Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 12/1 bl. 24-27
  • ‘Stel die egtheid van julle liefde op die proef’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Stel die egtheid van julle liefde op die proef’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die grondslag van die toets
  • Die insameling word georganiseer
  • ‘Wees oorvloedig in liefdeswerk’
  • Getoets wat hulle liefde en vrygewigheid betref
  • Hoe ons liefde vandag op die proef gestel word
  • “God het ’n blymoedige gewer lief”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Paulus organiseer ’n noodlenigingsprogram vir die heiliges
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Die Gewer van “elke goeie gawe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe Jehovah sy werk seën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 12/1 bl. 24-27

‘Stel die egtheid van julle liefde op die proef’

WAARAAN herinner die bogemelde woorde jou? Vervolging en teenspoed? Martelaarskap? Daardie woorde is oorspronklik deur die apostel Paulus in ’n brief aan Christene in eertydse Korinthe geskryf. Hulle is van groot belang vir Jehovah se hedendaagse volk aangesien ‘die egtheid van hulle liefde’ op soortgelyke wyse beproef word. Maar hoe? Kom ons beskou in antwoord hierop die agtergrond van Paulus se woorde.

Die grondslag van die toets

Sowat twee dekades nadat die Christelike godsdiens gestig is, het die gemeente in Jerusalem in ernstige geldnood verkeer. Die Christene wat in daardie vesting van Joodse teenstand en vooroordeel gewoon het, het deur die jare heen “’n groot lydensworsteling deurstaan” en selfs ’n ‘berowing van hulle goed’ beleef (Hebreërs 10:32-34). Hulp van buite het noodsaaklik geword.

Hulle nie-Joodse broers moes seer seker beweeg geword het om hulle in hulle verknorsing te help. Hulle was immers in die besonder “skuldenaars” van die Christene in Jerusalem. Is die goeie nuus nie vanuit Jerusalem na die nie-Jode uitgedra nie? Paulus het gemeen: “As die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan.”—Romeine 15:27, NAV.

Die insameling word georganiseer

Die bestuursliggaam het Paulus aangesê om ‘aan die armes [Christene] te dink’ (Galasiërs 2:10). Hy het Christene in Europa en Klein-Asië derhalwe oor die situasie in Jerusalem ingelig. Hier is Paulus se instruksies: “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galasië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.”—1 Korinthiërs 16:1, 2.

Deur op hierdie manier te begroot, sou niemand verplig of onder druk voel wanneer die insameling plaasvind nie. Die broers was nie bang dat hulle geld verkeerd aangewend of vermors sou word nie. Slegs ‘goedgekeurde persone’ sou toegelaat word om die ingesamelde fondse af te lewer, en Paulus self sou hulle vergesel as dit nodig was.—1 Korinthiërs 16:3-5.

Hoe het die Korinthiërs gereageer? Hoewel die broers blykbaar gunstig op Paulus se vermaning gereageer het, is die insameling nooit gestuur nie (2 Korinthiërs 8:6, 10, 11). Dalk is die ouere manne se aandag in beslag geneem deur hul pogings om die gemeente te bevry van die onenigheid, onsedelikheid en ander probleme waaroor Paulus geskryf het.

‘Wees oorvloedig in liefdeswerk’

Paulus het nietemin nog ’n brief aan hulle geskryf en gesê: “Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Macedonië van God ontvang het. Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra. Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea. Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil. Daarom het ons vir Titus versoek om hierdie liefdeswerk, waarmee hy vroeër by julle begin het, nou ook te voltooi. Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.”—2 Korinthiërs 8:1-7, vgl. NAV.

Die voorbeeld van die selfopofferende Macedoniërs was vir die Korinthiërs stof tot nadenke. Korinthe se rykdom, luukse en handel was spreekwoordelik. Party van die broers aldaar was dalk betreklik arm, maar in sy geheel was die gemeente ongetwyfeld beter daaraan toe as die Macedoniese Christene wat “baie arm” was. Nogtans het die Macedoniërs “bo [hulle] vermoë” bygedra. Dit was nie nodig dat Paulus hulle aanmoedig om by te dra nie. Trouens, hulle het by Paulus “daarop aangedring” om ’n bydrae te maak! Dit het bewys dat die Macedoniese Christene waarlik ‘hulleself aan die Here gegee het [in onvoorwaardelike toewyding] en toe aan [Paulus en sy metgeselle]’, deur hulle aan hulle teokratiese bevele te onderwerp.

Getoets wat hulle liefde en vrygewigheid betref

Sou die Korinthiërs insgelyks beweeg word om ‘oorvloedig in liefdeswerk’ te wees? Toe hy Korinthe aanvanklik besoek het, is Paulus verplig om homself as ’n tentmaker te onderhou (Handelinge 18:1-3). Hy het met hierdie beleid van selfversorging volgehou selfs nadat ’n gemeente daar ontstaan het en het nie sy “reg” as ’n voltydse evangeliedienaar misbruik om finansiële bystand te kry nie.—1 Korinthiërs 9:3-12.

Bybelkommentator Thomas Scott sê: “Hy het waarskynlik sekere gesindhede by die Korinthiese Christene opgemerk wat hom aanvanklik beweeg het om geen bystand van hulle te ontvang nie.” Dalk is die redelik welgestelde Korinthiërs deur die selfsugtige materialisme om hulle beïnvloed en was hulle bloot nie geneig om vrygewig te wees nie. Paulus was dalk ook bang dat die Korinthiërs met hul handelservaring sy beweegrede sou bevraagteken as hy finansiële bystand aanvaar het. Daar was dalk selfs diegene wat, soos in Thessalonika, lui was en ’n verskoning wou hê om op hulle mede-Christene te teer.—2 Thessalonicense 3:7-12.

Hoe dit ook al sy, Paulus en sy metgeselle het verkies om hulleself te onderhou, “om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie” (1 Korinthiërs 9:12). Maar Paulus het later in geldnood verkeer, en die arm broers in Filippi het daarvan te hore gekom. Paulus het vir die Korinthiërs gesê: “Ander gemeentes het ek beroof deur vergoeding te neem om julle te bedien; en toe ek by julle teenwoordig was en gebrek gehad het, het ek niemand lastig geval nie. Want in my gebrek het die broeders voorsien wat van Macedonië [blykbaar Filippi] gekom het. En ek het my in alles in ag geneem om julle nie te beswaar nie, en ek sal my in ag neem.”—2 Korinthiërs 11:8, 9; vergelyk Filippense 4:15, 16.

Paulus het weliswaar self erken dat hy nie van die Korinthiërs ‘vergoeding wou neem’ nie. Maar toe Paulus die gasvryheid van die Filippensiese vrou Lidia van die hand probeer wys het, ‘het sy hulle gedwing’ (Handelinge 16:15). Het die Korinthiërs dieselfde volgehoue besorgdheid oor Paulus se materiële welsyn getoon? ’n Mens wonder. Paulus het in iedere geval besef dat die situasie van die gemeente in Jerusalem ’n geleentheid gebied het om te toets of die Korinthiërs geneig was om suinig te wees en of hulle gasvryer geword het. Daarom het hy hulle vermaan:

“Ek sê dit nie as ’n bevel nie, maar om . . . die egtheid van julle liefde op die proef te stel. Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie [dit wil sê, dat ander verlig moet word en julle moet ly nie], maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees. Soos geskrywe is: Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.”—2 Korinthiërs 8:8, 13-15.

Die Korinthiërs het blykbaar hulle toets geslaag. Paulus het later berig: “Want Macedonië en Achaje [waar Korinthe geleë was] het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem.”—Romeine 15:26.

Hoe ons liefde vandag op die proef gestel word

Maar slaag ons in die toetse van liefde en vrygewigheid wat vandag ontstaan? Ons lewe in “swaar tye” (2 Timotheüs 3:1-5). Baie van ons gaan gebuk onder finansiële druk. En by tye oefen “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe” hul eie druk uit (1 Johannes 2:16). Hoe maklik is dit tog om selfsugtig te word, ongevoelig vir die behoeftes van ander!

Oor die geheel slaag Jehovah se Getuies vandag op besondere wyse toetse van hulle broederliefde. Op 3 Maart 1985 het ’n aardbewing byvoorbeeld Santiago, Chili, getref. Honderde broers het hulle huise en besittings verloor. Onmiddellik het gemeentes noodlenigingswerk georganiseer. “Binne ure”, berig die broers, “het party met kos, klere, komberse en ander nuttige items daar aangekom.” Bydraes is van oor die hele wêreld ontvang. Daar was deur die jare heen talle soortgelyke gevalle.

Maar ons hoef nie vir ’n ramp te wag om ons broederliefde te bewys nie. As ’n mede-Christen finansiële probleme ondervind, kan ons gevoelig vir sy behoeftes wees en meer doen as om te sê: “Word warm, word versadig” (Jakobus 2:15, 16). En wat van diegene in voltydse diens wat ‘van die evangelie lewe’? Soos Paulus eis of verwag sulke persone nie finansiële bystand van diegene onder wie hulle arbei nie. Baie mense is nietemin beweeg om vrygewig te wees teenoor diegene wat ter wille van hulle werk om ‘die geestelike te saai’.—1 Korinthiërs 9:11, 14.

En wat van die behoeftes van die wêreldwye organisasie van Jehovah se Getuies? Volgens die 1989 Yearbook of Jehovah’s Witnesses “het die Wagtoringgenootskap gedurende die 1988-diensjaar R74 586 692,43 bestee om spesiale pioniers, sendelinge en reisende opsieners in hulle velddienstoewysings te onderhou”. Die onderhoud en aankoop van takfasiliteite, gereedskap, masjinerie, papier—om nie te praat van die basiese lewenskoste van die aardwye Bethelgesin nie, wat nou uit meer as 9 000 lede bestaan—het ook baie geld gekos! Daarbenewens is sowat 18 konstruksie- en opknappingsprojekte tans in verskeie takke, en 19 by ons hoofkwartier in Brooklyn, New York, aan die gang. Het jy ’n aandeel daaraan om hierdie aardwye werk te finansier?

Soos in die eerste eeu kom almal vandag hierdie verantwoordelikheid na, met inbegrip van dié wat minder welaf is en wat met hul klein bydraes die ruggraat van die Genootskap se finansiële steun vorm. Party vind dit nuttig om die presedent te volg wat in 1 Korinthiërs 16:2 geskep is en begroot gereeld vir persoonlike bydraes wat by die Koninkryksaal gemaak word. Party besluit dalk ook om geld regstreeks aan die Watch Tower Society, 25 Columbia Heights, Brooklyn, New York 11201, of aan een van sy takkantore te skenk.

Wees verseker dat Jehovah kennis neem van diegene wat deur hulle vrygewigheid die egtheid van hulle liefde bewys. Moet jou nie seëninge ontsê nie! Paulus het belowe: “En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.”—2 Korinthiërs 9:8.

[Venster op bladsy 26]

HOE PARTY TOT DIE KONINKRYKSWERK BYDRA

◻ SKENKINGS: Vrywillige geldelike bydraes kan regstreeks aan die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, 25 Columbia Heights, Brooklyn, New York 11201, of aan die Genootskap se plaaslike takkantoor gestuur word. Eiendom, soos vaste eiendom, asook juwele of ander kosbaarhede kan ook geskenk word. ’n Kort briefie wat meld dat dit ’n regstreekse bydrae is, moet hierdie bydraes vergesel.

◻ REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS: Geld kan aan die Wagtoringgenootskap gegee word om in trust beheer te word, op voorwaarde dat dit, in geval van persoonlike behoefte, aan die skenker terugbetaal sal word.

◻ VERSEKERING: Die Wagtoringgenootskap kan benoem word as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema. Die Genootskap moet van sulke reëlings in kennis gestel word.

◻ TRUSTS: Bankspaarrekeninge kan vir die Genootskap in trust geplaas word. Wanneer dit gedoen word, moet die Genootskap asseblief daarvan verwittig word. Effekte, verbande en eiendom kan ook geskenk word ooreenkomstig ’n reëling waarvolgens die skenker gedurende sy of haar lewe bevoordeel word. Hierdie metode skakel die koste en onsekerhede van regterlike verifikasie van ’n testament uit en verseker dat die Genootskap die eiendom ontvang wanneer die skenker sterf.

◻ TESTAMENTE: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Wagtoringgenootskap bemaak word. ’n Kopie moet aan die Genootskap gestuur word. (In Suid-Afrika moet testamente Jehovah se Getuies van Suid-Afrika as begunstigde benoem.)

Skryf aan die Tesourierskantoor, Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, Privaatsak 2067, Krugersdorp, 1740, of aan die Genootskap se plaaslike takkantoor vir nadere inligting of raad oor sulke aangeleenthede.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel