Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 11/1 bl. 8-13
  • Sal jou werk die vuur deurstaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal jou werk die vuur deurstaan?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lê die regte fondament
  • Bou met die regte materiaal
  • Sal jou werk die vuur deurstaan?
  • Wie is verantwoordelik?
  • Bou met vuurvaste materiale
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Hoe om Christelike persoonlikhede in ons kinders te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Help mense om nader aan Jehovah te kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Bereik die hart wanneer jy onderrig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 11/1 bl. 8-13

Sal jou werk die vuur deurstaan?

“Laat elkeen aanhou let op hoe hy [op die fondament] bou.” —1 KORINTIËRS 3:10.

1. Watter hoop koester getroue Christene met betrekking tot voornemende dissipels?

’N CHRISTENEGPAAR kyk na hulle pasgebore baba. ’n Koninkryksverkondiger sien ’n gretige, geïnteresseerde uitdrukking op ’n Bybelstudent se gesig. ’n Christen- ouer man wat van die verhoog af onderrig, merk op hoe ’n nuwe belangstellende in die gehoor die tekste ywerig in sy Bybel naslaan. Hierdie getroue knegte van Jehovah se harte is vol hoop. Hulle kan nie anders as om te wonder nie: ‘Sal hierdie persoon Jehovah leer liefkry en hom dien—en getrou bly?’ Dit gebeur natuurlik nie vanself nie. Dit verg inspanning.

2. Hoe het die apostel Paulus die Hebreeuse Christene aan die belangrikheid van die onderrigtingswerk herinner, en watter selfondersoek moet dit ons beweeg om te doen?

2 Die apostel Paulus, wat self ’n meesteronderrigter was, het die belangrikheid van die onderrigtings- en dissipelmaakwerk beklemtoon toe hy geskryf het: ‘Julle behoort met die oog op die tyd leermeesters te wees’ (Hebreërs 5:12). Die Christene aan wie hy sy woorde gerig het, het min vooruitgang gemaak wanneer daar in ag geneem word hoe lank hulle al gelowiges was. Hulle was glad nie bevoeg om ander te leer nie en moes ook aan basiese aspekte van die waarheid herinner word. Dit is goed as ons almal vandag ons vermoëns as onderrigters van tyd tot tyd in oënskou neem en kyk hoe ons kan verbeter. Lewens is op die spel. Wat kan ons doen?

3. (a) Waarmee het die apostel Paulus die werk om ’n Christendissipel te maak, vergelyk? (b) Watter groot voorreg het ons as Christenbouers?

3 In ’n uitgebreide illustrasie het Paulus die dissipelmaakwerk met die oprigting van ’n gebou vergelyk. Hy het begin deur te sê: “Ons is God se medewerkers. Julle is God se saailand wat bewerk word, God se gebou” (1 Korintiërs 3:9). Ons neem dus deel aan ’n bouwerk waarby mense betrokke is; ons help om hulle dissipels van Christus te maak. Ons doen dit as medewerkers van die Een wat “alles gebou het” (Hebreërs 3:4). Wat ’n voorreg is dit tog! Kom ons kyk hoe Paulus se geïnspireerde raad aan die Korintiërs ons kan help om bekwamer in ons werk te word. Ons sal veral aandag skenk aan ons “onderrigkuns”.—2 Timoteus 4:2.

Lê die regte fondament

4. (a) Wat was Paulus se rol in die Christenbouwerk? (b) Waarom kan daar gesê word dat Jesus sowel as sy toehoorders geweet het hoe belangrik ’n goeie fondament is?

4 ’n Gebou moet ’n goeie fondament hê om dit sterk en duursaam te maak. Paulus het derhalwe geskryf: “Volgens die onverdiende goedhartigheid van God wat aan my gegee is, het ek as ’n wyse bestuurder van werke ’n fondament gelê” (1 Korintiërs 3:10). Jesus Christus het ’n soortgelyke illustrasie gebruik en van ’n huis vertel wat ’n storm deurstaan het omdat die bouer ’n vaste fondament gekies het (Lukas 6:47-49). Jesus het goed geweet hoe belangrik ’n fondament is. Hy was daar toe Jehovah die fondamente van die aarde vasgelê het (Spreuke 8:29-31).a Jesus se toehoorders het ook die waarde van ’n goeie fondament geken. Slegs huise met ’n goeie fondament kon die skielike oorstromings en aardbewings deurstaan wat soms in Palestina plaasgevind het. Maar wat was die fondament wat Paulus in gedagte gehad het?

5. Wie is die fondament van die Christengemeente, en hoe is dit voorspel?

5 Paulus het geskryf: “Geen mens kan enige ander fondament lê as wat gelê is nie, dit is Jesus Christus” (1 Korintiërs 3:11). Dit was nie die eerste keer dat Jesus met ’n fondament vergelyk is nie. Trouens, Jesaja 28:16 (NW) het voorspel: “[Só] het die Soewereine Heer Jehovah . . . gesê: ‘Kyk‚ ek lê as fondament in Sion ’n steen‚ ’n beproefde steen‚ die kosbare hoek van ’n vaste fondament.’” Jehovah het hom lank reeds voorgeneem dat sy Seun die fondament van die Christengemeente sou word.—Psalm 118:22; Efesiërs 2:19-22; 1 Petrus 2:4-6.

6. Hoe het Paulus die regte fondament in Korintiese Christene gelê?

6 Wat is die fondament waarop elke Christen bou? Soos Paulus gesê het, is daar geen fondament vir ’n ware Christen nie behalwe die een wat in God se Woord gelê is—naamlik Jesus Christus. Paulus het beslis so ’n fondament gelê. In Korinte, waar filosofie baie hoog geag is, het hy nie mense met wêreldse wysheid probeer beïndruk nie. Paulus het eerder “Christus wat aan die paal gehang is”, verkondig, wat deur die nasies as blote “dwaasheid” verwerp is (1 Korintiërs 1:23). Paulus het hulle geleer dat Jesus die sleutelfiguur in Jehovah se voornemens is.—2 Korintiërs 1:20; Kolossense 2:2, 3.

7. Wat kan ons leer uit Paulus se verwysing na homself as “’n wyse bestuurder van werke”?

7 Paulus het gesê dat hy sulke onderrigting gegee het “as ’n wyse bestuurder van werke”. Dit was nie ’n egotistiese verklaring nie. Dit was bloot ’n erkenning van ’n wonderlike gawe wat Jehovah hom gegee het—naamlik om werk te organiseer of te rig (1 Korintiërs 12:28). Ons het wel nie vandag die wonderbaarlike gawes wat aan die eerste-eeuse Christene geskenk is nie. En ons dink miskien nie dat ons begaafde onderrigters is nie. Maar in ’n belangrike sin is ons tog. Dink net: Jehovah gee ons sy heilige gees om ons te help. (Vergelyk Lukas 12:11, 12.) En ons het ’n liefde vir Jehovah en ’n kennis van die grondleringe van sy Woord. Dit is waarlik wonderlike gawes om te gebruik wanneer ons ander leer. Laat ons ons voorneem om dit te gebruik om die regte fondament te lê.

8. Hoe lê ons Christus as ’n fondament in voornemende dissipels?

8 Wanneer ons Christus as ’n fondament lê, stel ons hom nie as ’n hulpelose baba in ’n krip of as Jehovah se gelyke in ’n Drie-eenheid voor nie. Nee, sulke onskriftuurlike idees is ’n fondament vir valse Christene. Ons leer eerder dat hy die grootste mens was wat nog geleef het, dat hy sy volmaakte lewe ten behoewe van ons afgelê het en dat hy vandag Jehovah se aangestelde Koning is wat in die hemel heers (Romeine 5:8; Openbaring 11:15). Ons probeer ons studente ook motiveer om in Jesus se voetstappe te wandel en sy eienskappe na te volg (1 Petrus 2:21). Ons wil hê dat hulle in hulle diepste wese beweeg moet word deur Jesus se ywer vir die bediening, sy medelye met die geringes en vertraptes, sy barmhartigheid teenoor sondaars wat deur hulle eie skuldgevoelens verpletter is, sy onwrikbare moed ten spyte van beproewinge. Jesus is beslis ’n voortreflike fondament. Maar wat volg hierop?

Bou met die regte materiaal

9. Watter belangstelling het Paulus, wat hoofsaaklik fondamente gelê het, nogtans getoon in diegene wat die waarheid deur sy onderrigting aangeneem het?

9 Paulus het geskryf: “As iemand dan nou op die fondament goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels bou—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit uitwys, omdat dit deur middel van vuur geopenbaar sal word; en die vuur self sal aantoon hoedanig elkeen se werk is” (1 Korintiërs 3:12, 13). Wat het Paulus bedoel? Kyk na die agtergrond. Paulus het hoofsaaklik fondamente gelê. Op sy sendingreise het hy van stad tot stad gereis en vir baie getuig wat nog nooit van Christus gehoor het nie (Romeine 15:20). Wanneer mense die waarheid aangeneem het wat hy geleer het, is gemeentes gestig. Paulus was diep besorg oor hierdie getroue broers (2 Korintiërs 11:28, 29). Maar sy werk het vereis dat hy van plek tot plek reis. Nadat hy dus 18 maande lank ’n fondament in Korinte gelê het, het hy daarvandaan vertrek om in ander stede te getuig. Hy het nogtans baie belanggestel in hoe ander voortgebou het op die werk wat hy daar gedoen het.—Handelinge 18:8-11; 1 Korintiërs 3:6.

10, 11. (a) Hoe het Paulus verskillende soorte boumateriaal teenoor mekaar gestel? (b) Watter soort letterlike geboue het waarskynlik in eertydse Korinte bestaan? (c) Watter soort geboue sal heel waarskynlik ’n vuur deurstaan, en watter aanskouingsles voorsien dit vir Christendissipelmakers?

10 Dit wil voorkom of sommige wat op die fondament gebou het wat Paulus in Korinte gelê het hulle nie goed van hulle taak gekwyt het nie. Om die probleem te verduidelik, het Paulus twee soorte boumateriaal teenoor mekaar gestel: goud, silwer en kosbare stene aan die een kant; hout, hooi en stoppels aan die ander kant. ’n Gebou kan van goeie, duursame, vuurvaste materiaal gemaak word; of dit kan haastig met minderwaardige, tydelike en vlambare materiaal opgerig word. ’n Groot stad soos Korinte het ongetwyfeld baie van albei soorte geboue gehad. Daar was indrukwekkende tempels van groot, duur klipblokke wat moontlik met goud en silwer afgewerk of versier is.b Hierdie duursame geboue het waarskynlik hoog uitgetoring bo nabygeleë hutte, krotte en markstalletjies wat van onafgewerkte houtrame en strooidakke gemaak is.

11 Wat sou in ’n brand met hierdie geboue gebeur? Die antwoord was net so voor die hand liggend in Paulus se dag soos wat dit vandag is. Trouens, die stad Korinte is in 146 v.G.J. deur die Romeinse generaal Mummius verower en aan die brand gesteek. Baie geboue van hout, hooi of stoppels is beslis totaal verwoes. Wat van die stewige klipgeboue wat met silwer en goud versier is? Hulle het ongetwyfeld behoue gebly. Paulus se studente in Korinte het moontlik elke dag by sulke geboue verbygegaan—imposante klipgeboue wat rampe deurstaan het wat lank gelede hulle minder duursame bure met die grond gelykgemaak het. Hoe duidelik het Paulus tog sy punt gestel! Wanneer ons ander leer, moet ons onsself as bouers beskou. Ons wil met die beste, duursaamste materiaal moontlik bou. Dan is daar ’n groter kans dat ons werk behoue sal bly. Wat is hierdie duursame materiaal, en waarom is dit noodsaaklik om dit te gebruik?

Sal jou werk die vuur deurstaan?

12. In watter opsigte was sommige van die Korintiese Christene agterlosig in hulle bouwerk?

12 Dit is duidelik dat Paulus gemeen het dat party van die Christene in Korinte nie goeie bouwerk gedoen het nie. Waar het die fout gelê? Soos die konteks toon, is die gemeente geteister deur verdeeldheid, die bewondering van menslike persoonlikhede ondanks die gevaar wat dit vir die eenheid van die gemeente ingehou het. Party het gesê: “Ek behoort aan Paulus”, terwyl ander volgehou het: “Ek [behoort] aan Apollos.” Sommige het blykbaar te veel van hulle eie wysheid gedink. Dit verbaas ons nie dat dit ’n atmosfeer van vleeslike denke, geestelike onvolwassenheid en algemene “jaloesie en twis” tot gevolg gehad het nie (1 Korintiërs 1:12; 3:1-4, 18). Hierdie gesindhede is beslis weerspieël in die manier waarop daar in die gemeente en in die bediening onderrig is. Die gevolg was dat hulle agterlosig was in die dissipelmaakwerk, soos bouwerk wat met minderwaardige materiaal gedoen is. Dit sou nie die “vuur” deurstaan nie. Van watter vuur het Paulus gepraat?

13. Wat beeld die vuur in Paulus se illustrasie af, en waarvan moet alle Christene bewus wees?

13 Daar is ’n vuur waarvoor ons almal in die lewe te staan kom—toetse van ons geloof (Johannes 15:20; Jakobus 1:2, 3). Die Christene in Korinte moes besef, net soos ons vandag moet besef, dat almal aan wie ons die waarheid leer, getoets sal word. As ons swak onderrigters is, kan daar droewige gevolge wees. Paulus het gewaarsku: “As iemand se werk wat hy daarop gebou het, bly staan, sal hy ’n beloning ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy verlies ly, maar hy self sal gered word; en tog, as dit gebeur, sal dit wees soos deur vuur heen.”c—1 Korintiërs 3:14, 15.

14. (a) Hoe kan Christendissipelmakers “verlies ly”, maar hoe kan hulle redding soos deur vuur heen verkry? (b) Hoe kan ons die gevaar van verlies tot ’n minimum beperk?

14 Dit is inderdaad ernstige woorde! Dit kan baie pynlik wees as jy hard gewerk het om iemand te help om ’n dissipel te word en dan te sien hoe die persoon voor versoeking of vervolging swig en op die ou end die weg van die waarheid verlaat. Paulus erken dit wanneer hy sê dat ons in sulke gevalle verlies ly. Die ondervinding kan so pynlik wees dat ons redding beskryf word as iets wat “soos deur vuur heen” plaasgevind het—soos ’n man wat alles in ’n brand verloor het en self ternouernood gered is. Hoe kan ons die gevaar van verlies tot ’n minimum beperk? Bou met duursame materiaal! As ons ons studente leer met die doel om hulle hart te bereik, sodat hulle beweeg word om kosbare Christelike eienskappe soos wysheid, onderskeidingsvermoë, die vrees van Jehovah en ware geloof te waardeer, bou ons met duursame, vuurvaste materiaal (Psalm 19:10, 11; Spreuke 3:13-15; 1 Petrus 1:6, 7). Diegene wat hierdie eienskappe aankweek, sal voortgaan om God se wil te doen; hulle het die vaste hoop om vir ewig te lewe (1 Johannes 2:17). Maar hoe kan ons Paulus se illustrasie prakties toepas? Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

15. Hoe kan ons seker maak dat ons nie agterlosig is in die bouwerk wat ons in ons Bybelstudente doen nie?

15 Wanneer ons Bybelstudente onderrig, moet ons nooit mense bo Jehovah God verhef nie. Ons doel is nie om hulle te leer om ons as ’n hoofbron van wysheid te beskou nie. Ons wil hê dat hulle op Jehovah, sy Woord en sy organisasie vir leiding moet vertrou. Daarom lug ons nie bloot ons eie opinies wanneer hulle vrae stel nie. Ons leer hulle eerder om antwoorde te vind met behulp van die Bybel en die publikasies wat “die getroue en verstandige slaaf” voorsien het (Matteus 24:45-47). Om soortgelyke redes is ons versigtig om nie besitlik teenoor ons Bybelstudente te wees nie. Ons moenie ongelukkig voel wanneer ander belangstelling in hulle toon nie, maar moet ons studente eerder aanmoedig om hulle in hulle liefde te “verruim” en soveel as moontlik in die gemeente te leer ken en te waardeer.—2 Korintiërs 6:12, 13.

16. Hoe kan ouer manne met vuurvaste materiaal bou?

16 Christen- ouer manne speel ook ’n noodsaaklike rol in die opbou van dissipels. Wanneer hulle voor die gemeente onderrig, streef hulle daarna om met vuurvaste materiaal te bou. Hulle onderrigvermoë, ondervinding en persoonlikheid kan hemelsbreed van mekaar verskil, maar hulle buit nie hierdie verskille uit om aanhangers agter hulle aan te trek nie. (Vergelyk Handelinge 20:29, 30.) Ons weet nie presies waarom party in Korinte gesê het: “Ek behoort aan Paulus” of “Ek aan Apollos” nie. Maar ons kan heeltemal seker wees dat nie een van hierdie getroue ouer manne sulke verdelende denke bevorder het nie. Paulus is nie deur sulke sentimente gevlei nie; hy het hulle kragtig veroordeel (1 Korintiërs 3:5-7). Ouer manne hou eweneens vandag in gedagte dat hulle as herders oor “die kudde van God” toesig hou (1 Petrus 5:2). Dit behoort nie aan enige mens nie. Ouer manne neem derhalwe ’n ferm standpunt in teen enige neiging van een man om die kudde of die liggaam van ouer manne te oorheers. So lank as wat ouer manne deur ’n nederige begeerte beweeg word om die gemeente te dien, harte te bereik en die skape te help om Jehovah heelhartig te dien, bou hulle met vuurvaste materiaal.

17. Hoe probeer Christenouers met vuurvaste materiaal bou?

17 Christenouers is ook diep besorg oor hierdie saak. Hoe graag wil hulle tog sien dat hulle kinders vir ewig lewe! Dit is waarom hulle so hard werk om die beginsels van God se Woord in hulle kinders se hart ‘in te skerp’ (Deuteronomium 6:6, 7). Hulle wil hê dat hulle kinders die waarheid as ’n ryk, lonende en gelukkige lewenswyse moet ken, nie net as ’n stel reëls of ’n lang reeks feite nie (1 Timoteus 1:11). Liefdevolle ouers probeer vuurvaste materiaal gebruik sodat hulle hulle kinders kan help om getroue dissipels van Christus te word. Hulle werk geduldig saam met hulle kinders en help hulle om ontslae te raak van eienskappe wat Jehovah haat en om die eienskappe aan te kweek wat hy liefhet.—Galasiërs 5:22, 23.

Wie is verantwoordelik?

18. Waarom is dit nie noodwendig diegene wat ’n dissipel probeer leer en oplei se skuld wanneer hy heilsame onderrigting verwerp nie?

18 Hierdie bespreking laat ’n belangrike vraag ontstaan. As ons iemand probeer help, en hy dwaal van die waarheid af, beteken dit dat ons as onderrigters misluk het—dat ons met minderwaardige materiaal gebou het? Nie noodwendig nie. Paulus se woorde herinner ons wel dat dit ’n groot verantwoordelikheid is om aan die dissipelmaakwerk deel te neem. Ons wil alles in ons vermoë doen om deeglik te bou. Maar God se Woord sê nie vir ons dat ons die volle verantwoordelikheid op ons moet neem en belas moet word met skuldgevoelens wanneer diegene vir wie ons probeer help van die waarheid afdwaal nie. Behalwe ons eie rol as bouers is daar ander faktore wat in ag geneem moet word. Let byvoorbeeld op wat Paulus selfs aangaande die onderrigter sê wat hom nie goed van sy taak kwyt in hierdie bouwerk nie: “Hy [sal] verlies ly, maar hy self sal gered word” (1 Korintiërs 3:15). Tot watter slotsom moet ons kom as hierdie persoon uiteindelik redding kan verkry—terwyl die Christelike persoonlikheid wat hy in sy student probeer opbou het as ’t ware deur ’n vuurproef “verbrand” is? Ongetwyfeld dat Jehovah die student hoofsaaklik verantwoordelik hou vir sy eie besluite of hy ’n getroue weg sal volg al dan nie.

19. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Persoonlike, of individuele, aanspreeklikheid is van groot belang. Dit raak elkeen van ons. Presies wat leer die Bybel oor dié saak? Ons volgende artikel sal dit bespreek.

[Voetnote]

a Die ‘fondament van die aarde’ kan na die natuurkragte verwys wat dit—en alle hemelliggame—stewig in posisie hou. Daarbenewens is die aarde self só gemaak dat dit nooit sal “wankel”, of vernietig sal word, nie.—Psalm 104:5.

b Die “kosbare stene” waarvan Paulus gepraat het, was nie noodwendig edelstene, soos diamante en robyne nie. Dit kon duur bouklip soos marmer, albaster of graniet gewees het.

c Paulus het nie twyfel oor die redding van die bouer nie, maar oor die bouer se “werk” gewek. In The New English Bible sê hierdie vers: “As ’n man se gebou staan, sal hy beloon word; as dit verbrand, sal hy die verlies moet dra; en tog sal hy met sy lewe daarvan afkom, soos deur ’n vuur heen.”

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat is die “fondament” in ’n ware Christen, en hoe word dit gelê?

◻ Wat kan ons uit die verskillende soort boumateriaal leer?

◻ Wat stel die “vuur” voor, en hoe kan dit sommige ‘verlies laat ly’?

◻ Hoe kan Bybelonderrigters, ouer manne en ouers met vuurvaste materiaal bou?

[Prent op bladsy 9]

In talle eertydse stede het vuurvaste klipgeboue en minder duursame geboue langs mekaar gestaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel