Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 7/1 bl. 14-15
  • ’n Verstandige vrou voorkom rampspoed

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Verstandige vrou voorkom rampspoed
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Guns wat as vanselfsprekend beskou is
  • Abigail se verstandige optrede
  • Lesse vir ons
  • Sy het goeie oordeel aan die dag gelê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Sy het goeie oordeel aan die dag gelê
    Volg hulle geloof na
  • Abigail en Dawid
    My boek met Bybelverhale
  • “Mag jou verstandigheid geseënd wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 7/1 bl. 14-15

Hulle het Jehovah se wil gedoen

’n Verstandige vrou voorkom rampspoed

’NOORDEELKUNDIGE vrou wat met ’n deugniet van ’n man getroud was—dit was die geval met Abigail en Nabal. Abigail het “’n goeie verstand gehad en was mooi van aansien”. Daarenteen was Nabal “grof en boosaardig” (1 Samuel 25:3). Die drama wat hom afgespeel het en waarby hierdie egpaar betrokke was wat nie goed by mekaar gepas het nie, het daartoe gelei dat hulle name ’n onuitwisbare deel van Bybelgeskiedenis geword het. Kom ons kyk hoe.

’n Guns wat as vanselfsprekend beskou is

Dit was die 11de eeu v.G.J. Dawid is as Israel se toekomstige koning gesalf, maar in plaas daarvan dat hy regeer het, was hy op die vlug. Die heersende koning, Saul, was vasbeslote om hom om die lewe te bring. Gevolglik is Dawid gedwing om as ’n voortvlugtige te lewe. Hy en omtrent 600 makkers het uiteindelik skuiling gevind in die woestyn Paran, suid van Juda en in die rigting van die woestyn Sinai.—1 Samuel 23:13; 25:1.

Terwyl hulle daar was, het hulle herders teëgekom wat vir ’n man met die naam Nabal gewerk het. Hierdie welgestelde nakomeling van Kaleb het 3000 skape en 1000 bokke besit, en hy het sy skape in Karmel geskeer, ’n stad suid van Hebron en moontlik net sowat 40 kilometer van Paran af.a Dawid en sy manne het Nabal se herders gehelp om hulle kuddes te beskerm teen diewe wat deur die woestyn geswerf het.—1 Samuel 25:14-16.

Intussen het die skaapskeerdery in Karmel begin. Dit was ’n feestelike geleentheid, soos oestyd vir die boer. Dit was ook ’n tyd wanneer mense baie vrygewig was, wanneer skaapeienaars diegene beloon het wat vir hulle gewerk het. Dawid was dus nie voorbarig toe hy tien manne na die stad Karmel gestuur het om Nabal voedsel te vra as vergoeding vir die diens wat hulle ten behoewe van sy kuddes gelewer het nie.—1 Samuel 25:4-9.

Nabal het alles behalwe vrygewig hierop gereageer. “Wie is Dawid?”, het hy minagtend gesê. Toe het hy geïmpliseer dat Dawid en sy manne niks anders as drosterslawe is nie en gevra: “Sou ek . . . my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, neem en aan manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan kom nie?” Toe Dawid hiervan te hore kom, het hy vir sy manne gesê: “Gord julle elkeen sy swaard aan!” Omtrent 400 manne het hulle gereedgemaak vir die stryd.—1 Samuel 25:10-13.

Abigail se verstandige optrede

Nabal se vrou, Abigail, het van sy beledigende woorde te hore gekom. Miskien was dit nie die eerste keer wat sy moes ingryp en as vredemaakster vir Nabal moes optree nie. In alle geval, Abigail het onmiddellik stappe gedoen. Sonder om Nabal te vertel, het sy ’n kosvoorraad bymekaargemaak—onder meer vyf skape en ’n oorvloed van voedsel—en uitgegaan om Dawid in die woestyn te ontmoet.—1 Samuel 25:18-20.

Toe Abigail Dawid sien, het sy onmiddellik op haar knieë voor hom gegaan. “My heer moet hom tog nie steur aan daardie deugniet van ’n man, aan Nabal nie”, het sy by hom gepleit. “Laat nou hierdie geskenk wat u dienares vir my heer gebring het, aan die jongmanne gegee word wat op my heer se voetspore rondtrek.” Sy het bygevoeg: “Dan sal [hierdie situasie rakende Nabal] vir u geen struikelblok en vir my heer geen gewetenswroeging wees [nie].” Abigail het Dawid dus daarteen gewaarsku om oorhaastig iets te doen waaroor hy later spyt sou wees.—1 Samuel 25:23-31.

Dawid het na Abigail geluister. “Geseënd [is] jou verstandigheid en geseënd jy self wat my vandag teëgehou het om in bloedskuld te geraak”, het hy vir haar gesê. “As jy my nie gou tegemoetgekom het nie, voorwaar, daar sou van Nabal niemand wat manlik is [“enigeen wat teen ’n muur water”, NW], tot die môrelig oorgebly het nie!”b—1 Samuel 25:32-34.

Lesse vir ons

Hierdie Bybelverslag toon dat dit geensins verkeerd is vir ’n godvrugtige vrou om gepaste inisiatief aan die dag te lê as dit nodig is nie. Abigail het teen haar man, Nabal, gegaan, maar die Bybel veroordeel haar nie hiervoor nie. Dit prys haar eerder as ’n verstandige en oordeelkundige vrou. Deur in hierdie krisissituasie die inisiatief te neem, het Abigail baie lewens gered.

Hoewel ’n vrou oor die algemeen ’n gees van godvrugtige onderdanigheid aan die dag moet lê, kan sy tereg met haar man verskil wanneer regte beginsels in die gedrang kom. Sy moet natuurlik daarna streef om ’n “stille en sagmoedige gees” te behou en moenie bloot uit nyd, trots of opstandigheid onafhanklik optree nie (1 Petrus 3:4). Maar ’n godvrugtige vrou hoef nie te voel dat sy gedwing word om enigiets te doen wat sy weet baie onverstandig of in stryd met Bybelbeginsels is nie. Die verslag van Abigail voorsien voorwaar ’n gegronde argument teen diegene wat daarop aandring dat die Bybel vroue as blote slawe uitbeeld.

Hierdie verslag leer ons ook ’n les in selfbeheersing. Soms het Dawid hierdie eienskap ten volle aan die dag gelê. Hy het byvoorbeeld geweier om wraaksugtige koning Saul dood te maak, selfs al het hy genoeg geleenthede gehad om dit doen en al sou Saul se dood vrede vir Dawid beteken het (1 Samuel 24:3-8). Daarenteen is Dawid, toe Nabal hom beledigend met veragting behandel het, onverhoeds betrap en het hy wraak gesweer. Dit is ’n duidelike waarskuwing aan Christene, wat probeer om “niemand kwaad vir kwaad [te] vergeld nie”. In alle omstandighede moet hulle op Paulus se vermaning ag gee: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense. Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap.”—Romeine 12:17-19.

[Voetnote]

a Die woestyn Paran strek blykbaar so ver noord as Berseba. Hierdie landstreek het baie weiveld gehad.

b Die uitdrukking “enigeen wat teen ’n muur water” was ’n Hebreeuse idioom vir manlike persone en is blykbaar ’n uitdrukking wat minagting uitgedruk het.—Vergelyk 1 Konings 14:10, NW.

[Prent op bladsy 15]

Abigail bring vir Dawid geskenke

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel