Wat van “bewysplase” van die Drie-eenheid?
DAAR word gesê dat sekere Bybeltekste die Drie-eenheid bewys. Maar wanneer ons sulke tekste lees, moet ons in gedagte hou dat die Bybelse en geskiedkundige getuienis nie die Drie-eenheid staaf nie.
Enige Bybelaanhaling wat as bewys aangevoer word, moet verstaan word teen die agtergrond van die hele Bybel se konsekwente leer. Dikwels verklaar die konteks van omliggende verse die ware betekenis van so ’n teks.
Drie in een
DIE New Catholic Encyclopedia meld drie sulke “bewysplase”, maar erken ook: “Die leerstelling van die Heilige Drie-eenheid word nie in die O[u] T[estament] geleer nie. In die N[uwe] T[estament] kom die oudste bewys in die Pauliniese briewe voor, veral in 2 Kor 13.13 [vers 14 in party Bybels] en 1 Kor 12.4-6. In die Evangelies kom ’n uitdruklike bewys van die Drie-eenheid net in die doopformulier van Matt 28.19 voor.”
In daardie verse word die drie “persone” soos volg in die Afrikaanse Bybel (1933) genoem. Tweede Korinthiërs 13:13 meld die drie só saam: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal!” Eerste Korinthiërs 12:4-6 sê: “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.” En Mattheüs 28:19 sê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”
Sê daardie verse dat God, Christus en die heilige gees ’n Trinitariese Godheid uitmaak, dat die drie gelyk is wat substansie, krag en ewigheid betref? Nee, ewe min as wat die opnoeming van drie mense, soos Jan, Piet en Klaas, beteken dat hulle drie in een is.
Hierdie soort aanhaling, erken McClintock en Strong se Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, “bewys eenvoudig dat daar die drie gemelde subjekte is, . . . maar dit bewys nie op sigself dat al drie noodwendig die goddelike natuur en gelyke goddelike eer besit nie”.
Hoewel daardie bron die Drie-eenheid voorstaan, sê dit van 2 Korinthiërs 13:13: “Ons kan nie met reg die gevolgtrekking maak dat hulle gelyke gesag of dieselfde natuur besit het nie.” En dit sê van Mattheüs 28:18-20: “Maar op sigself lewer hierdie teks nie onomstootlike bewys van die persoonlikheid van die drie subjekte wat gemeld word nie, en ook nie van hulle gelykheid of goddelikheid nie.”
Toe Jesus gedoop is, is God, Jesus en die heilige gees ook in dieselfde konteks gemeld. Jesus het “die Gees van God soos ’n duif [sien] neerdaal en op Hom kom” (Mattheüs 3:16). Dit beteken egter nie dat die drie een is nie. Abraham, Isak en Jakob word herhaaldelik saam genoem, maar dit maak hulle nie een nie. Petrus, Jakobus en Johannes word saam genoem, maar dit maak hulle ook nie een nie. Bowendien het God se gees ten tyde van Jesus se doop op hom neergedaal, wat toon dat Jesus nie voor daardie geleentheid deur gees gesalf is nie. Hoe kan hy dan deel van ’n Drie-eenheid uitmaak, in welke hoedanigheid hy altyd een sou gewees het met die heilige gees?
Nog ’n verwysing na die drie saam kom in sommige ouer Bybelvertalings in 1 Johannes 5:7 voor. Maar geleerdes erken dat hierdie woorde nie oorspronklik in die Bybel was nie, maar baie later bygevoeg is. Die meeste hedendaagse vertalings laat tereg hierdie onegte teks weg.
Ander “bewysplase” het net betrekking op die verhouding tussen twee—die Vader en Jesus. Kom ons ondersoek ’n paar.
“Ek en die Vader is een”
DAARDIE teks, in Johannes 10:30, word dikwels aangehaal om die Drie-eenheid te staaf, hoewel ’n derde persoon glad nie daar gemeld word nie. Maar Jesus het self getoon wat hy bedoel het toe hy gesê het dat hy en die Vader “een” is. In Johannes 17:21, 22 het hy tot God gebid dat sy dissipels “almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees . . . sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is”. Het Jesus gebid dat al sy dissipels één entiteit moes word? Nee, Jesus het gebid dat hulle in gedagte en voorneme verenig moes wees, soos hy en God verenig was.—Sien ook 1 Korinthiërs 1:10.
In 1 Korinthiërs 3:6, 8 sê Paulus: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak . . . Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een.” Paulus het nie bedoel dat hy en Apollos twee persone in een was nie; hy het bedoel dat hulle in voorneme verenig was. Die Griekse woord wat Paulus hier vir “een” gebruik het (hen), is onsydig, letterlik “een (ding)”, wat verenigde samewerking aandui. Dit is dieselfde woord wat Jesus in Johannes 10:30 gebruik het om sy verhouding met sy Vader te beskryf. Dit is ook dieselfde woord wat Jesus in Johannes 17:21, 22 gebruik het. Toe hy die woord “een” (hen) in hierdie gevalle gebruik het, het hy dus eenheid van gedagte en voorneme bedoel.
Johannes Calvyn (wat ’n Trinitariër was) het in die boek Commentary on the Gospel According to John die volgende van Johannes 10:30 gesê: “Die ou kerkvaders het hierdie gedeelte verkeerdelik gebruik om te bewys dat Christus . . . van dieselfde substansie as die Vader is. Want Christus redeneer nie oor die eenheid van substansie nie, maar oor die eenstemmigheid tussen hom en die Vader.”
In die konteks van die verse ná Johannes 10:30 het Jesus kragtig aangevoer dat sy woorde nie te kenne wil gee dat hy God is nie. Hy het die Jode wat verkeerdelik daardie gevolgtrekking gemaak het en hom wou stenig, gevra: “Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?” (Johannes 10:31-36, NAV). Nee, Jesus het gesê dat hy die Seun van God is, nie God die Seun nie.
Het hy “Hom met God gelykgestel”?
NOG ’n teks wat as ’n bewys van die Drie-eenheid gebruik word, is Johannes 5:18. Dit sê dat die Jode (soos in Johannes 10:31-36) Jesus wou doodmaak omdat hy “God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het”.
Maar wie het gesê dat Jesus hom met God gelykgestel het? Nie Jesus nie. Hy het hom sommer in die volgende vers (19) teen hierdie valse beskuldiging verdedig: “Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: . . . die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie.”
Hierdeur het Jesus vir die Jode gewys dat hy nie aan God gelyk is nie en derhalwe nie op eie inisiatief kan handel nie. Kan ons ons voorstel dat iemand wat aan die almagtige God gelyk is, sal sê dat hy “niks uit Homself” kan doen nie? (Vergelyk Daniël 4:34, 35.) Dit is opmerklik dat die konteks van Johannes 5:18 sowel as Johannes 10:30 toon dat Jesus hom verdedig het teen valse beskuldigings van Jode wat, soos die Trinitariërs, verkeerde gevolgtrekkings gemaak het!
“Aan God gelyk”?
IN FILIPPENSE 2:6 sê die Afrikaanse Bybel (1933) aangaande Jesus: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie.” Die bewoording in die Katolieke Douay Version (Dy) van 1609 en die King James Version (KJ) van 1611 is soortgelyk. Sulke vertalings word nog deur sommige gebruik om die gedagte te staaf dat Jesus aan God gelyk is. Maar let op hoe ander vertalings hierdie vers weergee:
1869: “hy, wat in die gedaante van God was, het gelykheid aan God nie beskou as iets wat hy moes gryp nie.” The New Testament, deur G. R. Noyes.
1965: “Hy—waarlik van die goddelike natuur!—het hom nooit vol selfvertroue aan God gelykgestel nie.” Das Neue Testament, hersiene uitgawe, deur Friedrich Pfäfflin.
1968: “wat, alhoewel hy in die gedaante van God was, gelykheid aan God nie beskou het as iets wat hy gretig sy eie moet maak nie.” La Bibbia Concordata.
1976: “Hy het altyd God se natuur gehad, maar hy het nie gedink dat hy op gewelddadige wyse moet probeer om aan God gelyk te word nie.” Today’s English Version.
1984: “wat, alhoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming oorweeg het, naamlik om aan God gelyk te wees nie.” New World Translation of the Holy Scriptures.
1985: “Hy, wat in die gedaante van God was, het gelykheid aan God nie beskou as iets wat gegryp moet word nie.” The New Jerusalem Bible.
Maar party beweer dat selfs hierdie akkurater weergawes impliseer dat (1) Jesus reeds gelykheid besit het, maar dit nie wou behou nie, of dat (2) dit nie vir hom nodig was om na gelykheid te gryp nie omdat hy dit reeds gehad het.
In hierdie verband sê Ralph Martin in The Epistle of Paul to the Philippians van die oorspronklike Grieks: “Dit is egter twyfelagtig of die betekenis van die werkwoord van sy ware betekenis, naamlik ‘om beslag te lê op’, ‘om gewelddadig te gryp’ kan oorgaan tot ‘om vas te hou’.” The Expositor’s Greek Testament sê ook: “Ons kan geen gedeelte vind waar ἁρπάζω [har·paʹzo] of enige van sy afgeleide vorme die betekenis het van ‘in besit hou’, ‘behou’ nie. Dit beteken skynbaar sonder uitsondering ‘beslag lê op’, ‘gewelddadig gryp’. Dit is dus ontoelaatbaar om van die ware betekenis ‘gryp na’ oor te gaan tot ’n betekenis wat heeltemal verskillend is, naamlik ‘vashou’.”
Uit die voormelde is dit duidelik dat die vertalers van vertalings soos die Afrikaanse Bybel, die Douay en die King James die reëls verdraai om Trinitariese oogmerke te bereik. As die Grieks van Filippense 2:6 objektief gelees word, sê dit hoegenaamd nie dat Jesus gelykheid aan God as gepas beskou het nie, maar juis die teenoorgestelde, dat Jesus dit nie as gepas beskou het nie.
Die konteks van die omliggende verse (3-5, 7, 8) toon duidelik hoe vers 6 verstaan moet word. Die Filippense is aangespoor: “In nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.” Paulus gebruik Christus dan as die beste voorbeeld van hierdie gesindheid: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” Watter “gesindheid”? Om ‘dit geen roof te ag om aan God gelyk te wees nie’? Nee, dit sou juis die teenoorgestelde wees van die kwessie waaroor dit gaan! Jesus, wat ‘God hoër as homself geag het’, sou nooit ‘na gelykheid met God gryp nie’, maar het hom eerder “verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe”.
Dit kan beslis nie op enige deel van die almagtige God betrekking hê nie. Dit het op Jesus Christus betrekking gehad, wat Paulus se argument hier volmaak toegelig het—naamlik die belangrikheid van nederigheid en gehoorsaamheid aan jou Meerdere en Skepper, Jehovah God.
“Ek is”
VOLGENS etlike vertalings, byvoorbeeld die Afrikaanse Bybel (1933), sê Jesus in Johannes 8:58: “Voordat Abraham was, is Ek.” Het Jesus hier geleer, soos Trinitariërs beweer, dat hy bekend was met die titel “Ek is”? En beteken dit, soos hulle sê, dat hy Jehovah van die Hebreeuse Skrifte is, aangesien die Afrikaanse Bybel in Exodus 3:14 sê: “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS”?
In Exodus 3:14 word die uitdrukking “EK IS” as ’n titel vir God gebruik om te toon dat hy werklik bestaan en sal doen wat hy beloof het. The Pentateuch and Haftorahs, geredigeer deur dr. J. H. Hertz, sê van die uitdrukking: “Vir die Israeliete in ballingskap sou dit beteken: ‘Hoewel Hy nog nie Sy krag teenoor julle getoon het nie, sal Hy dit doen; Hy is ewig en sal julle beslis verlos.’ Die meeste hedendaagse vertalers volg Rashi [’n Franse Bybel- en Talmoedkommentator] deur [Exodus 3:14] soos volg weer te gee: ‘Ek sal wees wat ek sal wees.’”
Die uitdrukking in Johannes 8:58 is heeltemal anders as die een wat in Exodus 3:14 gebruik word. Jesus het dit nie as ’n naam of ’n titel gebruik nie, maar as ’n manier om sy voormenslike bestaan te verduidelik. Let op hoe party ander Bybelvertalings Johannes 8:58 weergee:
1869: “Voordat Abraham was, was ek gewees.” The New Testament, deur G. R. Noyes.
1935: “Ek het bestaan voordat Abraham gebore is!” The Bible—An American Translation, deur J. M. P. Smith en E. J. Goodspeed.
1981: “Ek was lewend voordat Abraham gebore is!” The Simple English Bible.
1983: “Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.” Nuwe Afrikaanse vertaling.
1984: “Voordat Abraham in aansyn geroep is, was ek gewees.” New World Translation of the Holy Scriptures.
Die werklike gedagte van die Grieks wat hier gebruik is, is derhalwe dat God se geskape “Eersgeborene”, Jesus, bestaan het lank voordat Abraham gebore is.—Kolossense 1:15; Spreuke 8:22, 23, 30; Openbaring 3:14.
Die konteks toon weer dat dit die regte begrip is. Hierdie keer wou die Jode Jesus stenig omdat hy gesê het dat hy “Abraham gesien” het hoewel hy, soos hulle gesê het, nog nie 50 jaar oud was nie (Vers 57). Jesus se natuurlike reaksie was om hulle die waarheid omtrent sy ouderdom te vertel. Hy het dus logieserwys vir hulle gesê: “Ek was lewend voordat Abraham gebore is!”—The Simple English Bible.
“Die Woord was God”
IN DIE Afrikaanse Bybel lui Johannes 1:1: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Trinitariërs beweer dat dit beteken dat “die Woord” (Grieks, ho loʹgos) wat as Jesus Christus aarde toe gekom het die almagtige God self was.
Maar let op dat die konteks weer eens die grondslag vir ’n juiste begrip lê. Selfs die Afrikaanse Bybel sê: “Die Woord was by God.” (Ons kursiveer.) Iemand wat “by” ’n ander persoon is, kan nie dieselfde as daardie ander persoon wees nie. In ooreenstemming hiermee sê die Journal of Biblical Literature, geredigeer deur die Jesuïet Joseph A. Fitzmyer, dat as die laaste deel van Johannes 1:1 vertolk word om “die” God te beteken, dit “dan die voorgaande sinsdeel sou weerspreek” wat sê dat die Woord by God was.
Let ook op hoe ander vertalings hierdie deel van die vers weergee:
1808: “en die woord was ’n god.” The New Testament in an Improved Version, Upon the Basis of Archbishop Newcome’s New Translation: With a Corrected Text.
1864: “en ’n god was die woord.” The Emphatic Diaglott, interlineêre lesing, deur Benjamin Wilson.
1928: “en die Woord was ’n goddelike wese.” La Bible du Centenaire, L’Evangile selon Jean, deur Maurice Goguel.
1935: “en die Woord was goddelik.” The Bible—An American Translation, deur J. M. P. Smith en E. J. Goodspeed.
1946: “en van ’n goddelike soort was die Woord.” Das Neue Testament, deur Ludwig Thimme.
1950: “en die Woord was ’n god.” New World Translation of the Christian Greek Scriptures.
1958: “en die Woord was ’n God.” The New Testament, deur James L. Tomanek.
1975: “en ’n god (of, van ’n goddelike soort) was die Woord.” Das Evangelium nach Johannes, deur Siegfried Schulz.
1978: “en ’n goddelike soort was die Logos.” Das Evangelium nach Johannes, deur Johannes Schneider.
Die Griekse selfstandige naamwoord the·osʹ (god) kom twee keer in Johannes 1:1 voor. Die eerste keer dui dit op die almagtige God, by wie die Woord was (“en die Woord [loʹgos] was by God [’n vorm van the·osʹ]”). Hierdie eerste the·osʹ word voorafgegaan deur die woord ton (die), ’n vorm van die Griekse bepaalde lidwoord wat ’n afsonderlike identiteit aandui, in hierdie geval die almagtige God (“en die Woord was by [die] God”).
Daar is andersyds geen lidwoord voor die tweede the·osʹ in Johannes 1:1 nie. ’n Letterlike vertaling sou dus lui: “en god was die Woord.” Tog het ons gesien dat talle vertalings hierdie tweede the·osʹ (’n predikatiewe selfstandige naamwoord) as “goddelik” of “’n god” weergee. Op watter gesag doen hulle dit?
Die Koine-Grieks het ’n bepaalde lidwoord (“die”) gehad, maar dit het nie ’n onbepaalde lidwoord (“’n”) gehad nie. Wanneer ’n predikatiewe selfstandige naamwoord nie deur die bepaalde lidwoord voorafgegaan word nie, kan dit dus onbepaald wees, na gelang van die konteks.
Die Journal of Biblical Literature sê dat uitdrukkings “waar ’n gesegde sonder lidwoord die werkwoord voorafgaan hoofsaaklik ’n kwalitatiewe betekenis het”. Soos die Journal sê, beteken dit dat die loʹgos met ’n god vergelyk kan word. Dit sê ook van Johannes 1:1: “Die kwalitatiewe krag van die gesegde is so prominent dat die selfstandige naamwoord [the·osʹ] nie as bepaald beskou kan word nie.”
Johannes 1:1 beklemtoon dus die aard van die Woord, dat hy “goddelik”, “’n god”, was, maar nie die almagtige God nie. Dit strook met die res van die Bybel, wat toon dat Jesus, wat hier “die Woord” genoem word in sy rol as God se Woordvoerder, ’n gehoorsame ondergeskikte was wat deur sy Meerdere, die almagtige God, aarde toe gestuur is.
Daar is baie ander Bybelverse waar feitlik alle vertalers in ander tale konsekwent die lidwoord “’n” invoeg wanneer hulle Griekse sinne met dieselfde konstruksie vertaal. In Markus 6:49, waar die dissipels Jesus op water sien loop het, sê die Afrikaanse Bybel (1933) byvoorbeeld: “Hulle [het] gemeen dat dit ’n spook was.” In die Koine-Grieks is daar geen “’n” voor “spook” nie. Maar feitlik alle vertalings in ander tale voeg die “’n” by sodat die vertaling by die konteks pas. Aangesien Johannes 1:1 toon dat die Woord by God was, kon hy nie God gewees het nie, maar was hy wel “’n god”, of “goddelik”.
Joseph Henry Thayer, ’n teoloog en geleerde wat aan die American Standard Version gewerk het, het eenvoudig gesê: “Die Logos was goddelik, nie die goddelike Wese self nie.” En die Jesuïet John L. McKenzie het in sy Dictionary of the Bible geskryf: “Joh 1:1 moet streng vertaal word . . . ‘die woord was ’n goddelike wese’.”
Strydig met ’n reël?
MAAR party beweer dat sulke lesings strydig is met ’n reël van die Koine-Griekse grammatika wat in 1933 deur Grekis E. C. Colwell gepubliseer is. Hy het aangevoer dat ’n predikatiewe selfstandige naamwoord in Grieks “die [bepaalde] lidwoord het wanneer dit op die werkwoord volg; dit het nie die [bepaalde] lidwoord wanneer dit die werkwoord voorafgaan nie”. Hiermee het hy bedoel dat ’n predikatiewe selfstandige naamwoord wat die werkwoord voorafgaan, verstaan moet word asof die bepaalde lidwoord (“die”) wel voor die naamwoord staan. In Johannes 1:1 staan die tweede selfstandige naamwoord (the·osʹ), die gesegde, voor die werkwoord—“en [the·osʹ] was die Woord”. Colwell het derhalwe beweer dat Johannes 1:1 moet lui: “en [die] God was die Woord.”
Maar beskou net twee voorbeelde in Johannes 8:44. Daar sê Jesus van die Duiwel: “Hy was ’n mensemoordenaar” en “Hy [is] ’n leuenaar”. Net soos in Johannes 1:1 staan die predikatiewe selfstandige naamwoorde (“mensemoordenaar” en “leuenaar”) in die Grieks voor die werkwoorde (“was” en “is”). Daar is geen onbepaalde lidwoord voor hierdie selfstandige naamwoorde nie, want daar was geen onbepaalde lidwoord in Koine-Grieks nie. Maar in die meeste vertalings word die woord “’n” ingevoeg omdat die Griekse grammatika en die konteks dit vereis.—Sien ook Markus 11:32; Johannes 4:19; 6:70; 9:17; 10:1; 12:6.
Colwell moes hierdie feit aangaande die predikatiewe selfstandige naamwoord erken, want hy het gesê: “Dit is onbepaald [“’n”] in hierdie posisie alleenlik wanneer die konteks dit vereis.” Selfs hy erken dus dat vertalers in hierdie soort sinskonstruksie ’n onbepaalde lidwoord voor die selfstandige naamwoord kan invoeg wanneer die konteks dit vereis.
Vereis die konteks ’n onbepaalde lidwoord in Johannes 1:1? Ja, want die getuienis van die hele Bybel is dat Jesus nie die almagtige God is nie. Die konteks, nie Colwell se omstrede grammatikareël nie, moet die vertaler dus in sulke gevalle lei. En dit blyk uit die talle vertalings wat die onbepaalde lidwoord “’n” in Johannes 1:1 en op ander plekke invoeg dat baie geleerdes nie met so ’n kunsmatige reël saamstem nie, en God se Woord stem ook nie daarmee saam nie.
Geen konflik nie
IS DIT strydig met die Bybel se leer dat daar net een God is as ’n mens sê dat Jesus Christus “’n god” is? Nee, want die Bybel gebruik soms daardie woord om magtige skepsele aan te dui. Psalm 8:6 sê: “U het hom [die mens] ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese [Hebreeus, ʼelo·himʹ]”, dit wil sê, ’n engel. Toe die Jode Jesus daarvan beskuldig het dat hy beweer het dat hy God is, het hy ter verdediging gesê dat die wet “húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het”, dit wil sê, menseregters (Johannes 10:34, 35; Psalm 82:1-6). Selfs Satan word in 2 Korinthiërs 4:4 “die god van hierdie wêreld” genoem.
Jesus beklee ’n posisie baie hoër as dié van engele, onvolmaakte mense of Satan. As hulle “gode”, magtige wesens, genoem word, kan Jesus sekerlik “’n god” wees en is hy dit ook. Vanweë sy unieke posisie met betrekking tot Jehovah is Jesus ’n “Sterke God”.—Johannes 1:1, NW; Jesaja 9:5.
Maar beteken “Sterke God” in hoofletters nie dat Jesus in die een of ander opsig aan Jehovah God gelyk is nie? Glad nie. Jesaja het bloot voorspel dat dit een van Jesus se name sou wees, en in Afrikaans word sulke name met hoofletters gespel. En al word Jesus ‘Sterk’ genoem, kan daar net een persoon wees wat “almagtig” is. Dit sou min betekenis hê om Jehovah die “almagtige” God te noem tensy daar ander bestaan wat ook gode genoem word, maar wat ’n ondergeskikte of mindere posisie beklee.
Die Bulletin of the John Rylands Library in Engeland meld Katolieke teoloog Karl Rahner se beskouing dat hoewel the·osʹ in tekste soos Johannes 1:1 met betrekking tot Christus gebruik word, “‘theos’ nie in enige van hierdie gevalle gebruik word om Jesus te identifiseer met hom wat elders in die Nuwe Testament ‘ho Theos’, dit wil sê, die oppermagtige God, genoem word nie”. En die Bulletin voeg by: “As die Nieu-Testamentiese skrywers dit lewensbelangrik geag het dat die gelowiges Jesus as ‘God’ bely, hoe kan die feitlik algehele afwesigheid van juis hierdie vorm van belydenis in die Nuwe Testament verklaar word?”
Maar wat van die feit dat die apostel Thomas in Johannes 20:28 vir Jesus “My Here en my God!” gesê het? Jesus was vir Thomas soos “’n god”, veral in die wonderdadige omstandighede wat tot sy uitroep aanleiding gegee het. Party geleerdes doen aan die hand dat dit bloot Thomas se emosionele uitroep van verwondering was, geuiter teenoor Jesus, maar gerig tot God. Hoe dit sy, Thomas het nie gedink dat Jesus die almagtige God is nie, want hy en al die ander apostels het geweet dat Jesus nooit beweer het dat hy God is nie, maar verkondig het dat Jehovah alleen “die enige waaragtige God” is.—Johannes 17:3.
Die konteks help ons weer om dit te verstaan. Die verrese Jesus het Maria Magdalena enkele dae vroeër beveel om vir die dissipels te sê: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God” (Johannes 20:17). Hoewel Jesus reeds as ’n magtige gees uit die dood opgewek is, was Jehovah steeds sy God. En Jesus het Hom selfs in die laaste Bybelboek, nadat hy verheerlik is, as sodanig beskou.—Openbaring 1:5, 6; 3:2, 12.
Net drie verse na Thomas se uitroep, in Johannes 20:31, verklaar die Bybel die saak verder deur te sê: “Maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God”, nie dat hy die almagtige God is nie. En “Seun” is letterlik bedoel, soos met ’n natuurlike vader en seun, nie as ’n geheimsinnige deel van ’n Drie-enige Godheid nie.
Moet met die Bybel strook
DAAR word gesê dat etlike ander tekste die Drie-eenheid staaf. Maar hulle is soortgelyk aan dié wat hierbo bespreek is, want wanneer hulle noukeurig ondersoek word, staaf hulle dit in werklikheid nie. Sulke tekste lig eenvoudig toe dat ’n mens tydens ’n ondersoek van enige beweerde bewys van die Drie-eenheid moet vra: Strook die vertolking met die konsekwente leer van die hele Bybel—dat Jehovah God alleen oppermagtig is? As dit nie die geval is nie, moet die vertolking verkeerd wees.
Ons moet ook in gedagte hou dat daar nie eens één “bewysplaas” is wat sê dat God, Jesus en die heilige gees een is in ’n geheimsinnige Godheid nie. Nêrens in die Bybel is daar ’n enkele teks wat sê dat al drie dieselfde is wat substansie, krag en ewigheid betref nie. Die Bybel openbaar konsekwent dat die almagtige God, Jehovah, alleen oppermagtig is, dat Jesus sy geskape Seun is en dat die heilige gees God se werkende krag is.
[Lokteks op bladsy 24]
“Die ou kerkvaders het [Johannes 10:30] verkeerdelik gebruik om te bewys dat Christus . . . van dieselfde substansie as die Vader is.”—Commentary on the Gospel According to John, deur Johannes Calvyn
[Lokteks op bladsy 27]
Iemand wat “by” ’n ander persoon is, kan nie ook daardie ander persoon wees nie
[Lokteks op bladsy 28]
“Die Logos was goddelik, nie die goddelike Wese self nie.”—Joseph Henry Thayer, Bybelgeleerde
[Prente op bladsy 24, 25]
Jesus het tot God gebid dat sy dissipels “almal een mag wees”, net soos hy en sy Vader “een is”
[Prent op bladsy 26]
Jesus het vir die Jode gewys dat hy nie aan God gelyk is nie deur te sê dat hy ‘niks uit Homself kan doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie’
[Prente op bladsy 29]
Aangesien die Bybel mense, engele en selfs Satan “gode”, of magtige wesens, noem, kan die verhewe Jesus in die hemel tereg “’n god” genoem word