Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Hoe moet Christene oor alkohol voel?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
    • Hoe moet Christene oor alkohol voel?

      Regoor die wêreld het mense verskillende opinies oor alkohol. Party kies om soms te drink wanneer hulle saam met vriende kuier. Ander kies om glad nie te drink nie. En ander drink so baie dat hulle dronk word. Wat sê die Bybel oor alkohol?

      1. Is dit verkeerd om alkohol te drink?

      Die Bybel sê nie dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie. Om die waarheid te sê, wanneer die Bybel praat van die baie goeie dinge wat God vir ons gegee het, noem dit ook “wyn wat die hart van die mens vrolik maak” (Psalm 104:14, 15). Party lojale mans en vrouens van wie daar in die Bybel gepraat word, het alkohol gedrink. – 1 Timoteus 5:23.

      2. Watter raad gee die Bybel vir dié wat kies om te drink?

      Jehovah sê dat dronkenskap en om te veel te drink, verkeerd is (Galasiërs 5:21). Sy Woord sê: “Bly weg van mense wat te veel wyn drink” (Spreuke 23:20). So as ons kies om te drink – selfs wanneer ons alleen is – moet ons nie so baie drink dat ons nie reguit kan dink nie. En ons moet ook nie so baie drink dat ons nie die dinge wat ons sê en doen, kan beheer nie of dat ons ons gesondheid in gevaar stel nie. As ons nie kan beheer hoeveel ons drink nie, moet ons bereid wees om heeltemal op te hou drink.

      3. Hoe kan ons ander se besluite oor alkohol respekteer?

      Elke persoon moet besluit of hy alkohol sal drink of nie. Ons moenie iemand oordeel wat kies om alkohol te drink nie, en ons moenie druk op iemand plaas om te drink as hy nie wil drink nie (Romeine 14:10). Ons kies om nie te drink nie as dit vir ander probleme kan veroorsaak. (Lees Romeine 14:21.) Ons soek “nie [ons] eie voordeel . . . nie, maar dié van die ander persoon”. – Lees 1 Korintiërs 10:23, 24.

      SOEK DIEPER

      Kyk na Bybelbeginsels wat jou sal help om te besluit of jy moet drink of nie en hoeveel om te drink as jy drink. Vind ook uit wat jy kan doen as jy ’n drankprobleem het.

      4. Besluit of jy sal drink of nie

      Wat het Jesus van alkohol gedink? Om die antwoord te kry, kyk na die eerste wonderwerk wat hy gedoen het. Lees Johannes 2:1-11, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Wat kan ons uit hierdie wonderwerk leer oor wat Jesus dink van alkohol en van dié wat dit drink?

      • Jesus het nie gesê dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie, so hoe moet ’n Christen voel oor iemand wat kies om te drink?

      Maar net omdat ’n Christen alkohol mag drink, beteken dit nie dat dit altyd goed is vir hom om dit te doen nie. Lees Spreuke 22:3, en kyk hoe die volgende dinge jou kan help om te besluit of jy sal drink of nie:

      • Jy gaan bestuur of met masjinerie werk.

      • Jy is swanger.

      • ’n Dokter het vir jou gesê om nie te drink nie.

      • Jy sukkel om te beheer hoeveel jy drink.

      • Dis teen die wet om te drink.

      • Jy is saam met iemand wat kies om nie te drink nie omdat hy in die verlede gesukkel het om te beheer hoeveel hy drink.

      Moet jy alkohol bedien by troues of ander sosiale geleenthede? Om te sien wat jou kan help om te besluit, speel die VIDEO.

      VIDEO: Moet ek alkohol bedien? (2:41)

      Lees Romeine 13:13 en 1 Korintiërs 10:31, 32. Nadat elke vers gelees is, bespreek hierdie vraag:

      • Hoe kan hierdie beginsel jou help om ’n besluit te maak waarmee Jehovah tevrede sal wees?

      ’n Broer sê nee vir wyn by ’n restaurant. Die twee susters wat saam met hom eet, drink wyn.

      Elke Christen besluit self of hy alkohol sal drink of nie. Selfs al drink hy soms alkohol, sal hy dalk op ander tye kies om nie te drink nie

      5. Besluit hoeveel jy sal drink

      As jy kies om alkohol te drink, onthou die volgende: Al sê Jehovah nie dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie, sê hy dat dit verkeerd is om te veel alkohol te drink. Hoekom? Lees Hosea 4:11, 18, en bespreek dan hierdie vraag:

      • Wat kan gebeur wanneer ’n persoon te veel drink?

      Wat kan ons help om nie te veel te drink nie? Ons moet beskeie wees, of bewus wees van ons beperkings. Lees Spreuke 11:2, en bespreek dan hierdie vraag:

      • Hoekom is dit goed om voor die tyd te besluit presies hoeveel jy sal drink?

      6. Wat kan iemand help om op te hou om te veel alkohol te drink?

      Kyk wat een man gehelp het om op te hou om alkohol te misbruik. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

      VIDEO: ‘Ek was moeg vir my lewenswyse’ (6:32)

      Collage: Tonele uit die video ‘Ek was moeg vir my lewenswyse’. 1. Dmitri kyk na ’n bottel alkohol. 2. Dmitri, sy vrou en sy dogter studeer die Bybel saam.
      • Hoe het Dmitri opgetree wanneer hy alkohol gedrink het?

      • Kon hy onmiddellik ophou drink?

      • Hoe het hy dit reggekry om uiteindelik op te hou om te veel alkohol te drink?

      Lees 1 Korintiërs 6:10, 11, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Hoe ernstig is dronkenskap?

      • Wat wys dat iemand wat alkohol misbruik, kan verander?

      Lees Matteus 5:30, en bespreek dan hierdie vraag:

      • Toe Jesus in ’n illustrasie gesê het dat iemand sy hand moet afkap, het hy bedoel dat ons dalk opofferings sal moet maak om Jehovah gelukkig te maak. Wat kan jy doen as jy sukkel om op te hou om alkohol te misbruik?a

      Lees 1 Korintiërs 15:33, en bespreek dan hierdie vraag:

      • Watter uitwerking kan jou vriende hê op hoeveel jy drink?

      IEMAND VRA DALK: “Is dit verkeerd om te drink?”

      • Wat sal jy sê?

      WAT ONS GELEER HET

      Jehovah het alkohol vir ons gegee om te geniet, maar hy sê dat dronkenskap en om te veel te drink, verkeerd is.

      Hersiening

      • Wat sê die Bybel oor alkohol?

      • Wat is die gevare as jy te veel drink?

      • Hoe kan ons ander se besluite oor alkohol respekteer?

      Doelwit

      LEER MEER

      Hoe kan tieners goeie besluite oor alkohol maak?

      Dink voor jy drink (2:31)

      Kyk wat jy kan doen om op te hou om te veel te drink.

      “Hou alkohol op sy plek” (Die Wagtoring, 1 Januarie 2010)

      Moet ’n Christen aan heildronke deelneem?

      “Vrae van lesers” (Die Wagtoring, 15 Februarie 2007)

      In die lewensverhaal “Ek was ’n bodemlose vaatjie”, kyk hoe ’n man opgehou het om te veel te drink.

      “Die Bybel verander lewens” (Die Wagtoring, 1 Mei 2012)

      a Mense wat verslaaf is aan alkohol, het dalk professionele hulp nodig om op te hou om alkohol te misbruik. Baie dokters sê dat mense wat ’n drankprobleem gehad het, glad nie moet drink nie.

  • Hoekom ons kleredrag en voorkoms saak maak
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
    • Les 52. ’n Vrou besluit watter klere om te koop.

      LES 52

      Hoekom ons kleredrag en voorkoms saak maak

      Ons almal hou daarvan om te kies watter klere ons wil dra en hoe ons wil lyk. As ons ’n paar eenvoudige Bybelbeginsels volg, kan ons klere dra waarvan ons hou en Jehovah ook gelukkig maak. Kom ons kyk na ’n paar van hierdie beginsels.

      1. Watter beginsels moet ons volg wanneer dit kom by ons kleredrag en ons voorkoms?

      Ons moet “gepaste klere . . . met beskeidenheid en gesonde verstand” kies, en ons klere moet altyd skoon wees sodat ander kan sien dat ons “aan God toegewyd is” (1 Timoteus 2:9, 10). Kyk na hierdie vier beginsels: (1) Ons kleredrag moet ‘gepas’ wees. Jy het seker al by die vergadering gesien dat Jehovah se aanbidders op verskillende maniere aantrek, maar ons kleredrag en haarstyle wys altyd dat ons die God wat ons aanbid, respekteer. (2) Om “met beskeidenheid” aan te trek, beteken dat ons nie seksueel uitlokkende klere sal dra nie, en ook nie klere wat te veel aandag trek nie. (3) Ons wys dat ons “gesonde verstand” het wanneer ons nie elke styl of mode volg wat gewild word nie. (4) Ons voorkoms moet altyd wys dat ons “aan God toegewyd is” sodat ander maklik kan sien dat ons die ware God aanbid. – 1 Korintiërs 10:31.

      2. Hoe kan ons voorkoms ons broers en susters affekteer?

      Al kan ons self kies wat ons dra, moet ons dink aan hoe ons voorkoms ander dalk kan affekteer. Ons probeer ons bes om niemand aanstoot te gee nie, maar eerder om “ons naaste te bevoordeel sodat ons hom kan opbou”. – Lees Romeine 15:1, 2.

      3. Hoe kan ons voorkoms ander na ware aanbidding trek?

      Ons probeer altyd om reg aan te trek vir elke geleentheid, maar ons is veral versigtig wanneer dit kom by hoe ons aantrek wanneer ons vergaderinge bywoon en velddiens doen. Ons wil seker maak dat mense se aandag nie van die goeie nuus afgelei word as gevolg van hoe ons lyk nie. Ons wil eerder hê dat ons voorkoms mense na God toe trek en “die leringe van ons Redder . . . versier”. – Titus 2:10.

      SOEK DIEPER

      Kyk hoe ons seker kan maak dat ons kleredrag en voorkoms gepas is vir ons as Christene.

      Twee mans staan voor ’n regter. Een man dra ’n besigheidspak, en die ander man dra geskeurde, informele klere en ’n bofbalpet.

      Ons voorkoms kan wys of ons mense in gesagsposisies respekteer. Al sien Jehovah wat in ons hart is, moet ons voorkoms ook wys dat ons hom respekteer

      4. ’n Goeie voorkoms wys dat ons Jehovah respekteer

      Wat is die belangrikste rede hoekom ons moet omgee hoe ons lyk? Lees Psalm 47:2, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Hoe moet die feit dat ons Jehovah verteenwoordig, ons kleredrag affekteer?

      • Dink jy dat dit regtig nodig is dat ons moet omgee hoe ons lyk wanneer ons vergaderinge bywoon en velddiens doen? Hoekom, of hoekom nie?

      5. Hoe om goeie besluite oor ons kleredrag en voorkoms te maak

      Speel die VIDEO.

      VIDEO: “Doen alles tot eer van God” (10:18)

      Of ons klere nou duur of goedkoop is, dit moet skoon en gepas wees vir die spesifieke situasies waarin ons is. Lees 1 Korintiërs 10:24 en 1 Timoteus 2:9, 10. Bespreek dan hoekom ons nie klere wil dra wat . . .

      • nie skoon of netjies is nie.

      • styf, kaal of seksueel uitlokkend is nie.

      Christene hoef nie die Wet van Moses te volg nie, maar hulle kan baie daaruit leer oor hoe Jehovah dink. Lees Deuteronomium 22:5, en bespreek dan hierdie vraag:

      • Hoekom moet ons nie klere dra of dinge met ons voorkoms doen wat mans soos vrouens laat lyk of vrouens soos mans laat lyk nie?

      Lees 1 Korintiërs 10:32, 33 en 1 Johannes 2:15, 16, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Hoekom moet ons omgee of ons voorkoms party mense in ons gebied of in die gemeente aanstoot sal gee?

      • Watter style is algemeen waar jy bly wanneer dit kom by mense se kleredrag en voorkoms?

      • Dink jy dat party van hierdie style dalk nie gepas sal wees vir ’n Christen nie? Hoekom, of hoekom nie?

      Ons almal kan self besluit wat ons wil dra en hoe ons wil lyk en Jehovah nog steeds gelukkig maak

      Mans en vrouens van verskillende ouderdomme, rasse en agtergronde dra verskillende haarstyle en klere wat gepas is vir Christene.

      PARTY MENSE SÊ: “Ek het die reg om enige iets te dra wat ek wil.”

      • Stem jy saam? Hoekom, of hoekom nie?

      WAT ONS GELEER HET

      Wanneer ons goeie besluite oor ons kleredrag en voorkoms maak, wys ons dat ons Jehovah en ander respekteer.

      Hersiening

      • Hoekom is ons kleredrag en voorkoms vir Jehovah belangrik?

      • Wat is ’n paar beginsels wat ons moet help om besluite te maak oor ons kleredrag en voorkoms?

      • Hoe kan ons kleredrag en voorkoms die manier affekteer waarop ander ware aanbidding beskou?

      Doelwit

      LEER MEER

      Kyk wat ander dalk van jou dink wanneer hulle sien watter klere jy dra.

      “Hoe lyk ek?” (Web-artikel)

      Hoekom is dit goed om mooi te dink voordat jy ’n tatoeëermerk kry?

      “Wat sê die Bybel oor tatoeëring?” (Web-artikel)

      Kyk na nog beginsels wat ons kan help om besluite te maak.

      “Verheerlik jy God deur jou kleredrag?” (Die Wagtoring, September 2016)

      Vind uit hoe ’n vrou wat God gelukkig wou maak, geleer het om ander se besluite oor kleredrag te aanvaar.

      “Kleredrag en persoonsversorging was my struikelblok” (Ontwaak!, 22 Desember 2003)

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel