God laat dit groei—Doen jy jou deel?
STEL jou die toneel voor. Jy is in ’n pragtige tuin, omring deur majestueuse bome, welige struike en massas helderkleurige blomme. Smaraggroen grasperke loop af na die goed versorgde oewers van ’n stroom vol kabbelende, kristalhelder water. Daar is niks wat die toneel ontsier nie. Aangesien jy deur die pragtige plek beïndruk is, vra jy wie dit geskep het. Die tuinier antwoord beskeie dat God alles laat groei.
Jy het dit natuurlik geweet. En jy onthou die tuinier se woorde wanneer jy tuiskom en jou eie verwaarloosde agterplaas sien, waar niks aantrekliks groei nie, vullis ophoop en reënwater onooglike gate in die grond vul. Jy wil bitter graag ’n tuin hê soos die een wat jy so pas besoek het. Gevolglik gaan jy, vas oortuig van wat die tuinier gesê het, op jou knieë en bid jy vurig tot God om pragtige blomme in jou agterplaas te laat groei. Wat gebeur? Vanselfsprekend gebeur daar niks nie.
Wat van geestelike groei? Jy het dalk ’n sterk begeerte om dinge geestelik te sien groei, soos nuwe dissipels wat gunstig op die waarheid van God se Woord reageer of in jou eie geestelike vooruitgang. En jy bid moontlik vurig tot Jehovah om sulke groei te laat plaasvind, terwyl jy vas oortuig is dat hy die krag het om dit te doen. Maar sal jou sterk begeerte, vurige gebed en vertroue in God se krag genoeg wees om groei te laat plaasvind?
God laat dit groei
Miskien dink jy dat jou aandeel om geestelike groei te laat plaasvind onbeduidend, selfs betekenisloos, is. Is dit nie wat die apostel Paulus bedoel het in 1 Korinthiërs 3:5-7 nie? Hy het geskryf: “Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.”
Paulus het met reg erken dat wanneer dinge groei alle eer God toekom. ’n Tuinier bewerk dalk sy grond, saai sy saad en versorg die plante goed, maar uiteindelik is dit vanweë God se wonderlike skeppingskrag dat dinge groei (Genesis 1:11, 12, 29). Maar wat bedoel Paulus wanneer hy sê “hy wat plant of hy wat natmaak, [is] niks nie”? (“Dit is nie die tuiniers met hulle plantery en natmaak wat belangrik is nie”, The New English Bible.) Verkleineer hy die individuele bedienaar se aandeel om nuwe dissipels te maak, en sê hy dat dit uiteindelik geensins ’n verskil maak hoe ons ons bediening vervul nie?
‘Hy wat plant, is niks nie’
Hou in gedagte dat Paulus in hierdie deel van sy brief nie die Christelike bediening bespreek nie maar die dwaasheid daarvan om mense pleks van Jesus Christus na te volg. Party in Korinthe het te veel eer aan vername knegte van Jehovah gegee, soos Paulus en Apollos. Ander het sektarisme voorgestaan en mense verhoog wat gedink het dat hulle hulle Christenbroers se meerderes was.—1 Korinthiërs 4:6-8; 2 Korinthiërs 11:4, 5, 13.
Dit is nie goed om mense op hierdie manier te verheerlik nie. Dit is vleeslike denke en dit veroorsaak jaloesie en twis (1 Korinthiërs 3:3, 4). Paulus toon die gevolge van sulke denke. Hy sê: “Daar [is] twiste onder julle . . . Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Cefas, en ek van Christus.”—1 Korinthiërs 1:11, 12.
Wanneer die apostel dus skryf ‘hy wat plant of hy wat natmaak, is niks nie’ bestry hy sulke vleeslike denke, en beklemtoon hy hoe nodig dit is om na Jesus Christus as Leier te kyk en te erken dat God al die eer vir groei in die gemeente moet ontvang. Die apostels en ander ouere manne was eenvoudig dienaars van die gemeente. Nie een moet verhoog word nie en hulle moet self ook nie na aansien of vernaamheid soek nie (1 Korinthiërs 3:18-23). Hy wat plant en hy wat natmaak, is gevolglik niks nie, sê Paulus, “in vergelyking met hom wat lewe aan die saad gee”.—1 Korinthiërs 3:7, Phillips.
God se medewerkers
Die apostel Paulus het dus nie die belangrikheid van ons aandeel in die plant- en natmaakwerk verkleineer deur wat hy gesê het nie. Hy het nie bedoel dat ons moet begin dink “God sal dinge laat groei wanneer hy wil” nie en dat ons dan eenvoudig terugsit en vir hom wag om dit te doen nie. Hy het geweet dat wat ons doen en hoe ons dit doen ’n uitwerking het op hoe dinge groei.
Dit is waarom Paulus Christene voortdurend aangemoedig het om hard in hulle bediening te werk en hulle vaardigheid as leraars te verbeter. Dink aan die raad wat hy aan die jong man Timotheüs gee. “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor” (1 Timotheüs 4:16). “Ek besweer jou . . . verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig . . . in alle lankmoedigheid en lering; . . . vervul jou bediening” (2 Timotheüs 4:1, 2, 5). Dit sou geen sin hê as Timotheüs hard daaraan werk om sy vaardigheid te verbeter as sy werk om te plant en nat te maak nie help om dinge te laat groei nie.
Jy kan ook, soos Paulus en Apollos, die onskatbare voorreg hê om as een van God se medewerkers te dien (1 Korinthiërs 3:9; 2 Korinthiërs 4:1; 1 Timotheüs 1:12). Daarom is jou werk belangrik. Die tuinier verwag nie dat God deur middel van ’n wonderwerk ’n pragtige tuin moet skep sonder dat die tuinier hom inspan nie. Sal dieselfde nie vir geestelike groei geld nie? Beslis. Soos die landbouer wat geduldig “wag op die kostelike vrug van die aarde” moet ons ons eers inspan om te plant en nat te maak, terwyl ons op God wag om dit te laat groei.—Jakobus 1:22; 2:26; 5:7.
Doen jou deel
Aangesien, soos die apostel Paulus sê, ‘elkeen sy eie loon volgens sy eie arbeid sal ontvang’, moet ons ons afvra hoe ons arbei.—1 Korinthiërs 3:8.
Tuinboukenner Geoffrey Smith sê: “Jy het geen spesiale kwalifikasies nodig om ’n tuinier te word nie, net ’n belangstelling in plante” (Shrubs & Small Trees). Ons het eweneens geen ingebore spesiale kwalifikasies nodig om God se medewerkers te wees nie, net ’n opregte belangstelling in mense en ’n bereidwilligheid om deur God gebruik te word.—2 Korinthiërs 2:16, 17; 3:4-6; Filippense 2:13.
Kyk ’n bietjie na die goeie raad wat ervare tuiniers gee. As ’n nuwe tuinier, volgens een gesaghebbende, bereid is om te luister na diegene met meer ervaring “kan die beginner spoedig ’n kenner word”. En, sê dieselfde gesaghebbende, “die kenner vind altyd iets nuuts om te leer” (The Encyclopedia of Gardening). Is jy gewillig om die hulp en onderrigting te aanvaar wat Jehovah voorsien sodat jy doeltreffend kan plant en natmaak? As jy dit doen, of jy nou nuut of ervare in die werk is, kan jy verdere vaardighede ontwikkel as God se medewerker en sodoende “bekwaam . . . wees om ook ander te leer”.—2 Timotheüs 2:2.
As hy bereid is om te luister en te leer, sê Geoffrey Smith, “sal die beginner die ergste slaggate vermy”. As ons luister na die leiding wat Jehovah deur sy Woord en sy organisasie gee, sal ons dinge op sy manier doen. Ons sal dan byvoorbeeld sulke slaggate vermy soos om dwaaslik met diegene te redeneer wat net wil stry of oor woorde wil argumenteer.—Spreuke 17:14; Kolossense 4:6; 2 Timotheüs 2:23-26.
Nog ’n stukkie goeie tuinbouraad is om goed na te dink oor dinge voordat jy die grond begin omspit. “Voordat jy die vurk in die grond steek”, sê The Encyclopedia of Gardening, “gebruik tyd om [jou vooruitsigte] kalm in oënskou te neem”. Vind jy dat jy geneig is om sommer in die Christelike bediening uit te gaan sonder om eers goed na te dink en te bid oor wat jy wil bereik en hoe jy dit op die beste manier moontlik kan doen? Stel jou doelwitte vas voordat jy begin. Dink byvoorbeeld na oor die soort mense wat jy moontlik gaan ontmoet en die probleme wat jy moontlik sal teëkom, en berei jou voor om hierdie dinge te kan hanteer. Dit sal jou in staat stel om ‘soveel mense as moontlik te win, omdat jy vir almal alles geword het’.—1 Korinthiërs 9:19-23.
“Laat . . . jou hand nie rus nie”
As ons die voorreg waardeer om as God se medewerkers te dien, sal ons nie ons deel van die vennootskap afskeep nie. “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie” (Prediker 11:6). Die finale uitkoms lê in Jehovah se hande, maar ons sal net kan maai as ons eers ywerig saai.—Prediker 11:4.
Geen tuin is al ooit verfraai deur halfhartige, oppervlakkige spitwerk en saai van saad nie. Meer is eweneens in die Christelike bediening nodig as ’n halfhartige aandeel in die verspreiding van Bybellektuur. As God se medewerkers moet ons die goeie nuus oor God se Koninkryk ywerig en deeglik verkondig en diegene uitsoek wat die regte gesindheid vir die ewige lewe het (Handelinge 13:48, NW). Hou die beginsel in die apostel Paulus se woorde in 2 Korinthiërs 9:6 in gedagte: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.”
Soos alle goeie tuiniers probeer ons om in goeie grond te plant. Maar alles is nie afgehandel wanneer iets eers in selfs die beste grond geplant is nie. Geoffrey Smith sê: “Dit beteken nie dat wanneer iets eers geplant is daar niks verder vereis word van die een wat daarvoor verantwoordelik is nie, behalwe om ’n seilstoel en ’n sonbril te koop.” Nee, as ’n mens wil hê dat dinge moet groei, is inspanning nodig om die plante nat te maak en te beskerm.—Vergelyk Spreuke 6:10, 11.
Die Christelike bediening kan in werklikheid lang tydperke van harde werk beteken wanneer daar skynbaar nie veel gebeur nie. Maar skielik, en soms onverwags, lewer dit moontlik wonderlike resultate op. Geoffrey Smith sê: “Tuinbou bestaan uit lang tydperke van daaglikse inspanning wat afgewissel word met oomblikke van sulke verhewe skoonheid dat al die spitwerk, skoffelwerk en pure benoudheid vergete is.” Jy kan ook oomblikke van verhewe bevrediging ondervind wanneer ’n ontvanklike hart op die boodskap van die waarheid reageer—mits jy bereid is om die aanvanklike spitwerk, plantwerk, skoffelwerk en natmaak te verrig.—Vergelyk Spreuke 20:4.
Paulus en Apollos het geweet dat hulle Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk nie beteken het dat hulle spesiale aansien in die Christelike gemeente verwerf het nie. Hulle het verstaan dat dit God is wat dinge laat groei. Hulle het nogtans—ywerig—geplant en natgemaak. Mag ons hulle voorbeeld volg en ons tot God se beskikking stel as “dienaars deur wie [ander] gelowig geword het”.—1 Korinthiërs 3:5, 6.
[Prent op bladsy 23]
God laat alles groei—maar die tuinier het ook sy deel om te doen