Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kr hfst. 20 bl. 209-219
  • Die noodlenigingsbediening

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die noodlenigingsbediening
  • God se Koninkryk regeer!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom noodlenigingswerk “heilige diens” is
  • Noodlenigingswerk met duidelike oogmerke
  • Die noodlenigingsbediening bring blywende voordele mee
  • Kan jy daaraan deelneem?
  • Hoe om ná ’n ramp te help
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Help Jehovah se Getuies met noodleniging?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • Liefde lei tot ’n hegter band van eenheid
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Noodlenigingswerk in 2023 – “Ons sien eerstehands Jehovah se liefde”
    Hoe jou donasies gebruik word
Sien nog
God se Koninkryk regeer!
kr hfst. 20 bl. 209-219

HOOFSTUK 20

Die noodlenigingsbediening

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Christelike liefde in aksie tydens rampe

1, 2. (a) Watter ontbering het Christene in Judea verduur? (b) Watter liefdesdaad is aan die Christene in Judea bewys?

DIT is omstreeks 46 HJ, en Judea is in die greep van ’n hongersnood. Die Joodse dissipels van Christus wat daar woon, kan nie die buitensporige pryse bekostig wat gevra word vir die min graan wat nog oor is nie. Verhongering staar hulle in die gesig. Maar hulle sal binnekort Jehovah se beskermende hand ervaar op ’n manier wat geen ander dissipels van Christus nog ondervind het nie. Wat gaan gebeur?

2 Uit medelye met die Joodse Christene in Jerusalem en Judea wat so swaar kry, maak Joodse en nie-Joodse Christene in Antiogië, Sirië, geld vir hulle medegelowiges bymekaar. Dan kies hulle twee verantwoordelike broers uit hulle midde, Barnabas en Saulus, om die noodlenigingsfondse na die gemeentelike ouer manne in Jerusalem te neem. (Lees Handelinge 11:27-30; 12:25.) Stel jou voor hoe hierdie liefdesdaad van die broers in Antiogië tog die harte van die behoeftige broers in Judea moes geraak het!

3. (a) Hoe volg God se volk vandag nog die patroon wat deur die vroeë Christene in Antiogië gestel is? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook die venster “Ons eerste grootskaalse noodlenigingspoging in hedendaagse tye”.) (b) Watter vrae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

3 Hierdie gebeurtenis in die eerste eeu HJ is die eerste opgetekende geval van Christene in een deel van die wêreld wat noodleniging aan Christene in ’n ander deel verleen. Vandag volg ons die patroon wat deur ons broers in Antiogië gestel is. Wanneer ons uitvind dat medegelowiges op ’n ander plek die slagoffers van ’n ramp of beproewing is, kom ons hulle te hulp.a Om te verstaan hoe ons noodlenigingspogings met die ander aspekte van ons bediening verband hou, kan ons na drie vrae oor die noodlenigingsbediening kyk: Waarom beskou ons noodleniging as ’n bediening? Wat is die oogmerke van ons noodlenigingswerk? Hoe vind ons baat by die noodlenigingsbediening?

Waarom noodlenigingswerk “heilige diens” is

4. Wat het Paulus vir die Korintiërs oor die Christelike bediening gesê?

4 In sy tweede brief aan die Korintiërs het Paulus verduidelik dat Christene ’n tweedelige bediening het. Hoewel Paulus se brief aan gesalfde Christene gerig is, is sy woorde vandag ook op Christus se “ander skape” van toepassing (Joh. 10:16). Een deel van ons bediening is “die bediening van die versoening”, dit wil sê ons predikings- en onderrigtingswerk (2 Kor. 5:18-20; 1 Tim. 2:3-6). Die ander deel behels wat Paulus ‘’n bediening vir die heiliges’ genoem het, naamlik noodlenigingswerk wat ten behoewe van medegelowiges gedoen word (2 Kor. 8:4). In die uitdrukkings “bediening van die versoening” en ‘bediening vir die heiliges’ is die woord “bediening” in albei gevalle ’n vertaling van ’n vorm van die Griekse woord di·a·ko·niʹa. Waarom is dit betekenisvol?

5. Waarom is dit betekenisvol dat Paulus noodlenigingswerk ’n bediening genoem het?

5 Deur dieselfde Griekse woord vir al twee bedrywighede te gebruik, het Paulus noodlenigingswerk in dieselfde kategorie geplaas as ander vorme van die bediening wat in die Christengemeente verrig word. Hy het vroeër gesê: “Daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is ’n verskeidenheid van werkinge . . . Maar [dit] word deur die een en dieselfde gees tot stand gebring” (1 Kor. 12:4-6, 11). Trouens, Paulus het die verskillende gemeentelike bedieninge met “heilige diens” verbind (Rom. 12:1, 6-8).b Dit is dus nie verbasend dat hy dit as gepas beskou het om deel van sy tyd te gebruik “om die heiliges te bedien” nie!—Rom. 15:25, 26.

6. (a) Waarom is noodlenigingswerk deel van ons aanbidding, soos Paulus verduidelik het? (b) Beskryf hoe ons noodlenigingswerk vandag regoor die wêreld verrig word. (Sien die venster “Wanneer ’n ramp plaasvind!”, bladsy 214.)

6 Paulus het die Korintiërs help besef waarom noodlenigingswerk deel van hulle bediening en aanbidding van Jehovah is. Let op sy redenasie: Christene wat noodleniging voorsien, doen dit omdat hulle “onderdanig is aan die goeie nuus oor die Christus” (2 Kor. 9:13). Hulle begeerte om Christus se leringe toe te pas, beweeg Christene dus om medegelowiges te help. Hulle liefdevolle dade ten behoewe van hulle broers is volgens Paulus niks minders nie as bewyse van “die allesoortreffende onverdiende goedhartigheid van God” (2 Kor. 9:14; 1 Pet. 4:10). Aangaande diens wat ons vir ons broers in nood verrig, insluitende noodleniging, het Die Wagtoring van 15 Februarie 1976 dus tereg gesê: “Ons moet nooit daaraan twyfel dat Jehovah God en sy Seun Jesus Christus hierdie soort diens as werklik belangrik beskou nie.” Ja, noodlenigingswerk is ’n waardevolle vorm van heilige diens.—Rom. 12:1, 7; 2 Kor. 8:7; Heb. 13:16.

Noodlenigingswerk met duidelike oogmerke

7, 8. Wat is die eerste oogmerk van ons noodlenigingsbediening? Verduidelik.

7 Wat is die oogmerke van ons noodlenigingsbediening? Paulus het hierdie vraag in sy tweede brief aan die Korintiërs beantwoord. (Lees 2 Korintiërs 9:11-15.) In hierdie verse beklemtoon Paulus drie vername oogmerke, of doelwitte, wat ons bereik deur deel te neem aan “die bediening van hierdie openbare diens”, dit wil sê noodlenigingswerk. Kom ons bespreek hulle een vir een.

8 Eerstens, ons noodlenigingsbediening verheerlik Jehovah. Let op hoe dikwels Paulus in die vyf verse hierbo sy broers se aandag op Jehovah God vestig. Die apostel herinner hulle aan “’n dankbetuiging aan God” en “baie dankbetuigings aan God” (verse 11, 12). Hy meld hoe Christene deur noodlenigingspogings ‘God verheerlik’ en “die allesoortreffende onverdiende goedhartigheid van God” loof (verse 13, 14). En Paulus sluit sy bespreking van die noodlenigingsbediening af met die woorde: “Ons dank God.”—Vers 15; 1 Pet. 4:11.

9. Hoe kan noodlenigingswerk mense se beskouings verander? Gee ’n voorbeeld.

9 Soos Paulus, beskou God se hedendaagse knegte noodlenigingspogings as geleenthede om Jehovah te verheerlik en sy leringe te versier (1 Kor. 10:31; Tit. 2:10). Trouens, noodlenigingswerk speel dikwels ’n belangrike rol daarin om die negatiewe beskouings wat party mense van Jehovah en sy Getuies het, te verander. Ter toeligting: ’n Vrou wat in ’n gebied gewoon het wat deur ’n orkaan getref is, het ’n teken op haar deur gehad wat gesê het: “Jehovah se Getuies—Moenie besoek nie.” Toe het sy eendag gesien hoe noodlenigingswerkers ’n beskadigde huis oorkant die straat herstel. Nadat sy die vriendelike werkers dae lank dopgehou het, het sy oor die straat gestap om uit te vind wie hulle is. Toe sy uitvind dat die vrywilligers Jehovah se Getuies is, was sy beïndruk en het sy gesê: “Ek het ’n verkeerde beskouing van julle gehad.” Die gevolg? Sy het die teken op haar deur verwyder.

10, 11. (a) Watter voorbeelde toon dat ons die tweede oogmerk van ons noodlenigingswerk bereik? (b) Watter publikasie help noodlenigingswerkers? (Sien die venster “Nog ’n hulpmiddel vir noodlenigingswerkers”.)

10 Tweedens, ons ‘voorsien oorvloedig in die behoeftes’ van medegelowiges (2 Kor. 9:12a). Ons is gretig om in die onmiddellike behoeftes van ons broers en susters te voorsien en om hulle lyding te help verlig. Waarom? Omdat die lede van die Christengemeente “een liggaam” uitmaak, en “as een lid ly, ly al die ander lede saam met hom” (1 Kor. 12:20, 26). Gevolglik beweeg broederliefde en medelye tallose broers en susters vandag om op kort kennisgewing alles te laat staan, hulle gereedskap op te raap en na ’n rampgebied te gaan om medegelowiges te help (Jak. 2:15, 16). Byvoorbeeld, nadat ’n tsoenami Japan in 2011 getref het, het die takkantoor in die Verenigde State ’n brief aan Streekboukomitees in die VSA gestuur en gevra of “’n paar bekwame broers” met die herbou van Koninkryksale in Japan kan gaan help. Wat was die reaksie? Binne weke het byna 600 vrywilligers aansoek gedoen om te help—en ingestem om op eie koste na Japan te vlieg! “Die reaksie was oorweldigend”, het die takkantoor in die Verenigde State gesê. Toe ’n broer in Japan ’n noodlenigingswerker uit die buiteland gevra het waarom hy kom help het, het hy gesê: “Ons broers in Japan is deel van ‘ons liggaam’. Ons voel hulle pyn en lyding.” Beweeg deur selfopofferende liefde, het noodlenigingswerkers soms selfs hulle lewe gewaag om medegelowiges te help.c—1 Joh. 3:16.

Een van Jehovah se Getuies in Switserland organiseer in 1946 noodlenigingsvoorraad vir haar mede-Christene

Switserland, 1946

ONS EERSTE GROOTSKAALSE NOODLENIGINGSPOGING IN HEDENDAAGSE TYE

IN September 1945, net ’n paar maande nadat die Tweede Wêreldoorlog in Europa geëindig het, het broer Knorr die begin van ’n grootskaalse kampanje aangekondig om “materiële hulp aan die behoeftige broers in sentraal-Europa” te stuur.

Binne weke ná hierdie aankondiging het Getuies in Kanada, die Verenigde State en ander lande begin om klere te sorteer en te pak en kos bymekaar te maak. Vanaf Januarie 1946 is voorraad gestuur aan medegelowiges in België, Bulgarye, China, Denemarke, Duitsland, Engeland, Finland, die Filippyne, Frankryk, Griekeland, Hongarye, Italië, Nederland, Noorweë, Oostenryk, Pole, Roemenië en Tsjeggo-Slowakye.

Hierdie program om hulp te voorsien, was nie ’n eenmalige poging nie. Die versending van noodlenigingsvoorraad het twee en ’n half jaar voortgeduur! Gedurende hierdie tyd het sowat 85 000 broers en susters omtrent 300 000 kilogram kos, ongeveer 450 000 kilogram klere en meer as 124 000 paar skoene aan hulle broers en susters in oorloggeteisterde lande gestuur. Teen Augustus 1948 het hierdie grootskaalse noodlenigingspoging tot ’n einde gekom. “Dít was beslis ’n bewys van ons liefde vir mekaar”, het Die Wagtoring in 1949 gesê. “Ons weet dat al die broers dit gedoen het om die Here te verheerlik, met die gedagte dat hierdie materiële hulp party sou help om hulle ware aanbidding voort te sit; en daarom het hulle dit as ’n groot voorreg beskou om hulle broers op hierdie manier te dien.” Hierdie noodlenigingspoging het Jehovah verheerlik, verligting aan medegelowiges voorsien en die band van eenheid onder die broers regoor die wêreld versterk.

11 Mense wat nie Getuies is nie, spreek ook waardering vir ons noodlenigingswerk uit. Nadat ’n ramp die staat Arkansas, VSA, in 2013 getref het, het ’n koerant byvoorbeeld oor die vinnige reaksie van Getuievrywilligers berig: “Jehovah se Getuies organiseer hulle vrywilligers so doeltreffend dat hulle noodlenigingswerk tot ’n fyn kuns ontwikkel het.” Ja, soos die apostel Paulus gesê het, ‘voorsien ons oorvloedig’ in die behoeftes van ons broers in nood.

12-14. (a) Waarom is dit so belangrik om die derde oogmerk van ons noodlenigingswerk te bereik? (b) Watter kommentare beklemtoon hoe belangrik dit is om geestelike bedrywighede voort te sit?

12 Derdens, ons help slagoffers om weer in hulle geestelike roetine te kom. Waarom is dit belangrik? Paulus sê dat diegene wat noodleniging ontvang, beweeg sal word tot “baie dankbetuigings aan God” (2 Kor. 9:12b). Watter beter manier is daar vir slagoffers om hulle dankbaarheid aan Jehovah te toon, as om so gou moontlik weer in hulle geestelike roetine te kom? (Fil. 1:10). Die Wagtoring het in 1946 gesê: “Paulus het . . . die insameling van die bydraes goedgekeur omdat dit . . . behoeftige Christenbroers gehelp het om ’n mate van materiële verligting te verkry en om dus met groter vryheid en meer energie aan Jehovah se getuieniswerk deel te neem.” Ons het vandag dieselfde oogmerk. Deur die predikingswerk te hervat, versterk ons broers nie net hulle angstige bure nie, maar ook hulleself.—Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.

13 Kyk na ’n paar kommentare van diegene wat dringende noodleniging ontvang het, hulle bediening hervat het en sodoende versterk is. “Dit was ’n seën vir ons gesin om in velddiens uit te gaan”, het ’n broer gesê. “Terwyl ons ander probeer vertroos het, het ons tydelik van ons eie bekommernisse vergeet.” ’n Suster het gesê: “Ek het my op geestelike bedrywighede toegespits, en dit het my aandag van die verwoesting om my afgelei. Dit het my ’n gevoel van veiligheid gegee.” Nog ’n suster het gesê: “Hoewel baie dinge buite ons beheer was, het die bediening ons gesin rigting gegee. Om met ander oor ons hoop op die nuwe wêreld te praat, het ons vertroue versterk dat alles nuut gemaak sal word.”

14 Die bywoning van vergaderinge is nog ’n geestelike bedrywigheid wat ons medegelowiges so gou moontlik ná ’n ramp moet hervat. Kyk na wat gebeur het met Kijoko, ’n suster wat toe in haar laat 50’s was. Nadat sy alles behalwe die klere en sandale wat sy aangehad het, in ’n tsoenami verloor het, het sy nie geweet hoe sy aan die lewe sou bly nie. Toe het ’n ouer man vir haar gesê dat hulle hulle gereelde Christelike vergadering in sy motor sou hou. Kijoko sê: “Ek, die ouer man en sy vrou en nog ’n suster het in die motor gesit. Die vergadering was eenvoudig, maar die gedagte aan die tsoenami het wonderbaarlik verdwyn. Dit het my gemoedsrus gegee. Daardie vergadering het vir my gewys hoe kragtig Christelike assosiasie is.” Nog ’n suster het oor die vergaderinge wat sy ná ’n ramp bygewoon het, gesê: “Dit was my lewenslyn!”—Rom. 1:11, 12; 12:12.

Die noodlenigingsbediening bring blywende voordele mee

15, 16. (a) Watter voordeel sou deelname aan noodleniging vir Christene in Korinte en op ander plekke meebring? (b) Hoe vind ons vandag ook baat by noodlenigingswerk?

15 In sy bespreking van die noodlenigingsbediening het Paulus ook aan die Korintiërs verduidelik watter voordele deelname aan hierdie werk vir hulle en ander Christene sou meebring. Hy het gesê: “Met smeking vir julle verlang hulle [die Joodse Christene in Jerusalem wat die hulp ontvang het] na julle weens die allesoortreffende onverdiende goedhartigheid van God wat op julle rus” (2 Kor. 9:14). Ja, die vrygewigheid van die Korintiërs sou die Joodse Christene beweeg om vir hulle broers in Korinte, insluitende nie-Jode, te bid en sou hulle liefde vir hulle vergroot sodat hulle na hulle sou verlang.

16 Die Wagtoring van 15 April 1946 het Paulus se woorde oor die voordele van noodlenigingswerk op ons dag toegepas en gesê: “Dink net watter verenigende uitwerking dit het wanneer een groep van God se toegewyde volk in die behoeftes van ’n ander groep help voorsien!” Dit is presies wat noodlenigingswerkers vandag ondervind. “Deelname aan noodlenigingswerk het my nader aan my broers laat voel as ooit tevore”, sê ’n ouer man wat ná ’n oorstroming met noodleniging gehelp het. ’n Dankbare suster wat noodleniging ontvang het, het gesê: “Ons broederskap is die naaste ding wat ons aan die Paradys op aarde het.”—Lees Spreuke 17:17.

17. (a) Hoe is die woorde in Jesaja 41:13 op noodlenigingswerk van toepassing? (b) Meld ’n paar voorbeelde van hoe noodlenigingswerk Jehovah tot eer strek en ons band van eenheid versterk. (Sien ook die venster “Vrywilligers regoor die wêreld bring verligting”.)

17 Wanneer noodlenigingswerkers op ’n ramptoneel aankom, ondervind ons broers daar op ’n besondere manier hoe waar God se belofte is: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help’” (Jes. 41:13). ’n Suster wat ’n ramp oorleef het, het gesê: “Ek het wanhopig gevoel toe ek die verwoesting sien, maar Jehovah het sy hand na my toe uitgesteek. Die hulp wat ek van die broers ontvang het, is onbeskryflik.” Nadat hulle gebied deur ’n ramp verwoes is, het twee ouer manne namens die gemeentes waar hulle dien, geskryf: “Die aardbewing het groot lyding veroorsaak, maar ons het die hulp ervaar wat Jehovah deur ons broers voorsien. Ons het voorheen van noodleniging gelees, maar nou het ons dit met ons eie oë gesien.”

Peter Johnson werk aan ’n teokratiese bouprojek

DIT HET SY LEWE GEVORM

WATTER uitwerking kan deelname aan noodlenigingswerk op jongmense hê? Kyk na wat met Peter Johnson gebeur het, wat die eerste keer daarmee gehelp het toe hy 18 was. Hy vertel: “Dit het my diep geraak om die dankbaarheid van die broers te sien en die vreugde te ervaar wat dit verskaf om te gee. Dit het my begeerte versterk om my lewe in die volste mate moontlik in Jehovah se diens te gebruik.” Daarna het Peter begin pionier. Hy het ook by Bethel gewerk en later as ’n lid van ’n Streekboukomitee begin dien. “Daardie eerste keer dat ek noodlenigingswerk in 1974 gedoen het”, sê Peter vandag, “het my lewe gevorm.” Is jy jonk? Kan jy Peter se voorbeeld volg? Wie weet hoe noodlenigingswerk dalk jou lewe in Jehovah se diens sal vorm!

Kan jy daaraan deelneem?

18. Wat kan jy doen as jy aan noodlenigingswerk wil deelneem? (Sien ook die venster “Dit het sy lewe gevorm”.)

18 Wil jy graag die vreugde smaak wat noodlenigingswerk verskaf? Hou dan in gedagte dat noodlenigingswerkers dikwels gekies word uit diegene wat aan Koninkryksaalbouprojekte werk. Sê dus vir jou ouer manne dat jy graag ’n aansoekvorm wil invul. ’n Ouer man met baie ervaring in noodlenigingswerk sê: “Gaan na ’n rampgebied slegs nadat jy ’n amptelike uitnodiging van ’n Noodlenigingskomitee ontvang het.” Sodoende sal ons noodlenigingswerk ordelik gedoen word.

19. Hoe help noodlenigingswerkers grootliks om te toon dat ons werklik Christus se dissipels is?

19 Noodlenigingswerk is inderdaad ’n uitsonderlike manier waarop ons Christus se gebod gehoorsaam om ‘mekaar lief te hê’. As ons hierdie liefde aan die dag lê, toon ons dat ons werklik Christus se dissipels is (Joh. 13:34, 35). Wat ’n seën is dit tog vandag vir ons om soveel gewillige werkers te hê wat Jehovah verheerlik terwyl hulle noodleniging verskaf aan diegene wat God se Koninkryk lojaal ondersteun!

a Hierdie hoofstuk bespreek noodlenigingswerk ten behoewe van medegelowiges. Maar in baie gevalle vind mense wat nie Getuies is nie, ook by ons noodlenigingswerk baat.—Gal. 6:10.

b Paulus het die meervoud van di·aʹko·nos (dienaar) gebruik om “bedieningsknegte” te beskryf.—1 Tim. 3:12.

c Sien die artikel “Hulp aan ons huisgenote van die geloof in Bosnië”, in Die Wagtoring van 1 November 1994, bladsye 23-27.

Hoe werklik is die Koninkryk vir jou?

  • Hoe weet ons dat noodlenigingswerk deel is van ons heilige diens aan Jehovah?

  • Wat is drie vername oogmerke van ons noodlenigingspogings?

  • Watter blywende voordele bring noodlenigingswerk mee?

  • Hoe hou noodlenigingswerk verband met Jesus se gebod in Johannes 13:34?

VRYWILLIGERS REGOOR DIE WÊRELD VERLEEN NOODLENIGING

SENTRAAL- EN WES-AFRIKA

In 1994 is sowat 800 000 of meer mense in Rwanda tydens ’n stammoord doodgemaak. Ná hierdie slagting het onrus na ander lande in Sentraal-Afrika versprei, wat gelei het tot oorvol vlugtelingkampe. Om hulle geteisterde medegelowiges te help, het Jehovah se Getuies in België, Frankryk en Switserland ongeveer 300 ton klere, medisyne, tente, kos en ander voorraad per vliegtuig soontoe gestuur. Hierdie voorraad het ons behoeftige broers binne weke bereik.

’n Span van tien Getuiedokters en -verpleegsters uit Frankryk verleen ook noodleniging aan ons broers in Afrika wat ly as gevolg van burgeroorlog, hongersnood en siekte. In die afgelope twee jaar alleen is die span deur meer as 10 000 mense geraadpleeg. Hulle werk verheerlik Jehovah en sy organisasie. “Wanneer ons in ’n gebied aankom om ons broers en susters te help”, vertel een van die verpleegsters, “sê mense met respek: ‘Dit is Jehovah se Getuies. Hulle het gekom om hulle broers te help.’” Nadat een Getuie hulp van ’n verpleegster ontvang het, het sy gesê: “Dankie, my suster. Dankie, Jehovah!”

Soms is noodlenigingswerk ook nodig wanneer daar ’n ernstige ongeluk was. In 2012 het ’n padongeluk in Nigerië die lewe van 13 Getuies geëis, almal van dieselfde gemeente, en nog 54 is ernstig beseer. ’n Noodlenigingskomitee het gereël dat elke slagoffer dag en nag ononderbroke persoonlike sorg ontvang. Toe ’n hospitaalpasiënt sien hoeveel ondersteuning die beseerde broers en susters ontvang, het sy haar pastoor gebel en vir hom gesê: “Niemand van ons kerk het my besoek nie. Kom hospitaal toe en sien liefde in aksie onder Jehovah se Getuies!”

Hoewel ons dierbare broers in daardie klein gemeente ’n pynlike verlies gely het, het hulle vertroosting geput uit die liefde wat hulle medegelowiges teenoor hulle geopenbaar het. Wat meer is, nadat hulle gesien het watter liefdevolle sorg die noodlenigingswerkers aan die geteisterde broers voorsien het, het etlike lede van daardie gemeente besluit om meer in die bediening te doen. Voor die ongeluk het die gemeente 35 verkondigers gehad. Binne ’n jaar het hierdie getal tot 60 gestyg.

AUSTRALIË

In 2013 is dele van Queensland se kusgebied oorstroom, wat 70 Getuies dakloos gelaat het. Mark en Rhonda en hulle dogter het uit hulle oorstroomde huis gevlug en in ’n ontruimingsentrum beland. Dit was stampvol. “Daar was basies net staanplek”, vertel Rhonda. Die oorverdowende geraas van die helikopters wat daar naby geland en opgestyg het, het bygedra tot die gespanne atmosfeer in die sentrum. Sy het haar man bekommerd gevra: “Wat gaan ons doen?” Mark het Jehovah om hulp gesmeek. “Omtrent 30 minute later”, sê Rhonda, “het ’n motor by die sentrum aangekom, en drie broers het uitgeklim. Toe hulle by ons kom, het hulle gesê: ‘Ons neem julle saam met ons. Julle gaan by ’n broer se huis bly.’” Rhonda voeg by: “Dis moeilik om te beskryf hoe die liefdevolle sorg van Jehovah se organisasie ons op daardie oomblik laat voel het.”

Meer as 250 vrywilligers het hulle na daardie rampgebied gehaas om hulle broers te help. ’n Bejaarde broer sê: “’n Groep Getuies het uit die niet verskyn en soos miere gewerk om die gemors in my huis op te ruim. Ek en my vrou sal nooit vergeet hoe hulle ons te hulp gesnel het nie.”

BRASILIË

In 2008 moes ongeveer 80 000 mense weens modderstortings en oorstromings in die staat Santa Catarina uit hulle huise vlug. Dit was soos ’n “tsoenami van klei, modder en bome”, het ’n inwoner gesê. Party broers het in ’n Byeenkomssaal skuiling gesoek. “Al waarmee hulle ontkom het, was die klere aan hulle lyf, wat boonop vol modder was”, vertel Márcio, die opsigter van die saal. ’n Suster sê: “Ons huis het inmekaargestort. Dit was hartseer om te sien hoe dit binne sekondes verdwyn, maar ek sal nooit vergeet hoe ons broers en susters ons vertroos het nie. Hulle het hulle liefde vir ons op soveel maniere getoon! Die ondervinding het my geleer hoe wys dit is om geestelike dinge hoog op prys te stel.”

Jehovah se Getuies organiseer en versprei geskenkte noodlenigingsvoorraad in Brasilië

’n Byeenkomssaal in Santa Catarina, Brasilië, word omskep in ’n noodlenigingsentrum vol geskenkte voorraad, 2009

Modderstortings het al hele woonbuurte teen die berghange naby die stad Rio de Janeiro verwoes. Om doeltreffend op hierdie herhaaldelike rampe te reageer, het die broers ’n permanente Noodlenigingskomitee gestig. Wanneer ’n modderstorting dreig, waarsku toegewese broers wat in die gevaargebied woon, die komitee. Vrywilligers daag gou op in vragmotors met die teken: “Jehovah se Getuies—Humanitêre hulp”. Al die lede van die goed toegeruste reddingspanne het vooraftoegewese take. Die werkers dra baadjies wat hulle duidelik as Jehovah se Getuies identifiseer. Tesame met die broers van die Hospitaalskakelkomitees voorsien hulle hulp aan beseerde broers en susters. Noodlenigingswerkers bring kos, water, mediese voorraad, klere en skoonmaakmiddels. Dit is ’n groot taak om modder uit huise te verwyder. Ná een onlangse modderstorting het 60 vrywilligers vier vragmotors vol modder uit net een huis verwyder!

VOORBEREIDING VIR ’N RAMP

Die Bestuursliggaam het al die takkantore regoor die wêreld aangesê om riglyne aan gemeentelike ouer manne en reisende opsieners te gee oor hoe om vir rampe voor te berei en daartydens op te tree. Byvoorbeeld, selfs voordat ’n ramp plaasvind, moet die ouer manne seker maak dat hulle die jongste kontakbesonderhede vir elke gemeentelid het.

WANNEER ’N RAMP PLAASVIND!

  1. ’n Christen- ouer man kyk hoe dit gaan met ’n Getuiegesin

    Plaaslike ouer manne kom met alle verkondigers in aanraking

  2. Ouer manne rapporteer aan die koördineerder van die liggaam van ouer manne

  3. Kommunikasie tussen die koördineerders van die gemeentes, reisende opsieners en verantwoordelike Christenbroers en die takkantoor

    Koördineerders rapporteer aan reisende opsieners en ander verantwoordelike broers wat met die takkantoor in aanraking is

  4. Kos- en watervoorraad

    Kos, water, skuiling, mediese sorg sowel as emosionele en geestelike ondersteuning word so gou moontlik voorsien

  5. Verslag oor die behoeftes in ’n rampgebied word deurgegaan

    Die takkantoor stuur ’n verslag oor die situasie en die behoeftes aan die Koördineerderskomitee van die Bestuursliggaam

  6. Noodlenigingsvoorraad word versprei

    Die Noodlenigingskomitee organiseer noodlenigingspogings en help die broers en susters met hulle langtermynherstel

  7. ’n Vliegtuig

    Die Koördineerderskomitee stel vas wat die behoeftes is en keur goed dat vrywilligers uit ander lande hulp verleen, indien nodig

’N HULPMIDDEL VIR NOODLENIGINGSWERKERS

Voorblad van die brosjure Jehovah’s Witnesses and Disaster Relief

IN Junie 2013 is die brosjure Jehovah’s Witnesses and Disaster Relief beskikbaar gestel. Dit is spesiaal saamgestel vir staatsamptenare in die Verenigde State wat oor noodbeheer toesig hou. Die brosjure beskryf van die noodleniging wat ons sedert die middel-1940’s voorsien het. Dit bevat ook ’n kaart wat die wêreldwye omvang van ons noodlenigingswerk aandui. “Broers wat op die Noodlenigingskomitees dien, gebruik hierdie brosjure om lank voordat ’n ramp plaasvind, kontakte op te bou met sleutelamptenare in gebiede waar rampe dikwels voorkom”, verduidelik ’n ouer man wat by noodlenigingspogings betrokke is. “Wanneer hierdie amptenare reeds met ons noodlenigingswerk vertroud is, is dit vir ons makliker om die nodige toestemming van hulle te verkry om ’n gebied binne te gaan waar ’n ramp plaasgevind het.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel