Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 3/1 bl. 20-25
  • ‘Soek vrede en jaag dit na’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Soek vrede en jaag dit na’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Wat die vlees bedink”
  • Vrede met ons broers
  • “Salig is die vredemakers”
  • Vreedsame woorde
  • “Doen julle uiterste bes”
  • Vredeliewende mense is waarlik nodig!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Laat “die vrede van God” jou hart bewaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ‘Soek vrede en streef dit na’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hoe jy goddelike vrede in groter mate kan geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 3/1 bl. 20-25

‘Soek vrede en jaag dit na’

“Groot is die HERE wat ’n welbehae het in die vrede van sy kneg!”—PSALM 35:27.

1. Watter vrede geniet ons vandag?

WAT ’n vreugde is dit tog om in hierdie verdeelde wêreld vrede te geniet! Hoe wonderlik is dit tog om Jehovah, “die God van die vrede”, te aanbid, en om ’n aandeel te hê in die seëninge van sy “verbond van vrede”! Hoe verfrissend is dit tog om, te midde van die druk van die lewe, “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” te ken en om “die band van die vrede” te ervaar wat God se volk verenig, ongeag hulle nasionaliteit, taal, ras of sosiale stand!—1 Thessalonicense 5:23; Esegiël 37:26; Filippense 4:7; Efesiërs 4:3.

2, 3. (a) Hoewel God se volk as ’n geheel sal volhard, wat kan met individuele Christene gebeur? (b) Watter optrede beveel die Bybel aan?

2 Hierdie vrede is vir ons as Getuies van Jehovah kosbaar. Maar ons kan dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Vrede word nie outomaties gehandhaaf bloot omdat ons met ’n Christengemeente omgaan of omdat ons deel is van ’n Christengesin nie. Hoewel die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle van die “ander skape” tot die einde toe as een kudde sal volhard, kan individue hulle vrede verloor en afvallig word.—Johannes 10:16; Mattheüs 24:13; Romeine 11:22; 1 Korinthiërs 10:12.

3 Die apostel Paulus het gesalfde Christene van sy dag gewaarsku: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Hebreërs 3:12). Hierdie waarskuwing is ook op die groot menigte van toepassing. Daarom word Christene in die Bybel gemaan: ‘Soek vrede en jaag dit na. Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.’—1 Petrus 3:10-12; Psalm 34:15, 16.

“Wat die vlees bedink”

4. Wat kan ons vrede met God versteur?

4 Wat kan ons najaging van vrede onderbreek? Paulus noem een ding wanneer hy sê: “Wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is” (Romeine 8:6, 7). Wanneer Paulus van “die vlees” praat, praat hy van ons gevalle toestand as onvolmaakte mense met oorgeërfde sondige neigings. As ons voor die neigings van die gevalle vlees swig, sal dit ons vrede vernietig. As ’n Christen hom onberouvol aan onsedelikheid, leuens, diefstal, dwelmmisbruik of ’n ander oortreding van die goddelike wet skuldig maak, versteur hy die vrede wat hy met Jehovah geniet het (Spreuke 15:8, 29; 1 Korinthiërs 6:9, 10; Openbaring 21:8). Origens, as hy toelaat dat materiële dinge vir hom belangriker word as geestelike dinge, is sy vrede met God in groot gevaar.—Mattheüs 6:24; 1 Johannes 2:15-17.

5. Wat is betrokke by die najaging van vrede?

5 Daarteenoor het Paulus gesê: “Wat die Gees bedink, is lewe en vrede.” Vrede is ’n deel van die vrug van die gees, en as ons ons hart oplei om geestelike dinge te waardeer en bid dat God se gees ons hiermee help, sal ons die dinge vermy “wat die vlees bedink” (Galasiërs 5:22-24). In 1 Petrus 3:10-12 word vrede met regverdigheid geassosieer (Romeine 5:1). Petrus sê dat die najaging van vrede insluit dat ons “afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is”. God se gees kan ons help om ‘geregtigheid na te jaag’ en sodoende ons vrede met God te bewaar.—1 Timotheüs 6:11, 12.

6. Wat is een van die verantwoordelikhede van die ouere manne wat die vrede van die gemeente betref?

6 Die najaging van vrede is van groot belang vir die ouere manne in die gemeente. As iemand byvoorbeeld probeer om besoedelende gebruike in te voer, is dit die ouere manne se verantwoordelikheid om die gemeente te beskerm deur die sondaar te probeer teregwys. As hy die teregwysing aanvaar, sal hy sy vrede herwin (Hebreërs 12:11). Indien nie, sal hy dalk uitgewerp moet word sodat die gemeente se vreedsame verhouding met Jehovah bewaar kan word.—1 Korinthiërs 5:1-5.

Vrede met ons broers

7. Teen watter betoning van “wat die vlees bedink”, waarsku Paulus die Korinthiërs?

7 “Wat die vlees bedink”, kan nie net ons vrede met God nie, maar ook ons goeie verhouding met ander Christene vernietig. Paulus het aan die Korinthiërs geskryf: “Julle [is] nog vleeslik . . . ; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Korinthiërs 3:3). Jaloesie, twis en tweedrag is presies die teenoorgestelde van vrede.

8. (a) Wat kan gebeur met iemand wat jaloesie, twis en tweedrag in die gemeente verwek? (b) Waarvan hang ons vrede met God af?

8 Dit is baie ernstig as iemand die vrede van die gemeente versteur deur jaloesie, twis en tweedrag te verwek. Toe die apostel Johannes van ’n eienskap gepraat het wat ten nouste aan vrede as ’n vrug van die gees verwant is, het hy gesê: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” (1 Johannes 4:20). Op soortgelyke trant kan daar gevra word: Kan iemand werklik vrede met God geniet as hy jaloesie, twis of tweedrag onder broers veroorsaak? Beslis nie! Ons word soos volg aangespoor: “Gaan voort om julle te verheug, weer reggestel te word, vertroos te word, gelyk te dink, vreedsaam te lewe; en die God van liefde en van vrede sal met julle wees” (2 Korinthiërs 13:11, NW). Ja, as ons vreedsaam met mekaar bly lewe, dan sal die God van liefde en vrede met ons wees.

9. Hoe weet ons dat Christene soms misverstande en verskille sal hê?

9 Dit beteken nie dat daar nooit misverstande tussen Christene sal wees nie. In die weke ná Pinkster was daar ’n misverstand in die jong Christengemeente oor die daaglikse voedselverdeling (Handelinge 6:1). By een geleentheid het ’n verskil tussen Paulus en Barnabas tot “’n skerp uitbarsting van toorn” gelei (Handelinge 15:39, NW). Paulus moes Euodia en Sintiche, wat ongetwyfeld goeie, ywerige susters was, vermaan “om eensgesind te wees in die Here” (Filippense 4:2). Dit is geen wonder nie dat Jesus breedvoerige raad gegee het oor hoe versteurings van die vrede tussen Christene hanteer moet word en dat hy beklemtoon het hoe belangrik dit is dat sulke probleme gou opgelos word! (Mattheüs 5:23-25; 18:15-17). Hy sou nie hierdie raad gegee het as hy nie verwag het dat daar probleme onder sy volgelinge sou ontstaan nie.

10. Watter situasies kom soms in ’n gemeente op, en watter verantwoordelikhede plaas dit op almal wat daarby betrokke is?

10 Dit is dan vandag heel moontlik dat iemand aanstoot kan neem aan ’n taktlose woord of iets wat hy as ’n belediging deur ’n mede-Christen beskou. ’n Eienskap in een persoon kan iemand anders geweldig irriteer. Persoonlikhede kan bots. Iemand het moontlik groot beswaar teen ’n besluit van die ouere manne. Op die liggaam van ouere manne self is een ouere man dalk baie eiesinnig en probeer hy om die ander ouere manne te oorheers. Ondanks die feit dat sulke dinge gebeur, moet ons steeds vrede soek en dit najaag. Die uitdaging is om hierdie probleme op ’n Christelike manier te hanteer sodat ons “die verenigende band van vrede” kan behou.—Efesiërs 4:3, NW.

11. Watter voorsienings het Jehovah gemaak om ons te help om vrede met mekaar na te jaag?

11 Die Bybel sê: “Groot is die HERE wat ’n welbehae het in die vrede van sy kneg!” (Psalm 35:27). Ja, Jehovah wil hê dat ons vrede moet geniet. Daarom het hy twee besondere voorsienings gemaak om ons te help om vrede onder onsself en met hom te handhaaf. Een is heilige gees, waarvan vrede ’n vrug is, sowel as verwante, vreedsame eienskappe soos lankmoedigheid, vriendelikheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22). Die ander is goddelike wysheid, waarvan ons lees: “Die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte.”—Jakobus 3:17, 18.

12. Wat moet ons doen as ons vrede met ons broers versteur is?

12 Wanneer ons vrede met ander versteur word, moet ons derhalwe bid dat wysheid van bo aan ons sal toon hoe ons moet optree, en ons moet heilige gees vra sodat ons versterk kan word om te doen wat reg is (Lukas 11:13; Jakobus 1:5; 1 Johannes 3:22). Ons kan ons dan, in ooreenstemming met ons gebed, na die bron van goddelike wysheid, die Bybel, vir leiding wend en ons kan in die beskikbare Bybellektuur raad soek na oor hoe ons die Skrif kan toepas (2 Timotheüs 3:16). Ons kan ook raad soek by ouere manne in die gemeente. Die laaste stap sal wees om die raad toe te pas. Jesaja 54:13 sê: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” Dit impliseer dat ons vrede daarvan afhang of ons die dinge wat Jehovah ons leer, toepas.

“Salig is die vredemakers”

13, 14. (a) Wat word geïmpliseer deur die woord “vredemakers” wat Jesus gebruik het? (b) Hoe kan ons vredemakers word?

13 In sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Mattheüs 5:9). Hier verwys “vredemakers” nie na mense wat bloot van nature kalm is nie. ’n Vredemaker is bekwaam om vrede te herstel wanneer dit versteur is. Nog belangriker, ’n vredemaker probeer dit vermy om die vrede in die eerste plek te versteur. ‘Vrede heers in sy hart’ (Kolossense 3:15). As God se knegte probeer om vredemakers te wees, sal probleme onder hulle tot die minimum beperk wees.

14 ’n Mens moet jou eie swakhede erken as jy ’n vredemaker wil word. ’n Christen het dalk ’n slegte humeur of is dalk liggeraak en word maklik te na gekom. Wanneer hy onder druk verkeer, kan sy emosies veroorsaak dat hy Bybelbeginsels vergeet. Dit is nie iets ongehoords by onvolmaakte mense nie (Romeine 7:21-23). Maar vyandskap, twis en toornigheid word werke van die vlees genoem (Galasiërs 5:19-21). As ons sulke neigings in onsself bespeur—of as iemand anders dit onder ons aandag bring—moet ons opreg en voortdurend bid dat Jehovah se gees selfbeheersing en sagmoedigheid in ons sal laat ontwikkel. Ja, elkeen moet daarna strewe om sulke eienskappe as deel van sy nuwe persoonlikheid aan te kweek.—Efesiërs 4:23, 24; Kolossense 3:10, 15.

15. In watter opsig is die wysheid van bo anders as onredelike koppigheid?

15 Soms het ’n gemeente of ’n liggaam van ouere manne las van iemand wat koppig is en altyd daarop aandring om sy sin te kry. Wat goddelike wette betref moet ’n Christen weliswaar vasberade, selfs onbuigsaam, wees. En as ons dink dat ons ’n goeie idee het waarby ander kan baat vind, is dit beslis nie verkeerd om ons duidelik uit te druk nie, solank ons ons redes verduidelik. Maar ons wil nie soos diegene in die wêreld word wat “onversoenlik” is nie (2 Timotheüs 3:1-4). Die wysheid van bo is vredeliewend, vriendelik. Diegene wie se dade ’n patroon van koppige onbuigsaamheid vorm, moet ag slaan op Paulus se raad aan die Filippense om ‘niks uit ydele eer te doen nie’.—Filippense 2:3.

16. Hoe help Paulus se raad in die boek Filippense ons om egotisme teë te werk?

16 In daardie selfde brief het Paulus ons gemaan om opreg en ‘in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself’. Dit is presies die teenoorgestelde van ydele eer, oftewel egotisme. ’n Ryp Christen dink nie heel eerste daaraan om sy eie idees aan ander op te dwing, sy aansien te red of sy eie posisie of gesag te beskerm nie. Dit sou teen Paulus se vermaning wees om ‘nie elkeen na sy eie belange om te sien nie, maar elkeen ook na die ander s’n’.—Filippense 2:4; 1 Petrus 5:2, 3, 6.

Vreedsame woorde

17. Watter verkeerde gebruik van die tong kan die vrede van die gemeente versteur?

17 Die persoon wat vrede najaag, is veral versigtig oor hoe hy sy tong gebruik. Jakobus waarsku: “Die tong [is] ook ’n klein lid en beroem hom op groot dinge—kyk hoe ’n groot hoop hout steek ’n klein vuurtjie aan die brand” (Jakobus 3:5). Skadelike skinderpraatjies, kritiek van ander agter hulle rug, onvriendelike en ongevoelige woorde, murmurering en klaery sowel as oneerlike vleitaal vir persoonlike voordeel—al hierdie dinge is werke van die vlees wat die vrede van God se volk versteur.—1 Korinthiërs 10:10; 2 Korinthiërs 12:20; 1 Timotheüs 5:13; Judas 16.

18. (a) Wat is die regte ding om te doen vir almal wat by die saak betrokke is as die tong onopsetlik verkeerd gebruik is? (b) Hoe reageer ryp Christene wanneer woede veroorsaak dat iemand kwetsende woorde uiter?

18 Jakobus het weliswaar gesê: “Die tong kan geen mens tem nie” (Jakobus 3:8). Selfs ryp Christene sê soms dinge waaroor hulle later werklik spyt is. Ons hoop almal dat ander ons sulke foute sal vergewe net soos ons hulle vergewe (Mattheüs 6:12). Soms word kwetsende woorde gedurende ’n skerp uitbarsting van toorn geuiter. Dan sal ’n vredemaker onthou dat ‘’n sagte antwoord die grimmigheid afkeer, maar dat ’n krenkende woord die toorn laat opkom’ (Spreuke 15:1). Hy sal dikwels net diep moet asemhaal en moet weier om kwaai woorde met nog kwaai woorde te beantwoord. Daarna, wanneer die gemoedere bedaar het, weet ’n grootmoedige vredemaker hoe om dinge wat in ’n oomblik van woede gesê is oor te sien. En ’n nederige Christen sal weet hoe om om verskoning te vra en die wonde wat hy veroorsaak het te probeer genees. Dit is ’n teken van morele krag om eerlik te kan sê: “Ek is jammer.”

19. Wat leer ons by Paulus en Jesus oor hoe om raad te gee?

19 Die tong moet moontlik gebruik word om ander raad te gee. Paulus het Petrus in die openbaar bestraf toe laasgenoemde in Antiochië verkeerd opgetree het. En Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes het streng teregwysing bevat (Galasiërs 2:11-14; Openbaring, hoofstukke 2, 3). As ons hierdie voorbeelde bestudeer, leer ons dat raad nie so sag moet wees dat die doel daarvan verlore gaan nie. Jesus en Paulus was nietemin nie ongevoelig of wreed nie. Hulle raad was nie ’n uitlaatklep vir hulle eie frustrasies nie. Hulle het werklik probeer om hulle broers te help. As die een wat raad gee, agterkom dat hy sy tong nie ten volle kan beheer nie, sal dit dalk beter wees as hy ’n rukkie stilbly en kalmeer voordat hy enigiets sê. Anders kan hy dalk ongevoelige woorde uiter en ’n erger probleem veroorsaak as die een wat hy probeer oplos.—Spreuke 12:18.

20. Waardeur moet alles wat ons vir of van ons broers sê, beheers word?

20 Soos reeds genoem is, is vrede en liefde nou verwant aan mekaar as vrugte van die gees. As die dinge wat ons vir—of van—ons broers sê altyd ons liefde vir hulle weerspieël, sal dit tot die vrede van die gemeente bydra (Johannes 15:12, 13). Ons uitinge moet “aangenaam wees, met sout besprinkel” (Kolossense 4:6). Hulle moet as ’t ware smaaklik wees en tot die hart spreek. Jesus het gemaan: “Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.”—Markus 9:50.

“Doen julle uiterste bes”

21. Wat omtrent God se volk kan duidelik gesien word by hulle weeklikse vergaderinge sowel as tydens kring- en streekbyeenkomste?

21 Die psalmis het geskryf: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon” (Psalm 133:1). Ons geniet dit werklik om by ons broers te wees, veral by ons weeklikse vergaderinge en gedurende die kring- en groter streekbyeenkomste. By sulke geleenthede is ons vrede selfs vir buitestaanders sigbaar.

22. (a) Watter valse vrede sal die nasies binnekort na hulle mening bereik, en waartoe sal dit lei? (b) Tot watter ware vrede sal God se verbond van vrede lei?

22 Binnekort gaan die nasies dink dat hulle vrede sonder Jehovah se hulp bereik. Maar terwyl hulle nog sê: “Vrede en veiligheid” sal skielike verderf kom oor almal wat nie vrede met God geniet nie (1 Thessalonicense 5:3). Daarna sal die groot Vredevors voortgaan om die mensdom te genees van die rampspoedige gevolge van die mens se oorspronklike verlies van vrede met God (Jesaja 9:5, 6; Openbaring 22:1, 2). Dan sal God se verbond van vrede wêreldwye rus tot gevolg hê. Selfs die diere van die veld sal nie meer vyandig teenoor mekaar wees nie.—Psalm 37:10, 11; 72:3-7; Jesaja 11:1-9; Openbaring 21:3, 4.

23. As ons die hoop op ’n vreedsame nuwe wêreld as kosbaar beskou, wat moet ons nou doen?

23 Wat ’n wonderlike tyd sal dit tog nie wees nie! Sien jy gretig uit daarna? Indien wel, moet jy ‘die vrede met almal najaag’. Soek nou vrede met jou broers, en veral met Jehovah. Ja, “terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle [“doen julle uiterste bes”, NW] dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede”.—Hebreërs 12:14; 2 Petrus 3:14.

Onthou jy?

◻ Wat kan ons vrede met Jehovah vernietig?

◻ Watter soort misverstande moet moontlik in ’n gemeente opgelos word?

◻ Watter voorsiening het Jehovah gemaak om ons te help om vrede te soek en dit na te jaag?

◻ Watter vleeslike gesindhede kan die vrede van die gemeente versteur, en hoe kan ons hulle teëwerk?

[Prent op bladsy 22]

Vrede is oorvloedig onder diegene wat deur Jehovah geleer is

[Prent op bladsy 24]

Hoe aangenaam is die vrede van broers wat in eenheid dien!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel