Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 7/15 bl. 3-7
  • Weerspreek die Bybel homself?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Weerspreek die Bybel homself?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is dit werklik probleme?
  • Versoening van tekste waarby Jesus betrokke was
  • Hoe sal jy sake beskou?
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Glanspunte uit die boek Eerste Kronieke
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Hy het beskerm, hy het voorsien, hy het volhard
    Volg hulle geloof na
  • Hy het beskerm, voorsien en volhard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 7/15 bl. 3-7

Weerspreek die Bybel homself?

DIE skrywer Henry Van Dyke het eenkeer geskryf: “Gebore in die Ooste en geklee in Oosterse vorm en beeldspraak bewandel die Bybel die weë van die hele wêreld met vertroue, en land na land vind hy oral sy volgelinge. Die Bybel het geleer om in honderde tale die hart van die mens te bereik. Kinders luister na sy verhale met verwondering en behae, en wyse manne bepeins hulle as gelykenisse van die lewe. Sy waarskuwings laat die goddeloses en die trotses sidder, maar vir die gekwetstes en berouvolles het die Bybel die stem van ’n moeder. . . . Geen man wat hierdie skat vir homself het, is arm of verlate nie.”

Die Bybel het inderdaad ‘geleer om honderde tale te praat’. Ten minste een van sy 66 boeke is in 1 970 tale vertaal. Miljoene mense beskou die Bybel as ’n geskenk van God en lees dit met genot en vind daarby baat. Maar ander sê dat dit teenstrydighede bevat en dus onbetroubaar is. Wat bring noukeurige navorsing aan die lig?

Soos die prent op ons voorblad toon, het God getroue manne gebruik om die Bybel te skryf. Trouens, noukeurige ontleding van die Bybel bring aan die lig dat ongeveer 40 manne dit oor ’n tydperk van 16 eeue geskryf het. Was hulle beroepskrywers? Nee. Onder hulle kan jy herders, vissers, tollenaars, dokters, tentmakers, priesters, profete en konings vind. Hulle werke meld dikwels mense en gebruike wat vir ons in die 20ste eeu onbekend is. Trouens, die Bybelskrywers het self nie altyd die betekenis gesnap van wat hulle geskryf het nie (Daniël 12:8-10). Daarom moet ons, wanneer ons die Bybel lees, nie verbaas wees as ons sekere dinge teëkom wat moeilik is om te verstaan nie.

Kan sulke probleme uit die weg geruim word? Weerspreek die Bybel homself? Om uit te vind, kan ons ’n paar voorbeelde van naderby beskou.

Is dit werklik probleme?

▪ Waar het Kain sy vrou gekry? (Genesis 4:17)

’n Mens dink dalk dat daar ná die moord op Abel slegs sy skuldige broer Kain en hulle ouers, Adam en Eva, op die aarde oor was. Adam en Eva het egter ’n groot gesin gehad. Volgens Genesis 5:3, 4 het Adam ’n seun met die naam Set gehad. Die verslag voeg by: “Die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agthonderd jaar. [Intussen, “NW”] . . . het [hy] seuns en dogters gehad.” Kain het dus met sy suster of met een van sy niggies getrou. Aangesien die mensdom toe so na aan menslike volmaaktheid was, het so ’n huwelik klaarblyklik nie die gesondheidsgevare ingehou waaraan die kinders uit so ’n huwelik vandag blootgestel word nie.

▪ Aan wie is Josef verkoop?

Genesis 37:27 sê dat Josef se broers hom aan Ismaeliete verkoop het. Maar die volgende vers sê: “En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle [Josef se broers] Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En hulle het Josef na Egipte gebring.” Is Josef aan Ismaeliete of aan Midianiete verkoop? Wel, die Midianiete is dalk ook Ismaeliete genoem, aan wie hulle deur hulle voorvader Abraham verwant was. Of Midianitiese koopmans het dalk saam met ’n Ismaelitiese karavaan gereis. Hoe dit ook al sy, Josef se broers het hom verkoop, en later kon hy vir hulle sê: “Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.”—Genesis 45:4.

▪ Hoeveel Israeliete het gesterf omdat hulle met die Moabitiese vroue gehoereer en Baäl-Peor aanbid het?

Numeri 25:9 sê: “Die wat deur die plaag [van God vir hulle goddelose gedrag] gesterf het, was vier-en-twintigduisend.” Maar die apostel Paulus het gesê: “Laat ons nie hoereer soos sommige van hulle [Israeliete in die woestyn] gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintigduisend geval” (1 Korinthiërs 10:8). Die getal wat gesneuwel het, was dalk tussen 23 000 en 24 000, wat albei getalle aanvaarbaar maak. Tog dui die boek Numeri spesifiek aan dat “al die hoofde van die volk” wat by hierdie sonde betrokke was deur die rigters gedood is (Numeri 25:4, 5). Daar kon dalk 1 000 van hierdie skuldige “hoofde” gewees het wat, as hulle by die 23 000 getel word wat Paulus genoem het, altesaam 24 000 uitmaak. Hoewel 23 000 blykbaar direkte slagoffers was van die plaag wat God gestuur het, het al 24 000 Jehovah se plaag ondervind omdat hulle almal onder sy oordeel gesterf het.—Deuteronomium 4:3.

▪ Aangesien Agag ’n tydgenoot van die Israelitiese koning Saul was, was Bileam se veel vroeëre verwysing na ’n Amalekitiese heerser met daardie naam dan nie ’n teenstrydigheid nie?

In ongeveer 1473 v.G.J. het Bileam voorspel dat ’n koning van Israel “hoër [sou] wees as Agag” (Numeri 24:7). Daarna is daar geen verwysing na Agag tot voor die heerskappy van koning Saul (1117-1078 v.G.J.) nie (1 Samuel 15:8). Maar dit is nie ’n teenstrydigheid nie, want “Agag” kon dalk ’n koninklike titel gewees het soos Farao ’n titel in Egipte was. Dit is ook moontlik dat Agag ’n naam was wat herhaaldelik deur Amalekitiese heersers gebruik is.

▪ Wie het Dawid beweeg om die Israeliete te tel?

Tweede Samuel 24:1 sê: “En die toorn van die HERE het weer teen Israel ontvlam, en Hy het Dawid teen hulle aangehits [of, “Dawid is aangehits”, vgl. voetnoot in NW] en gesê: Gaan tel Israel en Juda.” Maar dit was nie Jehovah wat koning Dawid laat sondig het nie, want 1 Kronieke 21:1 sê: “Toe het Satan [of, “’n teenstander”, vgl. voetnoot in NW] teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.” God was ontevrede met die Israeliete se gedrag en daarom het hy Satan die Duiwel toegelaat om hierdie sonde oor hulle te bring. Daarom klink dit in 2 Samuel 24:1 asof God dit self gedoen het. Interessant genoeg lui Joseph B. Rotherham se vertaling: “Die woede van Jahweh het teen Israel opgevlam sodat hy toegelaat het dat Dawid teen hulle optree deur Israel en Juda te laat tel.”

▪ Hoe kan ons die verskillende getalle versoen wat in Dawid se volkstelling vir die Israeliete en Judeërs aangegee word?

In 2 Samuel 24:9 is die getalle 800 000 Israeliete en 500 000 Judeërs, terwyl 1 Kronieke 21:5 Israel se strydbare manne as 1 100 000 en Juda s’n as 470 000 aangee. In die koning se staande leër was daar 288 000 soldate wat in 12 groepe van 24 000 verdeel was. Elke groep het een maand per jaar diens gedoen. Daar was ’n verdere 12 000 in die diens van die 12 stamhoofde; altesaam was hulle dan 300 000. Blykbaar sluit die 1 100 000 van 1 Kronieke 21:5 hierdie 300 000 in wat reeds in diens geneem is, terwyl 2 Samuel 24:9 dit nie doen nie (Numeri 1:16; Deuteronomium 1:15; 1 Kronieke 27:1-22). Wat Juda betref, sluit 2 Samuel 24:9 blykbaar 30 000 manne in wat in ’n waarnemingsleër by die Filistynse grense opgestel is, maar wat nie by die getal in 1 Kronieke 21:5 ingesluit is nie (2 Samuel 6:1). As ons in gedagte hou dat 2 Samuel en 1 Kronieke deur twee manne met verskillende beskouings en oogmerke geskryf is, kan ons die getalle maklik versoen.

▪ Wie was die vader van Sealtiël?

Sekere tekste dui daarop dat Jegonia (koning Jegonja) Sealtiël se vleeslike vader was (1 Kronieke 3:16-18; Mattheüs 1:12). Maar die Evangelieskrywer Lukas het Sealtiël die “seun van Nerija” genoem (Lukas 3:27). Nerija het blykbaar sy dogter vir Sealtiël as vrou gegee. Aangesien die Hebreërs, veral in geslagsregisters, gewoonlik na ’n skoonseun as ’n seun verwys het, kon Lukas Sealtiël tereg die seun van Nerija noem. Lukas verwys eweneens na Josef as die seun van Eli, wat in werklikheid die vader van Josef se vrou, Maria, was.—Lukas 3:23.

Versoening van tekste waarby Jesus betrokke was

▪ Uit hoeveel mans het Jesus Christus die demone gedryf wat in ’n groot trop varke gevaar het?

Die Evangelieskrywer Mattheüs maak melding van twee mans, maar Markus en Lukas praat net van een man (Mattheüs 8:28; Markus 5:2; Lukas 8:27). Blykbaar het Markus en Lukas die aandag op net een demoonbesetene gevestig, omdat Jesus met hom gepraat het en omdat sy geval meer buitengewoon was. Dalk was daardie man gewelddadiger of het hy langer onder die beheer van demone gely. Miskien wou net daardie een man Jesus daarna vergesel (Markus 5:18-20). In ’n soortgelyke situasie het Mattheüs van twee blinde mans gepraat wat deur Jesus genees is, terwyl Markus en Lukas van net een melding gemaak het (Mattheüs 20:29-34; Markus 10:46; Lukas 18:35). Dit is nie teenstrydig nie, want daar was ten minste een so ’n man.

▪ Wat was die kleur van die kleed wat Jesus op die dag van sy dood gedra het?

Volgens Markus (15:17) en Johannes (19:2) het die soldate vir Jesus ’n purper kleed aangetrek. Maar Mattheüs (27:28) het dit “’n skarlaken mantel” (NW) genoem, wat die rooiheid daarvan beklemtoon. Aangesien purper enige kleur is wat rooi sowel as blou komponente het, stem Markus en Johannes saam dat die mantel ’n rooi kleur gehad het. Ligweerkaatsing en die agtergrond kon verskillende kleurskakerings aan die kleed gegee het, en die Evangelieskrywers het die kleur gemeld wat hulle, of diegene by wie hulle hulle inligting gekry het, die meeste opgeval het. Die kleiner verskille toon die skrywers se individualiteit en bewys dat daar geen onderhandse samewerking tussen die skrywers was nie.

▪ Wie het Jesus se folterpaal gedra?

Johannes (19:17, NW) het gesê: “Hy (Jesus) het sy folterpaal gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Golgota.” Maar Mattheüs (27:32, NW), Markus (15:21, NW) en Lukas (23:26, NW) sê ‘toe hulle uitgaan, is Simon van Cirene gedwing om die folterpaal te dra’. Jesus het, soos Johannes gesê het, sy folterpaal gedra. Johannes het egter nie in sy verkorte verslag genoem dat Simon later gedwing is om die folterpaal te dra nie. Daarom stem die evangelieverslae in hierdie verband ooreen.

▪ Hoe het Judas Iskariot gesterf?

Mattheüs 27:5 sê dat Judas homself opgehang het, terwyl Handelinge 1:18 sê dat hy ‘vooroor geval en oopgebars het en al sy ingewande uitgestort het’. Terwyl Mattheüs blykbaar aandag vestig op die manier waarop hy selfmoord probeer pleeg het, bespreek Handelinge die gevolge daarvan. Judas het blykbaar ’n tou aan ’n boomtak vasgemaak, ’n strop om sy nek gesit en van ’n krans afgespring in ’n poging om homself op te hang. Blykbaar het óf die tou óf die tak gebreek, sodat hy neergestort en op die rotse oopgebars het. Die topografie om Jerusalem maak so ’n gevolgtrekking redelik.

Hoe sal jy sake beskou?

As ons skynbare teenstrydighede in die Bybel teëkom, is dit goed om te besef dat mense dikwels dinge sê wat teenstrydig voorkom, maar wat maklik verduidelik en verstaan kan word. ’n Sakeman kan byvoorbeeld met iemand korrespondeer deur ’n brief aan sy sekretaresse te dikteer. As hy daarna gevra word, sal hy sê dat hy die brief gestuur het. Maar aangesien sy sekretaresse die brief getik en gepos het, kan sy sê dat sy die brief gestuur het. Dit was eweneens nie strydig vir Mattheüs (8:5) om te sê dat ’n leëroffisier na Jesus toe gekom het om hom ’n guns te vra, terwyl Lukas (7:2, 3) gesê het dat die man verteenwoordigers gestuur het nie.

Die voorgaande voorbeelde toon dat Bybelprobleme opgelos kan word. Daar is dus goeie rede om ’n positiewe gesindheid teenoor die Skrif te hê. So ’n gees is aangemoedig in ’n familiebybel wat in 1876 uitgegee is:

“Die regte gees waarin daardie probleme opgelos moet word, is om daarvan ontslae te raak so ver as wat dit prakties is en aan die waarheid vas te hou en jou daaraan te onderwerp al kan elke wolk daaroor nie weggevee word nie. Ons moet die voorbeeld van die apostels navolg wat, toe party van die dissipels aanstoot geneem het aan wat volgens hulle ’n ‘harde woord’ was en hulle Christus gevolglik verlaat het, elke beswaar met hierdie woorde die swye opgelê het: ‘Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.’ . . . Wanneer dit vir ons voorkom asof een waarheid strydig is met ’n ander, moet ons probeer om hulle te versoen en sodoende toon dat hulle in harmonie met die res is.”—Johannes 6:60-69.

Sal jy so ’n standpunt inneem? Nadat ons net ’n paar voorbeelde ondersoek het wat die harmonie van die Skrif toon, hoop ons dat jy met die psalmis sal saamstem wat aan God gesê het: “Die hele inhoud van u woord is waarheid” (Psalm 119:160). Dit is hoe Jehovah se Getuies die hele Bybel beskou, en hulle sal met graagte redes verskaf vir hulle geloof daarin. Bespreek gerus hierdie weergalose boek met hulle. Sy aanmoedigende boodskap kan jou met ware hoop en geluk vul.

[Prent op bladsy 7]

Het jy al Jehovah se Getuies gevra waarom hulle geloof in die Bybel het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel