Vrywilligerwerk met blywende voordele
JESUS CHRISTUS het gereeld goeie dade vir behoeftiges gedoen. Hy het byvoorbeeld honger mense gevoed en die siekes genees (Matteus 14:14-21). Maar watter bedrywigheid was vir hom die belangrikste? ’n Voorval vroeg in Jesus se bediening gee die antwoord. Dit is opgeteken in die eerste hoofstuk van die Evangelie van Markus.
Terwyl Jesus in Kapernaum, naby die See van Galilea, was, is hy na die huis van Simon, oftewel Petrus, geneem. Daar het “Simon se skoonmoeder . . . met koors siek gelê”, en Jesus het haar genees (Markus 1:29-31). Later het ’n skare, waaronder baie mense “wat aan verskillende siektes gely het”, voor die deur van Petrus se huis begin bymekaarkom, en Jesus het hulle ook genees (Markus 1:32-34). Toe het dit nag geword, en almal het gaan slaap.
Die volgende oggend, “terwyl dit nog donker was”, het Jesus stilletjies opgestaan, die huis verlaat en “na ’n eensame plek” weggegaan, waar “hy begin bid” het. Kort voor lank het die dissipels ook wakker geword, gekyk wat buite die huis aangaan en ’n groot skare gesien wat buite die deur wag. Maar wat moes hulle doen? Jesus was nêrens te vinde nie! Petrus en diegene by hom het Jesus vinnig opgespoor en gesê: “Almal soek u” (Markus 1:35-37; Lukas 4:42). Dit lyk asof hulle as ’t ware vir Jesus gesê het: ‘Wat doen jy hier buite? Jou genesing van die siekes gisteraand was ’n reusesukses. Vandag wag daar nog ’n wonderlike geleentheid op jou!’
Maar let nou op wat Jesus se reaksie was: “Laat ons êrens anders heen gaan, in die nabygeleë dorpstede in, sodat ek ook daar kan preek.” Hierdie antwoord is betekenisvol. Jesus het nie na Petrus se huis teruggekeer om ander te genees nie. Hy het getoon waarom toe hy gesê het: “Met dié doel [dit wil sê om te preek] het ek uitgegaan” (Markus 1:38, 39; Lukas 4:43). Wat was Jesus besig om vir sy dissipels te sê? Dit was vir hom belangrik om goeie dade te verrig, maar Jesus se vernaamste werk was om God se woord te verkondig en ander daarvan te leer.—Markus 1:14.
Aangesien die Bybel Christene aanspoor om Jesus se “voetstappe noukeurig [te] volg”, het ware Christene vandag duidelike riglyne om hulle te help om prioriteite te stel wat vrywilligerwerk betref (1 Petrus 2:21). Soos Jesus, help hulle mense wat behoeftig is—soos die vorige artikel toelig. En ook soos Jesus, is die werk om die Bybel se boodskap oor die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander te leer vir hulle die belangrikste (Matteus 5:14-16; 24:14; 28:19, 20).a Maar waarom moet die vrywilligerdiens om mense oor die Bybel se boodskap te onderrig vir ons belangriker wees as ander waardevolle vorme van vrywilligerwerk?
Waarom en hoe Bybelonderrig ’n verskil maak
’n Asiatiese spreekwoord gee die antwoord. Dit sê: “As jy vir ’n jaar beplan, saai sade. As jy vir tien jaar beplan, plant bome. As jy vir honderd jaar beplan, onderrig mense.” Onderrigting is inderdaad noodsaaklik as ’n mens blywende oplossings wil vind, aangesien dit ’n persoon die vermoë laat ontwikkel om besluite te neem wat sy lewe sal verbeter. Dit is waarom meer as sesmiljoen deeltydse en voltydse vrywilligers vandag hulle tyd, kragte en hulpbronne opoffer om gratis Bybelonderrig aan die publiek te verskaf. Hierdie beproefde vrywilligerprogram van Jehovah se Getuies het ’n invloed op gemeenskappe regoor die wêreld. Hoe?
Namate mense gehelp word om die Bybel se praktiese raad te verstaan en toe te pas, word hulle beter toegerus om die probleme van die lewe die hoof te bied. Hulle kry die nodige sedelike krag om skadelike gewoontes te bowe te kom. Nelson, ’n jeugdige in Brasilië, beklemtoon nog ’n voordeel van Bybelonderrig: “Sedert ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, weet ek wat vreugde is omdat ek nou ’n doel in die lewe het” (Prediker 12:13). Honderdduisende ander—oud en jonk—wat God se Woord onlangs begin studeer het, voel ook soos Nelson. Behalwe dat studente gehelp word om ’n bevredigende doel in die lewe te vind, gee die boodskap van God se Koninkryk hulle ’n bemoedigende hoop vir die toekoms—’n hoop wat dit die moeite werd maak om te lewe, selfs onder die moeilikste omstandighede (1 Timoteus 4:8).—Sien die venster “Hoe God se Koninkryk ’n verskil gaan maak”.
Jehovah se Getuies lewer deur middel van hulle Bybelonderrigtingswerk ’n vrywilligerdiens met blywende voordele. Hoe blywend? God se Woord sê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Stel jou voor jy neem deel aan ’n program met ewige voordele—dit is voorwaar ’n vorm van vrywilligerdiens wat waarlik ’n verskil maak! Is dit nie die soort program waaroor jy graag meer sal wil uitvind nie? Indien wel, kom gerus in aanraking met Jehovah se Getuies in jou omgewing. Jy sal nie spyt wees as jy hierdie uitnodiging aanvaar nie.
[Voetnoot]
a Jehovah se Getuies beskou hulle predikingswerk in dieselfde lig as die apostel Paulus—as iets wat vir ware Christene noodsaaklik is. Paulus het gesê: “As ek dan nou die goeie nuus bekend maak, is dit vir my geen rede om te roem nie, want die dwang is my opgelê” (1 Korintiërs 9:16). Hulle predikingswerk is nietemin vrywillig omdat hulle vryelik gekies het om dissipels van Christus te word en ten volle bewus was van die verantwoordelikhede wat saam met daardie voorreg gaan.
[Lokteks op bladsy 11]
“As jy vir ’n jaar beplan, saai sade. As jy vir tien jaar beplan, plant bome. As jy vir honderd jaar beplan, onderrig mense”
[Venster/Prente op bladsy 10]
Sy help en gee hoop
Nadine, ’n 43-jarige Franse verpleegster wat in tropiese siektes spesialiseer, is een van die vrywilligers wat al in Sentraal-Afrika gewerk het. “Mense vra my waarom ek dit doen”, het sy in ’n onlangse onderhoud gesê. “Ek glo in God, ek is lief vir mense en ek wil van myself gee. En omdat ek een van Jehovah se Getuies is, beweeg dit my om mense wat ly, te help om gesond te word en ook vir hulle ’n hoop te gee.” Terwyl Nadine vrywilligerdiens in Afrika doen, verdeel sy haar tyd tussen noodlenigingswerk en deelname aan die Bybelonderrigtingswerk wat daar deur die plaaslike Getuies gedoen word.
[Prente]
Nadine in Afrika
[Venster op bladsy 12]
Hoe God se Koninkryk ’n verskil gaan maak
Lees gerus hierdie tekste in jou eie Bybel, en sien hoe God belowe om op die volgende gebiede in die mens se behoeftes te voorsien:
Gesondheid “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4; Jesaja 33:24; 35:5, 6.
Opvoeding “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—Jesaja 11:9; Habakuk 2:14.
Werkverskaffing “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie. . . . Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei . . . nie.”—Jesaja 65:21-23.
Voedsel “Die aarde sal beslis sy opbrengs lewer; God, ons God, sal ons seën.”—Psalm 67:6, NW; 72:16; Jesaja 25:6.
Maatskaplike toestande “Jehovah het die stok van die goddeloses verbreek . . . Die hele aarde het tot rus gekom, het vry van rusversteuring geword.”—Jesaja 14:5, 7, NW.
Geregtigheid “Kyk, ’n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg.”—Jesaja 11:3-5; 32:1, 2.