Spiritisme
Definisie: Die opvatting dat ’n geesdeel van mense ná die dood van die fisiese liggaam voortleef en met die lewendes kan kommunikeer, gewoonlik deur ’n persoon wat as ’n medium optree. Sommige mense glo dat alle materiële voorwerpe en alle natuurverskynsels inwonende geeste het. Towery is die gebruik van krag wat, soos toegegee, van bose geeste kom. Alle vorme van spiritisme word ten sterkste in die Bybel veroordeel.
Is dit werklik vir ’n mens moontlik om met die “gees” van ’n gestorwe dierbare te kommunikeer?
Pred. 9:5, 6, 10: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie . . . Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie. . . . Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”
Eseg. 18:4, 20: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.” (Die siel is dus nie iets wat ná die dood van die liggaam voortleef en waarmee lewende mense daarna kan kommunikeer nie.)
Ps. 146:4: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (Wanneer daar gesê word dat die gees uit die liggaam ‘uitgaan’, is dit bloot nog ’n manier om te sê dat die lewenskrag nie meer aktief is nie. Na ’n persoon gesterf het, bestaan sy gees dus nie voort as ’n onstoflike wese wat apart van die liggaam kan dink en planne kan uitvoer nie. Dit is nie iets waarmee die lewendes ná ’n persoon se dood kan kommunikeer nie.)
Kyk ook bladsye 86-88, onder “Dood”.
Gee die Bybel nie te kenne dat koning Saul ná die profeet Samuel se dood met hom gekommunikeer het nie?
Die verhaal word in 1 Samuel 28:3-20 aangetref. Verse 13, 14 toon dat Saul Samuel nie self gesien het nie, maar slegs uit die beskrywing van die medium aangeneem het dat sy Samuel gesien het. Saul wou bitter graag glo dat dit Samuel is en het hom dus om die bos laat lei. Vers 3 sê dat Samuel dood en begrawe was. Die tekste wat onder die vorige tussenhofie aangehaal is, toon duidelik dat daar geen deel van Samuel was wat in ’n ander ryk gelewe het en met Saul kon kommunikeer nie. Die stem wat voorgegee het dat dit Samuel s’n was, was dié van ’n bedrieër.
Met wie kommunikeer diegene wat probeer om met die dode te praat in werklikheid?
Die waarheid oor die toestand van die dode word duidelik in die Bybel uiteengesit. Maar wie het probeer om die eerste mensepaar oor die dood te bedrieg? Satan het God se waarskuwing dat ongehoorsaamheid die dood sou meebring, weerspreek (Gen. 3:4; Openb. 12:9). Dit het natuurlik mettertyd duidelik geword dat mense wel gesterf het soos God gesê het hulle sou. Wie het dan redelikerwys die gedagte versin dat mense nie werklik sterf nie maar dat ’n geesdeel van die mens ná die dood van die liggaam voortleef? Sulke bedrog pas Satan die Duiwel, wat deur Jesus beskryf is as “die vader van die leuen”. (Joh. 8:44, NAV; kyk ook 2 Thessalonicense 2:9, 10.) Die opvatting dat die dode in werklikheid in ’n ander ryk lewe en dat ons met hulle kan kommunikeer, het die mensdom nie tot voordeel gestrek nie. Inteendeel, Openbaring 18:23 sê dat “al die nasies verlei” is deur die spiritistiese gebruike van Babilon die Grote. Die spiritistiese gebruik om ‘met die dode te praat’ is in werklikheid ’n bedrogspul wat mense in aanraking kan bring met die demone (engele wat selfsugtige rebelle teen God geword het) en dikwels daartoe lei dat ’n persoon ongewenste stemme hoor en deur daardie bose geeste lastig geval word.
Is dit skadelik om op spiritistiese maniere genesing of beskerming te probeer verkry?
Gal. 5:19-21: “Die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery [“beoefening van spiritisme”, NW] . . . waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” (As iemand hulp soek deur middel van spiritisme, beteken dit dat hy Satan se leuens oor die dood glo; hy raadpleeg mense wat probeer om krag by Satan en sy demone te kry. So ’n persoon vereenselwig hom aldus met diegene wat geswore vyande van Jehovah God is. Enigiemand wat op so ’n weg volhard, sal nie waarlik gehelp word nie, maar ewige skade ly.)
Luk. 9:24: “Elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil [omdat hy ’n volgeling van Jesus Christus is] verloor, hy sal dit red.” (Iemand wat opsetlik die duidelike gebooie van God se Woord oortree in ’n poging om sy teenswoordige lewe te beskerm of te bewaar, sal die vooruitsig op die ewige lewe verloor. Hoe dwaas tog!)
2 Kor. 11:14, 15: “Die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.” (Ons moet dus nie mislei word wanneer sommige van die dinge wat deur middel van spiritisme gedoen word oënskynlik tydelike voordele inhou nie.)
Kyk ook bladsye 155-159, onder “Genesing”.
Is dit verstandig dat ’n mens jou tot spiritistiese metodes wend om uit te vind wat die toekoms inhou of om jou van sukses in ’n onderneming te verseker?
Jes. 8:19: “As hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie . . . ?”
Lev. 19:31: “Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God.”
2 Kon. 21:6: “[Koning Manasse het] met goëlery en verklaring van voortekens omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE om Hom te terg.” (Deur sulke spiritistiese gebruike het mense hulle in werklikheid tot Satan en sy demone gewend om hulp. Geen wonder dat dit “verkeerd was in die oë van die HERE” en dat hy Manasse kwaai gestraf het daarvoor nie. Maar toe hy berou gekry en hierdie slegte gebruike gestaak het, het Jehovah hom geseën.)
Watter skade kan dit berokken as ’n mens meedoen aan speletjies waarby ’n vorm van waarsêery betrokke is of as jy probeer vasstel wat die betekenis is van iets wat na ’n goeie voorteken lyk?
Deut. 18:10-12: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel.” (Die doel van waarsêery is om verborge kennis aan die lig te bring of gebeure te voorspel, nie as gevolg van navorsing nie, maar deur die verklaring van voortekens of met behulp van bonatuurlike magte. Jehovah het sulke gebruike onder sy knegte verbied. Waarom? Al hierdie gebruike is ’n uitnodiging om met onrein geeste, of demone, te kommunikeer of deur hulle beheer te word. Deelname aan sulke dinge is growwe ontrouheid aan Jehovah.)
Hand. 16:16-18: “[Toe] kom ’n slavin met ’n waarsêende gees [“demon”, NW] ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het.” (Dit spreek vanself dat niemand wat geregtigheid liefhet so ’n bron van informasie sal raadpleeg nie, hetsy met ernstige bedoeling of as ’n tydverdryf. Toe Paulus moeg was vir haar skreeuery, het hy die gees beveel om uit haar uit te kom.)
Kan bose geeste ’n menslike gestalte aanneem?
In die dae van Noag het ongehoorsame engele ’n menslike gestalte aangeneem. Hulle het selfs getrou en kinders verwek (Gen. 6:1-4). Maar toe die Vloed gekom het, is daardie engele gedwing om na die geesteryk terug te keer. Judas 6 sê van hulle: “Die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar.” God het hulle nie alleen verneder deur hulle hulle vorige hemelse voorregte te ontneem en hulle aan dikke duisternis in verband met Jehovah se voornemens oor te lewer nie, maar die verwysing na boeie dui aan dat hulle bedwing is. In watter sin? Klaarblyklik in die sin dat hulle nie meer fisiese liggame kan aanneem om omgang met vroue te hê soos hulle voor die Vloed gedoen het nie. Die Bybel berig dat getroue engele, as boodskappers van God, wel tot die eerste eeu G.J. verstoflik het om hulle pligte na te kom. Maar ná die Vloed is daardie engele wat hulle gawes misbruik het die vermoë ontneem om ’n menslike gestalte aan te neem.
Dit is egter interessant dat demone mense klaarblyklik gesigte kan laat sien, en dat wat hulle sien werklik lyk. Toe die Duiwel Jesus versoek het, het hy klaarblyklik van daardie middele gebruik gemaak om vir Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” te wys.—Matt. 4:8.
Hoe kan ’n mens van spiritistiese invloed bevry word?
Spr. 18:10: “Die Naam van die HERE [“Jehovah”, NW] is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (Dit beteken nie dat die gebruik van God se persoonlike naam ’n towerspreuk is om kwaad af te weer nie. Die “naam” van Jehovah stel die Persoon self voor. Ons word beskerm wanneer ons hom leer ken en ons volle vertroue in hom stel, ons aan sy gesag onderwerp en sy gebooie gehoorsaam. As ons dit doen, bied hy die beskerming wat hy in sy Woord beloof het wanneer ons hom aanroep om hulp en sy persoonlike naam gebruik.)
Matt. 6:9-13: “Só moet julle dan bid: . . . Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” Jy moet ook “volhard in die gebed” (Rom. 12:12). (God hoor sulke gebede van diegene wat waarlik die waarheid wil ken en hom wil aanbid op ’n wyse wat hom behaag.)
1 Kor. 10:21: “Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.” (Diegene wat Jehovah se vriendskap en beskerming wil hê, moet alle deelname aan spiritistiese vergaderinge staak. Ooreenkomstig die voorbeeld wat in Handelinge 19:19 opgeteken is, is dit ook belangrik om alle voorwerpe in ’n mens se besit wat met spiritisme verband hou te vernietig of op gepaste wyse daarvan ontslae te raak.)
Jak. 4:7: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” (Om dit te doen, moet jy God se wil naarstig leer en dit in jou lewe toepas. Terwyl liefde vir God jou teen mensevrees versterk, moet jy volstrek weier om mee te doen aan enige gebruike wat met spiritisme verband hou of om enige voorskrifte van ’n spiritis uit te voer.)
Trek “die volle wapenrusting van God aan” wat in Efesiërs 6:10-18 beskryf word en hou elke deel daarvan noulettend in ’n goeie toestand.