‘Hanteer die woord van die waarheid reg’
DIE Woord van God is ’n skatkamer van beginsels wat noodsaaklik is vir ’n suksesvolle lewe. Dit kan ’n bedienaar help om te onderrig, tereg te wys en dinge reg te stel (2 Timoteus 3:16, 17). Maar as ons ten volle by hierdie Goddelike gids wil baat vind, moet ons die raad van die apostel Paulus aan Timoteus volg: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer.”—2 Timoteus 2:15.
God se Woord word onder andere met voedsame melk, vaste voedsel, verkwikkende en reinigende water, ’n spieël asook ’n skerp swaard vergelyk. As ’n bedienaar verstaan wat hierdie terme beteken, help dit hom om die Bybel op ’n bekwame wyse te gebruik.
Die melk van God se Woord
Melk is die voedsel wat pasgebore babas nodig het. Namate die baba groei, word vaste voedsel geleidelik by sy dieet gevoeg, maar aan die begin kan die baba net melk verteer. Diegene wat min kennis van God se Woord het, is in baie opsigte soos klein kindertjies. Of iemand nou pas in God se Woord begin belangstel het en of hy nou al ’n geruime tyd daarmee bekend is, is hy, as hy niks meer as ’n basiese begrip het van wat die Bybel sê nie, in ’n geestelike sin ’n klein kindjie en het hy maklik verteerbare voedsel nodig—geestelike “melk”. Hy kan nog nie “vaste voedsel”, die diep dinge van God se Woord, verteer nie.—Hebreërs 5:12.
Dit was die toestand in die pas gevormde gemeente in Korinte toe Paulus aan hulle geskryf het: “Ek het julle met melk gevoed, nie met iets om te eet nie, want julle was nog nie sterk genoeg nie” (1 Korintiërs 3:2). Die Korintiërs moes eers die “elementêre dinge van die heilige verklarings van God” leer (Hebreërs 5:12). In daardie stadium van hulle ontwikkeling sou hulle nie “die diep dinge van God” kon verteer nie.—1 Korintiërs 2:10.
Hedendaagse Christenbedienaars toon, soos Paulus, hulle besorgdheid vir diegene wat in ’n geestelike sin klein kindertjies is deur aan hulle “melk” te gee, dit wil sê deur hulle te help om goed vertroud te raak met basiese Christelike leerstellings. Hulle moedig sulke nuwelinge of onvolwasse Christene aan om ‘’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort te ontwikkel’ (1 Petrus 2:2). Die apostel Paulus het getoon dat hy bewus was van die gespesialiseerde aandag wat nuwelinge nodig het toe hy geskryf het: “Elkeen wat melk gebruik, is onbekend met die woord van regverdigheid, want hy is ’n klein kindjie” (Hebreërs 5:13). Geduld, bedagsaamheid, begrip en goedhartigheid word van bedienaars van God vereis wanneer hulle die suiwer melk van die Woord deur middel van tuisbybelstudies en in die gemeente aan nuwelinge en onervarenes voorsien.
Die vaste voedsel van God se Woord
’n Christen het meer as net “melk” nodig om tot redding te groei. Sodra hy die grondwaarhede van die Bybel duidelik verstaan en aanvaar het, is hy gereed om die ‘vaste voedsel wat by volwasse mense behoort’ in te neem (Hebreërs 5:14). Hoe kan hy dit doen? Deur middel van ’n gereelde program van persoonlike studie en omgang by Christelike vergaderinge. Sulke goeie gewoontes sal daartoe bydra dat ’n Christen geestelik sterk, volwasse en bekwaam in die bediening word (2 Petrus 1:8). Ons moet onthou dat geestelike voedsel nie net kennis insluit nie, maar ook dat ons Jehovah se wil doen.—Johannes 4:34.
Vandag is ’n “getroue en verstandige slaaf” aangestel om God se knegte van voedsel op die regte tyd te voorsien en om hulle te help om “die uiters veelsydige wysheid van God” te verstaan. Jehovah gebruik sy gees om diep skriftuurlike waarhede te openbaar deur middel van hierdie lojale slaaf, wat getrou geestelike “voedsel op die regte tyd” publiseer. (Matteus 24:45-47; Efesiërs 3:10, 11; vergelyk Openbaring 1:1, 2.) Elke Christen is persoonlik daarvoor verantwoordelik om hierdie gedrukte voorsienings ten beste te benut.—Openbaring 1:3.
Party dinge in die Bybel is natuurlik ‘moeilik om te verstaan’, selfs vir geestelik volwasse Christene (2 Petrus 3:16). Daar is moeilik verstaanbare uitdrukkings, profesieë en illustrasies wat baie studie en bepeinsing verg. Persoonlike studie behels dus onder andere dat ’n mens in God se Woord delf (Spreuke 1:5, 6; 2:1-5). Veral die ouer manne het in hierdie verband ’n verantwoordelikheid wanneer hulle die gemeente onderrig. Hetsy ouer manne nou die Gemeentelike Boekstudie of die Wagtoring-studie hou, openbare toesprake hou of in enige ander onderrighoedanigheid dien, hulle moet deeglik met hulle materiaal vertroud wees en aan hulle “onderrigkuns” aandag skenk wanneer hulle vaste geestelike voedsel aan die gemeente oordra.—2 Timoteus 4:2.
Water wat verkwik en reinig
Jesus het vir die Samaritaanse vrou by die put gesê dat hy haar iets sou gee om te drink wat in haar “’n fontein van water [sou] word wat opborrel om die ewige lewe te gee” (Johannes 4:13, 14; 17:3). Hierdie lewegewende water sluit al God se voorsienings in om lewe te verkry deur die Lam van God, en hierdie voorsienings word in die Bybel verduidelik. As mense wat na hierdie “water” dors, aanvaar ons die uitnodiging van die gees en die bruid van Christus om ‘die water van die lewe verniet te neem’ (Openbaring 22:17). As ons van hierdie water drink, kan dit vir ons die ewige lewe beteken.
Die Bybel stel ook die sedelike en geestelike standaarde vir ware Christene. Namate ons hierdie Goddelike standaarde toepas, word ons deur Jehovah se Woord gereinig, “skoon gewas” van alle gebruike wat Jehovah God haat (1 Korintiërs 6:9-11). Om hierdie rede word die waarheid wat in die geïnspireerde Woord is ’n “waterbad” genoem (Efesiërs 5:26). Indien ons ons nie op hierdie manier deur God se waarheid laat reinig nie, sal ons aanbidding nie vir hom aanneemlik wees nie.
Dit is interessant dat ouer manne wat “die woord van waarheid reg hanteer” ook met water vergelyk word. Jesaja sê dat hulle “soos waterstrome in ’n dor streek” is (Jesaja 32:1, 2). Liefdevolle ouer manne beantwoord aan hierdie beskrywing wanneer hulle as geestelike herders hulle broers besoek en God se verkwikkende Woord gebruik om aanmoedigende, vertroostende, geestelike inligting oor te dra wat hulle versterk en bemoedig.—Vergelyk Matteus 11:28, 29.a
Gemeentelede sien daarna uit dat die ouer manne hulle besoek. “Ek weet hoe bemoedigend die ouer manne kan wees, en ek is so bly dat Jehovah hierdie voorsiening gemaak het”, sê Bonnie. Lynda, ’n enkelouer, skryf: “Die ouer manne het my met skriftuurlike bemoediging gehelp om die mas op te kom. Hulle het geluister en medelye betoon.” Michael sê: “Hulle het my laat voel dat ek deel van ’n organisasie is wat omgee.” “Die ouer manne se besoeke het my gehelp om tye van kwaai depressie te oorkom”, sê iemand anders. ’n Geestelik opbouende besoek van ’n ouer man is soos ’n koel, verkwikkende drankie. Skaapgeaardes word vertroos wanneer liefdevolle ouer manne hulle help om te sien hoe skriftuurlike beginsels op hulle situasie betrekking het.—Romeine 1:11, 12; Jakobus 5:14.
Gebruik God se Woord soos ’n spieël
Wanneer iemand vaste voedsel inneem, is die doel nie net om die smaak te geniet nie. Hy verwag eerder om gevoed te word sodat hy werk sal kan verrig. As hy ’n kind is, verwag hy dat die voedsel hom sal help grootword om ’n volwassene te word. Dit is ook die geval met geestelike voedsel. Persoonlike Bybelstudie kan genotvol wees, maar dit is nie die enigste rede daarvoor nie. Geestelike voedsel moet ons verander. Dit help ons om die vrugte van die gees te identifiseer en te openbaar, asook om ons te beklee met “die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis nuut gemaak word na die beeld van die Een wat dit geskep het” (Kolossense 3:10; Galasiërs 5:22-24). Geestelike voedsel help ons ook om tot geestelike volwassenheid te groei, met die gevolg dat ons skriftuurlike beginsels beter kan toepas wanneer ons met probleme te kampe het en wanneer ons ander help om hulle probleme die hoof te bied.
Hoe weet ons of die Bybel daardie uitwerking op ons het? Ons gebruik die Bybel soos ’n spieël. Jakobus het gesê: “Word . . . daders van die woord en nie net hoorders . . . nie. Want as iemand ’n hoorder van die woord is, en nie ’n dader nie, is hy soos ’n mens wat na sy natuurlike gesig in ’n spieël kyk. Want hy kyk na homself en gaan dan weg en vergeet onmiddellik watter soort mens hy is. Maar hy wat in die volmaakte wet tuur wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen.”—Jakobus 1:22-25.
Ons “tuur” in God se Woord in wanneer ons dit noukeurig ondersoek en wat ons is, vergelyk met wat ons volgens God se standaarde veronderstel is om te wees. As ons dít doen, sal ons “daders van die woord en nie net hoorders” word nie. Die Bybel sal ’n goeie uitwerking op ons hê.
God se Woord is soos ’n swaard
Die apostel Paulus help ons ten slotte om te sien hoe ons God se Woord soos ’n swaard kan gebruik. Waar hy ons teen “die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” waarsku, spoor hy ons aan om ‘die swaard van die gees, dit is God se Woord aan te neem’ (Efesiërs 6:12, 17). God se Woord is ’n onontbeerlike wapen wat ons kan gebruik om enige idees wat “teen die kennis van God opgerig word” as ’t ware weg te sny.—2 Korintiërs 10:3-5.
Daar bestaan geen twyfel nie dat ‘die woord van God lewend is en krag uitoefen’ (Hebreërs 4:12). Jehovah praat met die mensdom deur die bladsye van sy geïnspireerde Woord. Maak goed gebruik daarvan om ander te leer en valse leerstellings bloot te lê. Gebruik dit om ander aan te moedig, op te bou, te verkwik, te vertroos, te motiveer en geestelik te versterk. En mag Jehovah ‘jou met alle goeie dinge toerus om sy wil te doen’ sodat jy altyd sal doen wat ‘welbehaaglik in sy oë is’.—Hebreërs 13:21.
[Voetnoot]
a Sien die artikel in Die Wagtoring met die titel “Hulle hou met medelye oor die skape toesig”, 15 September 1993, bladsye 20-3.
[Prent op bladsy 31]
Ouer manne moedig ander aan deur ‘die woord van die waarheid reg te hanteer’