Hoofstuk Vyftien
Luister na raad, aanvaar dissipline
1. (a) Waarom het ons almal raad en dissipline nodig? (b) Watter vraag moet ons oorweeg?
“ONS almal struikel dikwels”, sê die Bybel in Jakobus 3:2. Ons kan aan baie gevalle dink waar ons nie die soort mense was wat God se Woord ons aanspoor om te wees nie. Daarom erken ons dat die Bybel reg is wanneer dit sê: “Luister na raad en aanvaar dissipline, sodat jy in jou toekoms wys kan word” (Spreuke 19:20). Ons het ongetwyfeld alreeds veranderinge in ons lewe aangebring om dit met die Bybel se leringe in ooreenstemming te bring. Maar hoe reageer ons as ’n mede-Christen ons oor iets spesifieks raad gee?
2. Wat moet ons doen wanneer ons persoonlike raad ontvang?
2 Party reageer deur te probeer om hulleself te regverdig, die situasie minder ernstig te laat lyk of die skuld op iemand anders af te skuif. Maar dit is beter om na raad te luister en dit toe te pas (Hebreërs 12:11). Niemand moet natuurlik volmaaktheid van ander verwag of voortdurend raad gee oor kleinighede of oor sake wat die Bybel aan persoonlike keuse oorlaat nie. Die een wat raad gee, het miskien ook nie al die feite in ag geneem nie, en dit kan beleefd onder sy aandag gebring word. Maar kom ons neem in die volgende bespreking aan dat die raad of dissipline wat gegee word, gepas is en op die Bybel gegrond is. Hoe moet ’n mens reageer?
Voorbeelde om ons te vermaan
3, 4. (a) Wat bevat die Bybel wat ons kan help om die regte beskouing van raad en dissipline te kry? (b) Hoe het koning Saul op raad gereageer, en met watter gevolg?
3 God se Woord bevat werklike ondervindinge van mense wat die nodige raad ontvang het. Soms het die raad met dissipline gepaardgegaan. Een van hierdie mense was koning Saul van Israel. Hy het nie Jehovah se bevele in verband met die Amalekiete gehoorsaam nie. Die Amalekiete het God se knegte teëgestaan, en Jehovah se beslissing was dat nie die Amalekiete of hulle vee gespaar moes word nie. Maar koning Saul het hulle koning en die beste van hulle vee gespaar.—1 Samuel 15:1-11.
4 Jehovah het die profeet Samuel gestuur om Saul tereg te wys. Wat was Saul se reaksie? Hy het aangevoer dat hy die Amalekiete wel verslaan het maar bloot besluit het om hulle koning te spaar. Dit was egter in stryd met Jehovah se bevel (1 Samuel 15:20). Saul het die skuld vir die vee wat gespaar is, op die manskappe probeer afskuif deur te sê: ‘Ek het die manskappe gevrees en hulle stem gehoorsaam’ (1 Samuel 15:24). Hy was blykbaar meer besorg oor sy aansien en het Samuel selfs gevra om hom voor die volk te eer (1 Samuel 15:30). Jehovah het Saul uiteindelik as koning verwerp.—1 Samuel 16:1.
5. Wat het met koning Ussia gebeur toe hy raad verwerp het?
5 Koning Ussia van Juda het ‘ontrou gehandel teenoor Jehovah sy God en in die tempel van Jehovah ingegaan om reukwerk te brand’ (2 Kronieke 26:16). Maar net priesters het die reg gehad om reukwerk te offer. Toe die hoofpriester Ussia probeer keer het, het die koning woedend geword. Wat het toe gebeur? Die Bybel sê: “Melaatsheid [het] op sy voorkop uitgeslaan . . . omdat Jehovah hom getref het. En koning Ussia het tot die dag van sy dood ’n melaatse gebly.”—2 Kronieke 26:19-21.
6. (a) Waarom het Saul sowel as Ussia raad verwerp? (b) Waarom is die verwerping van raad vandag ’n ernstige probleem?
6 Waarom was dit vir Saul sowel as Ussia moeilik om raad te aanvaar? Die eintlike probleem was trots, dat hulle te veel van hulleself gedink het. Baie mense bring leed oor hulleself weens hierdie eienskap. Hulle dink blykbaar dat dit die een of ander gebrek in hulle impliseer of dat dit hulle reputasie skend as hulle raad aanvaar. Maar trots is ’n swakheid. Trots benewel ’n mens se denke sodat jy geneig is om die hulp te verwerp wat Jehovah deur sy Woord en organisasie verskaf. Daarom waarsku Jehovah: “Trots kom voor ’n ineenstorting en ’n hoogmoedige gees voor struikeling.”—Spreuke 16:18; Romeine 12:3.
Aanvaar raad
7. Watter positiewe lesse kan geleer word uit die manier waarop Moses op raad gereageer het?
7 Die Skrif bevat ook goeie voorbeelde van mense wat raad aanvaar het, en ons kan daaruit leer. Dink byvoorbeeld aan Moses, wie se skoonpa hom raad gegee het oor hoe om sy swaar werklas te behartig. Moses het na hom geluister en dit onmiddellik toegepas (Eksodus 18:13-24). Waarom was Moses ontvanklik vir raad, al het hy groot gesag gehad? Omdat hy nederig was. “Moses was verreweg die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aarde was” (Numeri 12:3). Hoe belangrik is sagmoedigheid? Sefanja 2:3 toon dat dit ons lewe beteken.
8. (a) Watter sondes het Dawid gepleeg? (b) Wat was Dawid se reaksie op Natan se teregwysing? (c) Wat was die gevolge van Dawid se sondes?
8 Koning Dawid het egbreuk gepleeg met Batseba en dit probeer toesmeer deur haar man, Uria, te laat doodmaak. Jehovah het die profeet Natan gestuur om Dawid tereg te wys. Hy was berouvol en het gou erken: “Ek het teen Jehovah gesondig” (2 Samuel 12:13). Hoewel God Dawid se berou aanvaar het, sou hy die gevolge van sy oortreding dra. Jehovah het vir hom gesê dat ’n swaard ‘nie van sy eie huis sal wyk nie’, dat sy vrouens ‘aan sy medemens’ gegee sal word en dat die seun wat uit sy egbreuk gebore is, ‘sekerlik sal sterf’.—2 Samuel 12:10, 11, 14.
9. Wat moet ons nie vergeet as ons raad of dissipline ontvang nie?
9 Koning Dawid het geweet hoe voordelig dit is om na goeie raad te luister. By een geleentheid het hy God gedank vir die een deur wie dit gekom het (1 Samuel 25:32-35). Is ons ook so? Indien wel, sal dit keer dat ons baie dinge sê en doen waaroor ons dalk spyt sal wees. Maar sê nou ons beland in ’n situasie wat daartoe lei dat ons raad of selfs dissipline ontvang? Laat ons nie vergeet dat dit ’n blyk van Jehovah se liefde is en tot ons ewige welsyn strek nie.—Spreuke 3:11, 12; 4:13.
Kosbare eienskappe om aan te kweek
10. Watter eienskap het Jesus getoon moet mense hê as hulle in die Koninkryk wil ingaan?
10 As ons ’n goeie verhouding met Jehovah en met ons Christenbroers wil hê, moet ons sekere eienskappe aankweek. Jesus het een van hierdie eienskappe genoem toe hy ’n kind tussen sy dissipels laat staan het en gesê het: “Tensy julle omdraai en soos jong kinders word, sal julle hoegenaamd nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie. Elkeen dan wat hom soos hierdie jong kind sal verneder, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele” (Matteus 18:3, 4). Jesus se dissipels moes nederigheid aankweek, aangesien hulle onder mekaar gestry het oor wie die grootste was.—Lukas 22:24-27.
11. (a) Voor wie moet ons nederig wees, en waarom? (b) Hoe sal ons op raad reageer as ons nederig is?
11 Die apostel Petrus het geskryf: “Omgord julle almal met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (1 Petrus 5:5). Ons weet dat ons voor God nederig moet wees, maar hierdie teks toon dat ons ook teenoor ons medegelowiges nederig moet wees. As dit met ons die geval is, sal ons nie aanstoot neem as ander ons gepaste wenke gee nie, maar ons sal by hulle leer.—Spreuke 12:15.
12. (a) Watter belangrike eienskap is nou verwant aan nederigheid? (b) Waarom moet ons besorg wees oor die uitwerking wat ons gedrag op ander het?
12 Besorgdheid oor die welsyn van ander is nou verwant aan nederigheid. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek. . . . Daarom, hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God. Sorg dat julle nie oorsake van struikeling vir Jode sowel as Grieke en vir die gemeente van God word nie” (1 Korintiërs 10:24-33). Paulus het nie gesê dat ons alle persoonlike voorkeure moet opsy skuif nie, maar hy het ons aangespoor om niks te doen wat iemand anders dalk iets sal laat doen wat sy gewete vir hom sê verkeerd is nie.
13. Watter voorbeeld kan toon of ons ’n gewoonte daarvan maak om skriftuurlike raad toe te pas?
13 Stel jy die welsyn van ander bo jou persoonlike voorkeur? Ons moet almal leer om dit te doen. Daar is baie maniere waarop dit gedoen kan word. Dink byvoorbeeld aan kleredrag en persoonsversorging. Dit is sake waarby persoonlike smaak betrokke is, binne die skriftuurlike riglyne dat ’n mens beskeie, netjies en skoon moet wees. Maar sal jy aanpassings maak as jy agterkom dat jou kleredrag of persoonsversorging veroorsaak dat mense in jou gemeenskap, as gevolg van hulle agtergrond, nie na die Koninkryksboodskap luister nie? Dit is beslis belangriker om iemand te help om die ewige lewe te kry as om jouself te behaag.
14. Waarom is dit belangrik om nederigheid en besorgdheid oor ander aan te kweek?
14 Jesus het die voorbeeld daarin gestel om nederig te wees en besorgdheid oor ander te toon. Hy het selfs sy dissipels se voete gewas (Johannes 13:12-15). Van hom sê God se Woord: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was, wat, hoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg het nie. Nee, maar hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword. Wat meer is, toe hy hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood.”—Filippense 2:5-8; Romeine 15:2, 3.
Moenie Jehovah se dissipline verwerp nie
15. (a) Watter veranderinge moet ons aanbring as ons ’n persoonlikheid wil hê wat God behaag? (b) Hoe voorsien Jehovah raad en dissipline vir ons almal?
15 Omdat ons almal sondaars is, moet ons veranderinge in ons gesindheid en gedrag aanbring as ons die persoonlikheid van ons God wil weerspieël. Ons moet ons met “die nuwe persoonlikheid” beklee (Kolossense 3:5-14). Raad en dissipline help ons om gebiede te identifiseer waar aanpassings nodig is en dan te sien hoe ons hierdie aanpassings kan maak. Die vernaamste bron van die onderrigting wat ons nodig het, is die Bybel (2 Timoteus 3:16, 17). Bybellektuur en vergaderinge wat deur Jehovah se organisasie voorsien word, help ons om God se Woord toe te pas. Sal ons, al het ons die raad voorheen gehoor, erken dat ons dit nodig het en probeer verbeter?
16. Watter hulp voorsien Jehovah aan ons as individue?
16 Met liefdevolle besorgdheid help Jehovah ons met ons probleme. Miljoene is al deur middel van tuisbybelstudies gehelp. Ouers gee hulle kinders raad en dissipline om hulle teen gedrag te beskerm wat hartseer kan veroorsaak (Spreuke 6:20-23). In die gemeente vra party mense dikwels ervare bedienaars om raad en wenke sodat hulle hulle pogings in die veldbediening kan verbeter. Ouer manne vra soms by mekaar raad, of by ander wat ervare is in die bediening. Dié wat geestelik bekwaam is, gebruik die Bybel om ander te help wat dit nodig het, en doen dit in ’n gees van sagmoedigheid. As jy raad gee, moet jy onthou om “op jouself [te] let, sodat jy nie ook versoek word nie” (Galasiërs 6:1, 2). Ja, ons het almal raad en dissipline nodig om die enigste ware God in eenheid te aanbid.
Hersieningsbespreking
• Hoe help Jehovah ons liefdevol om te sien waar ons persoonlik aanpassings moet maak?
• Waarom is dit vir baie mense moeilik om die nodige raad te aanvaar, en hoe ernstig is dit?
• Watter kosbare eienskappe sal ons help om ontvanklik te wees vir raad, en hoe het Jesus die voorbeeld hierin gestel?
[Prent op bladsy 142]
Ussia het raad verwerp en is met melaatsheid getref
[Prent op bladsy 142]
Moses het daarby baat gevind toe hy Jetro se raad aanvaar het