Koninkryksverkondigers berig
Skoolkinders in Nigerië word vir hulle getrouheid geseën
DIE apostel Paulus het geskryf: “As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Romeine 12:18). Skoolgaande kinders van Jehovah se Getuies in Nigerië pas hierdie raad toe, selfs wanneer hulle vervolg word. Gevolglik seën Jehovah hulle.
◻ Een onderwyser het glad nie van Jehovah se Getuies gehou nie. Gedurende een oggendbyeenkoms het hy al die Getuies vorentoe geroep en hulle beveel om die volkslied te sing. Hulle het geweier en gesê dat hulle hulle uitsluitlike toegewydheid aan God wil gee. Die onderwyser het hulle toe almal buitentoe geneem en vir hulle gesê om die gras te sny. Intussen het die ander leerlinge met hulle klasse aangegaan.
’n Volwasse Getuie het die brosjure Die skool en Jehovah se Getuies vir die onderwyser geneem en Jehovah se Getuies se neutrale standpunt aan hom verduidelik. Die onderwyser het egter geweier om die saak te bespreek of om die brosjure te aanvaar. Trouens, hy het die kinders dadelik swaarder strawwe opgelê.
Die jong Getuies het hierdie straf aanhou verduur en die gras gesny selfs wanneer die onderwyser nie teenwoordig was nie. Eendag het die onderwyser weggekruip en hulle stilletjies dopgehou terwyl hulle met hulle werk besig was en Koninkryksliedere gesing het. Hy was so beïndruk dat hy hulle teruggestuur het klas toe en verbasing oor hulle gesindheid uitgespreek het. Wat was die gevolg? Die onderwyser studeer tans die Bybel saam met Jehovah se Getuies!
Hierdie skoolkinders is ongetwyfeld vir hulle getrouheid aan Jehovah en sy beginsels geseën.—Spreuke 10:22.
◻ Ruth en haar vriende is ook geseën vir hulle getrouheid aan Jehovah se vereiste om “nie van die wêreld” te wees nie (Johannes 17:16). Ruth, wat 18 is, het as pionier begin dien toe sy 12 was. Sy en ander Getuies het teenkanting van die skool se personeellede ondervind omdat hulle geweier het om die volkslied te sing. ’n Onderwyser het gesê dat sy die meisies se ouers wil spreek. Nadat hulle die saak uit die Skool-brosjure aan haar verduidelik het, was die onderwyser tevrede en het sy die leerlinge nie meer gepla nie.
Maar eendag het ’n onderwyseres uit Indië een van die meisies voor die klas beledig en gestraf toe die meisie nie die volkslied gesing het nie. Die meisie het haar geloof met vrymoedigheid verdedig en die onderwyser het haar na die skoolhoof geneem. Toe hulle daar kom, het die jong Getuie gevind dat die visehoof ook daar was. Tot haar verbasing het die hoof en die visehoof begin lag. Die hoof het vir die onderwyseres gesê: “Mevrou, moenie jou oor hierdie meisies bekommer nie. Al maak jy hulle dood, sal hulle eerder sterf as om die volkslied op te sê. Het jy nie al van hulle gehoor nie?” Toe het sy en haar assistent oor die geloof en moed van Jehovah se Getuies gepraat. Die hoof het vir die meisie gesê dat sy jammer was oor die verleentheid wat die meisie moes verduur. Toe het sy bygevoeg: “Hou aan met jou dade van geloof. Ek bewonder jou godsdiens en jou moedige standpunt wat jy buite en hier in die skool inneem.” Later het die onderwyseres wat die kinders teëgestaan het die Getuie om verskoning gevra en gesê dat sy nou die Getuies se neutrale standpunt verstaan.
Hierdie kinders het die voorbeeld gevolg van die drie Hebreërs wat nie hulle onkreukbaarheid aan God wou prysgee deur hulle voor ’n beeld neer te buig nie, en ook die voorbeeld van Daniël, wat geweier het om op te hou om tot Jehovah te bid. Jehovah het hierdie manne geseën omdat hulle aan God se regverdige wette getrou was.—Daniël, hoofstukke 3 en 6.