Ons moet ons toewyding “dag vir dag” naleef
“As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en my voortdurend volg.”—LUKAS 9:23.
1. Wat is een manier waarop ons ons sukses as Christene kan meet?
“WAS ons werklik toegewyde manne?” Volgens John F. Kennedy, die 35ste president van die Verenigde State, is die antwoord op hierdie vraag ’n faktor waaraan die sukses van dié in regeringsposte gemeet word. Die vraag kan met dieper betekenis as ’n maatstaf vir ons sukses as Christenbedienaars dien.
2. Hoe definieer ’n woordeboek die woord “toewyding”?
2 Maar wat is toewyding? Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary definieer dit as “’n handeling of ritus waarin jy jou aan ’n goddelike wese of tot ’n heilige gebruik toewy”, “’n wyding of afsondering vir ’n spesifieke doel”, “selfopofferende toegewydheid”. John F. Kennedy het die woord blykbaar in die sin van “selfopofferende toegewydheid” gebruik. Vir ’n Christen beteken toewyding baie meer.
3. Wat is Christelike toewyding?
3 Jesus Christus het vir sy dissipels gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matteus 16:24). Om afgesonder te wees vir gebruik deur God behels nie die blote verrigting van ’n daad van aanbidding op Sondag of wanneer jy die een of ander plek van aanbidding besoek nie. Jou hele lewenswyse is daarby betrokke. Om ’n Christen te wees, beteken dat ’n mens jouself verloën of jouself dinge ontsê terwyl jy die God dien wat Jesus Christus gedien het, naamlik Jehovah. Daarbenewens neem ’n Christen sy “folterpaal” op deur enige lyding te verduur wat kan ontstaan omdat hy ’n volgeling van Christus is.
Die volmaakte voorbeeld
4. Wat het Jesus se doop beteken?
4 Terwyl Jesus op die aarde was, het hy getoon wat dit beteken om jou aan Jehovah toe te wy. Hy het gesê: “Offerande en offer wou u nie hê nie, maar u het vir my ’n liggaam berei.” Toe het hy bygevoeg: “Kyk! Ek kom (in die rol van die boek staan daar van my geskrywe) om u wil te doen, o God” (Hebreërs 10:5-7). As ’n lid van ’n toegewyde nasie was hy by geboorte aan Jehovah toegewy. Met die aanvang van sy aardse bediening het hy egter gegaan om gedoop te word as ’n simbool daarvan dat hy hom aanbied om Jehovah se wil te doen, wat onder andere vir hom sou beteken dat hy sy lewe as ’n losprysoffer gee. Hy het dus vir Christene ’n voorbeeld gestel om te doen wat Jehovah se wil ook al is.
5. Hoe het Jesus deur sy voorbeeld getoon wat ons beskouing van materiële dinge moet wees?
5 Ná sy doop het Jesus ’n lewensweg gevolg wat uiteindelik op ’n offerdood uitgeloop het. Hy het nie daarin belanggestel om geld te maak of ’n gemaklike lewe te lei nie. Sy lewe het eerder om sy bediening gedraai. Hy het sy dissipels gemaan om ‘aan te hou om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek’, en hy het self ooreenkomstig hierdie woorde gelewe (Matteus 6:33). Hy het eenkeer selfs gesê: “Vosse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie” (Matteus 8:20). Hy kon sy leringe aangepas het sodat hy geld van sy volgelinge kon afdwing. As ’n skrynwerker kon hy tyd afgeneem het om ’n pragtige meubelstuk te maak om te verkoop sodat hy ’n paar ekstra silwerstukke kon hê. Maar hy het nie sy vaardighede gebruik om materiële welvaart na te jaag nie. Volg ons, as toegewyde knegte van God, Jesus na deur die regte beskouing van materiële dinge te hê?—Matteus 6:24-34.
6. Hoe kan ons Jesus navolg deur selfopofferende, toegewyde knegte van God te wees?
6 Dit was nie om sy eie belange na te streef dat Jesus sy diens aan God eerste gestel het nie. Gedurende die drie en ’n half jaar van sy openbare bediening het hy ’n selfopofferende lewe gelei. Jesus was by een geleentheid, ná ’n besige dag en sonder om eers die tyd te neem om te eet, bereid om mense te onderrig wat “gestroop en rondgegooi [was] soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36; Markus 6:31-34). Hoewel hy “moeg was van die reis” het hy die inisiatief geneem deur met ’n Samaritaanse vrou te praat wat na Jakob se fontein in Sigar gekom het (Johannes 4:6, 7, 13-15). Hy het ander se welsyn altyd voor sy eie gestel (Johannes 11:5-15). Ons kan Jesus navolg deur ons eie belange ruimhartig op te offer om God en ander te dien (Johannes 6:38). As ons dink aan hoe ons God waarlik kan behaag pleks van net die minimumvereistes na te kom, sal ons ons toewyding naleef.
7. Hoe kan ons Jesus navolg deur altyd die eer aan Jehovah te gee?
7 Jesus het glad nie probeer om die aandag op homself te vestig toe hy mense gehelp het nie. Hy was aan God toegewy om Sy wil te doen. Daarom het hy altyd seker gemaak dat Jehovah, sy Vader, al die heerlikheid ontvang vir wat ook al bereik is. Toe ’n sekere heerser hom “Goeie Leermeester” genoem het en die woord “goeie” as ’n titel gebruik het, het Jesus hom reggehelp deur te sê: “Niemand is goed nie, behalwe een, God” (Lukas 18:18, 19; Johannes 5:19, 30). Is ons, soos Jesus, gou om die eer aan Jehovah eerder as aan onsself te gee?
8. (a) Hoe het Jesus hom, as ’n toegewyde man, van die wêreld afgesonder? (b) Hoe behoort ons hom na te volg?
8 Jesus het gedurende sy hele toegewyde lewe op die aarde getoon dat hy hom vir goddelike diens afgesonder het. Hy het hom rein gehou sodat hy hom as “’n smetlose en vlekkelose lam” kon aanbied om die losprysoffer te wees (1 Petrus 1:19; Hebreërs 7:26). Hy het al die voorskrifte van die Mosaïese Wet nagekom en sodoende daardie Wet vervul (Matteus 5:17; 2 Korintiërs 1:20). Hy het sy eie lering oor sedes nageleef (Matteus 5:27, 28). Niemand kon hom met reg van slegte beweegredes beskuldig nie. Hy het inderdaad “wetteloosheid gehaat” (Hebreërs 1:9). Laat ons, as slawe van God, Jesus navolg deur ons lewe en selfs ons beweegredes rein te hou in Jehovah se oë.
Waarskuwende voorbeelde
9. Na watter waarskuwende voorbeeld het Paulus verwys, en waarom moet ons hierdie voorbeeld in oënskou neem?
9 In teenstelling met Jesus se voorbeeld het ons die waarskuwende voorbeeld van die Israeliete. Selfs nadat hulle verklaar het dat hulle alles sal doen wat Jehovah vir hulle gesê het om te doen, het hulle versuim om sy wil te doen (Daniël 9:11). Die apostel Paulus het Christene aangemoedig om te leer uit wat met die Israeliete gebeur het. Kom ons ondersoek ’n paar gebeurtenisse waarvan Paulus in sy eerste brief aan die Korintiërs melding gemaak het en kyk watter slaggate toegewyde knegte van God vandag moet vermy.—1 Korintiërs 10:1-6, 11.
10. (a) Hoe het die Israeliete “skadelike dinge begeer”? (b) Waarom was die Israeliete se aanspreeklikheid groter die tweede keer dat hulle oor voedsel gemurmureer het, en wat kan ons uit hierdie waarskuwende voorbeeld leer?
10 Paulus het ons in die eerste plek gewaarsku om nie ‘skadelike dinge te begeer’ nie (1 Korintiërs 10:6). Dit herinner jou moontlik aan die geleentheid toe die Israeliete gekla het omdat hulle net manna gehad het om te eet. Jehovah het kwartels na hulle gestuur. Iets soortgelyks het ongeveer ’n jaar tevore in die woestyn Sin gebeur net voor die Israeliete hulle toewyding aan Jehovah verklaar het (Exodus 16:1-3, 12, 13). Maar die situasie was nie presies dieselfde nie. Toe Jehovah die eerste keer kwartels voorsien het, het hy nie die Israeliete tot verantwoording geroep oor hulle murmurering nie. Maar hierdie keer was dinge anders. “Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van die HERE alreeds teen die volk ontvlam het, en die HERE het onder die volk ’n baie groot slagting teweeggebring” (Numeri 11:4-6, 31-34). Wat het verander? As ’n toegewyde nasie is hulle nou aanspreeklik gehou vir hulle dade. Hulle gebrek aan waardering vir Jehovah se voorsienings het daartoe gelei dat hulle teen Jehovah gekla het, ondanks hulle belofte dat hulle alles sou doen wat Jehovah gespreek het! Dit is dieselfde as om vandag oor Jehovah se tafel te kla. Sommige waardeer nie Jehovah se geestelike voorsienings deur “die getroue en verstandige slaaf” nie (Matteus 24:45-47). Ons moet egter onthou dat ons toewyding vereis dat ons met waardering in gedagte hou wat Jehovah vir ons doen en die geestelike voedsel aanvaar wat Jehovah voorsien.
11. (a) Hoe het die Israeliete hulle aanbidding van Jehovah met afgodediens besoedel? (b) Hoe kan ons deur ’n vorm van afgodediens geraak word?
11 Paulus het vervolgens gewaarsku: “Moet ook nie, soos party van hulle, afgodedienaars word nie” (1 Korintiërs 10:7). Hier het die apostel klaarblyklik verwys na die kalfaanbidding wat plaasgevind het net nadat die Israeliete die verbond met Jehovah by die berg Sinai gesluit het. Jy sê dalk: ‘As ’n toegewyde kneg van Jehovah sal ek nooit by afgodediens betrokke raak nie.’ Maar let op dat die Israeliete, volgens hulle, nie opgehou het om Jehovah te aanbid nie; tog het hulle kalfaanbidding begin beoefen—iets wat vir God walglik is. Wat het hierdie vorm van aanbidding behels? Die volk het offerandes voor die kalf gebring en toe “gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel” (Exodus 32:4-6). Sommige sê moontlik vandag dat hulle Jehovah aanbid. Maar hulle lewe draai dalk om die genieting van die dinge van hierdie wêreld, en nie om die aanbidding van Jehovah nie, en hulle probeer hulle diens aan Jehovah by hierdie dinge inpas. Dit is weliswaar nie so drasties soos om jou voor ’n goue kalf neer te buig nie, maar die beginsel is baie dieselfde. Om ’n god van jou eie begeerte te maak, is alles behalwe om jou toewyding aan Jehovah na te leef.—Filippense 3:19.
12. Wat leer ons uit die Israeliete se ondervinding met Baäl-Peor omtrent selfverloëning?
12 ’n Vorm van vermaak was ook betrokke by die volgende waarskuwende voorbeeld wat Paulus gemeld het. “Laat ons ook nie hoerery beoefen, soos party van hulle hoerery gepleeg het nie, sodat hulle geval het, drie-en-twintigduisend van hulle op een dag” (1 Korintiërs 10:8). Die Israeliete, wat verlei is deur die onsedelike genot wat die dogters van Moab aangebied het, is meegesleep om Baäl-Peor in Sittim te aanbid (Numeri 25:1-3, 9). Om onsself te verloën om Jehovah se wil te doen, beteken dat ons sy standaarde ten opsigte van sedelike reinheid aanvaar (Matteus 5:27-30). In hierdie eeu van verslegtende standaarde word ons herinner aan hoe belangrik dit is om ons rein te hou van alle soorte onsedelike gedrag en ons te onderwerp aan Jehovah se gesag om te besluit wat goed en wat sleg is.—1 Korintiërs 6:9-11.
13. Hoe help Pinehas se voorbeeld ons om te verstaan wat toewyding aan Jehovah behels?
13 Hoewel talle in Sittim in die strik van hoerery gevang is, het sommige die volkstoewyding aan Jehovah nageleef. Een van hulle, Pinehas, het uitsonderlike ywer getoon. Toe hy gesien het hoe ’n Israelitiese owerste ’n Midianitiese vrou in sy tent inneem, het Pinehas onmiddellik ’n spies in sy hand geneem en hulle deurboor. Jehovah het vir Moses gesê: “Pinehas . . . het my gramskap van die kinders van Israel afgewend deurdat hy hoegenaamd geen mededinging ten opsigte van my in hulle midde geduld het nie, sodat ek die kinders van Israel nie uitgeroei het in my aandrang op uitsluitlike toegewydheid nie” (Numeri 25:11, NW). Om hoegenaamd geen mededinging ten opsigte van Jehovah te duld nie—dit is wat toewyding beteken. Ons kan nie toelaat dat enigiets die plek inneem wat toewyding aan Jehovah in ons hart moet inneem nie. Ons ywer vir Jehovah beweeg ons ook om die gemeente rein te hou deur growwe onsedelikheid aan die ouere manne te rapporteer en dit nie te duld nie.
14. (a) Hoe het die Israeliete Jehovah op die proef gestel? (b) Hoe help volkome toewyding aan Jehovah ons om nie ‘moeg te word’ nie?
14 Paulus het van nog ’n waarskuwende voorbeeld melding gemaak: “Laat ons Jehovah ook nie op die proef stel, soos party van hulle hom op die proef gestel het nie, sodat hulle deur die slange omgekom het” (1 Korintiërs 10:9). Paulus het hier van die tyd gepraat toe die Israeliete by Moses teen God gekla het toe hulle ‘moeg geword het weens die weg’ (Numeri 21:4, NW). Maak jy ooit daardie fout? Het jy, toe jy jou aan Jehovah toegewy het, gedink dat Armageddon net om die draai is? Het Jehovah se geduld langer geduur as wat jy verwag het? Onthou, ons het ons nie net vir ’n sekere tydperk of net tot Armageddon aan Jehovah toegewy nie. Ons toewyding duur vir ewig. “Laat ons derhalwe nie ophou om te doen wat voortreflik is nie, want op die regte tyd sal ons maai indien ons nie moeg word nie”.—Galasiërs 6:9.
15. (a) Teen wie het die Israeliete gemurmureer? (b) Hoe beweeg ons toewyding aan Jehovah ons om teokratiese gesag te respekteer?
15 Paulus het ons laastens gewaarsku om nie “murmureerders” teen die aangestelde knegte van Jehovah te word nie (1 Korintiërs 10:10). Die Israeliete het hewig teen Moses en Aäron gemurmureer toe 10 van die 12 spioene wat gestuur is om die land Kanaän te verken slegte gerugte teruggebring het. Hulle het selfs daaroor gepraat om Moses as hulle hoof te vervang en na Egipte terug te gaan (Numeri 14:1-4). Aanvaar ons vandag die leierskap wat vir ons deur die werking van Jehovah se heilige gees gegee word? As ons na die oorvloedige geestelike tafel kyk wat deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien word, is dit duidelik wie Jesus gebruik om “voedsel op die regte tyd” te gee (Matteus 24:45). Heelhartige toewyding aan Jehovah vereis dat ons sy aangestelde knegte respekteer. Laat ons nooit soos sommige hedendaagse murmureerders word nie wat hulle as ’t ware tot ’n nuwe hoof gewend het om hulle na die wêreld terug te lei.
Is dit my uiterste bes?
16. Watter vrae kan toegewyde knegte van God hulle afvra?
16 Die Israeliete sou nie sulke ernstige oortredinge begaan het as hulle in gedagte gehou het dat hulle toewyding aan Jehovah onvoorwaardelik was nie. In teenstelling met daardie ontroue Israeliete het Jesus Christus sy toewyding tot die einde toe nageleef. As volgelinge van Christus volg ons sy voorbeeld van heelhartige toegewydheid na en lei ons ons lewe “nie meer vir die begeertes van mense . . . nie, maar vir God se wil”. (1 Petrus 4:2; vergelyk 2 Korintiërs 5:15.) Dit is vandag Jehovah se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Met dié doel voor oë moet ons “hierdie goeie nuus van die koninkryk” verkondig voor die einde kom (Matteus 24:14). In watter mate span ons ons in hierdie diens in? Ons kan ons afvra: ‘Is dit my uiterste bes?’ (2 Timoteus 2:15). Omstandighede verskil. Dit behaag Jehovah as hy gedien word “volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie” (2 Korintiërs 8:12; Lukas 21:1-4). Niemand moet die diepte en opregtheid van ’n ander se toewyding oordeel nie. Elkeen moet die omvang van sy eie toewyding aan Jehovah evalueer (Galasiërs 6:4). Ons liefde vir Jehovah moet ons beweeg om te vra: ‘Hoe kan ek Jehovah gelukkig maak?’
17. Wat is die verband tussen toegewydheid en waardering? Lig dit toe.
17 Ons toegewydheid aan Jehovah verdiep namate ons waardering vir hom toeneem. ’n Veertienjarige seun in Japan het hom aan Jehovah toegewy en hierdie toewyding deur waterdoop gesimboliseer. Later wou hy verder gaan leer en ’n wetenskaplike word. Hy het nooit aan die voltydse bediening gedink nie, maar as ’n toegewyde kneg wou hy Jehovah en sy sigbare organisasie nie verlaat nie. Om sy loopbaandoelwit te verwesenlik, het hy universiteit toe gegaan. Daar het hy gesien hoe gegradueerdes van die universiteit gedwing word om hulle hele lewe aan hulle maatskappy of hulle studies te wy. Hy het gewonder: ‘Wat doen ek hier? Kan ek werklik hulle lewenswyse navolg en my aan sekulêre werk toewy? Het ek my nie reeds aan Jehovah toegewy nie?’ Met hernieude waardering het hy ’n gewone pionier geword. Sy begrip van sy toewyding het verdiep en hom beweeg om hom in sy hart voor te neem om te gaan waar hy ook al gebruik kon word. Hy het die Bedieningsopleidingskool bygewoon en ’n toewysing ontvang om as ’n sendeling in die buiteland te dien.
18. (a) Wat is alles betrokke by ons toewyding aan Jehovah? (b) Watter beloning kan ons vanweë ons toewyding aan Jehovah geniet?
18 Toewyding raak ons hele lewe. Ons moet onsself verloën en Jesus se goeie voorbeeld “dag vir dag” navolg (Lukas 9:23). Wanneer ons onsself verloën het, vra ons Jehovah nie om ons verlof toe te staan nie. Ons lewe strook met die beginsels wat Jehovah vir sy knegte bepaal. Selfs op gebiede waar ons ’n persoonlike keuse kan maak, is dit goed om te kyk of ons ons bes doen om ’n lewe te lei wat aan Jehovah toegewy is. Terwyl ons hom dag vir dag dien, en ons uiterste bes doen om hom te behaag, sal ons welslae behaal as Christene en geseën word met ’n goedkeurende glimlag van Jehovah, die Een wat ons heelhartige toegewydheid waardig is.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat het toewyding vir Jesus Christus beteken?
◻ Waarom moet ons dit vermy om teen Jehovah te murmureer?
◻ Hoe kan ons keer dat afgodediens in ons lewe inkruip?
◻ Wat moet ons onthou wat sal help dat ons nie “moeg word” om God se wil te doen nie?
[Prent op bladsy 17]
Toegewyde Christene ‘hou nie op om te doen wat voortreflik is nie’