Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 12/15 bl. 5-7
  • Kersfees—Is dit die manier om Jesus te verwelkom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kersfees—Is dit die manier om Jesus te verwelkom?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “As die basuin ook ’n onduidelike klank gee”
  • ‘Om mense te win’
  • “Verborge Christene” het nie teruggekeer nie
  • Terugkeer tot die ware Christelike godsdiens
  • Die oorsprong van die hedendaagse kersfees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Waarom vier Jehovah se Getuies nie Kersfees nie?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • Kersfees—Waarom so gewild in Japan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Moet jy Kersfees vier?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 12/15 bl. 5-7

Kersfees—Is dit die manier om Jesus te verwelkom?

DIE geboorte van die Verlosser, die langverwagte Messias, was inderdaad ’n vreugdevolle tyd. “Kyk”, het ’n engel vir herders in die omgewing van Betlehem gesê, “ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag . . . gebore is die Saligmaker [“Verlosser”, NAV] wat Christus, die Here, is.” ’n Menigte engele het God saam met daardie engel begin loof: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!” (Lukas 2:10-14). Sommige kom moontlik tot die slotsom dat Christene die engele se voorbeeld moet navolg toe hulle vreugdevol was oor Christus se koms na die aarde destyds.

Dit is nie die eerste keer dat die Bybel praat van engele wat lofliedere spontaan begin sing nie. Toe die aarde geskep is, het “die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig” (Job 38:4-7). Die presiese datum van hierdie gebeurtenis word nie in die Bybel gemeld nie (Genesis 1:1, 14-18). Hoe vreugdevol die geleentheid ook al was, Christene redeneer nie dat hulle jaarliks die skepping van die aarde moet vier en miskien ’n heidense fees moet aanneem om die geleentheid te herdenk net omdat die engele gejuig het nie.

Maar dit is presies wat mense wat Kersfees vier met die geboorte van Jesus Christus doen. As ’n mens in bykans enige betroubare ensiklopedie onder die opskrif “Kersfees” kyk, bevestig dit dat die datum van Jesus se geboorte nie bekend is nie. Die Bybel sê niks oor daardie datum nie.

“As die basuin ook ’n onduidelike klank gee”

“God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede”, het die apostel Paulus geskryf toe hy die wanordelikheid van die gemeente in eertydse Korinthe reggestel het. In dieselfde konteks het hy gevra: “As die basuin ook ’n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog?” (1 Korinthiërs 14:8, 33). Sou ’n God van orde, as hy wou hê dat Christene die geboorte van sy Seun op die aarde moes vier, dit dan aan onvolmaakte mense oorgelaat het om na willekeur ’n datum uit heidense feesdae te kies en om goddelose gebruike aan te neem?

As ons ’n paar Bybelse voorbeelde ondersoek, bring dit aan die lig dat Jehovah God nie op daardie manier met sy volk handel nie. Toe hy vereis het dat die Israeliete die jaarlikse vierings onder die Mosaïese Wet hou, het God spesifieke datums vasgestel en vir hulle gesê hoe hulle hierdie feeste moet hou (Exodus 23:14-17; Levitikus 23:34-43). Hoewel Jesus Christus nooit die opdrag gegee het dat sy geboorte gevier moes word nie, het hy sy volgelinge beveel om een spesifieke datum te herdenk. “In die nag waarin Hy verraai is”, 14 Nisan, 33 G.J., het Jesus die viering van die Here se Aandmaal ingestel, en ongesuurde brood en wyn is vir dié doel gebruik. Hy het beveel: “Doen dit . . . tot my gedagtenis” (1 Korinthiërs 11:23, 24). Die basuinklank wat aandui wanneer en hoe die Here se Aandmaal gevier moet word, is duidelik en onmiskenbaar. Wat dan van Kersfees? Nêrens in die Bybel vind ons enige opdrag om die geboorte van Christus te vier nie, en dit sê ook nie wanneer en hoe dit gedoen moet word nie.

‘Om mense te win’

“O, natuurlik weet ek Kersfees is van heidense oorsprong, maar so lank as wat gewone mense op 25 Desember in die Christelike godsdiens belangstel en kom om die leringe van die agtenswaardige Jesus te leer, het Kersfees ’n plek in die Christelike godsdiens”, het ’n geestelike van ’n Sionistekerk in Tokio gesê. Baie stem met sy redenasie saam. Glo jy dat dit gepas is om sulke kompromisse aan te gaan?

Sommige redeneer dat selfs Paulus kompromisse aangegaan het om gelowiges te win. Hy het geskryf: “Ek maak myself almal se slaaf, om soveel mense moontlik te win . . . Wanneer ek met Heidene werk, leef ek soos ’n Heiden, buite die Joodse Wet, om Heidene te win. . . . Ek doen dit alles ter wille van die evangelie, om in die seëninge daarvan te deel” (1 Korinthiërs 9:19-23, Today’s English Version). Toon hierdie woorde dat dit reg is om ’n heidense feesdag te aanvaar om Heidene na die Christelike godsdiens te trek?

Kyk noukeurig na die konteks van Paulus se woorde. In vers 21 het hy gesê: “Dit beteken nie dat ek nie God se wet gehoorsaam nie; ek is in werklikheid onder Christus se wet” (TEV). Hy het dus nie ’n kompromis aangegaan in sake wat Christus se wet oortree het nie, maar hy ‘het soos ’n Heiden geleef’ deur die plaaslike gebruike en gewoontes te respekteer solank as wat dit nie teen Christelike wette was nie.a

Hou dit in gedagte en dink dan hoe heidense feeste wat in die “Christelike godsdiens” opgeneem is en Kersfees genoem word in die lig van die volgende Bybelse bevel lyk: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid . . . of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem” (2 Korinthiërs 6:14-17). Ongeag watter verskoning aangevoer word, die verontreiniging van die Christelike godsdiens met heidense feesdae is nie die manier om Jesus as ons Verlosser te verwelkom nie. Dit sou in die eerste eeu toe Jesus in die vlees gekom het onvanpas gewees het, en dit is net so onvanpas vandag of in die toekoms, wanneer Christus as Koning kom om God se oordele te voltrek (Openbaring 19:11-16). Trouens, diegene wat verkies om heidense feeste onder ’n “Christelike” dekmantel te vier, verloën Jesus Christus heel moontlik daardeur.

“Verborge Christene” het nie teruggekeer nie

Kyk wat het gebeur met Katolieke in Japan gedurende die sjogoen-tydperk. Toe onderdrukking van Katolisisme in 1614 begin het, het die sowat 300 000 Japannese Katolieke drie keuses gehad: word martelaars, doen afstand van hulle geloof of gaan ondergronds. Diegene wat ondergronds gegaan het, is verborge Christene genoem. Om hulle godsdiens te kamoefleer, het hulle hulle geskik na verskeie Boeddhistiese en Sjintoïstiese gebruike. In hulle liturgie het hulle Maria Kannon gebruik, wat Maria is wat vermom is as ’n Boeddhistiese bodhisattva in die vorm van ’n moeder wat ’n kind vashou. Hulle feeste het Boeddhisme, Katolisisme en volksgodsdiens gemeng. Wanneer hulle egter gedwing is om Boeddhistiese begrafnisse by te woon, het hulle Christelike gebede opgesê en modosji gedoen, ’n seremonie wat die Boeddhistiese diens waardeloos gemaak het. Wat het van daardie “Christene” geword?

Die boek The Hidden Christians verduidelik: “Wat die meeste Kirisjitans [Christene] betref het, het ’n godsdiensgehegtheid in hulle gegroei wat dit moeilik gemaak het om die aanbidding van Sjintoïstiese en Boeddhistiese gode te laat vaar.” Toe die verbod opgehef is en Katolieke sendelinge na Japan teruggekeer het, het die meeste van daardie “verborge Christene” vasgehou aan hulle soort gemengde godsdiens.

Maar kon die Katolieke Kerk werklik daardie “verborge Christene” kritiseer wat geweier het om tot Rooms-Katolisisme terug te keer? Die Katolieke Kerk het eweneens baie heidense leringe en feeste, waaronder Kersfees, aangeneem. As Katolieke en Protestante, hoewel hulle beweer dat hulle Christene is, hulle “Christelike godsdiens” met heidense feeste verheidens het, is dit nie moontlik dat hulle Jesus Christus ook verwerp nie?

Terugkeer tot die ware Christelike godsdiens

Setsoeko, wat 36 jaar lank ’n vroom Katoliek was, het dit uiteindelik besef. Na die Tweede Wêreldoorlog het sy probeer om haar geestelike leemte te vul deur na ’n Katolieke kerk toe te gaan. ‘Hoe bevredigend tog!’ het sy gedink toe sy ’n Kersmis bygewoon het en pragtige Kersbome binne en buite haar kerk gesien het. “Ek was trots op ons pragtige versiersels, wat die kerke in die omgewing s’n in die skadu gestel het”, het sy gesê. Nogtans het Setsoeko die Katolieke leerstellings nie werklik verstaan nie, hoewel sy selfs ’n ruk lank Sondagskoolonderwyseres was. Toe sy dus meer betrokke wou raak by kerkwerk, het sy haar priester ’n paar vrae gevra. Pleks van haar vrae te beantwoord, het die priester haar verkleineer. Sy was teleurgesteld en het besluit om die Bybel self te bestudeer. Twee weke later het Jehovah se Getuies haar besoek en sy het ’n tuisbybelstudie aanvaar.

Sy verduidelik: “Dit was pynlik om Bybelwaarhede te leer wat my vorige opvattings weerlê het. Ek het selfs alopecia neurotica gehad, haarverlies weens ontsteltenis. Geleidelik het die lig van waarheid egter in my hart begin skyn. Ek was verstom om te hoor dat Jesus nie gebore kon gewees het in ’n koue, reënerige Desember nie, waartydens herders nie in die nag buite na hulle skape sou omsien nie (Lukas 2:8-12). Dit het my beeld van die geboorte verpletter, want ons het watte gebruik vir sneeu om tonele van skape en herders mee te versier.”

Nadat Setsoeko haarself vergewis het van wat die Bybel werklik leer, het sy besluit om nie meer Kersfees te vier nie. Sy het nie meer “die Kersgees” een keer per jaar nie, maar openbaar elke dag die blymoedige, vrygewige Christelike gees.

As jy opreg in Christus glo, moet jy nie kwaad word as jy sien dat heidene Kersfees besoedel nie. Hulle herhaal net wat dit oorspronklik was—’n heidense fees. Kersfees beweeg niemand om Jesus Christus, wat onsigbaar as hemelse Koning teruggekeer het, te verwelkom nie (Mattheüs, hoofstukke 24 en 25; Markus, hoofstuk 13; Lukas, hoofstuk 21). Ware Christene lê eerder die hele jaar deur ’n Christelike gees aan die dag, en hulle verkondig die goeie nuus van die Koninkryk, waarvan Jesus Koning geword het. Dit is hoe God wil hê dat ons Jesus Christus as ons Verlosser en die Koning van die Koninkryk moet verwelkom.—Psalm 2:6-12.

[Voetnoot]

a Vergelyk die twee maniere waarop Paulus gereageer het op die kwessie van besnydenis. Hoewel hy geweet het dat ‘besnydenis niks beteken nie’, het hy sy reisgenoot Timotheüs wat aan moederskant Joods was, besny (1 Korinthiërs 7:19, NW; Handelinge 16:3). In die geval van Titus het die apostel Paulus uit beginsel in die stryd met Judaïseerders nie daarop aangedring dat hy besny word nie (Galasiërs 2:3). Titus was ’n Griek en in teenstelling met Timotheüs was daar geen geldige rede waarom hy besny moes word nie. As hy, ’n Heiden, besny sou word, ‘sou Christus vir hom tot geen nut wees nie’.—Galasiërs 5:2-4.

[Prent op bladsy 7]

Ware Christene eer Jesus die hele jaar deur

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel