ander helfte viervoudig te vergoed vir wat hy deur valse beskuldigings van mense afgepers het.—Lukas 19:1-10; kyk ook 1 Korinthiërs 10:24.
20, 21. Wat moet in gedagte gehou word in verband met sekulêre bedrywighede?
20 Hoe goed is dit tog wanneer Christene sakeprobleme bekwaam oplos deur Bybelraad noukeurig toe te pas! So kan hulle eensgesind bly selfs wanneer sakeondernemings misluk. Dit sal die gelukkige uitslag wees as ons te alle tye in gedagte hou dat sekulêre bedrywighede vir Christene ondergeskik is aan Koninkryksbelange en broederlike eenheid. Dit is ook goed wanneer sakebelange so gereël kan word dat meer tyd aan die belangriker dinge in verband met die Koninkrykswerk gewy kan word.—Mattheüs 6:33; vergelyk Filippense 1:9, 10.
21 Dit is derhalwe ons verhouding met Jehovah en ons Christelike broederskap wat werklik belangrik is in ons lewe (Mattheüs 22:36-39). Ons wil nooit hê dat wêreldse invloede of sakeonderhandelinge dit bederf nie, want absoluut niks kan vergelyk word met ons verhouding met Jehovah of kan opweeg teen die prag van ons verenigde broederskap nie!
Vrae ter hersiening
◻ Hoe verbeter gehoorsaamheid aan God se Woord sakebetrekkinge?
◻ Waarom is dit verstandig om belangrike transaksies te formaliseer?
◻ Hoe kan Christene by die werk eer aan mekaar betoon?
◻ Waarom moet ons ons beweegredes ondersoek wanneer ons ’n sakeonderneming aanpak?
◻ Watter gesindheid moet by die beslegting van sakeprobleme getoon word?
[Prent op bladsy 16]
Abraham het die koop van grond deur ’n formele ooreenkoms met Efron bevestig
[Prent op bladsy 18]
Werk om ’n bestaan te voer, was vir Paulus, Aquila en Priscilla van minder belang