Die Christengesin help die bejaardes
“Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie.”—PSALM 71:9.
1. Hoe word die bejaardes in baie beskawings behandel?
“OPNAMES toon dat byna ses uit sewe (86%) van die mishandelde bejaardes deur hulle eie gesin mishandel word”, het The Wall Street Journal gesê. Die tydskrif Modern Maturity het gesê: “Die mishandeling van bejaardes is maar net die jongste soort [gesinsgeweld] wat nou onthul word en op die bladsye van die nasie se koerante verskyn.” Ja, die bejaardes in baie beskawings het die slagoffers van growwe mishandeling en verwaarlosing geword. Ons lewe werklik in ’n tyd waar baie “liefhebbers van hulleself, . . . ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike liefde” is.—2 Timotheüs 3:1-3, NW.
2. Hoe beskou Jehovah die bejaardes volgens die Hebreeuse Geskrifte?
2 Maar dit is nie hoe die bejaardes in eertydse Israel behandel moes word nie. Die Wet het gesê: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die HERE.” Die boek van geïnspireerde, wyse spreuke gee ons hierdie raad: “Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.” Dit beveel: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.” Die Mosaïese Wet het geleer dat ’n mens ouer mense van albei geslagte moet respekteer en in ag moet neem. Dit is duidelik dat Jehovah wil hê dat bejaardes geëer moet word.—Levitikus 19:32; Spreuke 1:8; 23:22.
Versorging van die bejaardes in Bybeltye
3. Hoe het Josef getoon dat hy deernis met sy bejaarde vader het?
3 Respek moes nie net deur woorde nie, maar ook deur bedagsame dade getoon word. Josef het groot deernis met sy bejaarde vader gehad. Hy wou hê Jakob moes van Kanaän na Egipte, ’n afstand van meer as 300 kilometer, reis. Daarom het Josef aan Jakob “tien esels, gelaai met die beste goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy vader op die reis” gestuur. Toe Jakob in Gosen aangekom het, het Josef na hom toe gegaan en “het hy om sy hals geval en lank aan sy hals geween”. Josef het oorvloedige liefde teenoor sy vader betoon. Wat ’n bemoedigende voorbeeld van besorgdheid oor die bejaardes!—Genesis 45:23; 46:5, 29.
4. Waarom is Rut ’n goeie voorbeeld om na te volg?
4 Nog ’n pragtige voorbeeld van goedhartigheid teenoor bejaardes is Rut. Hoewel sy ’n nie-Jood was, het sy by haar bejaarde, Joodse weduwee-skoonmoeder, Naomi, gebly. Sy het haar eie mense verlaat en die risiko geloop om nie weer ’n man te kry nie. Toe Naomi by haar aangedring het om na haar eie volk toe terug te gaan, het Rut met van die pragtigste woorde in die Bybel geantwoord: “Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen—net die dood sal skeiding maak tussen my en u” (Rut 1:16, 17). Rut het ook goeie eienskappe aan die dag gelê toe sy bereid was om onder die swaershuweliksreëling met die bejaarde Boas te trou.—Rut, hoofstukke 2 tot 4.
5. Watter eienskappe het Jesus in sy optrede teenoor mense aan die dag gelê?
5 Jesus het ’n soortgelyke voorbeeld in sy optrede teenoor mense gestel. Hy was geduldig, barmhartig, vriendelik en verkwikkend. Hy het persoonlike belangstelling getoon in ’n arm man wat gebreklik was en 38 jaar lank nie kon loop nie en het hom genees. Hy het weduwees in ag geneem (Lukas 7:11-15; Johannes 5:1-9). Selfs tydens die lyding van sy pynlike dood aan die folterpaal het hy seker gemaak dat daar na sy moeder, wat moontlik in haar vroeë vyftigerjare was, omgesien sou word. Met uitsondering van sy skynheilige vyande was Jesus verkwikkende geselskap vir almal. Hy kon dus sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.”—Mattheüs 9:36; 11:28, 29; Johannes 19:25-27.
Wie moet in ag geneem word?
6. (a) Wie verdien spesiale sorg? (b) Watter vrae kan ons ons afvra?
6 Aangesien Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, sulke goeie voorbeelde ten opsigte van sorgsaamheid gestel het, is dit net gepas dat toegewyde Christene hulle voorbeeld navolg. Daar is sommige in ons midde wat baie jare al vermoeid en belas is—bejaarde broers en susters wat die herfsjare van hulle lewe betree het. Party is moontlik ons ouers of grootouers. Aanvaar ons hulle as vanselfsprekend? Behandel ons hulle soos kinders? Of waardeer ons hulle baie ondervinding en wysheid werklik? Sommige sal weliswaar ons geduld beproef met hulle eienaardighede en probleme wat soms met die ouderdom gepaardgaan. Maar vra jou af: ‘Sal ek onder daardie omstandighede anders wees?’
7. Wat toon dat ons empatie teenoor ouer mense moet betoon?
7 Daar is ’n hartroerende verhaal uit die Midde-Ooste van ’n jong meisie se deernis met bejaardes. ’n Grootmoeder het in die kombuis gehelp en per ongeluk ’n porseleinbord laat val en gebreek. Sy was ontsteld oor haar eie onhandigheid; haar dogter was selfs meer omgekrap. Die dogter het toe haar dogtertjie geroep en haar na die plaaslike winkel toe gestuur om ’n onbreekbare houtbord vir die grootmoeder te koop. Die dogtertjie het met twee houtborde daar opgedaag. Haar ma wou weet: “Waarom het jy twee borde gekoop?” Die kleindogter het geaarsel en toe geantwoord: “Een vir ouma en die ander een vir ma wanneer ma oud is.” Ja, in hierdie wêreld moet ons almal oud word. Sal ons dit nie waardeer as ons met geduld en vriendelikheid behandel word nie?—Psalm 71:9.
8, 9. (a) Hoe moet ons die ouer mense in ons midde behandel? (b) Wat moet sommige wat onlangs Christene geword het in gedagte hou?
8 Moet nooit vergeet dat baie van ons bejaarde broers en susters al ’n lang rekord van getroue Christelike bedrywigheid het nie. Hulle verdien beslis ons respek en sorg, ons vriendelike hulp en bemoediging. Die wyse man het tereg gesê: “Grysheid is ’n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid.” En daardie grysaard, man of vrou, moet gerespekteer word. Party van hierdie ouer mans en vroue dien steeds as getroue pioniers, en baie mans dien nog getrou as ouere manne in die gemeentes; sommige lewer voorbeeldige werk as reisende opsieners.—Spreuke 16:31.
9 Paulus het Timotheüs hierdie raad gegee: “’n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ’n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid” (1 Timotheüs 5:1, 2). Diegene wat onlangs uit ’n oneerbiedige wêreld in die Christengemeente ingekom het, moet Paulus se woorde, wat op liefde gegrond is, veral ter harte neem. Jongmense, moenie die slegte gesindhede navolg wat julle dalk by die skool sien nie. Moenie gegrief voel oor die vriendelike raad van ouer Getuies nie (1 Korinthiërs 13:4-8; Hebreërs 12:5, 6, 11). Maar wie het allereers die verantwoordelikheid om die bejaardes te help wanneer hulle vanweë siekte of geldelike probleme hulp nodig het?
Die gesin se rol om vir bejaardes te sorg
10, 11. (a) Wie moet volgens die Bybel die leiding neem in die versorging van die bejaardes? (b) Waarom is dit nie altyd maklik om vir bejaardes te sorg nie?
10 In die vroeë Christengemeente het daar probleme ontstaan oor die versorging van weduwees. Hoe het die apostel Paulus getoon dat daar in sulke behoeftes voorsien moet word? “Eer die weduwees wat waarlik weduwees is. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God. Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.”—1 Timotheüs 5:3, 4, 8.
11 In tye van nood moet intieme familielede die eerstes wees om bejaardes te help.a Volwasse kinders kan só waardering toon vir die jare van liefde, werk en sorg wat hulle ouers voorsien het. Dit is dalk nie maklik nie. Namate mense ouer word, word hulle van nature stadiger, en sommige word selfs invalides. Ander raak dalk selfsugtig en veeleisend, moontlik sonder dat hulle dit besef. Maar was ons nie ook selfsugtig en veeleisend toe ons babas was nie? En het ons ouers ons nie altyd baie gou kom help nie? Nou het dinge op hulle oudag verander. Wat is dus nodig? Deernis en geduld.—Vergelyk 1 Thessalonicense 2:7, 8.
12. Watter eienskappe is nodig wanneer ’n mens na ouer mense—en al die ander in die Christengemeente—omsien?
12 Die apostel Paulus het praktiese raad gegee toe hy geskryf het: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” Behoort ons nie hierdie soort deernis en liefde, as ons dit in die gemeente moet betoon, selfs in groter mate in die gesin te betoon nie?—Kolossense 3:12-14.
13. Wie benewens bejaarde ouers of grootouers het dalk hulp nodig?
13 Soms is dit nie net ouers of grootouers nie, maar ook ander bejaarde familielede wat hierdie soort hulp nodig het. Party ouer mense wat nie kinders het nie, dien al baie jare as sendelinge, reisende bedienaars of in ’n ander vorm van die voltydse werk. Hulle het werklik die Koninkryk deur hulle hele lewe eerste gestel (Mattheüs 6:33). Sal dit dan nie gepas wees om te wys dat ons vir hulle omgee nie? Ons het beslis ’n goeie voorbeeld in die wyse waarop die Wagtoringgenootskap vir sy bejaarde Bethelgesinslede sorg. By die Bethelhoofkwartier in Brooklyn en by ’n aantal van die Genootskap se takkantore ontvang etlike ou broers en susters daagliks hulp van opgeleide gesinslede wie se toewysing dit is om hulle te help. Hulle is bly dat hulle vir hierdie ouer mense kan sorg asof hulle hulle eie ouers of grootouers is. Terselfdertyd leer hulle baie uit die ouer mense se ondervinding.—Spreuke 22:17.
Die gemeente se rol om vir bejaardes te sorg
14. Watter voorsiening is daar vir die bejaardes in die vroeë Christengemeente gemaak?
14 Baie lande het vandag ’n stelsel vir ouderdomspensioen asook mediese sorg wat deur die regering aan bejaardes voorsien word. Christene kan hierdie voorsienings ten volle gebruik waar hulle dit mag doen. Maar in die eerste eeu was daar nie sulke voorsienings nie. Daarom het die Christengemeente positiewe stappe gedoen om die behoeftige weduwees te help. Paulus het gesê: “Laat ’n weduwee gekies word [vir hulp deur die gemeente], nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het.” Paulus het so getoon dat die gemeente ook ’n rol daarin speel om die bejaardes te help. Geestelikgesinde vroue wat nie gelowige kinders gehad het nie, het vir sulke hulp in aanmerking gekom.—1 Timotheüs 5:9, 10.
15. Waarom kan hulp nodig wees om regeringshulp te verkry?
15 Waar die regering vir bejaardes voorsiening maak, behels dit gewoonlik skryfwerk wat oorweldigend kan lyk. In sulke gevalle is dit gepas dat die opsieners in die gemeente reël dat die bejaardes gehelp word om vir sulke voorsienings aansoek te doen, daarvan gebruik te maak of dat dit selfs verbeter word. Soms kan ’n verandering van omstandighede ’n hoër pensioen beteken. Maar daar is ook baie ander praktiese dinge wat opsieners kan organiseer sodat daar na die bejaardes omgesien kan word. Wat is sommige hiervan?
16, 17. Op watter verskillende maniere kan ons gasvryheid teenoor die bejaardes in die gemeente betoon?
16 Die betoning van gasvryheid was al in Bybeltye gebruiklik. Vandag nog word daar in baie lande in die Midde-Ooste gasvryheid teenoor vreemdelinge betoon, en hulle word ten minste ’n koppie tee of koffie aangebied. Dit is dus nie verbasend dat Paulus geskryf het nie: “Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid” (Romeine 12:13). Die Griekse woord vir gasvryheid, phi·lo·xe·niʹa, beteken letterlik “liefde vir (geneentheid of vriendelikheid teenoor) vreemdelinge”. Moet ’n Christen, as hy gasvry teenoor vreemdelinge moet wees, dit nie selfs meer teenoor sy broers en susters in die geloof wees nie? ’n Uitnodiging na ’n maaltyd is vir ’n ouer persoon dikwels ’n welkome verandering van roetine. As jy die stem van wysheid en ondervinding by jou gesellighede wil hê, moet jy die bejaardes daarby insluit.—Vergelyk Lukas 14:12-14.
17 Daar is baie maniere waarop ouer mense bemoedig kan word. Is daar ’n paar bejaardes wat ’n geleentheid sal verwelkom as ons ’n motorgroep vorm om na die Koninkryksaal of na ’n byeenkoms toe te gaan? Moenie wag dat hulle vra nie. Bied aan om hulle te neem. Nog praktiese hulp is om hulle inkopies te doen. Of kan ons hulle, as hulle daartoe in staat is, saam met ons neem wanneer ons inkopies gaan doen? Maar maak seker dat daar plekke is waar hulle kan rus en hulle kan verfris as dit nodig sou word. Geduld en vriendelikheid sal ongetwyfeld nodig wees, maar ’n ouer persoon se opregte waardering kan baie beteken.—2 Korinthiërs 1:11.
’n Wonderlike aanwins vir die gemeente
18. Waarom is ouer mense ’n seën vir die gemeente?
18 Wat ’n seën is dit tog om ’n paar met grys en wit hare (en ook koppe wat bles is van die ouderdom) in ’n gemeente te sien! Tesame met die lewenskragtigheid en energie van die jongeres is daar dié met wysheid en ondervinding—’n ware aanwins vir enige gemeente. Hulle kennis is soos verfrissende water wat uit ’n fontein uit opgetrek moet word. Dit is soos Spreuke 18:4 dit stel: “Die woorde van ’n man se mond is diep waters, ’n stroom wat bruis, ’n fontein van wysheid.” Hoe bemoedigend is dit tog vir ouer mense om te voel dat hulle nodig is en waardeer word!—Vergelyk Psalm 92:15.
19. Hoe het sommige opofferinge vir hulle bejaarde ouers gemaak?
19 Sommige in die voltydse diens het dit nodig gevind om hulle voorregte prys te gee sodat hulle huis toe kon gaan om na bejaarde, siek ouers om te sien. Hulle het ’n opoffering gemaak vir diegene wat eers vir hulle opofferinge gemaak het. Een egpaar, wat eers sendelinge was en steeds in die voltydse diens is, het teruggegaan huis toe om na hulle bejaarde ouers om te sien. Hulle het dit meer as 20 jaar gedoen. Vier jaar gelede moes die man se moeder in ’n verpleeginrigting opgeneem word. Die man, wat nou in die sestig is, besoek sy 93-jarige moeder elke dag. Hy verduidelik: “Hoe kan ek haar in die steek laat? Sy is my ma!” In ander gevalle het gemeentes en individue na vore gekom en aangebied om ’n ogie oor ouer persone te hou sodat hulle kinders in hulle toewysings kon bly. Sulke onselfsugtige liefde is ook baie prysenswaardig. Elke situasie moet op ’n verantwoordelike wyse hanteer word, omdat die bejaardes nie verwaarloos moet word nie. Toon dat jy jou bejaarde ouers liefhet.—Exodus 20:12; Efesiërs 6:2, 3.
20. Watter voorbeeld het Jehovah ons gegee wat die versorging van bejaardes betref?
20 Ons ouer broers en susters is inderdaad ’n sierlike kroon vir ’n gesin of ’n gemeente. Jehovah het gesê: “Tot die ouderdom toe is Ek dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ek het dit gedoen, en Ek sal julle opneem, en Ek sal dra en red.” Laat ons dieselfde geduld teenoor en besorgdheid oor ouer broers en susters in die Christengesin betoon.—Jesaja 46:4; Spreuke 16:31.
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring, 1 Junie 1987, bladsye 13-18, vir breedvoerige wenke oor wat gesinslede kan doen om bejaardes te help.
Onthou jy?
◻ Watter Bybelvoorbeelde het ons van mense wat vir bejaardes gesorg het?
◻ Hoe moet ons die bejaardes behandel?
◻ Hoe kan gesinslede na hulle bejaarde geliefdes omsien?
◻ Wat kan die gemeente doen om die bejaardes te help?
◻ Waarom is die bejaardes vir ons almal ’n seën?
[Prent op bladsy 23]
Rut het vriendelikheid en respek teenoor die bejaarde Naomi betoon
[Prent op bladsy 24]
Bejaardes is kosbare lede van die gemeente