Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 9/15 bl. 24-25
  • “Doen alles tot God se heerlikheid”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Doen alles tot God se heerlikheid”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eenheid en sedelike reinheid uiters belangrik
  • Wees bedagsaam teenoor ander
  • Toon respek en wees ordelik
  • Doen altyd alles tot God se heerlikheid
  • Bybelboek nommer 46—1 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Bybelboek nommer 47—2 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “Hou aan om te toets of julle in die geloof is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die ongetroude lewe—’n Deur tot diens sonder om afgelei te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 9/15 bl. 24-25

“Doen alles tot God se heerlikheid”

Glanspunte in Eerste Korinthiërs

JEHOVAH GOD se heerlikheid is uiters belangrik vir almal wat hom “in gees en waarheid” aanbid (Johannes 4:23, 24). Daarom het die apostel Paulus vir mede-Christene in eertydse Korinthe gesê: “Hetsy julle eet of drink of iets anders doen, doen alles tot God se heerlikheid” (1 Korinthiërs 10:31, NW). Dit vereis dat ons Jehovah se manier aanvaar om ons probleme op te los in hierdie materialistiese, onsedelike wêreld wat in valse godsdiens gedompel is.

Korinthiese Christene het goddelike hulp nodig gehad om hulle probleme op te los, want hulle het in ’n florerende, onsedelike stad vol valse godsdiens gewoon. Korinthe, wat op ’n landengte tussen die Griekse vasteland en die Peloponnesos geleë was, was die hoofstad van die Romeinse provinsie Achaje en het ongeveer 400 000 inwoners gehad. Paulus het die gemeente aldaar omstreeks die jaar 50 G.J. gestig.—Handelinge 18:1-11.

Die Korinthiërs het aan Paulus geskryf en uitgevra oor die huwelik en of vleis wat aan afgode geoffer is, geëet kon word (7:1). Hy was ontsteld omdat verdeeldhede en ’n geval van growwe onsedelikheid onder hulle voorgekom het. Hulle het raad nodig gehad om die Here se Aandmaal op die regte manier te vier. Daar was selfs die gevaar van afvalligheid, en die gemeente het raad oor liefde nodig gehad. Om hierdie redes het Paulus sy eerste geïnspireerde brief aan die Korinthiërs omstreeks 55 G.J. van Efese af geskryf. Maar ons kan ook daarby baat vind.

Eenheid en sedelike reinheid uiters belangrik

As ons ‘alles tot God se heerlikheid doen’, sal ons nie enigeen volg wat verdeeldheid in die gemeente probeer veroorsaak nie—een van die probleme waarvoor die Korinthiërs te staan gekom het (1:1–4:21). Paulus het hulle vermaan om ‘eenstemmig te wees en in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening verenig te wees’. Daar sal eenheid wees as ons hierdie raad volg en geestelike eienskappe aankweek. Pleks van op ’n sondige mens te roem, moet ons onthou dat dit God is wat dit geestelik ‘laat groei’ hoewel ons ‘plant en natmaak’. Diegene in Korinthe wat geroem het, het niks gehad wat hulle nie ontvang het nie; ons moet onsself dus nooit beter as medegelowiges beskou nie. So ’n nederige gees sal ons help om eenheid te bevorder.

Aangestelde ouere manne moet optree om die gemeente geestelik rein te hou sodat eenheid sal bly heers (5:1–6:20). Aangesien “’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak”, moet onberouvolle hoereerders, gierigaards, afgodedienaars, kwaadsprekers, dronkaards of rowers uitgesit word. Sedelike onreinheid, wat God se tempel verontreinig, moet nie onder Jehovah se volk geduld word nie. Inteendeel, hulle moet dinge doen wat God verheerlik.

Wees bedagsaam teenoor ander

Om ‘alles tot God se heerlikheid te doen’, moet ons Paulus se raad oor die huwelik en die ongehude staat toepas (7:1-40). Diegene wat getroud is, moet die huweliksplig met bedagsaamheid nakom. ’n Getroude Christen moet nie van ’n ongelowige huweliksmaat skei nie, want as hulle getroud bly, kan die ongelowige gehelp word om redding te verkry. Hoewel die huwelik groter besorgdheid meebring, kan die ongehude staat ’n persoon wat ander geestelik wil help tot voordeel strek omdat hy die Here onverdeeld kan dien.

Dit is alle Christene, hetsy ongetroud of getroud, se plig om oor die geestelike welsyn van ander besorg te wees (8:1–10:33). Gevolglik is die Korinthiërs gemaan om nie ander te laat struikel deur voedsel te eet wat aan afgode geoffer is nie. Paulus het nie eers van sy reg gebruik gemaak om materiële hulp te ontvang nie, sodat hy niemand sou verhinder om die goeie nuus te aanvaar nie. Hy het ook ‘sy liggaam gekasty sodat hy, na hy vir ander gepreek het, nie self verwerplik sou wees nie’. As ons sondige Israel se ondervindinge in die woestyn ter harte neem, sal dit ons help om afgodediens en sonde te vermy. As ons ‘alles tot God se heerlikheid doen’, sal dit ons boonop help om niemand te laat struikel nie.

Toon respek en wees ordelik

Die betoning van behoorlike respek is ’n vereiste as ons ‘alles tot God se heerlikheid wil doen’ (11:1-34). ’n Eerste-eeuse Christin het die hoofskapbeginsel gerespekteer deur ’n hoofbedekking te dra wanneer sy in die gemeente gebid of geprofeteer het. Vandag toon godvrugtige vroue soortgelyke respek vir die hoofskapbeginsel. Daarbenewens moet ons almal die Here se Aandmaal respekteer sodat ons nie soos die Korinthiërs word wat teregwysing nodig gehad het nie.

Om ‘alles tot God se heerlikheid te doen’, moet ons ons vergaderinge op ’n ordelike wyse hou (12:1–14:40). Toe eertydse Christene bymekaargekom het, moes hulle gawes van die gees, soos talespraak, gebruik op ’n wyse wat hulle respek en waardering vir die bron en doel daarvan getoon het. Hoewel ons nie nou hierdie gawes het nie, verheerlik ons God deur liefde te openbaar wat hulle oortref. Ons verheerlik Jehovah ook omdat ons vergaderinge goed georganiseerd is, en ons pas Paulus se raad eerbiedig toe: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”

As ons ‘alles tot God se heerlikheid doen’, sal dit vereis dat ons die Bybel se leer moet respekteer en geestelik standvastig moet bly (15:1–16:24, vgl. NAV). Party in die Korinthiese gemeente is moontlik deur Griekse filosofie beïnvloed en het gesê: “Daar [is] geen opstanding van die dode nie.” (Vergelyk Handelinge 17:18, 32.) Hulle het dalk die afvallige sienswyse gehuldig dat daar nie ’n toekomstige opstanding sou wees nie, maar dat lewende Christene ’n simboliese, geestelike opstanding ondervind het (2 Timotheüs 2:16-18). Paulus het die ware hoop gesteun deur Jesus se opstanding te meld en ook te toon dat gesalfde Christene moet sterf sodat hulle tot onsterflike hemelse lewe opgewek kan word. Sy woorde help ons ook op ander maniere om afvalligheid te vermy en “vas [te staan] in die geloof”.

Doen altyd alles tot God se heerlikheid

Paulus se raad in Eerste Korinthiërs is vandag net so nuttig soos dit in die eerste eeu G.J. was. Dit beweeg hedendaagse Getuies van Jehovah om God in eenheid as ’n rein volk te dien. Die apostel se woorde moet ons aanspoor om bedagsaam teenoor ander te wees en behoorlike respek te toon. Wat Paulus gesê het, kan ons ook versterk om afvalligheid teë te staan en in die ware geloof vas te staan.

Dit is ongetwyfeld die innige begeerte van elke getroue kneg van Jehovah om hom te loof, sy Koninkryk aan te kondig en sy heilige naam te verheerlik (Psalm 145:1, 2, 10-13). Trouens, Paulus se eerste brief aan die Korinthiërs help ons om ‘alles tot God se heerlikheid te doen’.

[Venster/Prent op bladsy 24, 25]

VERSEKER VAN DIE DOOD: Paulus het meer as een maal in sy briewe aan die Korinthiërs op die dood in die arena gesinspeel. Hy het byvoorbeeld geskryf: “Dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys [“ten toon gestel”, NW] het as tot die dood veroordeel; want ons het ’n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense” (1 Korinthiërs 4:9). Paulus het dalk gedink aan tentoonstellings van bestiarii (manne wat met diere geveg het) en gladiatore (manne wat met manne geveg het). Party het vir geld geveg, maar misdadigers was verplig om te veg. In die begin kon hierdie gevangenes wapens gebruik, maar later is hulle naak en weerloos uitgebring, en was hulle verseker van die dood.

Met “engele” en “mense” (nie net “die wêreld” van mense nie) as toeskouers was die apostels soos diegene wat in so ’n finale, bloedige skouspel sou sterf. Paulus het gesê dat hy “in Efese . . . met wilde diere geveg het”, maar party twyfel of ’n Romeinse burger hieraan onderwerp sou word en sê dat hy na dierlike teenstanders verwys het (1 Korinthiërs 15:32). Maar Paulus se verklaring dat God hom in die distrik Asië (waar Efese geleë was) “uit so ’n groot doodsgevaar” verlos het, pas beter by ’n ondervinding met werklike wilde diere in ’n arena as wat dit by menseteenstanders pas.—2 Korinthiërs 1:8-10; 11:23; Handelinge 19:23-40.

[Venster/Prent op bladsy 25]

HOU DIE PRYS VOOR OË: Paulus het kenmerke van eertydse Griekse spele gebruik om belangrike gedagtes te illustreer (1 Korinthiërs 9:24-27). In wedstryde soos die Ismiese Spele wat elke twee jaar naby Korinthe gehou is, het die program uit hardloop, boks en ander nommers bestaan. Terwyl hulle vir hierdie wedstryde voorberei het, moes hardlopers en boksers selfbeheersing beoefen, op ’n gesonde skraal dieet lewe en tien maande lank geen wyn drink nie. Pleks van die verganklike krans van dennetakke of rankplante wat wenners van die Ismiese Spele ontvang het, strewe ’n gesalfde Christen egter na die onverganklike kroon van onsterflike lewe. Om daardie prys te wen, moet hy sy oë daarop gevestig hou en selfbeheersing beoefen. Dieselfde beginsel geld vir Jehovah se Getuies wat die vooruitsig het om vir ewig op die aarde te lewe.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel